Onluste in Pretoria is beplan

‘n Groep ondersteuners van die Pretoria se huidige burgemeester, Kgosientso Ramokgopa, het by ‘n hotel in Arcadia byeengekom om saam te sweer om die stad in ‘n slagveld te verander indien hy nie vir nog ‘n termyn gekies word nie.

Die ontmoeting is volgens ‘n Pretoriase koerant gekoördineer deur ‘n senior ANC-amptenaar en bygewoon deur leiers van ANC-takke en raadslede van wyke asook kandidate vir die verkiesing op 3 Augustus.

Die gewelddadige onluste wat sedert die naweek losgebars het, is na bewering beplan om steun en stemme in die guns van Ramokgopa te manipuleer aangesien sekere takstrukture gedomineer word deur mense wat hom steun.

Die groep het dadelik vergader nadat die aankondiging gedoen is dat die ANC op nasionale vlak besluit het om Thoko Didiza as die party se burgemeesterskandidaat te benoem.

Die vergadering maak deel uit van ‘n verhaal met ‘n lang aanloop oor ernstige dade van geweld, die ‘aanwending’ van geld, en manipulasie in nominasie prosesse van kandidate as raadslede en ‘n burgemeester deur sekere ANC-takke in Pretoria.

Die minister van staatsveiligheid, David Mahlobo, meen ANC-leiers in Pretoria het die onrus begin, maar partylede ontken enige betrokkenheid by die geweld.

Volgens Mahlobo weet hulle wie die mense is wat betrokke is, maar die ondersoek gaan nie in die openbaar gedoen word nie.

‘n Klag sou gister deur die VF Plus teen die ANC in Sentraal-Transvaal by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Garsfontein ingedien word oor die onluste en geweld wat sedert die afgelope Sondag in Pretoria gewoed het omdat ANC-takke ontevrede is omdat Ramokgopa nie weer as die burgemeesterskandidaat vir Pretoria aangewys is nie.

Bron Vryburger


Enjoyed this post? Share it!