Ons gaan die land vat met alles daarin!

En julle gaan teen ‘n loop vas kyk met alles daarin – hoe klink dit vir jou..

Wit mense moenie dink die EFF het vergeet van die grondkwessie nie, het die EFF-leier, Julius Malema, gister in ’n stampvol saal van die Universiteit van Pretoria se Mamelodi-kampus gesê.

“Die wit minderheid klap hande terwyl die EFF pres. (Jacob) Zuma oor die kole haal en dink ons het vergeet dat swart mense die grond terug wil hê. Maar ons het nie. Hulle is volgende.”

Malema het gepraat by ’n EFF-gedenkdiens vir die struggle-held Solomon Mahlangu. Die hof het Vrydag bevind die EFF mag Mahlangu se laaste woorde, voor hy in 1979 gehang is, by gister se byeenkoms gebruik.

Die Mahlangu-familie wou die EFF verbied om sonder hul toestemming ’n Solomon Mahlangu-gedenklesing op enige plek in die land te hou.

EFF-ondersteuners is met busse na die kampus aangery en toe Malema net ná 12:00 daar aankom, was die saal so vol dat mense op die vloer moes sit.

Floyd Shivambu, adjunkpresident van die EFF, het Malema as “die volgende president van Suid-Afrika” bekendgestel.

“Ons het Nkandla gestop en die Guptas is weg. Nou gaan ons ons land terugvat,” het Malema onder luide toejuiging gesê.

“Al die mooi geboue in hierdie land is deur swart mense gebou sonder dat hulle betaal is. Dit behoort óók aan ons. Ons gaan die land vat met alles daarin of hulle (wit mense) daarvan hou of nie.”

Hy het ook gesê die EFF het nie hul veldtog teen Absa laat vaar net omdat dié bank die Gupta-familie die rug toegekeer het nie.

In sy twee uur lange toespraak het Malema klem gelê op die gebrek aan dienslewering deur die ANC-regering en korrupsie in dié party. Hy het ook verwys na die T-hemde en kospakkies wat die ANC uitdeel voor ’n verkiesing en gesê mense moet ophou stem vir kospakkies en eerder stem vir verandering.

“Maar Zuma is nie ons vyand nie. Zuma staan tussen ons en ons vyand, die wit man.

“Dit is die wit man wat Solomon Mahlangu doodgemaak het en alhoewel ons moet fokus op versoening, kan ons nie vriende wees met wit mense nie.”

Hy sê wit mense moet ophou huil, want swart mense is die eintlike slagoffers.

“Geen wit man het hier aangekom met grond nie.”


Enjoyed this post? Share it!