Ons mense weet wat om te doen by ‘n Boeremark wat 25 jaar oud is, hulle plant 600 bome

Die Pretoria Boeremark, wat weekliks deur TLU SA in Silverton aangebied word, is vanjaar 25 jaar oud.

Onlangs moes die Boeremark na 12 jaar by die Pioniersmuseum na ‘n nuwe perseel verhuis nadat hulle die terrein ontsê is deur ‘n omstrede tenderproses.

“Ons was baie gelukkig om sommer baie naby ‘n ou lusernland te kon koop,” sê mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Die terrein was heeltemal leeg met geen dienste nie en moes ons binne twee weke alles daarstel om seker te maak dat die mark nie ‘n Saterdag oorslaan nie. Vir heelwat van die stalletjiehouers is dit hul enigste inkomste.”

Die mark word baie hoog aangeskryf en in sekere tydskrifte en koerante word selfs daarna verwys as een van die vyf beste besienswaardighede in Pretoria. Etlike duisend besoekers is elke Saterdag van 05:30 tot 09:30 daar om ‘n groot verskeidenheid produkte vars en direk van die boere te kan koop.

“Ons is besig om bome te plant en wil nou eerskomende Saterdagoggend (2 September) om 09:00 ‘n seremoniële boomplantgeleentheid op die terrein hou. Daar word beplan om binne die volgende week of so ongeveer 600 bome daar te plant. Saterdag beplan ons dat die president van TLU SA, Louis Meintjes sowel as die direksielede van die Boeremark elk ‘n boom seremonieel sal plant,” sê mnr. Van Zyl.

Verdere ontwikkelinge word ook vir die toekoms op die terrein beplan.

Die nuwe terrein is in Morelettastraat (waar doodloop teen die mark in die ooste), Silverton, Pretoria, slegs ‘n klipgooi van die ou terrein by die Pioniersmuseum.


Enjoyed this post? Share it!