“Ons wil dit nóú hê!” – Kaapstad word afgepers met betoging vir huise in Houtbaai wat “onverbloemde misdadigheid” geword het

Onluste het oor die naweek in Houtbaai, die gegoede kusvoorstad van Kaapstad, uitgebreek. Die polisie se onluseenheid het hul hande vol om brandstigting en skade aan voertuie, huise en kantore te verhoed. Onslusmakers het reeds sowel private as openbare eiendom beskadig.

‘n Lid van die Kaapstadse burgermeesterskomitee wat met veiligheid belas is, JP Smith, het aan die media gesê: “Die situasie in Houtbaai neem ernstige afmetings aan en dit is helder dat dit lank nie meer ‘n gemeenskapsbetoging is nie, maar nou die veld van onverbloemde misdadigheid betree het.”

Smith het voorts gesê: “Alle beskikbare stadsverkeers- en metropolisiehulpbronne is reeds na Houtbaai gestuur in ‘n poging om die situasie onder beheer te bring. Die onlusmakers se gedrag is onaanvaarbaar en kan nie in ‘n demokratiese bedeling vedra word nie.”

Gister is Victoriaweg in die dorpie vir verkeer gesluit, maar die pad is wel vanoggend heropen. Verkeer vanaf die hoofstraat is egter na Disarivierweg en langs Valleiweg herlei om motoriste teen klipgooiery te beskerm.

Ten minste een voertuig is aan die brand gesteek en ‘n aftree-oord is met klippe bestook. Die burgemeesteres van Kaapstad, Patricia de Lille, het belowe om met die betogers vanuit die swart buurt Imizamo Yethu gesprek te voer, mits hulle hul gewelddadige optrede staak.

Die onlusmakers beweer dat daar reeds drie maande lank gesloer word om vir hulle huise te bou nadat hul plakkershutte in ‘n brand vernietig is.

Maar ‘n woordvoerder van die Kaapse burgemeesterskantoor, Zara Nicholson, het gesê dat amptenare nog deurentyd met die inwoners van Imizamo Yethu gesprek voer.

Nicholson het voorts gesê: “Sodra hulle bereid is om met die stad te praat en nie die stad met sulke betogings af te pers nie, is die burgemeesteres meer as gewillig om met inwoners te skakel.

Kaapstad werk glo kliphard om formele behuising aan die inwoners van Imizamo Yethu te verskaf, maar ten minste een onlusmaker het op sy plakkaat geskryf: “Ons wil dit nóú hê.”

Dr. Dan Roodt
Foto vanaf Twitter


 

Enjoyed this post? Share it!