Ontsnapte gevangene op plafon kom sy moses teë

Hy het so stil soos ’n muis op die plafon weggekruip, maar Roland Barnard is ná ’n gesamentlike poging deur die gemeenskap in die suide van Johannesburg in hegtenis geneem.

Barnard was Dinsdag een van 20 gevangenes wat uit ’n polisievangwa in Johannesburg ontsnap het.

Woensdagaand was hy terug agter tralies.

“Ons het ’n wenk van die publiek ontvang dat hy in ’n woonstelblok in South Hills wegkruip,” sê Louis van Aswegen, voorsitter van die Alberton-buurtwag.

Die buurtwag en SS Crime Alert is onmiddellik na die toneel ontbied, met die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) kort op hulle hakke.

“Die EMPD het die woonstelblok deursoek, maar die man het in die plafon weggekruip,” sê Van Aswegen. Van daar af het Barnard glo na die dak van die woonstelblok gevlug.

Van Aswegen sê almal wat teenwoordig was het die woonstelblok omsingel ingeval Barnard daar sou afspring.

Fox-sekuriteit, ’n Albertonse veiligheidsmaatskappy, het selfs paramedici op bystand gehad.

Barnard is op die dak van die woonstelblok, waar ’n familielid vermoedelik woon, in hegtenis geneem.

Nog vyf van die ander ontsnapte gevangenes is ook Woensdag aangekeer.

Simthembile Moni, Vincent Monwabisi Vandala, Rushden Katz, Sabelo Mbanjwa en Kingsley Jooste is in verskillende dele van Johannesburg aangekeer.

Die 20 gevangenes het ontsnap toe die vangwa waarin hulle was in ’n hinderlaag gelei is. Gewapende mans het die vangwa by Pat Mbatha-weg naby die South Gate-spoorwegstasie voorgelê en die gevangenes bevry.

Die gevangenes was van die landdroshof in Johannesburg op pad terug na hul aanhoudingselle.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, sê die polisie volg leidrade op en werk hard daaraan om die 14 oorblywende gevangenes aan te keer.

Volgens Dlamini sal al die mans wat weer in hegtenis geneem is, van ontsnapping aangekla word. Dit is benewens die aanklagte waarop hulle verhoorafwagtend is.

Enigeen met inligting oor wie die vangwa in die hinderlaag gelei het, of waar die 14 voortvlugtendes hulle bevind, kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 bel.

“Dis belangrik om hulle nie self te probeer aankeer nie want ons weet nie of hulle gewapen is nie. Bel asseblief die polisie,” sê Dlamini.

Deur: Netwerk24


Enjoyed this post? Share it!