Ontspoorde Pasa sonder direksie en permanente groephoof

Terwyl sy skandes skynbaar ’n bodemlose put is, sit die beleërde Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) nou al twee weke lank sonder ’n direksie en meer as vyf maande lank sonder ’n permanente groephoof.

Die vorige direksie, onder leiding van Popo Molefe, het ondersoeke na die beweringe van grootskaalse korrupsie by die sukkelende staatsbeheerde onderneming gedryf en talle hofaansoeke gebring om die miljarde rande wat glo vermors is, te probeer terugkry.

Maar Molefe en kie se driejaartermyn het op 31 Julie verstryk en dit lyk asof Joe Maswanganyi, minister van vervoer, geensins haastig is om ’n nuwe direksie aan te stel nie.

Volgens Ishmael Mnisi, Ma­swanganyi se woordvoerder, beoog hy ook nie om ’n tussentydse direksie aan te stel nie.
Maswanganyi is wel besig om ’n lys van geskikte kandidate te bestudeer en “sal dalk voor die einde van die maand” ’n nuwe direksie aankondig, sê Mnisi.

Molefe het voor sy vertrek gesê Maswanganyi probeer alles in sy vermoë om die direksie te verlam. Dit was nadat hy geweier het om twee ekstra direksielede aan te stel sodat hulle ’n kworum kan vorm. Sonder ’n kworum is die direksie se besluite nie van krag nie.

Die 40 klagte

Intussen is daar niemand om toe te sien dat die korrupsie-ondersoeke en hofsake nie in die hek duik nie.

POPO MOLEFE HET VOOR SY VERTREK GESÊ JOE MASWANGANYI PROBEER ALLES IN SY VERMOË OM DIE DIREKSIE TE VERLAM.

In een van die direksie se jongste hofaansoeke vra hulle die hooggeregshof in Pretoria om die Valke en nasionale vervolgingsgesag (NVG) te dwing om hul ondersoek na meer as 40 strafregtelike klagte af te handel.
Molefe en die direksie het die klagte by die polisie ingedien ná ’n uitgebreide ondersoek deur die prokureursfirma Werksmans.

Die direksie het Werksmans in 2015 aangestel nadat adv. Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer (OB), ’n verdoemende verslag oor bewerings van wanbestuur en korrupsie by Prasa onder leiding van sy destydse groephoof, Lucky Montana, uitgereik het.

Madonsela het aanbeveel dat alle kontrakte met ’n waarde van meer as R10 miljoen ondersoek word.

Benewens die strafregtelike klagte het die direksie die howe gevra om verskeie verdagte kontrakte van miljarde rande tersyde te stel en die maatskappye wat dié kontrakte losgeslaan het, te dwing om die geld terug te betaal.

Op 3 Julie het die hooggeregshof in Johannesburg die kontrak met Swifambo Rail Leasing, wat die gewraakte Afro4000-lokomotiewe teen R3,5 miljard namens Prasa moes aankoop, tersyde gestel.

Wie staan appèlaansoek teen?

Swifambo doen aansoek om teen die uitspraak te appelleer. Maar wie by Prasa nou dié appèlaansoek gaan teenstaan ná Molefe en kie se vertrek, is ’n ope vraag
.
In hul laaste mediaverklaring op 31 Julie het Molefe en sy voormalige mededireksielede uitgevaar teen Maswanganyi. Hulle sê hy het geweier om met hulle te vergader.

Luidens die direksie se verklaring het hulle aan pres. Jacob Zuma, die speaker van die nasionale vergadering en adv. Busisiwe Mkhwebane, die nuwe OB, geskryf om hul kommer uit te spreek oor Maswanganyi se bevoegdheid en onafhanklikheid.

Indien hul hulproep geïgnoreer word, sal dit die stryd teen korrupsie en wanbestuur by Prasa die doodskoot toedien.
Mnisi sê die departement van vervoer gaan “niks verander” aan die direksie se hofaansoeke nie. “As daar ’n nuwe direksie kom, kan hulle dalk besluit om dinge anders te hanteer. Maar ons gaan niks aan die hofaansoeke doen nie. Dit strook met die OB se aanbevelings,” sê hy.

Intussen is daar geen einde aan Prasa se skandes nie.

Times Live het verlede Sondag berig dat Prasa steeds meer as R1 miljoen per jaar opdok vir lyfwagte vir Montana se opvolger, Collins Letsoalo, wat vyf maande gelede deur die direksie afgedank is. Hy het glo ’n salarisverhoging van 350% aan homself toegestaan.

Boonop het die hooggeregshof in Pretoria op 1 Augustus beveel dat Prasa se voormalige finansiële hoof, Fenton Gastin, R8,22 miljoen aan Prasa moet terugbetaal, wat by sy vertrek tussen hom en Montana beklink is. Die hof het bevind dié “ooreenkomste” tussen Montana en Gastin was van meet af onwettig en ongeldig.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!