Oom Hendrik van Blerk: Patriot. Storieverteller. Verhaalkunstenaar. Held, Leier, Skrywer en Rolmodel.


Afrikanerhart – Trekpad van ‘n Nasie 18 November 2015

Program: My Volk: Die Trekpad van ‘n Nasie

Aanbieder: Paul Joubert                                                                Tydsduur: 09h00 – 10h00

Hendrik Stephanus Hertzog van Blerk

Hendrik Stephanus Hertzog van Blerk, oftewel, oom Hendrik, is gebore op 27 November 1915 in Johannesburg en gaan vir die eerste keer skool op Heidelberg (Transvaal). Daarna het hy 12 ander skole besoek voordat hy in Standerd 6 vir goed klaar was met die skoolbanke.

Hy was dus nie ‘n ‘boek-geleerde’ man nie, maar dit het hom nie weerhou om as Joernalis sy lewenservaring en sy wysheid as nalatenskap vir die Boerevolk daar te stel nie.

 

Oom Hendrik was een van ons mees bekende en begaafste Afrikaanse skrywers en digters – maar ook ‘n diamantdelwer (spoeldiamante van Lichtenburg), houtryer (vanaf Marico aangery), soldaat, fabriekswerker, padmaker (rioolslote gegrawe) en mynwerker (aan die Rand) van beroep. Sy eerste boek, Dit blom tussen die bantoms, is in 1949 uitgegee. Hy het honderde romans (meer as 30), jeugverhale, kortverhale asook feitelike boeke oor die geskiedenis van die Afrikaner die lig laat sien. Van sy werk sluit boeke oor die Slag van Majuba in. Hy het ook onder die skuilnaam Meit Froneman geskryf. Die Roos van Ruimtevlei is leesvreugde op sy beste! In June 1942 word hy as Stormjaer van die Ossewa Brandwag weens sabotasie ter dood veroordeel.

 

Hy was 28 dae in die dodesel waarna sy straf na lewenslank versag is. Dit was in die gevangenis, waar sy lewensfilosofie sy beslag gekry het, naamlik “My Volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis, (Hosea 4:6).  Hy word ses jaar daarna vrygelaat nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind kom. Gedurende die tydperk in die tronk ontdek hy sy besondere skryftalent. Na sy vrylating word hy eers graangradeerder, toe joernalis en later skoolbuskontrakteur en skrywer. Prof. PD van der Walt van die Potchefstroomse Universitiet het tydens die viering van Oom Hendrik se 70ste verjaarsdag, oor die egtheid en opregtheid waarmee Oom Hendrik sy boeke skryf gesê: “U is tot ons groot vreugde en agting, ‘n egte en eerlike woordkunstenaar, maar totaal onpretensieuse storieverteller”, want “…u skep eie ervaring, waarneming, lewensinsig om tot kuns, verhaalkuns wat besonder pakkend en toeganklik is.”

 

Vandag ken elke opregte Boer reeds die naam van een van ons geliefdste volksheld, HS van Blerk, die skrywer wat na homself verwys het as ‘n “Boerevolkaktivis.” Die skrywerstalent wat hy in die gevangenis ontdek en ontwikkel het, het hy ten volle ingespan om op sy manier die volk te probeer fokus op ons vryheidsideaal in ons mooi land. Sy eerste boek, Dit Blom tussen die Bantoms, wat verhale uit sy kinderdae op die delwerye vertel het, het hy reeds in 1948 geskryf, en in die 65 jaar sedertdien het daar al honderde romans, jeugverhale en kortverhale verskyn. Vir Oom Hendrik was die Boerejeug ‘n teer saak, baie na aan sy hart.

 

Daarom het het sy lewe daaraan gewy om sy volk in te lig oor die bose aanslag teen sy enigste volk naas Israel van ouds, met wie die Almagtige God van hemel en aarde, ‘n Verbond gesluit het. Die datum, 27 Februarie 1881, was al sedert die skrywer se betrokkenheid by die Ossewa Brandwag, vir hom as jong man net so ‘n belangrike datum in ons Volkgsgeskiedenis, as Geloftedag.

 

Die miskenning daarvan, het hom gekwel en gegrief. Daarom was dit sy groot ideaal. Om hierdie datum weer tot sy reg te laat kom.

Die vyftien jaar voor sy dood het hy sy lewe en skryfwerk voltyds in diens van sy volk gewy. Hy was die stigter en Eerste Trustee van die Majuba Boerevolktrust. Hy het hierdie trust met die uitsluitlike doel tot stand gebring, om te sorg dat daardie deel van ons geskiedenis en Boerevolksmonument, as erfpag vir ons nageslag bewaar sal bly.

 

Op Majuba self het hy alles in sy vermoë gedoen om die gedenkterrein van die veldslag, die bewys van ons Vader se bevestiging van Sy Verbond met die Boerevolk, vir ons nageslag te bewaar. Hy het die volle opbrengs van sy geskiedkundige verhale op Majuba aangewend, daarom sal die naam H.S. van Blerk altyd onthou word vir sy onbaatsugtige ontwikkeling van infrastruktuur, maar veral ook vir die voorbeeld wat hy vir die Boerejeug gestel het, om in verset te kom teen die ‘Satanistiese moorkampanje op die volksiel, wat teen ons kinders woed’ en teen die vernietiging van ons erfenis, deur die Boerevolk se vyande.

 

Op Saterdag 27 Februarie 2010, toe die eerste druk van “As die Wekroep Weerklink” daar op Majuba vrygestel was, het Oom Hendrik besluit dat hy nog ‘n paar gedagtes met ‘n dieperliggende boodskap oor hierdie datum en die Paardekraal Verbond in die volgende druk van sy laaste verhaal wou invoeg, met die gevolg dat die hersiene uitgawe daarmee bygewerk is.

 

Hy het besef dat hy nog tyd sou oorhê om ‘n volgende verhaal te skryf en hy wou onder andere hierdie heruitgawe aan Clive Derby-Lewis en aan ons Boerekrygsgevangenis opdra, wat toe reeds sewe jaar vir die sogenaamde Boeremagverhoor deur ons volk se huidige vyande as gyselaars in die tronk aangehou was.

Kersfees 2010 sal egter in die geskiedenis van die Boerevolk aangeteken word, as die dag waarop van die Boerevolk se grootste seuns oorlede is.

 

Sy werke sluit ‘n baie wye spektrum in. Hy skryf spannende fiksie verhale, hy skryf vir die jong kinders, vir die jeug, hy skryf oor die grensoorlog, oor die toestande in die myn. As patriot, skryf hy veral oor die geskiedenis van die Boerevolk.

 

Dit ondervang onder andere die depressie, die Anglo-Boere oorlog, Majuba, die lewe op die delwerye, die Ossewa-Brandwag, en die lewe op ‘n Boereplaas. In kort, daar is aan sy vermoë en diversiteit, geen gelyke nie.

 

“Van Blerk”, vertel hy, ” het ook ‘n aantal deurlopende verhale geskryf wat ‘n sterk spanningslyn openbaar en meestal die Suid-Afrikaanse geskiedenis as agtergrond het: Geboorteplaas (1959) en Broer oor die visier (1963), albei oor die Randse mynstaking van 1922, en driemaal kraai die haan (1968), ‘n mynverhaal wat tydens die Tweede Wêreldoorlog afspeel, en ‘n hele reeks romans waarin hy die gebeure in die tyd van die Anglo-Boereoorlog situeer, onder meer verhale oor die verkenners van Danie Theron. Die Eerste verkenner (1969) en Boerespioen (1971). Hy is ook die skrywer van die romans Soos gras in sy dae (1955) en Die tollenaar van Tiekiedraai (1956). Nog in 2008 verskyn  Braakland van die bose

Koos Human, oud uitgewer en indertyd joernalis, onthou van Blerk só: “Hy en ene Visser het tydens die Tweede Wêreldoorlog ‘n bom na Benoni se poskantoor (of so iets) gegooi en ‘n verbyganger is dood, vandaar die doodstraf van albei. Later, na talle petisies is dit versag tot lewenslank en in 1948 deur die Nattes kwytgeskeld.”

 

“My herinnering is dat Van Blerk en Visser in die tronk die Bybel van ‘n kant af deurgewerk het: “Hoeveel woorde, letters in elke hoofstuk, in elke boek. In elke Evangelie. Wat is die middelste woord, die middelste letter, ensovoorts. Al hierdie gegewens is na hul vrylating pragtig deur ‘n letterkunstenaar op papier (perkament?) oorgedra en geraam.”

 

Dit is oorhandig aan die Transvaalse sinode van die NG Kerk. Ek was as verslaggewer van Die Vaderland in 1951 by die sinodesitting in Pretoria teenwoordig waar dié artikels oorhandig is.”

Die Volk groet jou Oom Hendrik van Blerk: Storieverteller. Verhaalkunstenaar. Held, Leier, Skrywer, Rolmodel. Nag ou Grote!

 

HS-van-blerk


Luister ook na: Danie Theron: Boere Held, Prokureur, Rapportryer, Verkenner, Onderwyser en Christen met £1,000 op sy kop


 

 

Enjoyed this post? Share it!