Openbare Beskermer Reis Maande Lank, Doen Net 7 Verslae – Als goed in die land dan?

In die eerste ses maande sedert haar aanstelling het adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), al die hele land deurkruis op die belastingbetaler se koste, maar net sewe ondersoekverslae bekendgemaak.

Dié verslae het almal betrekking op klagte wat reeds in haar voorganger se termyn ingedien is.

Daarenteen het adv. Thuli Madonsela, Mkhwebane se voorganger, in die eerste ses maande van háár termyn 30 verslae afgehandel en bekend gemaak.

Een van dié verslae het gehandel oor pres. Jacob Zuma se oortreding van die etiese kode vir die uitvoerende gesag toe hy versuim het om sy sakebelange en bates binne 60 dae ná sy inhuldiging as president bekend te maak.

Die verslae wat Mkhwebane al uitgereik het, handel oor onder meer wanadministrasie ­ by munisipaliteite, die Venda-pensioenfonds en die Koninklike Bafokeng-administrasie.

Op 18 April het Mkhwebane ’n verdoemende verslag teen Mokgele Mojaki, voormalige munisipale bestuurder by die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit in Noordwes, bekendgemaak.

Sy het bevind hy het ongerymde aanstellings gemaak en het aanbeveel dat siviele stappe teen hom gedoen word om geld te probeer herwin wat die munisipaliteit deur sy “onbekwaamheid en magsmisbruik” verloor het.

Mkhwebane het haar reise na die nege provinsies verlede week in Kimberley afgesluit.

Adv. Glynnis Breytenbach, DA-woordvoerder oor justisie, sê die DA het Mkhwebane se aanstelling “om goeie redes” teengestaan.

“Sy het nog nie veel gedoen om ons van mening te laat verander nie,” sê Breytenbach.

“Ons sal maar moet sien of sy aan die sensitiewe sake gaan raak.”

Volgens Mkhwebane het haar kantoor se ondersoekwerk nie stilgestaan terwyl sy deur die land gereis het nie.

“Daar is ’n mite dat ondersoekwerk daaronder ly wanneer ek op ’n toer soos dié is,” het sy Donderdag in haar toespraak in Kimberley gesê, waar sy lede van die Noord-Kaapse wetgewer, politieke partye en die arm gemeenskap van Ritchie ontmoet het.

Sy het gesê sy het 100 ondersoekers wat vir haar werk en haar kantoor het al meer as 1 000 klagte ontvang.

Oupa Segalwe, haar woordvoerder, het nie gereageer op Rapport se navrae oor presies wat haar doel met die maande lange reis deur die land is en hoeveel ondersoeke haar kantoor tans hanteer nie.

Mkhwebane het verlede ­ jaar in haar onderhoud vir die OB-pos gesê as dit van haar ­afhang, sal die OB minder vyandig teenoor die regering wees.

Bron:  Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!