Oppenheimers en Denel raak haaks

Denel & OppenheimerDie wapenvervaardiger Denel is haaks met die skatryk Oppenheimer-familie oor ’n superluukse private internasionale eindpuntgebou wat die Oppenheimers op O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park wil vestig.

In hofstukke word beweer dat die Oppenheimers hul “uitgebreide politieke en geldmag” gebruik om Denel se veiligheidsvereistes by hul eindpunt­gebou op O.R. Tambo te omseil.

Fireblade Aviation, ’n maatskappy wat aan die Oppenheimers behoort, huur ’n gebou by Denel op die lug­hawe. Fireblade bedryf hier ’n luukse private eindpuntgebou waar miljoenêrs gepamperlang word voordat hulle met hul eie private stralers oor die wêreld heen vlieg.

Fireblade se toekoms – en die nagenoeg R200 miljoen wat die Oppenheimers in dié onderneming belê het – is nou op die spel weens Denel se poging om ’n stok in die wiel van die onderneming te steek.

 In hofstukke wat in die hooggeregshof in Pretoria geliasseer is, blyk dit dat Denel kapsie maak teen ’n versoek van Fireblade om internasionale vlugte van dié eindpuntgebou toe te laat.

Fireblade huur die gebou waarin die eindpuntgebou gevestig is by Denel en wil ’n doeanebeheerpunt daar inrig sodat internasionale vlugte van superrykes direk van dié eindpuntgebou kan vertrek. Toe die huurtransaksie in 2013 beklink is, is dit klaarblyklik duidelik gemaak dat Fireblade sou poog om ’n internasionale eindpuntgebou daar te vestig.

Sedertdien het die belangrikste partye in die saak – insluitende die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy ­(Acsa), die departement van staats­veiligheid, die inkomstediens, die polisie en burgerlugvaart – die groen lig gegee dat die eindpuntgebou internasionale status kan kry.

In Desember verlede jaar, enkele maande nadat Denel se nuwe direksie aangestel is, het Denel egter ’n beswaar oor “veiligheidsrisiko’s” geopper. Daniel Mantsha, voorsitter van ­Denel, het intussen self tot die stryd toegetree en selfs ’n aanbeveling van Zwelakhe Ntshepe, sy waarnemende uitvoerende hoof, dat Fireblade se planne toegelaat word, van die tafel gevee.

Luidens die hofstukke was Fireblade en die Oppenheimers uit die veld geslaan oor dié ommekeer, veral omdat daar geen konsultasie was of voorvalle wat ’n veiligheidsgevaar vir Denel kon inhou nie.

Denel voer egter nou aan dat al 100 werknemers van Fireblade veiligheidsklarings van Krygkor en staatsveiligheid nodig het omdat “die meeste van Denel se werk geheim is”.

Denel sê hulle is ook bekommerd oor gure karakters wat die land deur Fireblade se eindpuntgebou kan binnekom en spioeneer op Denel se aanleg wat digby die eindpuntgebou lê.

Fireblade wys egter daarop dat hulle maar slegs een van 40 private kontrakteurs is wat persele op die lughawe by Denel huur.

Luidens hofstukke het Denel se Ntshepe in Januarie in ’n brief aan binnelandse sake sy steun aan Fireblade se aansoek toegesê.

’n Maand later het Mantsha egter vir binnelandse sake gevra dat dié goedkeuring onttrek word.

Denel voer aan dat Mantsha verseg om die inhoud en redes van sy brief aan Fireblade se regspan beskikbaar te stel. In Februarie het Mantsha in ’n brief aan Fireblade gesê sy beswaar is gegrond op ’n interne ondersoek na ’n “flagrante verbreking van Denel se veiligheidsvereistes deur Denel-personeel”.

In sy beantwoordende verklaring in die hofstukke beweer Mantsha verder dat Rentia Geldenhuys, die hoofbestuurder van Denel Industrial Properties, ’n “onbehoorlike verhouding” het met Robbie Irons, ’n direkteur van ­Fireblade.

Hy skryf: “Ek verstaan me. Geldenhuys en mnr. Irons is in ’n soort verhouding betrokke . . . haar selfoon­state wys vele oproepe tussen die twee. Haar aandeel in die klaring van die personeel moet dus omsigtig beskou word.”

Fireblade voer aan die gebou in ’n ou pakhuis in Kempton Park wat hulle by Denel huur, het ’n aparte ingang en is omhein met hoë veiligheidsheinings wat dit in geheel afskort van Denel se perseel. Dit het ook sy eie veiligheidspersoneel en beheerhek.

Geldenhuys het by navraag alle navrae na Denel verwys.

Rapport verneem sy is besig om ’n grief oor die aantasting van haar karakter in Mant­sha se verklaring te liasseer en oorweeg verdere regsoptrede.

Duncan Butcher, Fireblade en die Oppenheimers se regsverteenwoordiger, het gesê die saak is nog sub judice en daarom wil hy ook nie kommentaar lewer nie. Denel het ondanks skriftelike navrae ook nie kommentaar gelewer nie.

Bron: Netwerk24

 

Enjoyed this post? Share it!