Oproepe om monument in Bloemfontein te red val op dooie ore – SA verloor sy erfenisstrukture stukkie-by-stukkie

’n Monument in Bloemfontein wat die Suid-Afrikaanse soldate gedenk wat op die SS Mendi omgekom het, word stelselmatig verwoes, terwyl bewaringskundiges se oproepe om die monument te red, op dowe ore val.

Bronsplate is afgebreek van dié gedenknaald op Hoffmanplein waarop die name van die soldate verskyn wat 100 jaar gelede in die Eerste Wêreldoorlog verdrink het toe die SS Mendi in die Engelse Kanaal gesink het.

’n Stuk graniet van die monument is stukkend gekap en word nou as asblik gebruik.

Dirk Venter, ’n Bloemfonteiner wat passievol is oor die bewaring van erfenisstrukture, sê die senotaaf gaan by die dag agteruit. Dit sal uiteindelik heeltemal verwoes wees as daar nie dringend aandag aan die herstel en die bewaring van die monument gegee word nie.

1

Dirk Venter is bekommerd oor die toekoms van die monument. Foto: Marietjie Gericke

Venter en sy familie, wat ook die Pres. Brand-begraafplaas uit hul eie sak onderhou, sê optrede is dringend noodsaaklik.

“Hoewel die Mangaung-metro sê daar is sekuriteit en kameras, word die monument steeds gevandaliseer.”

Hy vra of die oplossing nie dalk is om dit na ’n veiliger plek te skuif nie.

Die SA Legioen het vroeër elke jaar sy internasionale herdenkingsdag om die einde van die Eerste Wêreldoorlog op 11 November 1918 te vier, hier gehou. Weens die verval daarvan, gebeur dit nie meer nie.

Venter sê toe Hoffmanplein in die tyd van Thabo Manyoni as burgemeester teen sowat R40 miljoen opgegradeer is, was daar versoeke om die monument te verskuif. Die relevante owerhede het toe nie toestemming daarvoor gegee nie.

’n Deel van die monument wat stukkend gekap is. Dit word nou as ’n asblik gebruik. Foto: Marietjie Gericke

’n Deel van die monument wat stukkend gekap is. Dit word nou as ’n asblik gebruik. Foto: Marietjie Gericke

Die metro het ook ’n versoek afgekeur om die restourasie by die opgraderingskontrak in te sluit.

Venter sê sowat ’n jaar nadat die opgraderingsprojek by Hoffmanplein voltooi is, het die metro planne begin maak om die monument te restoureer.

“Kontak is met die Erfenisstigting in die Vrystaat gemaak, wat die herstelprojek na die Commonwealth War Graves Commission in Engeland verwys het.

“Dié organisasie was vroeër verantwoordelik vir die restourasie van grafte in die Pres. Brand-begraafplaas, maar omdat die gedenknaald nie ’n graf is nie, wou hulle nie betrokke raak nie.”

Kontak is ook gemaak met ’n plaaslike argitek wat in die bewaring van historiese strukture spesialiseer.

“Hy het voorgestel dat die bronsnaamplate vervang word deur plate van ’n ander materiaal wat nie maklik gesteel sou word nie.”

Die verwaarloosde smonument op Hoffmanplein waar naamplate afgebreek is.Foto: Marietjie Gericke

Jurie van der Merwe, president van die SA Legioen se Bloemfontein-tak, sê die legioen het nie geld vir die herstelwerk nie.

“Dit is die metro se eiendom en sy verantwoordelikheid. Ons sukkel al baie jare met die metro om die monument op te gradeer of te skuif, maar hy het die afgelope 15 jaar nooit hiervoor begroot nie.”

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, sê hy sal navraag doen oor die metro se planne met die monument.

Afgebreekte stukke van die monument wat op Hoffmanplein lê.Foto: Marietjie Gericke

Deur: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!