Opvolg: Brande wat in Oos-Kaap woed alreeds R6 m. se skade aangerig

Die veldbrande wat reeds vier dae lank in die Oos-Kaap woed, het tot dusver meer as R6 miljoen se skade aangerig.

Die wegholveldbrande het Sondag in die Lady Grey-gebied ontstaan en suid van die Witteberg na Barkly-Oos versprei.

Luidens ’n verklaring van die Joe Gqabi-rampbestuur is meer as 40 000 ha afgebrand wat tot R6,4 miljoen se skade gelei het.

Minstens 24 plase is in die veldbrand beskadig, waarvan 12 plase se weiveld totaal vernietig is. Geboue is tot dusver gered, maar ’n groot hoeveelheid vee en wild het in die slag gebly.

“Die wild- en veeverlies moet nog geraam word, maar talle karkasse is reeds in die veld aangetref.”

Luidens die verklaring word sowat 600 mense deur die veldbrand geraak. Geen lewensverlies is tot dusver aangemeld nie, maar vier brandbestryders het geringe brandwonde opgedoen.

Brandbestryders van Lady Grey, Tsomo en Ugie het die afgelope week 24 uur per dag gewerk en bystand van sowat 40 boere en 160 van hul werkers gekry om die vlamme in bedwang te bring.

Swart geskroeide veld is al wat agtergelaat is in die verwoestende brand tussen Lady Grey en Barkly-Oos in die Oos-Kaap.

“Die gebied is baie bergagtig wat dit moeilik maak om die brande te blus, veral wanneer die vlamme in die valleie versprei. Sterk wind het ook verskeie brande weer laat opvlam. Paaie en strome water het geensins die verspreiding van die brand gestuit nie.”

Sake is vererger toe die wind te sterk was om die Werk met Vuur-helikopter veilig in die lug op te stuur.

“Die helikopter het vroeër gehelp om mense teen die berge op te vervoer, maar weens die stormsterkwind is die helikopter op die grond gehou.

“Die helikopter kan ook nie verder waterbomme gooi nie, weens die tekort aan water in die gebied. Die gebied ervaar tans ’n ernstige droogte.”

Luidens die verklaring is dit steeds onveilig aan die westekant van die R58 tussen Lady Grey en Barkly-Oos, asook oos van Avocapiek.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!