Opvolg: Groot-Brakrivier moord – Man (27) skuldig aan Human-moord

Die beskuldigde in die dubbele moord op ’n egpaar van Groot-Brakrivier is Donderdag skuldig bevind op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede.

Tamsanqa Sishuba (27) is in hegtenis geneem kort nadat die sogenaamde meesterbrein agter die moord, Lebohang Lekoro, oftewel Steven, vermoedelik landuit gevlug het. Hy word steeds deur die polisie gesoek en bevind hom moontlik in Lesotho.

Die egpaar, Tewie en Eurika Human, is op 14 Junie verlede jaar in hul huis langs die Sandhoogtepad in Groot-Brakrivier vermoor. Sishuba het beweer Lekoro, ’n werker by Human se rioolverwyderingsdiens, het hulle vermoor. Die oggend van die moord is R14 000 ook deur middel van ’n elektroniese oorplasing vanaf die Humans se rekening na ’n bankrekening in Lesotho oorgeplaas. Dit is algemeen bekend dat Eurika Human die oorplasings hanteer het.

Regter Robert Henney het Donderdag in sy uitspraak in die rondgaande hooggeregshof in Mosselbaai onder meer gesê Sishuba het verskeie weergawes van wat gebeur het voorgehou en het die hof en die polisie probeer mislei.

Volgens Henney is die Humans onderskeidelik met twee verskillende wapens – ’n panga (Tewie) en ’n handgemaakte mes (Eurika) – vermoor wat daarop dui dat twee mense betrokke was. Sishuba moes Tewie Human besig hou in die motorhuis terwyl Lekoro na Eurika Human in die huis is.

Sishuba het aanvanklik ook nie die polisie ingelig nie dat hy saam met Lekoro by die Humans se huis was nie, maar het dit eers later aan die lig gekom toe ’n afdruk van sy palm in die motorhuis gevind is.

Sishuba het ook voorgegee dat hy vir Lekoro bang was, maar het steeds in verbinding met hom gebly. Dit was oor die groot bedrag geld wat gesteel is. Sishuba het ook volgehou Lekoro het vir hom gesê hy “sou terugkom”.

Die saak is tot Maandag uitgestel sodat die partye die regter kan toespreek oor die vonnis.


Enjoyed this post? Share it!