Opvolg Steynsburg Plaasmoord

Moord op boer was ‘nie om te roof’

Niks is in die voorval gesteel nie, sê Douglas Stern, president van Agri SA in die Oos-Kaap.

Brent Gibbons (45), wat onder meer met vee geboer het, is Sondagaand tussen 19:00 en 20:00 op kort afstand buite sy huis doodgeskiet.

 Sy vrou, Willemien (43), is ook gewond en is in ’n ernstige maar stabiele toestand in die waakeenheid van ’n hospitaal in Port Elizabeth.

Die egpaar se drie kinders, onderskeidelik drie, vyf en agt jaar oud, is nie beseer nie en familielede sien tans na hulle om.

“Roof was definitief nie die motief nie. Niks is gevat nie – nie geld, wapens of die vrou se handsak nie,” sê Stern.

“Dit was ’n beplande moord, daar is geen twyfel nie. Die vermoede is dat dit moontlik ’n wraakaanval kan wees. Die boere in die Middelburg- en Steynsburg-omgewing is absoluut geskok.”

Volgens Stern is Gibbons geskiet toe hy Sondagaand uit die huis is om ’n pomp af te skakel. Hy was net by die deur uit toe ’n aanvaller hom geskiet het.

Die aanvallers is daarna in die huis in en het sy vrou ook geskiet. Hulle het gevlug sonder om iets te vat.

Dit is onbekend hoeveel aanvallers betrokke was.

Volgens Stern het die egpaar se kinders gesit en TV kyk toe die aanval gebeur het.

Danie van Litsenborgh, voorsitter van die veiligheidskomitee van Agri SA in die Oos-Kaap, sê Gibbons is geskiet sonder dat hy terugbaklei het.

“Hy is trompop geskiet. As georganiseerde landbou betreur ons die aanval en gaan ons simpatie uit na die familie.

“Dit is ’n groot skok en is kommerwekkend vir die boeregemeenskap. Ons (boere) bly sagte teikens omdat ons nie onsself 24 uur ’n dag kan beskerm nie.”

Van Litsenborgh sê dit is die eerste plaasmoord in ’n lang tyd in die Oos-Kaap. Daar was sedert die begin van die jaar pogings tot plaasaanvalle en rooftogte op plase, maar nie ’n moord nie.

Kapt. Ursula Roelofse, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, het vroeër die voorval bevestig en gesê die polisie sal later ’n verklaring uitreik.

Bron: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!