Orania-fratsongeluk: ‘Ouers vind berusting in hul geloof’

Madalene Slabbert (links). Foto: Verskaf

Madalene Slabbert (15), die skoolmeisie van Olifantshoek in die Noord-Kaap wat Vrydag in ʼn fratsongeluk in Orania dood is, se ouers vind berusting in hul geloof.

Madalene was tydens die Paasnaweek deel van die ondersteuningsgroep vir ʼn sporttoernooi op Orania. Die toernooi het op Donderdag en Saterdag plaasgevind en word Maandag voortgesit.

“Vrydag terwyl hulle af was, het sy van ʼn bakkie af geval en is ernstig beseer. Twee paramedici en ʼn  mediese dokter was binne enkele minute op die toneel. Hulle is kort daarna bygestaan deur nog paramedici en ʼn verpleegster. Madalene is op die toneel oorlede. Die presiese oorsaak van haar dood sal eers by die nadoodse ondersoek bepaal word,” het James Kemp, kommunikasiebestuurder van die Orania Beweging, Sondag aan Maroela Media gesê.

Volgens Kemp is Madalene se familie en die organiseerders van die geleentheid steeds getraumatiseerd en nog nie gereed om die media direk toe te spreek nie. Kemp tree dus as familiewoordvoerder op.

“Madalene was ʼn graad 9-leerder aan die Hoërskool Olifantshoek. Volgens mev. Annie Reitz, die skoolhoof,  was sy ʼn gebalanseerde Christenmeisie; ʼn skrander student wat ’n A-gemiddelde behaal het, aktief aan sport deelgeneem het, vol lewenslus was en voluit gelewe het. Sy was ook ʼn bedrewe redenaar.”

Haar ouers, Anton en Annalene, asook haar twee susters was saam met haar by die toernooi en was by toe sy dood is.

Hulle betuig hul diepe dankbaarheid vir die vinnige bystand en meelewing deur die inwoners van Orania en die organiseerders van die sporttoernooi.

Enjoyed this post? Share it!