Ou Suid Afrikaanse vlag in kroeg maak manne warm onder die kraag – los ons SA se Geskiedenis uit!

“Ek kan nie glo ons bel die polisie vir beskerming en toe arresteer hulle óns nie.”

Só sê Richard Julies (29) ’n prokureur van Kaapstad, Sondag.

Hy en vier vriende het in ’n kroeg in Seepunt, Brian’s Pub, gekla omdat die ou Suid-Afrikaanse vlag prominent teen ’n muur vertoon is.

Julies sê hulle het Vrydagaand naby die kroeg saam by iemand se huis geëet en daarna vir ’n laaste drankie na die kroeg gestap. “Kort nadat ons die drankie bestel het, het ons die vlag gesien en die kroegman daaroor uitgevra. Hy het dit verdedig en toe vir Keelan Joshua met ’n knuppel oor die kop geslaan,” beweer Julies.

Die vyf vriende Julies, Joshua, Lance Petersen, Angelika Beswick en Mpumelelo Mkhwanazi is toe na buite. ’n Klomp mense wat in die kroeg gekuier het, het hulle gevolg en ’n stryery het ontstaan.

“Ons het gevra dat hulle ons moet uitlos. Ek weet dit is nie onwettig om die apartheidsvlag te vertoon nie, dit is vryheid van spraak. Maar ek het ook vryheid van spraak om my teenkanting uit te spreek. Ons het die polisie gebel om die situasie te ontlont,” sê Julies.

Daar was geen geweld buite die kroeg nie, sê hy, maar wel lelike aanmerkings.

“Toe die polisie opdaag, het hulle vir ons gevra wat soek ons in ’n plek wat die ou vlag vertoon. Dit is nie die punt nie. Ek het gesê dit is pateties en dat dié opmerking nie help nie.”

EWE SKIELIK HET ’N KLOMP POLISIELEDE AGTERNA GEKOM.
Die groep vriende het toe na ’n vulstasie oorkant die pad gestap om koeldrank te koop. “Ewe skielik het ’n klomp polisielede agterna gekom. Hulle het my en Keelan in een vangwa gegooi en Angelika in ’n ander een. Hulle het so woes met ons gery dat ons nie op die bankies kon sit nie,” sê hy.

Volgens Julies is hulle sonder enige verduideliking van 02:00 tot 09:00 aangehou. “Daar is vir ons gesê ons is dronk, maar geen toetse is op ons gedoen nie.”

Om 09:00 het die polisie gesê hulle kan ’n boete van R200 elk betaal of in Oktober in die hof verskyn.

Julies sê hy het vroeër gevra om vrygelaat te word, maar die “stelsel was glo aflyn” en die polisie het glo vir hom gesê om hom “nie slim te hou nie” net omdat hy ’n prokureur is.

“Ons het geweier om die boete te betaal en sal hof toe gaan. Die polisie se optrede was onaanvaarbaar. Dit was ’n aaklige ervaring en onnodig. Ons probeer dit nog verwerk.”

Die vriende gaan ook die Menseregtekommissie en die polisie se onafhanklike ondersoekdirektoraat nader met hul klagtes.

“Ons het die moed gehad om op te staan teen dit wat verkeerd is en toe val die polisie ons aan,” sê Julies.

Brian’s Pub, die kroeg in Seepunt, Kaapstad, waar die ou Suid-Afrikaanse vlag vertoon is. Dié vlag was nie Sondag meer sigbaar met Netwerk24 se besoek nie.
Brian Dunn, eienaar van die kroeg, sê die vyf vriende het ‘n klomp glase gebreek, ook van die ander klante s’n. Hy beweer hulle was luidrugtig. “Ek was nie daar toe dit gebeur het nie. Ek moet nog met die kroegman praat. Daar is vlae van alle lande in my kroeg, die ou vlag is al vir 12 jaar daar. Dit is deel van die geskiedenis en ek weet nie hoekom mense altyd ‘n rassekwessie van alles moet maak nie. Die ou vlag van Rhodesië is ook daar, maar die mense weet dit nie eens nie, want hulle ken nie die ou vlag nie.”

Dunn sê hy het die ou Suid-Afrikaanse vlag intussen verwyder omdat hy nie lus is vir ‘n onnodige bakleiery daaroor nie.

Sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig twee mans en ’n vrou van in hul twintigs is deur die polisie in Seepunt in hegtenis geneem. Die klag teen hulle is dat hulle “dronk in die openbaar was”.

Daar is nie op ander navrae oor die voorval gereageer nie.


Enjoyed this post? Share it!