Ouetehuis sluit dalk oor toelaes

Elliot. – Byna 40 jaar al versorg die tehuis hier dié dorp se bejaardes, maar as die staatstoelae waarvan hulle afhanklik is, nie verhoog nie, is die tehuis se dae getel.

So sê Hannes Muller, bestuurder van die tehuis – die enigste op die dorp.

Die tehuis versorg tans 18 bejaardes, waarvan 12 afhanklik is van ’n staatstoelae. Hulle het nog nie dokumente vir die nuwe jaar ontvang nie, wat beteken die toelae kan nie ontvang word nie.

“Ons moet elke jaar ’n sakeplan indien vir die departement en ons doen dit getrou,” sê Muller. “Ons probeer ook om hulp by die nasionale lotery te kry. Daar is geld in reserwe, maar ons moet elke maand daarvan gebruik om die pot aan die kook te hou.”

Boonop sukkel hulle om kop bo water te hou, aangesien hulle onder ’n handvol tehuise tel wat sedert 2008 geen verhogings in hul toelaes ontvang het nie.

Volgens die nasionale landboubemarkingsraad (NAMC) was die koste van ’n basiese kosmandjie in 2008 slegs R344, maar vanjaar het dit gestyg tot R579 per mandjie – wat ’n styging van meer as 40% in kospryse aandui.

Hieroor het die tehuis die hulp van Solidariteit Helpende Hand ingeroep wat regstappe teen die departement oorweeg om te verseker die toelaes word verhoog.

“Ons oorweeg om regstappe te doen om die departement te verplig om bejaardes se fundamentele regte, soos gevestig in die Grondwet, te respekteer,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand.

“Helpende Hand beywer hom om die weerloses in die samelewing te beskerm en hierdie bejaardes is die definisie van weerloos. Die staat het ’n verantwoordelikheid teenoor hulle.” – Eie kantoor

Bron – Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!