Ouma verloor haar lewe en kleinkind veg steeds verbete vir hare na wreedardige aanval by hul woning

Die 47-jarige Tershia Botha is dood nadat sy laas naweek in haar huis aangerand is. Haar kleinkind (3) veg steeds vir haar lewe in ’n hospitaal. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek van die Bethelsdorp-polisie duur voort.

“EK KAN nie glo dat ’n gesonde persoon nou ’n lyk is nie. Ons is te seer om te praat.”
Só het die pa van Tershia Botha, ’n 47-jarige ouma, gister gesê.
Dit kom nadat sy dogter en haar kleinkind (3) die naweek wreed in hul huis in Chatty 12 aangerand is.

Sizwe Kupelo, ’n woordvoerder van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, het bevestig Botha is gisteroggend dood verklaar. Hy het gesê haar kleinkind veg steeds om haar lewe in die Dora Nginza-hospitaal.

Die familie wou geen name of foto’s in die koerant hê voordat hulle gereed is om te praat nie.

Gemeenskapslede het Saterdag 17:30 die bebloede ouma en kleinkind met ernstige kopbeserings op die vloer van hul huis gevind.

’n Anonieme vriendin van Botha het deur ’n venster geklim nadat inwoners lank aan die deur geklop het.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie klagte van moord en poging tot moord ondersoek noudat Botha dood is.

Volgens Janse van Rensburg is geen klagte van verkragting in verband met dié saak by die polisie aangemeld nie.
Kupelo het gesê: “Die pa­siënt (kind) het nierversaking gehad, maar dit is aan die verbeter.

“Daar is ook ’n bevestiging van swelling op die kind se brein,” het Kupelo verduidelik.

Intussen het Kupelo ernstige bewerings oor Botha se dood gekry.

Volgens hom maak die Botha-familie ernstige bewerings teen die Living­stone-hospitaal, waar Botha ’n pasiënt was.
“Die familie beweer dat die hospitaal nooit vir hulle oor Botha se dood ingelig het nie.

“Gister toe hulle (die familie) by die hospitaal opgedaag het, het hulle die nuus gekry.

“Die familie beweer Botha het haarself vuilgemaak en dit is nooit skoongemaak nie.
“Die familie beweer ook dat Botha gedurende die nag deur hospitaalpersoneellede afgeskeep is.
“Verder beweer die familie dat drie goue ringe in die hospitaal van Botha se linkerhand gesteel is,” het Kupelo verduidelik

Kupelo het op die bewerings gereageer en gesê: “Familielede moet hospitale se besoekure gebruik sodat interne operasies kan aangaan sonder dat persone bloot­gestel word aan situasies waarvoor hulle nie opgelei is nie.”
Volgens Kupelo was diefstal in die hospitaal nog nooit ’n probleem nie, maar hy het bevestig dat verdere ondersoeke gedoen sal word.

Janse van Rensburg het intussen bevestig geen verdagtes is nog tot dusver in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.

Die polisiewoordvoerder het bygevoeg dat die Bethelsdorp-polisiestasie steeds die klagte ondersoek.


Enjoyed this post? Share it!