Padvalke word verplig om roudiens van gestorwe departementshoof by te woon

Die DA het ’n beroep op Sam Mashinini, LUR vir polisie, paaie en vervoer in die Vrystaat, gedoen om in te gryp en seker te maak dat verkeersdienste in die provinsie nie vandeesweek ontwrig word nie.

Dit volg nadat alle verkeersbeamptes verplig is om die roudienste van Sandile Msibi, departementshoof, in Parys by te woon. Al die toetssentrums moes ook vir ’n dag of meer gesluit word.

Leona Kleynhans, DA-lid in die Vrystaatse wetgewer, sê die DA is deur verskeie mense in die departement genader wat gesê het hulle is almal beveel om Msibi se roudiens by te woon.

“Verkeer van en na ons paaie gaan geweldig begin toeneem omdat die meeste vakansiegangers dié naweek begin terugkeer. Ons kan nie toelaat dat hulpbronne onttrek word op ’n tyd dat dit die nodigste is nie.”

Die DA gaan ook geskrewe vrae in die wetgewer aan Mashinini rig om te hoor hoe só ’n bevel die werk van die departement geraak het. Hulle wil weet hoeveel verkeersvoertuie en -amptenare onttrek is van hul poste om die begrafnis by te woon en wat die finansiële gevolge daarvan is.

Inwoners van Parys het ook ’n omsendbrief van die munisipaliteit gekry wat hulle waarsku dat daar ‘n groot aantal verkeersvoertuie op die dorp gaan wees tot en met die begrafnis Donderdag.

“Verkeerspersoneel van Gauteng en die Vrystaat het kom rou betoon. Donderdag sal die familie van Vereeniging op die R59-pad tot by die Phehellang-skool en tot by die begraafplaas begelei word deur die verkeersdepartement (se) voertuie en motorfietse vir amptelike doeleindes,” lui die boodskap.

Inwoners is gevra om bedag te wees op die konvooi wat van 08:00 af op die R59 gaan ry.

Die aansluiting by die Welkom-kafee gaan baie besig wees met die aankoms van die begeleiding van verskillende regeringshoofde. Mense moet bedag wees op sirenes en konvooie.

George Ramotsoto, hoofdirekteur: verkeersbeheer, wat die bevel uitgereik het, het nie sy telefoon geantwoord toe hy gebel is nie.

Hillary Mophete, woordvoerder, het vir die tweede dag nie navrae hieroor beantwoord nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!