‘Panama Papers’: Nog inligting bekend gemaak

Panama papers‘Panama Papers’: Nog inligting bekend gemaak

Nog inligting oor duisende maatskappye, trusts en fondse wat in die sogenaamde Panama Papers gelys is, sal Maandagaand op ’n aanlyn databank beskikbaar gestel word.

Die International Consortium of Investigative Journalists (ICIJ), wat gehelp het om miljoene dokumente wat aan joernaliste uitgelap is te ontleed, sê dié inligting sal Maandag van 20:00 af in Suid-Afrika beskikbaar wees.

Dit kan by die skakel gevind word. Die bekendstelling vind om 14:00 in die VSA se oostelike tydsone plaas.

 Inligting oor meer as 200 000 maatskappye en instellings in verskeie belasting­skuilplekke sal hier nageslaan kan word.

Die ICIJ het in April gesê dit sal waarskynlik “die omvattendste inligting wees oor buitelandse skimmaatskappye en die mense daaragter wat nog ooit bekend gemaak is”.

Hy het gesê dit is die volgende stap in sy jaarlange ondersoek, wat steeds voortduur, nadat data uit 11,5 miljoen uitgelekte dokumente in die Panama Papers-ondersoek ontgin is.

Dié dokumente is aanvanklik aan Duitse joernaliste verskaf en is verbind met die Panamese regsfirma en diensverskaffer Mossack Fonseca.

Sedert die inligting vroeg April aan die wêreld bekend gemaak is, is verskeie bekendes en staatslui betrek by saketransaksies en beleggings in 21 belastingskuilplekke.

Dit sluit in 29 miljardêrs op die tydskrif Forbes se lys van die wêreld se 500 invloedrykste mense.

Daarbenewens het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Reserwebank aangedui dat hulle die bevindings sal ondersoek.

Die inligting wat bekend gemaak word, is nie persoonlik nie, maar wel die ­name van die “entiteite” wat deur Mossack Fonseca geïnkorporeer is en wie hul begunstigdes, aandeelhouers en direkteurs is. Bron – News24

Enjoyed this post? Share it!