Partye woedend oor naamsverandering van Potch en Ventersdorp Munisipalieit

Opposisiepartye beskuldig die ANC daarvan dat hy reeds besluit het om die nuwe saamgestelde munisipaliteit van Potchefstroom en Ventersdorp na J.B. Marks te noem, al verkies inwoners glo die naam Tlokwe.

Potchefstroom se Tlokwe-munisipaliteit en dié van Ventersdorp het in Augustus verlede jaar saamgesmelt.

Die DA, VF Plus en onafhanklikes het Dinsdag in protes uit ’n raadsvergadering op Potchefstroom gestap waar oor die nuwe naam gestem is.

Die ANC en EFF het op die vergadering voorlopig die naam J.B. Marks gekies. Marks was ’n boorling van Ventersdorp en ’n vryheidsvegter.

Die naam geld net die nuwe saamgestelde munisipaliteit. Die dorpe se name verander nie.

Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, het Woensdag gesê die raad se keuse is nog nie finaal nie en dat die publiek nog 14 dae kans het om kommentaar te lewer voordat die nuwe naam bekend gemaak word.

Hans-Jurie Moolman, DA-koukusvoorsitter, meen egter die openbare deelnameproses is vir die ANC net ’n formaliteit,
“al het hofuitsprake al bewys hoe belangrik dit is”.

Groot moeite en koste is die laaste maande aangegaan vir openbare deelname waarin inwoners name kon voorstel.

Moolman sê die meeste inwoners het aangedui hulle verkies die naam Tlokwe bo drie ander voorstelle, waaronder J.B. Marks.

“In die jongste munisipale begroting word reeds vir ’n verlies van R170 miljoen begroot. Ons kan nie nog ’n naamsverandering ook finansier nie.”
Pieter Steyn, VF Plus-raadslid, sê ook dis ’n onnodige verkwisting van geld omdat J.B. Marks reeds vereer word met ’n reuse-standbeeld in Ventersdorp.

Die standbeeld van die vryheidsvegter J.B. Marks in Ventersdorp.

Die standbeeld van die vryheidsvegter J.B. Marks in Ventersdorp.

Moolman sê die ANC probeer met die keuse van die naam J.B. Marks emosies en nostalgie gaande maak om stemme te werf vir die 2019-verkiesing.

Maphosa ontken dat die meeste inwoners die naam Tlokwe verkies.

“Daar is ’n misverstand dat die openbare deelnameproses ’n stemming was. Die proses het onder meer behels dat vergaderings in 28 wyke gehou is, met tot 90 mense wat van die vergaderings bygewoon het. Op dié vergaderings is naamvoorstelle nie per kop getel nie, maar een keer neergeskryf ongeag hoeveel mense dit voorgestel het.

“Net die gekose name wat per e-pos ontvang is of in die houers wat daarvoor verskaf is, is getel. Daarvolgens het Tlokwe met 27 stemme gewen.”

Maphosa sê die voorstelle van mense in dié wyksvergaderings moet in ag geneem word, al het hulle nie per e-pos of deur die gebruik van houers gestem nie.

“Ons is tevrede J.B. Marks is ’n geskikte keuse.”


 

Enjoyed this post? Share it!