Paul Kruger het óók vermaan teen verdeeldheid

 Paul Kruger het óók vermaan teen verdeeldheid

Wanneer ons Staatspresident Paul Kruger se bekende boodskap aan sy volk lees, moet ons veral met twee sake rekening hou:

Die boodskap moet in geheel gelees en geneem word, met sowel die bemoediging as die vermaning.

Daardie boodskap aan sy geliefde volk moet gelees en verstaan word vanuit Paul Kruger se Bybelgetroue lewensbeskouing, maar des te meer sy voorbeeld in Christelike lewenswandel, volksliefde en volksdiens.

Wanneer ons ons volk se lewenswandel in oorweging neem, kan ons nie anders as om die volks-verval vierkantig in die oë te kyk nie:

die meerderheid van sogenaamde “Afrikaners” maak ´n bespotting van die Christelike lewenswandel wat ons voorsate laat uitstaan het, en van ons ware pioniers gemaak het.

materialisme en gierigheid, werk, inkopies en sport op Sondag, bandelose sedes het nuwe norme geword, wat selfs deur die meeste “kerke” goedgepraat en as “christelike vryheid” bestempel word.

Maar aan die meer konserwatiewe kant van die skaal lyk dit nie veel beter nie:

Rasse-hoogmoed word alte maklik verhef tot “christelik” en pogings tot Bybelse regverdiging gaan hardnekkig voort.

Tragies, in ´n kortsigtige opregtheid, probeer die werklik behoudende Afrikaner vandag steeds die hand reik na beide hierdie groepe – al wat ons daarmee bereik is om ons eie saak en volk te benadeel. (Natuurlik moet ons mekaar die hand reik waar die verkeerde bely en laat staan word.)

Wanneer ons volksliefde en volksdiens oorweeg, sien ons dat “politieke leiers” werk volgens ´n volksvreemde party-politieke agenda – die party, nie volksbelang nie, bepaal beleidsrigtings!

Salarisse uit die staatskas word nagejaag, nie volksdiens nie!

Maar sekerlik die grootste praktiese vermaning wat mense gerieflik miskyk, is dat die wyse ou president sy volk vermaan het teen “verdeel-en-oorheers” deur ons vyande.

Interne verdeeldheid, wat spruit uit persoonlike ambisie, wat so ´n tragiese rol ook in die ZAR gespeel het, was vir hom ´n ernstige struikelblok vir sy volk se toekoms.

En juis hierin faal die meerderheid van sogenaamde “volksleiers” vandag.

Daar is diegene wat vandag, 2015, wyd verkondig dat hulle allerlei planne en strategieë ontwikkel om die Afrikaner “op te hef”.

Met sulke stellings vee hulle in enkele sinne die opoffering van tieneduisende, oor meer as twee dekades, van die tafel af.

En daarmee skep hulle opnuut verdeeldheid, sodat húlle kan oorheers. Want enige aksie wat hulleself as “Christelik” of as “Volkseie” tipeer, pas nie in die moderne, sogenaamd nie-rassige “afrikanerbeeld” nie!

Toenemend gaan hulle stemme op dat ons volk se toekoms in humanistiese idioom verstaan moet word, en wat enige verwerping van humanisme afmaak as “regs”.

Die “pas aan”-boodskap van die 1990’s word net in nuwe, “geleerde” gewaad opgedis.

En hiermee is ons vol-sirkel terug by Paul Kruger en sy lewenswandel:

Toets eenvoudig enige persoon of beweging se grondslae en uitsprake aan die Bybel – die waarheid sal dán altyd stand hou.- Vryburger

Enjoyed this post? Share it!