Pieter Groenewald, leier VF Plus: Polisie kan nie meer misdaad in SA beheer

Die minister van polisie se versoek om die weermag te ontplooi om die polisie by te staan met die bekamping van misdaad is ʼn erkenning dat die polisie nie meer misdaad in Suid-Afrika kan beheer nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald het in ʼn ledeverklaring in die parlement gesê dit kom daarop neer dat misdaad buite beheer is.

“Dit is nie ongewoon om die weermag se hulp te gebruik nie, alhoewel dit nie wenslik is nie. Die VF Plus wil egter waarsku dat die SANW nie op standaard is om die polisie by te staan met polisiewerk nie.

“Soldate is nie opgelei daarvoor nie, hulle weet nie wat om te doen nie, en hulle is nie gedissiplineerd genoeg nie. Die VF Plus waarsku dat indien die weermag in sekere gebiede ontplooi gaan word, daar nie een Marikana gaan wees nie, maar baie.

“Polisielede is daar om die gemeenskap te beskerm. Soldate word opgelei om mense dood te skiet. Dit is die verskil tussen die twee,” het dr. Groenewald gesê.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!