Pieter Mulder: “Belastingondersoek net ‘n rookskerm”

Die minister van finansies, Malusi Gigaba, het aangekondig dat ‘n kommissie aangestel gaan word om institusionele swakhede by die SAID te ondersoek, en wat die redes is vir die onderverhaling van byna R61 miljard in belasting.

Die onderverhaling van belasting is waarskynlik net ʼn rookskerm waarom Gigaba die ondersoek gelas het, glo dr. Pieter Mulder, parlementslid van die VF Plus.

Dr. Mulder sê so ʼn ondersoek kan gedoen word sonder die direkte ingryping van die minister en die ware redes vir die ondersoek kan tweeledig wees.

“Ten eerste kon faksiegevegte tussen die Zuma- en Ramaphosa-kamp ʼn rol in die besluit gespeel het. Die faksiegevegte het lankal reeds oorgespoel na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Dit is egter ook moontlik dat ʼn heksejag nou gevoer word om vas te stel wie inligting en dokumente gelek het aan die skrywer Jacques Pauw vir sy boek, The President’s Keepers.

“Die VF Plus wil ook ʼn beroep doen op die minister van polisie, Fikile Mbalula, om die doodsdreigemente teen Pauw in ʼn ernstige lig op te neem. As die regering ernstig is om korrupsie te beveg, is dit noodsaaklik dat fluitjieblasers en die vryheid van die media deur die minister en die regering beskerm word,” sê dr. Mulder.

Die ondersoek gaan kyk na die gebrek aan kapasiteit van SAID om belasting en BTW in te vorder. Waarnemers sê dat hierdie onderverhaling en tekort by SAID tot ‘n groot mate veroorsaak word deur individue en besighede wat toenemend belasting vermy of ontduik omdat die publiek se gevoel is dat hulle belastinggeld in korrupte politieke sakke beland en die belastingbetalers daar geen diens of voordeel uit terug kry nie.

Foto: Dr. Pieter Mulder

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!