Plaasaanval bedlêende vrou met hoekslyper gesny

Bejaarde egpaar buite Kroonstad aangeval

Die bedlêende vrou van ’n dokter is Sondagmiddag buite Kroonstad met ’n hoekslyper aan haar nek gesny en haar man is met ’n yster oor sy kop geslaan.

Dr. Koos Troskie, (71) sê hy het Sondag omstreeks 17:00 gery om ’n pasiënt by sy spreekkamers te ontmoet.

Met sy terugkeer na sy plaas Halfkroondrift, omstreeks 19:00, het hy ’n skerp brandreuk in sy huis geruik.

 Hy het kombuis toe gehardloop omdat hy gedink het iemand het iets op die stoof vergeet. Die egpaar se kinders het vroeër die dag daar gekuier.

Die volgende oomblik het twee mans hom oorval en met ’n yster oor sy kop geslaan en hom begin wurg. Hulle het geld van hom geëis.

Troskie sê hy het vir hulle gesê hy wil eers sien of sy vrou ongedeerd is voordat hy hulle geld sal gee.

Sy twee aanvallers het hom na sy slaapkamer gesleep waar sy vrou, Natalie (68) in die bed gelê het. Haar nek was stukkend waar die mans die hoekslyper gebruik het om haar te sny. Hulle het haar met die hoekslyper gedreig omdat hulle nie geld in die kluis kon kry nie.

HULLE WAS REDELIK ORDENTLIKE SKELMS.

Die mans het die kluis oopgesny en dit is dié reuk wat Troskie geruik het toe hy by die huis aangekom het.

In die kluis was net vuurwapens en geen kontant nie.

Troskie sê hy glo nie die mans weet hoe werk vuurwapens nie, want die een het die slot van sy .243 oopgetrek maar nie geweet hoe om die patroon in die loop in te stoot nie.

Hulle het hom ook met die geweer oor sy kop geslaan.

Hy het R1 500 wat hy kort tevore getrek het, aan sy aanvallers gegee. Hulle het ook die sleutels van sy bakkie geëis.

Die mans het ’n ent met die bakkie gevlug, maar dit by die plaashek gelos. Hulle het ook nie die gewere gesteel nie.

Troskie kon homself bevry en moes tot by die teerpad loop om hulp ontbied.

Hy het ’n paar houe oor die kop weg en een van sy ribbes is gebreek.

Die mans het albei vlot Afrikaans gepraat. “Hulle was redelik ordentlike skelms,” sê hy. “Hulle het baie verarmd gelyk.”

Die egpaar se wit Duitse herdershond het naby die elektriese omheining gelê. Die hond is vermoedelik vergiftig.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n saak van huisroof.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!