Plaasaanvalle: 2017 dalk een van die bloedigste nog ooit

Alle aanduidings is dat 2017 een van die bloedigste jare nóg kan wees wat plaasaanvalle en -moorde in Suid-Afrika betref.

Volgens TLU SA, wie se data deur die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) en ander gebruik word, was daar tussen 1 Januarie en 26 Julie 246 plaasaanvalle waarin 47 mense vermoor is.

“Die moordsyfer is baie hoër as verlede jaar dié tyd en die aanvalsyfer is ook besig om te styg,” sê Chris van Zyl, TLU se assistenthoofbestuurder van beleidskakeling.

“Ons sien eintlik ’n konstante styging in die syfers sedert 2011, sê Henry Geldenhuys, TLU SA se adjunkpresident en voorsitter van hul nasionale veiligheidskomitee.

“As ons in hierdie stadium van die jaar reeds met sulke hoë syfers sit, is dit uiters kommerwekkend om te dink hoe die situasie teen die einde van die jaar gaan lyk.”

AS ONS IN HIERDIE STADIUM VAN DIE JAAR REEDS MET SULKE HOË SYFERS SIT, IS DIT UITERS KOMMERWEKKEND OM TE DINK HOE DIE SITUASIE TEEN DIE EINDE VAN DIE JAAR GAAN LYK.

Chris van Zyl, TLU
“Ons wil graag hê die polisie moet plaasmoorde as ’n groter prioriteit begin sien, want dit is nie iets wat ons op die oomblik op grondvlak sien gebeur nie.

“Die polisie se landelike beveiligingsprogram werk wat my betref glad nie en dit is gewoonlik slagoffers se bure wat eerste reageer.

“Polisielede ken dikwels nie hul wyk nie en kom eers baie later op die toneel aan omdat hulle dit nie kon vind nie.”

Volgens Geldenhuys maak die organisasie sedert 1990 af statistieke oor plaasaanvalle bymekaar en doen hulle groot moeite om elke geval te bevestig.

Teen Desember 2016 was daar volgens hulle al 1 848 mense insluitend 1 187 boere, 490 familielede, 147 plaaswerkers en 24 besoekers op plase vermoor.

VOLGENS IAN CAMERON WAS DAAR ’N BAIE GROOT STYGING SEDERT FEBRUARIE EN HET PLAASAANVALLE IN VERAL NOORDWES EN VRYSTAAT DRAMATIES NÁ DIE RASSEGEWELD IN COLIGNY TOEGENEEM.
“Ons doen groot moeite om elke saak op te volg, ons data strek oor alle kleurgrense en sluit ook aanvalle op swart boere, plaaswerkers en hul families in,” sê Geldenhuys.

“Ons hou vir elke voorval rekord van die persoon se naam, ouderdom en ander besonderhede en ons was by die publikasie van twee boeke oor plaasaanvalle (Treurgrond) betrokke.”

Volgens Geldenhuys is die geweld wat met sommige van die aanvalle gepaard gaan net so ’n groot kwelpunt vir hulle.

“Hoekom die erge geweld? Waarom ’n vrou met ’n steekvlam of ’n elektriese boor martel?

“Dit is heeltemal onsinnig en die gepaardgaande onsekerheid onder boere het uiteindelik ook ’n impak op die land se voedselsekerheid.”

“DINGE LYK LANDWYD MAAR DUISTER EN POLITICI MOET OP HUL UITLATINGS LET OM NIE DIE SITUASIE TE VERERGER NIE.
Ian Cameron, AfriForum
Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, vermoed die organisasie die aantal plaasaanvalle en -moorde kan selfs hoër wees.

Volgens die organisasie se syfers, wat deur hul sentrale beheersentrum nagegaan en bevestig word, was daar tot dusver vanjaar 177 plaasaanvalle en 63 plaasmoorde.

Volgens hom was daar ’n baie groot styging sedert Februarie en het plaasaanvalle in veral Noordwes en Vrystaat dramaties ná die rassegeweld in Coligny toegeneem.

“Dinge lyk landwyd maar duister en politici moet op hul uitlatings let om nie die situasie te vererger nie.”

Riah Piyega, voormalige nasionale polisiekommissaris, het in Maart 2015 onder skerp kritiek deurgeloop toe sy aangekondig het dat plaasmoorde volgens die polisie se amptelike statistieke sedert April 2010 met meer as 30% afgeneem het.

Van Zyl het destyds gesê hy verskil “lynreg” van die polisie se posisie dat hulle besig is om dié stryd te wen.

Deur Ügen Vos/Netwerk24


Enjoyed this post? Share it!