Plaasaanvallers brand los op egpaar in Cullinan-omgewing

ʼn Vrou is vroeg Woensdagoggend in haar voet gewond toe twee aanvallers toegang tot hul plaas in die Cullinan-omgewing verkry en op haar en haar man losgebrand het.

Ao. Johan van Byk, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het net ná 01:00 plaasgevind.

Relien Badenhorst, huisvriende van Johan “Jorrie” en Leanda Jordaan wat albei in hul veertigs is, het aan Maroela Media gesê die twee aanvallers het ʼn moersleutel en ʼn boutsnyer gebruik om die diefwering by een van die vensters te verwyder. “Een het deurgeklim en die voordeur vir die ander een gaan oopsluit,” het Badenhorst gesê.

Die gesin se Jack Russel het begin blaf en Johan het met sy vuurwapen gaan ondersoek instel. Die egpaar se twee laerskoolkinders was ook in die huis ten tyde van die aanval.

“Een van die aanvallers was gewapen en het in die gang ʼn flits op Johan en Leanda geskyn en net op hulle losgebrand. Johan het teruggeskiet en die aanvallers het op die vlug geslaan,” het Badenhorst gesê.

Leanda is in die proses in haar voet gewond en na die hospitaal geneem vir mediese behandeling. Volgens Badenhorst is daar gelukkig geen beentjies in haar voet getref nie.

Daar is onder meer ʼn DVD-speler, skootrekenaar en Playstation-speletjieskontrole gesteel tydens die aanval.

Volgens Badenhorst is van die gesteelde goedere, die wapen wat die aanvallers gebruik het en boutsnyer in die veld aangetref. “Hul spoor is vir sowat 3 km gevolg tot by die teerpad.”

Badenhorst vertel verder van ander voorvalle wat die afgelope ruk plaasgevind het waar daar ook twee stelle spore aangetref is. “Ons vermoed dis dieselfde aanvallers. In sommige gevalle was grensdrade reeds geknip tussen eiendomme. Dis amper asof hulle klaar ʼn wegkomroete beplan en voorberei het.”

Van Byk het verder gesê dat ʼn saak van gewapende roof ondersoek word. “Daar sal moontlik later nog aanklagte bygevoeg word.”

Die polisie se ondersoek duur voort.


Enjoyed this post? Share it!