Plaasaanvallers vasgetrek in Polokwane – Knap gedaan!

Die polisie het ’n lid van ’n vermeende bende in ’n oor-en-weer-skietery gewond nadat een van sy makkers ure tevore in ’n aanval op ’n kleinhoewe deur die eienaar doodgeskiet is.

Twee van hul makkers is uiteindelik in hegtenis geneem terwyl die gewonde tans onder polisiebewaking in die hospitaal is.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê hierdie drie mans van onderskeidelik 22, 24 en 25 jaar oud was na bewering betrokke by ’n aanval Donderdagaand op ’n hoewe in die Leeukuil-omgewing. Twee van die mans wat glo betrokke was by ‘n aanval op ‘n hoewe buite Polokwane by die gesteelde goedere wat na bewering in hul besit gevind is Foto: SAPD

Hulle kan moontlik met meer as 20 sake van huisbraak in Seshego en Westenburg verbind word.

Norman Douglas (42) het Donderdagaand op sy huis se veiligheidskameras gesien hoe die bende buite rondsluip. Hy het ’n waarskuwingskoot met sy .303-jaggeweer deur ’n venster geskiet. Die mans het eers gevlug, maar toe teruggekeer en op die huis geskiet.

Douglas het teruggeskiet en een van die mans is in die bors getref. Hy is op die toneel dood.

Ngoepe sê ’n taakspan van die polisie het daarna onverpoosd na die gewapende mans gesoek en hulle is Vrydag laat uiteindelik in die Makgofe-gebied buite Polokwane opgespoor.

“Hulle het op die polisie geskiet en die polisie het teruggeskiet. Dit is toe dat een van die mans gewond is,” het Ngoepe gesê.

Die polisie het die mans se blyplek deursoek en op onder meer drie vuurwapens, 24 selfone, ’n bergfiets en die sleutel van ’n Mercedes-Benz beslag gelê. Daar is ook op ’n gesteelde skootrekenaar, vyf luidsprekers, vier DVD-spelers, drie plasma-TV-skerms, vier flitsligte, ’n koelboks vol gereedskap, ses pare tekkies en ’n vrieskas beslag gelê.

Die drie mans sal Maandag op aanklagte van huisbraak, poging tot moord, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie asook die besit van gesteelde goedere in die Seshego-landdroshof verskyn.

Deur: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!