Plaasaanvallers wou gesin van Caledon leed aandoen

Jacques Bouwer en sy seun Jan het Dinsdag ’n aanval op hul plaas buite Caledon oorleef.

Bouwer en sy gesin is Dinsdag kort ná 00:30 deur drie mans in hul huis aangeval. Een van die mans het vroeër vir Bouwer gewerk, maar is afgedank nadat hy glo by hulle en by ’n buurplaas ingebreek het.

Bouwer sê hy het ’n lawaai gehoor en gaan ondersoek instel. Die mans het die dubbeldeur wat na die stoep lei, afgeskop.

Die ysterhek voor die deur was nie gesluit nie.

Hy sê die drie aanvallers was almal met messe gewapen. Hyself is in sy linkerhand gesteek. Sy seun Jan (17) is ook verskeie kere gesteek. Die steekwond aan Jan seun se nier is so diep dat ’n hand daarin kan gaan. Hy word tans in die Caledon-hospitaal behandel.

Bouwer sê toe hy die mans sien, het hy onmiddellik geskreeu om alarm te maak sodat sy vrou en hul kinders na veiligheid kon gaan.

Dis toe dat Jan hom te hulp gesnel het.

Lt.kol. Norman Evertson, woordvoerder van die Caledon-polisie, het die voorval bevestig.

Volgens Evertson is die drie mans kort ná die aanval naby die Villiersdorp-afrit op die N2 in hegtenis geneem. Hulle het te voet van die plaas af gevlug.

Niks is gesteel nie.

Bouwer het Dinsdag gesê die aanvaller wat aan hulle bekend is, het ’n maand gelede by hulle ingebreek. Hy het toe ’n kettingsaag gesteel. Dieselfde man het glo ook by ’n buurman se plaas ingebreek en daar ’n voertuig gesteel.

Die man het glo aan mense gesê hy gaan terugkom “om die plaasmense se monde toe te maak”.

Bouwer, wat nou tuis aansterk, sê die mense het nie gekom om te steel nie. “Hulle het gekom om ons seer te maak.”

Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!