Plaasmoord in Mid Illovo word beskryf as ‘n grutoneel en bloedbad: “dit was ‘n totale overkill”

Die toneel op die plaas Arniside in Mid Illovo, waar Craig Smith (70) Vrydag vermoor is, was glo ’n bloedbad.

Volgens Ian Cameron, AfriForum se veiligheidshoof, het die polisie afgekom op ’n “grutoneel” met “ongelooflik baie bloed”. “Hierdie was nie ’n gewone moord nie, dit was ’n totale overkill.”

Die moordwapen was ook vermoedelik nie so stomp soos vroeër berig is nie. “Mense wat die toneel besoek het, sê daar was so baie bloed dat dit eerder lyk asof hy met iets soos ’n panga doodgekap is, maar ons kan dit nog nie bevestig nie. Ons het ook nie foto’s van die toneel nie, maar selfs al het ons gehad, sal ons dit nie aanstuur nie. Dis glo té grusaam,” sê Cameron.

Smith is Vrydag omstreeks 07:00 dood op sy plaas, Arniside, in Mid Illovo, KwaZulu-Natal, deur ’n plaaswerker aangetref.

Die moordenaar(s) het met sy voertuig gevlug.

Volgens Cameron blyk dit dat Smith ’n kluisenaar was. “Hier is iets baie vreemds aan die gang. Gewoonlik help die gemeenskap met só ’n ondersoek, maar ons (AfriForum) vind dat niemand Smith regtig geken het nie! Hy het ook aan geen boerevereniging behoort nie.”

Hy sê so ’n erge grutoneel kom gewoonlik voor wanneer booswigte die slagoffer geken het. “Die toneel is tekenend van ’n passiemisdaad.”

Niemand is teen Saterdag al in hegtenis geneem nie, maar die polisie het die gesteelde motor in die Richmond-omgewing opgespoor. Lt.kol. Thulani Zwane, polisiewoordvoerder, reken die verdagte(s) se spoor word nou warmer. Die ondersoek duur voort.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!