Plaasmoorde: 14 aanvalle sedert ‘Swart Maandag’

Te midde van die 14de plaasaanval sedert Swart Maandag beplan AfriForum ’n tweede optog teen dié misdade.

Die organisasie wil op Saterdag 25 November in samewerking met ander organisasies ’n protesoptog na die Uniegebou lei om ’n memorandum aan pres. Jacob Zuma te oorhandig.

Die noodlottige aanval Saterdagaand op Danie Swanepoel (57) op ’n hoewe buite Vryheid bring die getal moorde wat sedert Swart Maandag gepleeg is volgens AfriForum op sewe te staan.

Swanepoel is deur twee jong mans, wat hy glo geken het, met ’n mes in albei sye gesteek en waarskynlik doodgemartel, het sy broer, Coenie, ’n boer van Magudu in die noorde van KwaZulu-Natal, gister gesê.

Volgens Swanepoel het hy sy broer gister in die lykhuis in Vryheid gaan uitken.

Daar was ’n tou om sy nek en dit lyk of hy ook gewurg is.

Volgens Coenie het hy verneem die twee aanvallers het sy broer in sy huis op Eensgevonden oorval.

Hy was reeds dood toe sy vrou, Driena, omstreeks 20:00 tuisgekom het. Die twee jong mans het haar in die huis ingewag, oorval en geld geëis.

Hulle het haar in haar bakkie teruggedwing, gesê hulle het R1 500 nodig en dat sy dit in die dorp vir hulle moet gaan trek.

Sy het toe nog nie geweet ­Danie is dood nie, sê Coenie.

Nadat sy die geld in die dorp getrek het, is hulle terug in die rigting van die hoewe.

Op pad het ’n buurvrou Driena Swanepoel in die bakkie gesien, onraad vermoed en glo telefoonoproepe gemaak.

Ernst Roets, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum, sê hul protesaksies is daarop gemik “om vir die media en die internasionale samelewing te wys waarom ons self ons eie veiligheidsnetwerke stig”.

Boere van die omgewing het toe kom help en Jaco Fourie en Roedolf Steenkamp het die bakkie tot stilstand gebring.

Die twee aanvallers was toe met Driena op pad na Dundee toe.

Die boere, asook inwoners van die plaaslike swart gemeenskap, het een van die aanvallers in hegtenis geneem. Die ander een het weggehardloop.

Volgens kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder in Kwa­Zulu-Natal, is die tweede aanvaller gisteroggend vasgetrek. Albei aanvallers is vermoedelik in die 20. Die polisie ondersoek sake van moord en ontvoering. Swanepoel word ook oorleef deur twee seuns, Riaan en Christo.

Ernst Roets, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum, sê hul protesaksies is daarop gemik “om vir die media en die internasionale samelewing te wys waarom ons self ons eie veiligheidsnetwerke stig”.

Maandag, Gelukstadt buite Vryheid: Bokkie Potgieter (73) met kapmes vermoor.
Dinsdag, buite Fochville: Willie Barnard (57) doodgeskiet.
Dinsdag, Griekwastad: Willem van der Westhuizen (35) doodgeskiet.
Maandagnag of Dinsdagoggend, Daskop by Ficksburg: Barry Baars (55) doodgeskiet. Arend Corbett (26) in die gesig geskiet, die plaaswerker Lenyara Tsotetsi gesteek.
Saterdagnag of gisteroggend, Derby, Noordwes: ’n 69-jarige man ernstig beseer toe hy met onder meer yster-stawe en pangas aangeval is. Hy is onder meer in albei arms gewond. Willie Prinsloo (51) laat twee aanvallers vlug toe hy op hulle skiet.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!