Plaasvaanval Memel

Plaasaanval: Egpaar uit hospitaal

Bertus (68) en Trudie (63) van Wyk se twee aanvallers het hulle die naweek wreed met staalsparre aangerand. Hulle is uit die private hospitaal op Newcastle in KwaZulu-Natal ontslaan.

Jan van Niekerk, provinsiale hoof van die VF+ in die Vrystaat en die Van Wyks se buurman op die plaas Winkelshoek, sê hy gaan die egpaar vandag weer besoek. “Ek het verneem dit gaan fisiek beter met hulle, maar emosioneel is daar nog baie skade.”

 Die egpaar is Vrydag om 23:30 in hul slaapkamer op hul plaas by Verkykerskop naby die Mont Pilaan-veilingskrale oorval en met staalsparre geslaan.

Bertus kon omstreeks 23:45 hulp per radio ontbied.

Van Niekerk sê die Van Wyks is terug op hul plaas, maar hy weet nie of dit op lang termyn sal wees nie.

Hy sê die twee aanvallers het klapmusse gedra. “Hulle het vingerafdrukke agtergelaat. Dit word vergelyk met vingerafdrukke wat verkry is by ’n ander buurman by wie onlangs ook diesel gesteel is.”

Kapt. Paul Kobane van die polisie se spesialisondersoekeenheid, die Valke, in die Oos-Vrystaat het aan Volksblad gesê sy eenheid gaan hulle opspoor. “Ons gaan hulle kry. Ons is warm op die spoor en besig om sekere leidrade op te volg.”

Mense met inligting oor die aanvallers en hul buit, die silwer Mazda-dubbelkajuit-bakkie van die Van Wyks met registrasienommer DPN 531 FS, asook twee selfone en ’n skootrekenaar, kan die polisie by 079-498-4866 bel.

Sowat R6 000 se kontantgeld – R3 000 wat in die aanval geroof is en nog R3 000 wat daarna by kitsbanke op Newcastle uit die Van Wyks se rekenings onttrek is – is ook nog weg.

Bron.Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!