Plaasveiligheid Deel 3: Hoe om Booswigte met ‘n Veiligheidsplan te fnuik:


Eergisteraand het Ons begin kyk na plaasveiligheid en raad deur Jan van der Merwe tegnologiese deskundige op die gebied van Plaasveiligheid wat saam my gaan werk aan my reeks programme oor Plaasveiligheid en veiligheid in die algemeen. Baie Dankie aan Jan vir sy bereidwilligheid om my te help hiermee.

Gisteraand het ons gekyk na die profiel van ‘n Plaas aanvaller en die manier waarop hy toegang kry tot jou eiendom asook ’n gevalle studie wat gedoen was tov een van die plaas aanvalle deur die groep Plaasveiligheid.

Vanaand kyk ek in ons deel 3 na hoe om booswigte met ‘n veiligheidsplan te fnuik: 

Fnuik booswigte met deeglike veiligheidsplan

‘n Omvattende veiligheidsplan is noodsaaklik om plaasaanvallers te fnuik. ‘n Kenner van veiligheid en opleiding gee in hierdie aflewering van die reeks artikels oor plaasveiligheid – raad.
Boere het hul veiligheidsmaatreëls die afgelope jare baie opgeknap en op groot skaal traliehekke, diefwering, alarms en elektriese heinings by hul huise aangebring. Hulle het honde aangeskaf en betaal sekuriteitsdienste vir die voorreg om dag en nag met die druk van ‘n noodknoppie hulp te ontbied. Nou is ons paraat, dink hulle.

Nogtans neem plaasaanvalle nie af nie. Boere of hul afhanklikes word weekliks aangeval en in baie gevalle gewetenloos afgemaai.

“Die probleem is dat die boere wel hul veiligheid opgeknap het, maar nie noodwendig kenners van veiligheid is nie,” sê mnr. Arno Pienaar, ‘n veiligheidskonsultant en opleidingsbeampte, wat nóú saamwerk met mnr. Boela Niemann, die TLU se veiligheidskenner.

Die boere dink as hulle honde en tralies het, is hulle veilig. Dit is nie altyd die geval nie, sê hy.

Dikwels is die probleem die wyse en plek waar die hulpmiddels aangebring is.

Daar is byvoorbeeld ‘n goeie elektriese heining om die huis, maar ‘n boom of paal langsaan bied oorklimplek, of die boomtakke veroorsaak dalk ‘n kortsluiting en stel die veiligheidsheining buite werking.

Soms is die toestelle wat deur sekuriteitsmaatskappye vervaardig word, nie doelmatig nie.

Die vervaardiger is dalk ‘n ingenieur wat weet hoe om die beste apparaat te bou, maar hy is nie ‘n veiligheidskenner nie, en hy weet nie hoe om ‘n booswig te fnuik nie.

Die boer moet daarom raad inwin voordat hy toestelle koop en heinings en ligte installeer. Hy moet ook meer as een kenner se raad vra.

Mnr. Pienaar sê die ideale stelsel sal van plaas tot plaas verskil. Dit is egter moontlik om redelik wyd bruikbare riglyne te gee.

Dit maak nie regtig saak hoeveel geld die boer aan sy veiligheidsmiddele bestee nie – dit moet net doelmatig, van goeie gehalte wees en reg geïnstalleer word.

Plaasveiligheid draai grootliks om toegangsbeheer. Mense is geneig om hekke na die huis bedags oop te hou, want hulle beskou dit as ‘n beslommernis om die hek elke keer oop en toe te sluit.

‘n Skelm wat die plaas dophou, sal gou ‘n patroon agterkom as plaaswerkers toegelaat word om ongehinderd na die huis toe te gaan.

Kommunikasie sluit aan by toegangsbeheer. Die huisbewoners moet uit ‘n posisie van veiligheid met ‘n besoeker kan kommunikeer.

Daar moet dus ‘n interkomstelsel wees sodat ‘n besoeker by die hek ‘n knoppie kan druk en verduidelik hoekom hy daar is.

Die boer of sy vrou moenie uit die huis gaan om te vra wat ‘n vreemdeling soek nie. Dan is hy of sy in ‘n gevaarsone.

‘n Booswig beplan sy aanval só dat hy sy prooi verras, hetsy deur hom ongesiens te nader, of om hom met ‘n valse voorwendsel te mislei en dan te verras.

Hy sal byvoorbeeld oop en bloot nader kom en dalk sê hy soek werk of wil iets koop. Dan het hy alles aan sy kant om ‘n suksesvolle aanval uit te voer.

As hy egter agterkom die boer is op sy hoede en kom nie uit nie, sal hy waarskynlik eerder padgee.

‘n Goeie veiligheidsheining om die huis is dus noodsaaklik sodat die boer al sy veiligheidsfaktore daarbinne kan beplan, inrig en bestuur.

Dan kan ‘n booswig nie tot by die huis vorder nie.

17318_1572754849678714_8816983911214986444_n

Ook hier maak mense egter foute.

Dikwels is die heining te wyd om die huis gespan.

Dan kan die boer dié groot gebied nie goed genoeg bestuur nie. Daar moet ‘n afstand van minstens 30 m tussen die huis en die heining wees.

Oor só ‘n afstand kan die huismense maklik sien wat buite aangaan.

Niemand moet sonder deeglike oorweging binne die heining toegelaat word nie. Die werkers moet die interkom gebruik om met die boer te praat en nie toegelaat word om by die huis te gaan klop nie.

Selfs al kom daar besoekers, moet die boer of sy vrou vanuit die huis met hulle kommunikeer en hulle deeglik van die besoekers se identiteit vergewis.

Daarom is dit wenslik om besoekers slegs toe te laat as hulle vooraf ‘n afspraak gemaak het.

Die plaaswerkers kan een keer per week toegelaat word om onder deeglike toesig tuinwerk binne die veilige gebied te doen.

Die rede vir dié streng toegangsbeheer is omdat die aanvallers ook gewoonlik mense is wat goed opgelei is.

Hulle weet hoe om swak plekke in die veiligheidsmondering raak te sien en die aanval daarvolgens te beplan. Soms gaan bespied hulle nie self nie, maar vra die werkers terloops uit tydens ‘n kuiersessie of partytjie om moontlike swak plekke te identifiseer.

Dit is maklik om ‘n onvergenoegde werker dronk te maak en hom dan te begin uitvra. Die teendeel is ook waar: As daar goeie veiligheidsmaatreëls is, sal die werkers dit vir hierdie mense vertel.

‘n Veiligheidslig op ‘n hoë paal gooi skaduwees waarin iemand kan wegkruip. Só ‘n lig moet laag genoeg wees (nie hoër as 1,8 m nie) vir ‘n kollig-effek en moet ook die heining verlig. Installeer die ligte so 8 m tot 10 m van die huis af.

Moenie snags op honde staatmaak wat los rondloop nie. Hul doel is nie om as wapen gebruik te word nie, maar om die boer te waarsku as iemand nader kom.

Dit is maklik om ‘n hond skadeloos te stel as hy los rondloop. Almal is ook nie bang vir honde nie. Daar kan maar ‘n huishondjie of twee wees.

Die boer moet ‘n paar groot, kwaai honde hê wat enige mens sal byt. Hierdie honde moenie aan die plaaswerkers gewoond gemaak word nie.

Hou genoeg waghonde aan om elkeen iewers op die werf vas te maak sodat hulle sáám die hele werf kan sien, byvoorbeeld op elke hoek van die huis.

Nog beter: Bou vir elkeen ‘n hok. Hierdie honde is die boer se ore en oë. As hulle onraad merk, sal hulle blaf. Moenie hulle berispe as hulle baie blaf nie. Dit is hul “werk”.

Hou ook ‘n waghond of twee aan by die skure, wat ook snags helder verlig moet word.

Daar is diesel, saad en kunsmis wat gesteel kan word. Die boer kan vanuit die veiligheid van sy huis deur die venster kyk wat aangaan as hulle blaf.

volksmoord

As die gebied om die huis op dié wyse beveilig word, kan die huismense redelik seker wees hul planne is die beste wat dit kan wees.

Dit is egter nie ál wat hulle moet doen om paraat te wees nie. Mnr. Pienaar vertel ook meer oor veilige gewoontes en die gesin se optrede in ‘n noodgeval.

‘n Ysterhek in die huis vorm ‘n fisiese versperring in die huis. Bring dit tussen die leef- en slaapgedeelte (in die gang) aan, sodat dit ‘n aanvaller uit die slaapgedeelte kan hou as hy daarin geslaag het om wel in te breek.

‘n Hek waarvan die slot vanself sluit as die hek toegemaak word, is die beste. Dan hoef dit nie eers met ‘n sleutel gesluit te word nie, waarvoor daar in ‘n noodgeval nie tyd is nie. ‘n Yale-slot is ook geskik.

Bou ‘n ysterkassie om hierdie slot, sodat ‘n aanvaller nie sy hand deur die tralies kan steek om die slot oop te maak nie.

Bring skuifslotte aan die slaapkamers se deure (aan die binnekant) aan. Dan móét ‘n aanvaller geweld gebruik om die kamer binne te gaan.

Aanvallers kan die gebied by die veiligheidshek gebruik vir ‘n hinderlaag. Dus moet daar helder ligte by dié hek wees, wat na weerskante weg van die deurgang wys. As iemand die gesin in die aand wil aanval, skyn die helder ligte in sy oë en belemmer sy sig. As hy wil nader kom, moet hy oor die helder verligte werf hardloop.

Met hul tuiskoms moet die mense in die motor gewapen en gereed vir enige gebeurlikheid wees. Installeer ‘n elektriese motorhek wat met ‘n drukknoppie oopmaak. Dan hoef niemand uit te klim om die hek oop te maak nie.

Die plaasbewoners moet ook só in die beveiligde gebied om die huis stilhou dat hulle dadelik kan wegtrek as hulle aangeval word. Die voertuig se neus moet dus nie na ‘n muur toe wys nie.

Moenie deursleutels laat rondlê nie.

Sluit dit toe sodat niemand afdrukke kan maak of die nommers afskryf nie. Selfs ‘n huishulp kan ‘n veiligheidsrisiko wees.

Baie mense word Sondae aangeval as hulle van die kerk af kom, want dan is hulle rustig en nie baie waaksaam nie.

Let eers op na die waghonde se optrede.

As hulle senuweeagtig is, is daar dalk ‘n vreemdeling.

Dit is egter nie ‘n waarborg nie, want hy is dalk al lank in die huis en hulle het van hom vergeet. Wees dus steeds waaksaam.

Die huismense moet al die binnedeure toemaak voor hulle ry.

Met hul tuiskoms moet die vrou (gewapen) en kinders in die motor wag, terwyl die man seker maak alles is wel.

Stuur eers ‘n huishondjie by die kombuisdeur in. As daar iemand is, sal hy blaf.

As dit veilig is, moet die man met sy oorgehaalde vuurwapen ingaan. Maak die deure een vir een oop en maak seker dit is oral veilig.

Stuur die honde telkens eerste by ‘n vertrek in. Leer hulle vooraf om die huis deur te snuffel. As hulle rustig bly, kan dit ‘n teken wees daar is niemand nie.

Dan kan die ander gesinslede uitklim en inkom.

Hoewel ‘n alarm van groot waarde kan wees, moet die huismense nie net daarop staatmaak nie. Skelms weet hoe om dit te omseil.

Laat snags ligte in die huis brand. As die boer moet ondersoek instel, is daar genoeg lig sodat hy kan rondbeweeg. As hy eers ‘n lig moet aanskakel, verraai dit sy teenwoordigheid.

Mnr. Pienaar sê dié handvol wenke is nuttig vir ‘n boer om sy leefgebied te beveilig.

” ‘n Aanvaller het net vyf minute nodig om sy bose planne uit te voer, maar die boer moet sy plaas 24 uur per dag beskerm,” sê hy.

Alles moet saam ‘n geïntegreerde veiligheidsplan vorm.

‘n Veiligheidskamer speel ‘n belangrike rol.

‘n Goeie plek vir só ‘n kamer is die hoofslaapkamer se badkamer.

Die huismense moet daarheen hardloop as daar ‘n noodgeval is, soos wanneer die aanvallers reeds binne die veiligheidsheining is en probeer om in te breek. Dit is die laaste vesting waar die boer die aanval moet afweer terwyl hulle om hulp wag.

In die veiligheidskamer moet ‘n selfoon wees wat net vir dié doel daar gehou word en altyd gelaai moet wees.

Daar moet ook ‘n tweerigtingradio wees sodat die gesin alternatiewe het om dadelik hulp van die bure, polisie, kommando, buurtwag of veiligheidsmaatskappy te ontbied.

Daar moet ook noodhulptoerusting wees, soos verbande. Oorbeskermers is belangrik vir die kinders, want as die skote begin klap, raak hulle verbouereerd.

Baie ammunisie vir die vuurwapens moet in dié vertrek weggesteek word waar huishulpe en besoekers dit nie kan raaksien nie.

Alles kan in ‘n sterk staalkabinet of in ‘n geheime wegsteekplek toegesluit word.

‘n Badkamer het wel ‘n nadeel, want die teëls se skerwe kan ‘n mens beseer as ‘n koeël dit sou tref.

Die voordele is egter meer as die nadele.

As die aanvallers die huis aan die brand steek, het die huismense die beste kans om daar te oorleef, want daar is baie water.

Die gesin moet dadelik ál die handdoeke natmaak om dit oor hul koppe te sit as daar rook is.

Nat handdoeke onder die deur sal ook rook in ‘n mate uit die vertrek hou.

As die stort baksteenmure het, is dit ‘n goeie wegkruipplek om aan koeëls te ontkom.

Voor die badkamervenster moet ‘n versperring wees.

Dit kan gemaak word van twee lae vervoerband, met ‘n dik staalplaat tussenin. Hake moet daaraan vasgesweis word sodat dit aan die diefwering gehang kan word. Dit kan selfs met lap oorgetrek word sodat dit nie onooglik is nie.

Maak ‘n soortgelyke, groter versperring op wiele waaragter die gesin kan skuil terwyl hulle na ‘n ander vertrek moet vlug. Hulle kruip agter dié skerm weg terwyl dit op die wiele vooruit gestoot word.

Terwyl hulle om hulp wag, moet die boer skote by die badkamer uitskiet om die aanvallers terug te hou.

‘n Mens storm nie sommer tussen koeëls deur nie.

Almal moet deeglik opgelei word om in ‘n noodgeval reg op te tree, want almal kan in die voorste linie wees wanneer ‘n aanval begin.

Elke lid van die gesin moet presies weet wat om te doen, waarheen om te vlug en hoe om hulp te ontbied.

Hulle moenie op die man wag om leiding te neem nie. Dalk is hulle alleen of hy is gewond.

Hulle moet die noodplan gereeld inoefen.

Sou die vrou aangehou word as die boer nie daar is nie, moet hulle ‘n stelsel ontwerp waarmee die vrou hom kan waarsku, soos ‘n kodewoord as hy bel om te hoor of alles pluis is.

Dit help nie hy probeer haar self bevry nie, want die aanvallers sal hom skiet.

Vuurwapens is noodsaaklik vir selfverdediging.

Almal moet dit met selfvertroue kan gebruik, selfs onder die groot druk van ‘n skietgeveg.

Basiese opleiding is dus nodig om die wapen doeltreffend te kan gebruik. ‘n Mens moet leer om ‘n aanvaller op kort afstand raak te skiet, want daar is gewoonlik nie kans om weer te skiet nie.

Dit help ook nie as die wapens in ‘n kluis is nie.

Die man en vrou moet altyd gewapen wees.

Dus is kleinerige wapens handig. Dit kan onder klere verberg word en die terugslag is nie so erg dat ‘n mens mis skiet nie.

‘n Pistool is beter, want ‘n rewolwer verg redelik baie krag om die skoot af te trek.

Opleiding deur deskundiges word aanbeveel, want hulle kan ‘n mens oplei om die wapen instinktief uit te haal en raak te skiet.

Mnr. Pienaar sê die huismense het ‘n voordeel in só ‘n veilige omgewing as hulle aangeval word, want hulle kan hulself goed verskans en verdedig. Hulle moet dit dus vir die aanvallers so moeilik moontlik maak om hul bose planne uit te voer. Kennis en die deurlopende toepassing daarvan is meer werd as die beste hulpmiddels.

Navrae kan gerig word aan Mnr. Arno Pienaar, sel. 082 456 9993, e-posadres: submerged@mweb.co.za; of aan mnr. Boela Niemand, Posbus 50991, Wierdapark 0149; tel. 012 804 8031, sel 082 496 7105, e-posadres: boela@tlu.co.za

Ons kyk in deel 4 na paraatheid

De La Rey

Enjoyed this post? Share it!