Boere Helde om nooit te vergeet nie

Racheltjie de Beer

Hierdie is die verhaal van die 12-jarige Rachel de Beer, wat haar lewe geoffer het om ‘n ander se lewe te red.

Die jaar was 1843, en dit sou ‘n bitter koue winter wees. Racheltjie was saam met haar gesin op trek gewees vanaf die Oranje-Vrystaat na die Suid-Oos Transvaal toe. Terwyl hulle nog verder op soek was na grond, het hulle een aand oorgestaan in die veld op ‘n boer se plaas. Die aand, toe die beeste weer in die takkraal gejaag word, kom daar een kalfie kort. Die kalfie se naam was “Frikkie” en die kinders was baie lief vir hom. ‘n Soekgeselskap is dadelik op die been gebring. Racheltjie en haar 6-jarige boetie het deelgeneem aan die soektog. Dit het egter al begin skemer word, en kort voor lank was Racheltjie en haar boetie, verdwaal. Koue het ongenadiglik op hulle toegeslaan, en dit het boonop begin sneeu ook. Wetende dat stilstand hulle dood sou beteken, het Racheltjie hulle aan die loop gehou. Sy het besef dat hulle dit nie sou oorleef nie. . . Met ‘n klip het sy ‘n miershoop in die veld uitgehol. Daarna het sy haar klere uitgetrek, en vir haar boetie aangetrek. Sy het volgende haar boetie beveel om binne in die miershoop te klim. Met haar kaal lyfie het sy voor die miershoop gaan le om so die koue buite te hou . . .

So het hulle haar dood aangetref die volgende oggend. Styf van die koue het haar boetie uitgeklim. Die verhaal van Racheltjie sou vir altyd in die geheue van die Boerenasie bly voortleef.

 

Japie Greyling (1890 – 1954)

Jacobus Johannes Cornelis (Japie) Greyling, is gebore in 1890 op die plaas Smaldeel in die distrik Hoopstad, Oranje Vrystaat. Gedurende die Anglo-Boereoorlog was Japie se vader en 2 ouer broers op kommando om teen die Engelse te veg. Een aande gedurende die oorlog, het sy vader se kommando op die plaas oornag. Die Engelse was kort op hulle hakke, en agter hulle bloed aan. Die oggend nadat die kommando vertrek het, daag die Engelse dan ook daar op. Die offisier in bevel, ‘n sekere kaptein JEB Sealy, kry dan ook bewyse op die plaas dat die kommando daar oornag het. Nadat Sealy bietjie rondgekyk het, sien hy vir Japie daar naby staan en besluit om hom te ondervra. Hoeveel van hulle was daar? Wie was almal daar? Waarheen is hulle op pad? Japie het egter geweier om sy vader se kommando te verraai. Sealy was vasbeslote om die inligting te bekom, en beveel sy soldate om Japie teen die huis se muur te laat staan voor ‘n vuurpeleton. Hy het Japie ‘n laaste maal vir die inligting gevra, en beloof om hom te bevry indien hy die inligting sou verstrek. Japie het egter nog steeds geweier. Sealy het sy soldate beveel om aan te korrel te neem. “Gereed!” . . . Stilweg beveel hy sy manne toe om te stop. Hy het na Japie gegaan, sy hand geskud en weer met sy soldate vertrek.

Baie jare nadat die oorlog reeds lankal verby en byna vergete was, het die Engelse offisier steeds vertel van die dapper klein Boertjie wat hy in Suid-Afrika ontmoet het.

konsentrasiekampe3

Emily Hobhouse (1860 – 1926)

Emily Hobhouse is gebore op 9 April 1860, in St. Ive, Oos-Cornwall, Engeland. Sy het haar lewe spandeer om mense in nood van hulp te wees. In die geval van die Boerevolk het sy verbete volgehou om die toestande in die Konsentrasiekampe aan die buiteland te verkondig. Selfs nadat sy ook gedeporteer was, het sy aangehou om te veg vir die verbetering van die lot van die kampmense. Na die oorlog het Emily steeds aangehou om haar energie aan te wend vir die verslane Boerevolk. So het sy dan deur die hele Suid-Afrika gereis, en het ‘n skema van tuisnywerhede vir jong meisies, die lig laat sien. Swak gesondheid dwing haar terug na Europa waar sy tot aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog. Na die oorlog in Europa werk sy dan ook om die lot van die armoediges te verbeter. Emily het egter nooit haar geliefde Boerevolk vergeet nie, en hulle ook nie vir haar nie. Sy het gereeld briewe gewissel met van die belangrikste volksleiers. Emily het later terug getrek na London, waar sy op 8 Junie 1926 oorlede is.

Emily se laaste wens was om in Suid-Afrika begrawe te word, en so is haar as aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe.

 

Dick King

Die Slag van Bloedrivier was al van die verlede, en Natal was in besit van die Trekkers. Hulle het selfs hul eie Volksraad gehad wat regeer het. Daar was egter sprake van moontlike steenkool in Natal, en Engeland sou beskerming aan Swart stamme gebruik as verskoning om Natal te annekseer as Britse kolonie. Kaptein Harry Smith het opdrag gekry om met ‘n Engelse Garnisoen, Port Natal as hoofkwartier te gaan inrig. Die Boere was gou byeen, en het hulle ingewag naby die dorpie Congella. Die Slag van Congella het gevolg, en die Engelse mag het die slegste daarvan afgekom. Die Boeremag het hulle vasgekeer en gewag dat hulle oorgee. Die toestand in die Britse kamp het so versleg, dat hulle naderhand perdevleis moes eet. Een donker nag sonder maanlig, breek die Natalse Engelsman, Dick King Smith, deur die Boere se omsingeling. Saam met hom was 2 ryperde en ‘n Zoeloegids. Dick King het die afstand van 960km na Grahamstad binne 10 dae afgele deur die wildernis. In Grahamstad het hy hulp ontbied vir die Engelse mag. Versterking ter see het opgedaag en die Trekkers is verslaan. Die gevolg hiervan was dat die Trekker hul vryheid, wat hulle met bloed en lyding verkry het, sou verloor. Baie Trekkers het Natal verlaat, en gou was Natal leeg. Natal sou voortaan ‘n Britse kolonie wees. En Dick King? Alhoewel hy teen die Boere geveg het, en hulle ook hulle vryheid gekos het, sou sy heldemoed en prestasie bewonder word deur die Trekkers. Alhoewel ‘n Engelsman, sou hy later ‘n plek beklee in die helde gallery van die Boerenasie.

 

Slagtersnek Rebellie

Name van die wat gehang is op 9 Maart 1816:

Hendrik Frederik Prinsloo.

Stephanus Cornelis Bothma.

Cornelis Johannes Faber.

Theunis Christiaan de Klerk.

Abraham Carel Bothma.

1815_slagtersnek_large

Die hele gebeuternis, het oor ‘n lang tydperk plaasgevind, en het begin toe ‘n sekere Boer Bezuidenhout, een van sy slawe verdink het van diefstal. As gevolg hiervan het hy besluit om die slaaf (Booi) se loon terug te hou. Booi was egter ontevrede hieroor en het vir Bezuidenhout gaan aankla by die landdros op Graaff-Reinet. Bezuidenhout is gedagvaar om voor die hof te verskyn op Graaff-Reinet, maar hy het geweier om te gehoorsaam. As rede het hy aangevoer dat hy nie so lank van die huis af kon bly nie, en ook dat die jig hom gepla het. Hy is ‘n tweede maal gedagvaar, maar steeds het Bezuidenhout nie gehoor gegee nie. In sy afwesighed, is hy dan op 5 Oktober 1815, gevonnis tot 1 maand tronkstraf. Op 16 Oktober, daag daar ‘n groep Hottentotte op met 4 blanke soldate vir die inhegtenisname van Bezuidenhout. Vinnig gaan skuil hy in ‘n klipskeur op die plaas. Bezuidenhout is egter noodlottig gewond deur een van die Hottentotte….. Op die begrafnis, sweer Johannes Bezuidenhout, broer van Bezuidenhout, ‘n eed dat hy sy broer se dood sy wreek. Saam met ‘n paar vriende as leiers, beplan Johannes ‘n opstand teen die Kaapse regering. Op 18 November daag ‘n mag bestaande uit 30 Boere en 40 Engelse soldate op, en sodoende gee die samesweerders sonder dat daar ‘n geveg was, oor. Johannes, het ook soos sy broer, hom verset teen inhegtenisname, en word noodlottig gewond. Op 20 Januarie 1816, is 5 van die mans ter dood veroordeel. ‘n 6de, Willem Krugel, is begenadig. Op 9 Maart 1816, het honderde opgedaag vir die teregstelling. Die luike is weggehaal, maar 4 van die 5 galgtoue breek……. Daar is gesmeek vir die lewens van die 4 mans, maar die Engelse offisier het die beveel gegee dat hulle weer gehang moes word. Die Boere het dit as ‘n vingerwysing van God beskou, maar die Engelse het hulle min hieraan gesteur. Die 2de maal, breek die toue nie. Hierdie gebeurtenis sou amper 20 jaar later, as een van die oorsake vir die Groot Trek gegee word.

 

Dirkie Uys

Die datum is 10 April 1838. Die uur van beslissing het geslaan. Dit was nou of nooit. Piet Retief en sy klein kommando is uitgemoor tydens onderhandelinge met Dingaan, die koning van die Zoeloes. Moord en verskrikking het hierop gevolg. Die Voortrekkers was op hul laaste. Dit was nou ‘n kwessie van oorleef. Hierdie strafekspedisie was meer as net dit. Die een wat verloor sou sy bakens moes versit. Hendrik Potgieter sou sy mense lei, terwyl Piet Uys sy mense sowel as Gerrit Maritz en oorlede Piet Retief se mense sou lei. Sodoende het die kommando in twee verdeel. Aanvanklik het die geveg in die Voortrekkers se guns geswaai. Die Zoeloes het op vlug geslaan en Piet Uys se kommando het hulle agtervolg. Deur die Italeni kom het hulle die Zoeloes gevolg – reg in ‘n lokval in. Die Voortrekkers moes net uithaal en wys om hulself te verdedig. ‘n Assegaai het egter vir Piet Uys noodlottig verwond. Hy was besig om te sterf en het sodoende die kommando vertraag. Kommandant Uys het hulle beveel om hom te los en te vlug. Die Trekkers het op vlug geslaan, maar die jonge Dirkie Uys, seun van Kommandant Piet Uys, het geweier om sy vader alleen te laat. Langs sy vader se sy, het hy geveg teen die Zoeloes. Later, toe hulle te naby vir hom was om weer sy geweer te herlaai, het hy met die kolf van sy geweer teen hulle baklei. . . . . Die kommando sou later bekend staan as die Vlugkommando, en het die laagtepunt van die Groot Trek beteken. Die heldedood van Dirkie Uys, langs sy vader, sou egter na meer as 150 jaar na sy dood, nog steeds in die volksmond bly voort

Wolraad Woltemade

Die verhaal van Wolraad Woltemade is waarskynlik ook die verhaal van ons land se eerste heldedaad. Hierdie gebeurtenis het plaasgevind 120 jaar na die stigting van die verversingstasie aan die Kaap. Die Kaap wat toe reeds bekend gestaan het as “Die Kaap van Storms” . . . . De Jonge Thomas, ‘n Oos-Indiese skip, het op Sondag, 30 Mei 1773 in ‘n hewige storm beland in Tafelbaai. Vir ‘n dag en ‘n nag het die storm in woede toegeneem, sodat die ankertoue later een vir een gebreek het. Vir die 207 man aan boord was dit asof die einde aangebreek het. Vreesbevange het hulle gebid om redding en uitkoms . . . . Doelloos het die skippie rondgeslinger tussen die verwoede golwe, totdat dit naderhand op ‘n sandbank vasgespoel het. Die kaptein en die meeste van die skip se bemanningslede kon niks anders doen as om hulpeloos aan die wrak te klou, en om om hulp te roep nie. Nuuskieriges het saamgedrom en Goewerneur van Plettenberg het onmiddelik ‘n dertigtal soldate – nie om die matrose te red nie, maar om die skeepswrak te bewaak – gestuur. Onder hierdie soldate was dan ook ‘n man genaamd Christian Ludwig Woltemade. Christian Ludwig Woltemade se bejaarde vader van tussen 60 en 70 jaar oud, het dan ook vir sy seun kos gebring. Die vader, Wolraad Woltemade het gesien dat niemand eens ‘n poging aanwend om die bemanningslede te red nie. So het hy dan met sy moedige perd die see ingeswem om die mense se lewens te red. Sewe maal het hy die branders ingery met sy perd, om elke keer 2 mense se lewens te red. Die agtste maal het van die matrose histeries geraak, en het almal aan hom en sy perd geklou. Dit was te veel vir die reeds uitgeputte Wolraad. So het hy en sy perd dan ook onder die golwe van die Kaapse kus verdwyn. .

Marthinus Oosthuizen

Die jaar was 1838. Piet Retief en sy klein kommando het gaan onderhandel met Dingaan oor grond. Piet Retief was vol hoop en verwagting, en het sy mense aangeraai om reg te wees om die nuwe land te bewoon. In afwagting het hulle die uitgesien na die koms van Retief. Retief sou egter nooit opdaag nie. Nadat Dingaan die traktaat geteken het wat grond gee aan die Trekkers, het sy impi vir Retief en sy manne vermoor. ‘n Veldtog van moord en doodslag so hierop volg, beginnende met die groepie Trekkers wat hulle staning langs die Bloukransrivier gemaak het . . . . . In die middernagtelike ure, terwyl die Trekkers ruslig slaap, word die bloedige aanval genadeloos geloods . . . . Die van Rensburg en Pretorius gesinne was op ‘n koppie, omring deur hordes Zoeloes. Bokant die oorlogsrumoer en geraas van die Zoeloes skreeu hulle dat hulle kruit en lood klaar is. Om die ammunisie te gaan haal en dan vir hulle te neem kon alleenlik deur doodsgevaar gedoen word. Marthinus Oosthuizen besef hulle gevaar en veg vir hom ‘n pad oop deur die Zoeloes na die ammunisie toe. Daarna moes hy weereens ‘n pad oopveg om die ammunisie op die koppie te kry. Deur sy heldedaad het hy hulle gered van totale uitwissing. . . Ander langs die Bloukransrivier sou egter nie so gelukkig wees nie. Daardie nag het daar 185 kinders, 56 vrouens, 40 mans en 280 bediendes gesterf. Later sou die dorpie Weenen daar gestig word.

 

Kommandant Gideon Jacobus Scheepers (1878 – 1902)

Gideon Scheepers is as Transvaler gebore op 4 April 1878 in Middelburg Transvaal. Op 16-jarige ouderdom sluit hy as heliografis aan by die ZAR-artillerie. In 1898 is hy as Sersant na die Vrystaat om vir Majoor Albrecht te help om ‘n veldtelegrafiediens te stig. Met die uitbreek van die oorlog is hy as heliografis vir die ZAR na Natal. Hy veg ook by die slag van Magersfontein, en is een van die gelukkiges wat daarin kon slaag om te ontsnap toe Generaal Cronje oorgee by Paardeberg. Hierna veg hy by verskillende plekke en doen groot vernielingswerk aan die Britse spoor- en telegraafverbindings. Scheepers sou egter die Britte se hoofpyn word nadat hy die Kaapkolonie saam met Generaal Kritzinger binneval. Scheepers se teenwoordigheid in die Kaapkolonie bring daartoe mee dat baie Kolonianers by die Boere aansluit teen Brittanje. Etlike Swartes wat deur hom gevang is, is tereggestel vir spioenasie. In Oktober 1901 word Scheepers so siek, dat hy op ‘n plaas in die Kolonie agtergelaat moet word. Die Engelse neem hom gevange, en stuur hom na sy herstel na die tronk op Graaff-Reinet. ‘n Krygsraad vind hom skuldig aan oorlog wandade, waarna hy deur ‘n vuurpeleton gefusilleer word. Die Britte het geweier om sy stoflike oorskot te oorhandig, en tot vandag toe weet niemand waar sy stoflike oorskot begrawe is nie. Gideon Scheepers was ‘n groot leier onder sy mense gewees, en was een van die grootste redes waarom baie Kapenaars aangesluit het by die oorlog. Scheepers sou beslis een van die Boerevolk se grootste leiers geword het, as dit nie vir sy teregstelling

Kommandant Daniel Johannes Stephanus Theron (1870 – 1900)

Gebore op 9 Mei 1870 op Tulbagh, sou Danie Theron die Boereheld wees wat seker in die korste tyd vir homself naam sou maak. In 1891 verhuis Danie na Krugersdorp in die Transvaalse Republiek waar hy as prokureur praktiseer. Met die uitbreek van die oorlog, veg Theron in Natal. Hier stig hy ‘n fietsryerskorps (wielrijderskorps). Gou kry hy opdrag om ‘n verkennerskorps te perd te stig, en stig dan ook so die Theron se Verkennerskorps. Met Generaal Cronje se penarie by Paardeberg, is dit dan ook hy wat deur vyandelike linies kruip om ‘n boodskap van Generaal de Wet af te oorhandig. Hierna is Theron na die Wes-Transvaal waar hy tot aan die einde toe opgetree het. Op 15 September 1900 is Theron en ander lede van sy korps in ‘n skermutseling betrokke by Gatsrand naby Potchefstroom. Sy makkers onstnap, maar Danie Theron word noodlottig gewond. Sy lyk is dan ook net daar op die plek begrawe. Later is hy herbegrawe, en in 1950 is ‘n monument ter nagedagtenis aan een van ons grootste helde opgerig op die plek waar hy gesterf het. Van die groot name wat deur Theron opgelei en gelei was is onder andere Manie Maritz, Jack Hindon, Henry Slegtkamp en ook Jopie Fourie.

 

Generaal Salmon Gerhardus (Manie) Maritz (1876 – 1940)

Manie Maritz is gebore op 26 Julie 1876 in Kimberley. Vir sy deelname aan die Jameson inval van 1895/1896 verkry hy ZAR burgerskap. Met die uitbreek van die oorlog was hy deel van die polisiekorps, en vertrek saam die Boksburg kommando na Natal. Later word hy lid van Kommandant Danie Theron se verkenners, en val later die Noorkaap binne waar hy Kaapse rebelle organiseer. Hy veg op verskeie plekke en word 2 maal gewond, waarvan een ‘n skoot in die bors was. Aan die begin van 1902 word hy bevorder tot generaal. Na die vrede weier Maritz om onder die Britse vlag te staan, en swerf (Europa, Madagaskar, Suidwes-Afrika)hy vir ‘n paar jaar rond. In 1907 kry hy toestemming om terug te keer na Suid-Afrika. In 1912 sluit hy by die Suid-Afrikaanse Polisie aan as kommandant. In 1914 rebeller hy as Majoor . Die rebellie misluk en hy gee oor in 1915, waarna hy 6 maande lank in ‘n Angolese tronk sit. Hierna swerf (Angola, Portugal en Spanje) hy weer. In 1923 word hy aangekeer vir hoogverraad, en gevonnis tot 3 jaar tronkstraf. Na 3 maande is hy egter weer op vrye voet. In 1938 sterf Manie Maritz in ‘n motorongeluk in Pretoria. Vandag nog word die naam Manie Maritz steeds gekoppel aan ware patriotisme en Boeregees. Maritz se naam sou nooit sterf nie

 

Artikel Boere Afrikana

Enjoyed this post? Share it!