Die Fenominale Nonnie DeLaRey, Boervrou van Staal

‘n Besondere en bykans vergete heldin van haar tyd.  Vandag bring ons hulde aan Nonnie Delarey, ‘n besondere en voortreflike Boere vrou en mens met staal in haar pype.

So moet ons Boere vrouens van vandag ook ons beywer om ‘n verskil te maak in ons stryd van vandag

In die lewensjare van Jacoba Elizabeth (Nonnie) de la Rey, genée Greeff (1856-1923) was sy wyd bekend nie net vir die vrou van die prominente Generaal Koos Delarey nie maar vir haar  determinasie en uitsonderlike uithoudings vermoë gedurende die tweede Anglo Boere (1899-1902).

Vanaf Desember 1900 tot en met die einde van die oorlog in Mei 1902 het sy en haar kinders rond geswerf. So het sy haar kinders met moeite eiehandig en ek kan amper sê in die bos groot gemaak in die afwesigheid van haar man.

nonniedelareyImage1

Nonnie se ondervindinge was opgeneem in haar biografie, Mijne omzwervingen en beproevingen gedurende den oorlog, wat in Amsterdam in 1903 gepubliseer is en kort daarna in 1903 in Engels, A Woman’s Wanderings and Trials During the Anglo-Boer War, vertaal deur Lucy Hotz, en gepubliseer in Londen.

1286919541_Mrs De la Rey

In die 18 maande wat Nonnie rond geswerf het deur die land verteenwoordig die belangrikste tyd in haar lewe – Maar sy het baie meer deurgemaak wat sy in ‘n ander autobiografie gedokumenteer het.

Op die ouderdom van 18 is Nonnie getroud op 24 October 1876 met Jacobus Herculaas de la Rey;  en het hul intrek in die omgewing van Lichtenburg geneem, hulle het later na die plaas op Elandsfontein verhuis.

Die belangrikste gebeure in Nonnie se lewe van 1902 tot 1923 sluit in: hulle offisiële besoek aan Europa, die opbou van die plaas Elandsfontein, hereniging (1910) Koos de la Rey se politieke bedrywighede en deelname aan die Rebelie van 1914 en die dood van  Koos de la Rey.

In haar laaste jare was Nonnie betrokke by verskeie organisasies. Sy was ‘n besondere uitstaande teenwoordigheid in die gemeenskap en daar is na haar verwys as ‘n“volksmoeder”  deur haar mede stryders. Sy is dood in 1923.

 

Die Vrou Agter Die Man

Nie een van die lofredes en pryssange wat aan Generaal Koos De la Rey toegedig en toegesing word, vertel van sy dapper vrou nie. ‘n Volksheld soos hy sou nooit kon doen wat hy het, of kon wees wat hy was, sonder die bystand van sy Nonnie nie. Hulle liefdesverhaal is een wat lang skeidings moes deurstaan, wat geweldige eise aan hulle albei gestel het, maar veral moes staatmaak op die inherente Christelike waardes wat Nonnie uitgeleef het. Sy was nie net ‘n vrou duisend nie, maar het dit reggekry om haar gesin bymekaar te hou, haar man te ondersteun en selfs haar vyande te vergewe dwarsdeur die ontberinge van die Anglo-Boereoorlog en nog lank daarna.

Toe Jacoba Elizabeth Greeff ( van jongs af Nonnie genoem) op 28 Mei 1856 op Tulbach gebore word, is sy die produk van Hendrik en Suzanna (gebore Redelinghuis) se pioniersdurf. Suzanna het van kleintyd af geleer om ‘n tuiste in ‘n wa te skep en om dietrekpad as haar woning te beskou. Hendrik, wat hom as wamaker bekwaam het, was met onkeerbare wanderlust vervul en het juis sy vrou ontmoet naby die Grootrivier op een van sy reise. Klein Nonnie het al op drie maande agter in die wa geskommel tot in die Wes-Transvaal waar haar pa twee plase gekoop het: Elandsfontein en Doornfontein en ‘n huis begin inrig het vir sy gesin.

Hulle woon net gedeeltelik daar omdat hy gedurig op jagtogte gaan en hulle almal saamneem. Nonnie gaan dus eers op 10 skooltoe, en toe slegs vir sewe maande, maar, met haar ouers se sterk godsdienstige leringe en die praktiese lewenslesse wat sy op die trekpad leer, word Nonnie Greeff groot as ‘n gehoorsame engedienstige jong meisie, getrou aan die beeld van die Afrikanervrou van daardie tyd. Pas nadat sy deur Ds. Van der Hoff aangeneem is op 15, trek haar pa uit Lichtenburg, waar dit vir hom te lawaaierig is, na ‘n plaas agt kilometer verder wat hy Manana noem. Die groot kliphuis waarop Suzanna aandring is net mooi klaar toe ‘n jong man te perd daar aankom. Nonnie maak die deur oop. Sy moet ver opkyk na hom. “Ek is Koos De la Rey, veldkornet onder Louw Wepener. Ek is op pad met ‘n handelsending na Marico, maar wil graag vir Veldkornet Greeff ontmoet. Is hy hier?”

koosdelareyperd

“Ek … ek roep hom,” stamel Nonnie en vlug gang af. Koos is lank en skraal met ‘n welige baard en groot neus. Maar dis sy bruin oë wat in haar siel inkyk wat haar so ontstig. “Nonnie, bring vir ons koffie asseblief,” roep haar pa uit die voorhuis. Haar hande bewe toe sy vir die jongman sy kommetjie aangee. Agter sy baard glimlag Koos. Sy is vir hom pragtig. Soos ‘n klein wildsbokkie met haar groot oë en lang donker hare wat met ‘n wit lint vasgemaak is. Om haar middel is ook ‘n wit lint gebind en hy vermoed die span van sy hande sal maklik om daardie lint pas. Op pad verder na Marico hoor hy heelpad haar naam in die galop van die perde sepote. No-o-nnie Gr-ee-ff.

Jakobus Herculaas De la Rey is op 22 Oktober 1847 in Winburg gebore, maar nie lank daarna trek sy pa, Lang Adriaan, ‘n Voortrekker wat uit die Georgedistrik gekom het, na Wolmaranstad in die Wes-Transvaal waar Koos grootword saam met sy vyf broers en vyf susters. Hy toon van jongs af leierseienskappe en word die jongste veldkornet ooit op negentien. Koos, met sy deurdringende oë en sy eenvoudige opregtheid het Nonnie se hart gesteel. Eers ses maande later sien hy en Nonnie mekaar weer in Kimberley waar Nonnie en haar ouers by haar oupa Redelinghuis kuier. Hy vergesel hulle wa terug na Manana, maar praat hulle om om eers by sy ouers se plaas, Welverdiend, aan te gaan om Nonnie aan hulle voor te stel. Nie lank daarna vra hy Nonnie om te trou, maar haar ma weier omtoestemming te gee – waarskynlik omdat hy nie genoeg vee het om mee te boer nie. Nonnie probeer, as ‘n gehoorsame dogter, om haar teleurstelling te vergeet, maar toe Koos haar weer per brief vra, gaan wys dit aan haar ma en, beïndruk deur die diepte van hulle liefde, stem sy toe tot ‘n huwelik. Nonnie, wat nie goed kan skryf nie, stuur haar antwoord in ‘n kort briefie aan hom. Daar word reggemaak vir ‘n groot troue met inkopies wat op Potchefstroom gedoen word. Nonnie se rok word deur ‘n vriendin gemaak en daar word vir weke lank gebak en geslag en gekook want die hele omgewing se mense in uitgenooi na die bruilof. “Moeder, ek kry nou net berig dat Koos opgekommandeer is om teen hoofman Sekukhune te gaan veg! Nou! Net voor die troue! Hy skryf dat sy vader self vir Louw Wepener gaan vertel het dat al die reëlings klaar getref is, maar daar is nie uitkomkansnie. Ag, Moeder, wat gaan ons maak?”

Min het Nonnie geweet dit gaan die patroon wees wat deur haar lewe gaan loop, en sy moes daar al besef het dat, vir Koos De la Rey, plig altyd eerste sal kom. Maar hy keer vroeg in Oktober terug en die gebooie loop sommer dadelik en pas na die derde gebod gelees is, trou hulle op 24 Oktober 1876 op ‘n Dinsdagoggend negeuur in Zeerust voor die landdros – in die negentiende eeu was Dinsdag as ‘n gebruiklike troudag beskou. Hulle haas terug na die plaas waar ‘n werf vol waens en karre wag. Die bruilof is plesierig al word dansery nie toegelaat nie en Nonnie is ‘n stralende bruid. Sy is 20 en hy 29. Min van die stoere boere en trekkers van daardie tyd het hulle gevoelens op skrif gestel en mens kan maar net gis oor die emosies en drifte wat tussen twee jong getroudes geheers het. Aanvanklik moes hulle by Nonnie se ouers bly en het Koos als in sy vermoë gedoen om genoeg vee aan te koop om ‘n eie boerdery te begin. Hulle is selfs na die soutpanne, in ‘n gebied wat vandag as Delarey bekendstaan, om sout te skraap, wat hulle verruil het vir vee. Met 100 skape en 100 beeste kon hulle toe gaan boer op 700 morg wat Nonnie se pa aan haar gegee het.

KoosDeLaRey

 

Koos maak al meer opgang in regeringsake en word as ‘n kenner van naturelle sake beskou en moet dikwels weg wees van die plaas. Hy stel ‘n voorman aan om Nonnie te help, maar sy steek hom in die pad en neem self die “manswerk” oor en boer voorspoedig met groente en vrugte. Met die uitbreek van die eerste Anglo Boere Oorlog moet Koos, wat onder Nonnie se pa in die Lichtenburgkommandement staan, gaan veg, maar bly eers by Nonnie vir die geboorte van sy eerste seun, Adriaan in 1880. Na die dood van haar ouers kort na mekaar, trek Koos en Nonnie in 1884 na die plaas Elandsfontein en word ‘n yslike kliphuis opgerig, meestal onder Nonnie se toesig omdat Koos toe kommandant van Lichtenburgkommando word en lid van die Transvaalse Volksraad wat noodsaak dat hy baie reis. Koos se enigste voorwaarde met die huis was dat daar geen gange mag wees nie, want dit is gemorste spasie! Die groot huis het ‘n breë stoep voor met twee gewels aan weerskante. Daar is ook etlike buitegeboue en stalle en ‘n reuse tuin. “Dit was nie maklik om so alleen die plaas te moet behartig nie,” kla Nonnie jare later. Maar voeg dadelik by dat sy die opofferings gedoen het uit plig en omdat daar nie‘n keuse was nie. Sy was ‘n voorslagvrou wat selfs ‘n dam laat bou het, ‘n ou fontein laat oopgrawe en gesorg het vir die vee en aanplant van gewasse – en dit terwyl sy twaalf kinders moes grootkry.

Na haar ma se dood op 49 het sy haar vier jong broers en susters ook in die huis geneem en klaarblyklik ook twee kinders in pleegsorg gehad. ‘n Mens wil graag romantiseer oor hoe ‘n vrolike huis dit moes gewees het, hoe almal saam om die lang tafel in die eetkamer gekuier het, die geboë ry koppe met huisgodsdiens, die gegiggel saans in die slaapkamers. Maar die werklikheid was sekerlik baie meer sober. Om soveel kinders te klee en kos te gee, kon nie maklik gewees het nie – om nie te praat van dissipline uitoefen nie. Koos, ‘n man van vrede selfs waar dit die kinders betref, het hulle nooit pak gegee nie – ook dit het hy aan Nonnie oorgelaat. Met haar beperkte skoolopleiding het sy selfs vir ‘n ruk probeer om vir die kinders klas te gee, maar Koos het gelukkig in 1893 ‘n goewernante, Miss Lennerton, aangestel wat haar taak vergemaklik het. Na 38 jaar se getroude lewe het Nonnie hulle huwelik met ‘n helder waterstroom vergelyk – “al het die water soms troebel geword, was die stroom sterk genoeg om dit gou weer skoon te spoel.”

Troebel het die water sekerlik geword toe die Tweede Vryheidsoorlog op 11 Oktober 1899 uitbreek. Vir Koos De la Rey was dit ‘n bitter pil om te sluk want hy het hom onverpoos beywer om die vrede te bewaar en gepleit vir verdere onderhandelinge. Sy beroemde woorde teenoor President Paul Kruger, nadat dié hom van lafhartigheid beskuldig het, “jy sal my in die veld sien veg vir die onafhanklikheid van die Afrikaner lank nadat jy en jou oorlogsparty al uit die land gevlug het,” het bewaarheid geword. Nonnie het die nuus op Lichtenburg gehoor: “wat komt my daar spoedig tegemoed een telegram van my man dat my de wrede tyding breng dat de oorlog geproklameer is tegen ons.” Sy het hom dae later gaan besoek op Polfontein en haarself vergewis van die oorlogsplanne, vir proviand gesorg en haar klein kordaat figuurtjie het ‘n bekende gesig aan die sy van haar lang man geword voordat sy teruggegaan het. Koos en Generaal Cronje het by Elandsfontein om die tafel strategie beplan vir die slag van Tweerivieren terwyl Nonnie hulle knapsakke sowel as die van haar twee seuns, Adriaan en jong Koos, vol beskuit en biltong gepak het.

Dit was in daardie slag, ‘n dag wat later beskryf is as “all Hell let Loose”, waar Koos se oudste seun in die maag gewond is. Koos het tevergeefs ‘n ambulaans gesoek en ten einde raad sy seun in ‘n kombers toegevou en hom deur die nag gedra vir 14 kilometer tot by die hospitaal in Jacobsdal. Hy sterf ‘n uur later. “Heden ontsliep ons geliefde zoon Adriaan zoo zach in mijn armen aan een kogel wond.” Watter ma sal nie weet wat Nonnie se pyn was nie? Maar Nonnie De la Rey laat perde inspan en ry na haar man in die laer naby Magersfontein. Sy wil Adriaan se graf sien, sy wil sy klere by die hospitaal gaan haal en sy wil haar man troos en bystaan. Selfs Generaal Cronje se kennisgewing wat vrouens en kinders die laer verbied, kan Nonnie nie skeel nie. Sy gaan eers terug na Elandsfontein toe Koos Colesberg toe vertrek. “Moeder, kom gou, hier is sewe perderuiters in die pad! Maak gou, hulle is al amper by die opstal!” Maar Nonnie kan nie vinnig genoeg uit die boord by die huis kom nie en moet hulpeloos aanhoor hoe drie van hulle haar huis binne verniel terwyl die ander vier haar keer om in te gaan. Na hulle weg is, met ‘n paar van haar perde ook as buit, saal Nonnie ‘n perd op en ry Lichtenburg toe om te kla by die Britse generaal, Lord Methuen. Hy beloof om haar perde terug te gee en haar huis verder te spaar op voorwaarde dat sy nie meer kos aan haar man voorsien nie. “Al sny jy my ook riempies, maar as my man en sy staf by my huis kom, sal ek hulle sekerlik alles gee wat ek het.”

Tog, aangepraat deur haar man, gaan woon Nonnie en die kinders daarna in hulle dorpshuis in Lichtenburg. Daar is sy ook nie veilig nie. Lord Methuen, gekonfronteer met Nonnie se onwrikbare gees en geraak deur haar woorde “Al schijnt gij ook nog zoo onbarmhartig, bly God genadig,” raai haar onomwonde aan om liewer pad te gee omdat die Britte drasties soek na haar man en hom gevange sal neem as hy weer na haar kom. Met ‘n span osse, ‘n wa, drie bediendes, twee melkkoeie, skape en hoenders vertrek Nonnie en ses van haar kinders – tussen drie en vyftien jaar oud – op ‘n reënerige dag in Desember 1900 op ‘n swerftog wat tot aan die einde van die oorlog sou duur. Hoewel sy nie weer saam met hom gebly het nie, het Nonnie tog dikwels vir Koos vir kort rukkies gesien. Sy kon nooit langer as ‘n paar dae op een plek oorstaan nie, maar op ‘n manier het Koos altyd geweet waar sy is, en haar probeer waarsku as daar Britse troepe in die omgewing was. Waar hy kos kon buit by die Kakies het hy dit vir haar laat kry, soms self gebring en dan, uitgeput, in haar arms geslaap vir ‘n paar uur.

d64a16d6aa96547dba50756610a3fcc9

 

In die wakis bewaar Nonnie sy briewe en dokumente en staal haarself elke keer as sy die grofgeskut in die verte hoor. Sy wou deel wees van Koos se lewe, sy wou weet wat aangaan, maar sy en Koos was baie bewus daarvan dat die Britse magte haar graag sou wou vang om as gyselaar te gebruik om vir Koos by te kom. Sy was seker bang, seker soms alleen en hartseer, maar Nonnie De la Rey het nooit moed verloor nie. Haar dapperheid en uithouvermoë vir agtien maande lank is merkwaardig. “Ik heb lief geraakt voor my wa,” skryf sy. Daar was altyd kos vir haar en haar mense, en toe hulle klere later stukkend raak, het sy dit gelap met skaapvel en ou komberse en toe Koos vir haar ‘n Union Jack en die groen vilt van ‘n biljarttafel bring, ook daarmee! Daarna was die De la Rey kinders “bullet-proof.”

Nonnie vra Koos om na haar te kom op hulle vyf-en-twintigste troudag en Koos trek al die oggend vroeg sy manelpak aan. Skielik kom sy kamp by Kleinfontein onder skoot en moet hy begin skiet – in sy uitgaanklere! Agterna sou hy sien die twee knope agter op sy rug is afgeskiet. Hoe kosbaar was hy seker nie vir Nonnie toe hulle mekaar weer sien? In Nonnie en Koos was daar, behalwe ‘n vreesloosheid en onwrikbare liefde vir mekaar, ook ‘n vergewensgesindheid wat dikwels onbegrypbaar was.

Vroeg in 1901 stuur Koos van sy manne om te gaan kyk of die huis op Elandsfontein nog staan. Dit is intussen as ‘n offisiersmenasie gebruik, onwetend aan die manskappe wat, toe hulle tweesoldate by die deur sien uitkom, hulle doodskiet. Lord Methuen gaan terug op sy woord en brand die huis af. Kort daarna by die slag van Tweebosch word Methuen gewond en gevang. Nie alleen kom besoek Nonnie hom met ‘n hoender en beskuit nie, maar laat Koos hom vry, nadat hy vir Methuen se vrou in kennis gestel het van die gebeure. Dit het hulle baie onmin van die burgers op die hals gehaal, maar Lord Methuen het ‘n lewenslange vriend van die De la Reys geword. Na die oorlog is Nonnie, die enigste generaalsvrou, saam met Koos en generaals Botha en De wet na Engeland om geldelike hulp vir die geteisterde boere te bekom. Vir Nonnie moes dit ‘n eienaardige ondervinding gewees het en die kontras van die mooi gekultiveerde landskap van Europa met die afgebrande velde van Suid-Afrika moes bisar gewees het.

nonnieImage111

“She cannot bear to look upon the ruins of her home without tears,” skryf Emily Hobhouse oor Nonnie se terugkeer na Elandsfontein. Maar, getrou aan hulle sterk waardes, besluit Koos en Nonnie om die huis te herbou. Terwyl hulle nog beplan, gaan Koos Indië toe en moet Nonnie argitek en boumeester wees en help uiteindelik selfs omstene te maak vir die 50cm dik mure. Hulle bou ‘n huis met nege slaapkamers en twee eetkamers (een vir die kinders) en ‘n yslike stoep. Generaal Jannie Smuts en sy vrou kom help tuinmaak en bome plant. Gou skep Nonnie ‘n huis waar haar man en kinders veilig voel en waar gaste, dikwels onverwags, oorbly. Al hartseer in haar lewe is haar man se toenemende toetrede tot die openbare lewe, wat hom al meer wegneem van haar af.

In 1910 word hy ‘n Senator in die Uniekabinet. Kort daarna vind ‘n skeuring in die parlement plaas tussen Hertzog aan die een kant wat hom sterk beywer vir Afrikaners se regte en Botha en Smuts se sogenaamde Britsgesindheid. Koos De la Rey, wat vriende is met Louis Botha en Jan Smuts voel ook verdeeld, want in sy wese veg hy nog al die jare vir die regte van sy volk. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog word die situasie tot breekpunt gedryf en staan Koos De la Rey in die middel van hierdie dilemma. Hy wil ten alle koste verdere bloedvergieting vermy en, na ‘n lang gesprek met generaal de Wet hoor Nonnie hoe Koos hardop bid: “As my lewe my volk kan red, neem dan my lewe.” “En ek dan, Koos? Wat sal van my word sonder jou?” Hy skud net sy kop.

Op 15 September 1914 reis Koos saam met Generaal Beyers in ‘n oop lig grys Daimlermotorkar vanaf Pretoria, dalk nog na Nonnie op Elandsfontein. Hulle merk padblokkades op en De la Rey, oortuig dat hulle hom soek, beveel die motorbestuurder om nie stil te hou nie. So jaag hulle deur drie stoptekens wat in werklikheid opgestel is om die berugte Fosterbende te probeer vasvat. By Langlaagte wil ‘n polisieman hulle voorkeer en vuur toe ‘n skoot na die motorband wat opslaan en Koos De la Rey in sy rug tref en onmiddellik dood. “Nonnie, ek is so jammer.” “Christiaan, my man was by ‘n kruispad. Ek glo God het hom geroep.” Toegewikkel in swart klere woon Nonnie albei begrafnisse vir haar man by, eers in Pretoria en toe, op 20 September in Lichtenburg waar bykans 10,000 mense bymekaar kom.

Hartseer en bitterheid oor sy ontydige dood hang soos onweerswolke oor die dorp. Nonnie bly op Elandsfontein woon en word met die jare meer geset, meer waardig en meer gerespekteer. Hoewel haar man se naam tot vandag aansien verdien vir sy pogings om vrede en rekonsiliasie te bewerkstellig, kan niemand wat weet van Nonnie De la Rey onbewus bly van die groot rol wat sy gespeel het nie. Haar lewe is dalk een van die mooiste voorbeelde van die vrou van daardie tyd wat alles opgeoffer het vir haar man. Toe sy in Augustus 1923 sterf is dit as ‘n volkmoeder en word een van die mooiste hulde aan haar deur die Britse Goeweneur Generaal, Lord Buxton, gelewer: “She was a sympathetic friend.”

Connie Luyt Pretoria 2007

Navorsing: Trew, Peter: The Boer War Generals : Jonathan Ball, Jhb. 1999 Van Rensburg, A.P.: Moeders van ons Volk; Afrikaanse pers-boekhandel, Jhb. 1966 De la Rey,Hennie: Die Ware Generaal; Protea, Pretoria 1998 Pakenham Thomas: The Boer War; Jonathan Ball, Jhb. 1979 Rowan, Zelda: Nonnie De la Rey; M.verhandeling, Kultuurgesk. Pretoria Univ. 2003

Saamgestel uit Artikels deur: Boere Afrikana en Gelofteland

f5-trek

Enjoyed this post? Share it!