Die Omstrede Grondkwessie en ander Nuus van belang


Artikel 1: Eskom se Ooreenkoms sal Thaba Munisipaliteit Sink

THABAZIMBI – Die afbetalingsooreenkoms tussen Eskom en die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit in Noord-Transvaal gaan tot die ineenstorting van dié munisipaliteit lei.

Die burgerregte-organisasie het hulle kommentaar tydens ’n openbaredeelnameproses ingedien nadat Eskom onlangs aangekondig het dat hulle van voorneme is om die munisipaliteit se krag af te sny weens wanbetaling.

Eskom se kennisgewing het gestel dat skriftelike besware voor 3 Augustus 2015 ingedien moet word waarna daar op 10 Augustus 2015 ’n finale besluit geneem sal word. Indien hulle besluit om voort te gaan, sal die krag op 18 Augustus afgesny word

Afrikaanse Nuus

 

Artikel 2

Polisie Bevestig Hulle eie Onbekwaamheid

Die gestoei wat verlede week voor die minister van polisie se kantoor uitgebreek het, moet as ’n bevestiging beskou word dat AfriForum se beswaar oor die polisie se houding rakende plaasmoorde meriete het.

Nie net is ekself en twee kollegas (Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid, en Marcus Pawson, provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid en Noordwes) hardhandig deur die polisie hanteer nie, maar Bernadette Hall, wie se man in 2012 voor haar op hulle plaas vermoor is, is ook deur die polisie rondgestamp. Ons is verder met arrestasie gedreig, blykbaar vir “betreding” omdat ons gepoog het om ’n memorandum by die polisiehoofkantoor (’n openbare gebou) se ontvangstoonbank af te lewer.
Die groep van nagenoeg 40 verteenwoordigers van AfriForum, AfriForum Jeug en slagoffers van plaasaanvalle moes aanvanklik vir ’n uur in die straat staan en wag vir reaksie van die minister se kantoor af. AfriForum het al die statutêre vereistes vir hierdie openbare byeenkoms nagekom, en die minister en die Tshwane Metropolisie is vooraf oor die byeenkoms ingelig – hulle het selfs op ons e-posse gereageer en Maandagoggend gebel om te bevestig of ons nog op pad is. Toe ons egter daar aankom, beweer ’n polisieman dat dit ’n onwettige byeenkoms is omdat “protokol” nie gevolg is nie en ons nooit die minister of die metropolisie daarvan ingelig het nie. Ons het dit verwag en het kopieë van al die nodige bewysstukke daar gehad. In antwoord hierop het die span gewapende polisiemanne wat gestuur is om die minister te beskerm, gesê dat iemand “voor die einde van die dag” sal kom om die memorandum te ontvang.

Dit het egter vinnig duidelik geword dat die minister niemand gaan stuur om die memorandum te ontvang nie. Daarom het ons besluit om die memorandum by die ontvangstoonbank af te lewer. Selfs hiervan wou die gewapende polisie niks weet nie. Hulle was so vasberade om ons buite te hou, dat hulle die gebou ontruim en die deure gesluit het. Uiteindelik het ’n lid van sekuriteit, wat vir twee uur lank daar rondgestaan het en probeer het om iemand van die minister se kantoor te kry om die memorandum te ontvang, die memorandum ontvang en onderneem om dit aan die minister te gaan oorhandig.

Die hardhandige optrede deur die polisie en die weiering om ’n verteenwoordiger te stuur om die memorandum in ontvangs te neem, is erg kommerwekkend. Ons is tans besig om klagtes teen die minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, die nasionale polisiekommissaris, generaal Riah Phiyega, en die Tshwane Metropolisie te formuleer oor die gedrag van hulle verteenwoordigers by hierdie byeenkoms.

In die afwesigheid van selfs net ’n simboliese gebaar deur die regering oor die noodsaak om plaasmoorde te prioritiseer, laat dit ons met een van twee keuses. Ons moet óf aanvaar dat plaasmoorde net eenvoudig nie op die regering se radar is nie en die status quo aanvaar, óf ons moet selfs meer openbare druk toepas, selfs meer protesaksies reël en selfs meer internasionale bewusmakingsaksies toepas.

Indien ons só daarna kyk, is dit nie ’n moeilike keuse nie. Die minister se houding jeens hierdie krisis is ’n bevestiging dat ons meer sal moet doen om óf die regering se insig te verbeter, óf internasionaal vir die regering ’n verleentheid te skep oor die gebrek aan optrede om sy eie landsburgers te beskerm – Ernst Roets

Afrikaanse nuus

 

Artikel 3


Louis Changuion oor die Grondkwessie

Suid-Afrika Grondkwessie

Louis Changuion, met die bystand van ‘n mede-historikus Bertus Steenkamp, het redelik onlangs die volgende wetenskaplike studie gepubliseer: Omstrede Land: Die historiese ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse grondvraagstuk, 1652 tot 2011 (Pretoria: Protea Boekhuis, 2011, 471p). In die aanloop tot die verkiesing is grondhervorming weer hoog op die agenda van veral die ANC. Baie mense, bv politici, het baie oor grondhervorming te sê, maar hoeveel van hulle het hierdie boek grondig bestudeer? Daar is ‘n Engelse weergawe beskikbaar vir diegene wat nie Afrikaans kan of wil lees nie.

By grond gaan dit om meer as die barre aarde. Dit het ook met ontwikkelde grond in die vorm van bv plase te make, wat die landbou betrek en daarmee saam kosvoorsiening, wat ons almal raak. Die San het die grond gebruik om op te jag en die Khoi het die grond van plante gestroop om vuurmaakhout te hê. Hulle het geen eie bydrae tot grondontwikkeling gelewer nie. Eintlik ook nie die swartes wat grond vir weiding en bestaansboerdery gebruik het nie, want oorbeweiding en grootskaalse erosie was aan die orde van die dag. Al hierdie inheemses was in meerdere of mindere mate nomadies, wat meebring dat hulle kwalik op eiendomsreg van spesifieke afgebakende grond aanspraak kan maak.

Die Khoisan kan hoogstens beweer dat hulle eerste in die suide en weste en die swartes dat hulle eerste in die noorde en ooste van Suid-Afrika was. Nie een van hulle het ‘n realistiese grondaanspraak gebaseer op ontwikkelingsarbeid wat hulle self en op hulle eie verrig het nie. Daar is heelwat regverdiging vir die standpunt “dat dit reg is dat die grootste gedeelte grond aan blankes moet behoort, omdat die blankes die grond ekonomies benut” (p 212). Die swartes se voortdurende eise om meer grond is tereg beantwoord met die versoek dat die swartes “eers bewys moet lewer dat hulle grondgebied meer produktief kan benut” (p 227). In 2012 was daar ‘n bohaai toe Pieter Mulder die feit genoem het dat die swartes (anders as die Khoisan en die wittes) histories nie in die suide en weste van Suid-Afrika gewoon het nie. Changuion bevestig hierdie algemeen aanvaarde waarheid (p 147, 298). Die ANC wil die geskiedenis herskryf soos dit hom pas.

Dit is die wittes wat sedert die middel van die 17de eeu in Suid-Afrika infrastruktuur (bv paaie) geskep en grond tot produktiewe kommersiële plase (in teenstelling met die swartes se bestaansboerdery) ontwikkel het. Hierin was die rol van die inheemses beperk tot dié van arbeiders. Dat swartes se benadering tot grond heeltemal anders as dié van wittes is, word deur Willie Esterhuyse uitgewys wanneer hy noem dat dit by swartes “nie oor grond as produktiewe bate gaan nie, maar oor grond as politieke identiteitsimbool” (Eindstryd, Kaapstad, Tafelberg, 2012, p 341).

Dit is ‘n primitiewe benadering wat nie gepas in die hedendaagse wêreld is nie. Dit gee uitdrukking aan die tragedie van grondhervorming in die nuwe Suid-Afrika met ‘n regering wat die swartes ter wille is. Swartes voel emosioneel geregtig op alles in die land, of demografies op minstens 80% daarvan, maar hierdie begeerte is op instink en ideologie gebaseer. Hoe meer grond van wittes weggeneem en aan swartes oorgedra word, des te meer word die onproduktiewe grond. Die landsbevolking neem toe, maar voedselproduksie neem af. Dit moet noodwendig tot ‘n krisis lei.

FW de Klerk het daarop gewys dat die ANC-regering volgens sy groenskrif oor grondhervorming private eiendomsreg wil erodeer deur die grootte van plase in wit besit te beperk, asook die getal plase wat wittes mag besit. Dit sal landbouproduksie en ander ekonomiese aktiwiteit asook belastinginkomste verminder en plaaslike en buitelandse beleggings laat opdroog (Die Burger, 1 Junie 2012, p 2).

In daardie koerant se weeklikse redaksionele rubriek word gesê dat die teks van die groenskrif “‘n eensydige, emosioneel bewoorde historiese beskouing” gee “van hoe die swart mense se grond onder ‘kolonialisme en apartheid’ van hulle afgeneem is”. Ook dat die aanleiding vir die groenskrif ‘n 2007-besluit van die ANC se Polokwane-kongres is, waarmee bevestig word dat die onderskeid tussen die regering en die ANC as politieke party “ongesond versmelt het” (Die Burger, 2 Junie 2012, p 12).

Changuion toon aan hoe die wittes en swartes hulle sedert 1652 in verskillende gebiede gevestig het. Deurlopend het verandering in grondbesetting plaasgevind, soos vanweë die Groot Trek in die geval van die wittes en die Difaqane (die uitdelgingsoorloë onder die swartes) in die 19de eeu. ‘n Kenmerk wat van 1652 tot 1990/1994 konstant gebly het, is dat wittes en swartes ten minste amptelik aparte grondgebied beset het. Dit onderstreep die revolusionêre aard van FW de Klerk se toespraak op 2 Februarie 1990. Dit was ‘n radikale breuk met die evolusionêre geskiedenis van Suid-Afrika. Wat sedertdien gebeur het, noop ‘n mens om te wonder of voogdyskap of paternalisme (Changuion, p 132, 190) werklik so boos was as wat dit deesdae voorgestel word. (Kyk die laaste sin hieronder.) Die ANC verwag bv sonder meer dat blanke boere bystand aan swart boere moet verleen.

Die standpunt van swartes word heel aan die begin van die boek soos volg verwoord: “Die veronderstelling is dat die meeste blanke grondeienaars (of hulle voorsate) die grond wat hulle besit wederregtelik bekom het en dat dit daarom nou aan die ‘regmatige’ eienaars teruggegee moet word” (p 7). Nelson Mandela het dit soos volg verwoord: “The [black] people … would fight the white man and win back their country” (Long walk to freedom, London: Abacus, 1995, p 433). Maar die swartes “besit” grond suiwer histories; hulle koop dit nie. ‘n Zimbabwiese opperhoof het sy standpunt soos volg gestel: “Buy land? You must be crazy, you don’t buy the wind or the water or the trees” (Peter Godwin, When a crocodile eats the sun, Northlands: Picador, 2006, p 54). [Dit is hierdie houding wat veroorsaak dat baie swartes nie vir water wil betaal nie; dit val mos gratis uit die lug.] Dieselfde eensydige en primitiewe benadering blyk uit die titel van ‘n 2004-publikasie van die ANC-regering se Departement Grondsake: This is our land (p 7, 309, 446).

Aan die begin het wittes soms grond (nie ontwikkelde plase nie) onderhewig aan streng voorwaardes ontvang. Van hierdie plase is deur latere geslagte geërf, maar die waarde is grootliks deur die ontwikkelingswerk bepaal. Later is hierdie plase dikwels ten duurste deur ander eienaars gekoop en is die verbandlenings oor dekades afbetaal. Deesdae word die eiendomsreg van sommige van hierdie ontwikkelde plase sonder teenprestasie aan swartes oorgedra. Onderliggend is daar nie net ‘n gebrek aan ewewig nie; daar is ook doodgewone onreg, oftewel onregverdigbare bevoordeling van swartes en benadeling van wittes. Daarby word hierdie verkwanseling moontlik gemaak deur belasting wat in groot mate van wittes gevorder word.

Soos dit ‘n wetenskaplike studie betaam, word die terminologie deur Changuion verduidelik: bevolkingsgroepe (wittes, swartes, bruines en Asiate), grondbesit (besetting, onderhandeling, onteiening, restitusie, hervorming), groepe (volk/nasie, stam, gemeenskap) (p 9-10), asook die groepbenamings (p 312-313). Naas die teks wat vir die algemene publiek geskryf is (p 7), is daar bylaes oor bv die wette en statistiek (p 314-442), gevolg deur ‘n bronnelys en indeks. Van die grootste bates van die boek is die talle landkaarte wat die grondsituasie van 1652 tot 2011 uitbeeld. Behalwe in die geval van veral Brits-Betsjoeanaland/Griekwaland-Wes (en anders as die reservate vir Indiane in die VSA) het swartes in Suid-Afrika tradisioneel van die beste landbougrond beset, maar boerdery op ‘n onproduktiewe manier bedryf. Die swart gebied Thaba Nchu in die Vrystaat is bv die allerbeste grond in die provinsie genoem. “Nogtans vind ons dat die naturel nie in staat is om daardie grond te bewerk en die beste daarvan te maak nie” (p 172).

Oor die 1936-wet oor grondbesit:

“Die 15,3 miljoen ha [vir swartes] is meer as die oppervlakte van Engeland en Wallis tesame waarop ongeveer 30 miljoen mense woon teenoor die minder as 6 miljoen wat vir die tuislande beoog is. Ongeveer die helfte van die 100 000 km² met ‘n vogtige en matige klimaat in Suid-Afrika is in die swart grondgebied geleë. Bowendien kry meer as 75% van die oppervlakte van die swart gebiede meer as 500 mm reën per jaar, wat die minimum vir droë-landgewasverbouing is; dit vergeleke met die gemiddelde jaarlikse reënval van slegs 430 mm in Suider-Afrika as geheel” (p 175; ook p 304).

“Die Britse en koloniale regerings het deurgaans gepoog om ‘n beleid van gebiedskeiding te volg” (p 49). “Gebiedskeiding (segregasie) en voogdyskap” was “die tradisionele beleid van Suid-Afrika” (p 116; ook p 141, 191, 388); voor die Anglo-Boereoorlog en ook daarna. Dit was egter in groter mate ‘n skeiding van grondeienaarskap as van mense. Selfs DF Malan het al in 1950 erken dat algehele apartheid nie prakties uitvoerbaar is nie (p 203). In die praktyk was daar bv baie swartes op blanke plase. Slegs sommige van hulle was arbeiders in diens van boere (p 121). Daar was bv deelboerdery: “Die blankes het die grond verskaf, die swartes die arbeid, en uiteindelik is die opbrengs verdeel” (p 130). In die Boere-republieke van die Transvaal en Vrystaat was daar “tradisionele swart krale op die meeste blanke plase” (p 64).

 

In die ‘blanke’ dorpe en veral stede was daar ‘n al hoe groter toevloei van swartes. Daarbenewens was daar baie staatsgrond waarop swartes hulle gevestig het (p 121, 144, 266), in groter mate as in die reservate (p 122). Baie staatsgrond is sedert 1994 deur die ANC-regering aan swartes oorgedra (p 278). In 1976 het minder swartes in die tuislande as in die res van Suid-Afrika gewoon (p 234). Daar was ook baie grond wat sendelinge vir swart besetting gekoop het (p 66, 67, 106, 144).

Dit is dus uiters misleidend om te beweer, soos telkens deur bv aktiviste en politici, dat swartes op 13% van Suid-Afrika se oppervlak saamgehok is. Daar moet ook onthou word dat swartes tradisioneel geweier het om hulle samewerking te gee wanneer die owerheid ‘n sensus opgeneem het (p 124). [Daar word natuurlik van almal verwag om saam te werk wanneer die ANC-regering op sy onbeholpe manier ‘n sensus hou.] In die Transvaalse republiek “is deur wetgewing bepaal dat blankes nie grond mag beset waar daar ‘n swart stam gevestig is nie” (p 65).

Van vroeg af was die regeringstandpunt dat as ‘n (blanke) boer nie sy grond kon of wou benut nie dit terugval na die owerheid (p 22). Wanneer plase met die oog op besetting deur swartes benodig is, het die wit boere kompensasie ontvang (p 91), bv markwaarde plus 10% en vergoeding vir werklike verliese en ongerief (p 231). Soos elders in die wêreld het die teenoorgestelde ook gebeur: Wittes het swart grondgebied as oorlogsbuit ontvang en dit in plase opgedeel (p 94). Soms het swartes op ‘n soortgelyke wyse gebaat as hulle suksesvol aan die kant van die Boere geveg het (p 107). Wanneer wittes plase gratis ontvang het, was dit bv op voorwaarde dat dit permanent deur hulle bewoon moet word (p 97, 373).

“Indien die Boererepublieke beskuldig kon word dat hulle grond ‘wederregtelik’ verower het – dat dit ‘n geval van land grabbing was – kan dit des te meer gesê word van Groot Brittanje en wat hulle teen die einde van die 19de eeu in Suid-Afrika gedoen het toe hulle die Twee Boererepublieke ingepalm het. Dit, meer as enige ander verowering in daardie tyd, was ‘n voorbeeld van grondinpalming teen die wil van die meerderheid inwoners – ten minste die meerderheid blanke inwoners. Die twee Boererepublieke wat vir ongeveer sestig jaar lank besig was om grond te verower, het dit alles in twee en ‘n half jaar verloor en moes dit as gevolg van verowering afstaan aan ‘n Europese moondheid. Wat was die verskil? Het wat die Boere gedoen het, enigsins verskil van wat Brittanje hier, en in die res van Afrika, gedoen het – verowering van grond, soos dit vir eeue in Europa, trouens in die wêreld, gedoen is?” (p 113).

“Die deelname van swartes aan die oorlog, en grootliks aan Britse kant, [het] die rasseverhoudings verder vertroebel” (p 117). “Na die oorlog was daar ‘n opeenhoping van hawelose swartes op die boereplase en in die groot nywerheidstede en tog was daar ‘n gebrek aan arbeiders op sowel die plase as in die nywerhede, en die reservate was reeds oorbevolk” (p 120). Dit herinner aan die invoer van slawe in die 17de eeu omdat die Khoisan grootliks onbruikbaar as arbeidsbron was. Dit herinner ook aan die invoer van Indiërs gedurende die laaste veertig jaar van die 19de eeu as tydelike werkers op die suikerplantasies (p 179), asook die werwing van swartes in veral die buurlande as trekarbeiders vir die myne (p 208). Daar was baie swartes in Suid-Afrika maar baie van hulle was ongeskik of ongeneë om bevredigend as arbeiders te funksioneer. Arthur Keppel-Jones het swartes as ambisielose sonsitters gestereotipeer (Praag 16 deser).

[Daar is deesdae die persepsie dat buitelandse swartes, bv Zimbabwiërs en Mosambiekers, beter as die tradisioneel Suid-Afrikaanse swartes is, bv as arbeiders. As dit so is, is die vraag waarom dit so is. Dit lyk vir my asof die antwoord in twee rigtings gesoek kan word. Enersyds is dit moontlik dat nie die room nie maar die afsaksels van die swart bevolking in vorige eeue suid oor die Limpopo-rivier gedryf is. Dan kan veralgemenend beweer word dat die tradisioneel Suid-Afrikaanse swartes van slegter stoffasie as dié in bv die buurlande is. Andersyds kan die mode nagevolg word deur die skuld aan die blankes te gee. Tydens die blanke bewind is noodleniging seker meer doeltreffend in Suid-Afrika as in ander Afrika-lande, bv die buurlande, gedoen. Daar was dus ‘n mindere gevaar dat ontberings en sterftes weens bv epidemies en hongersnood by swartes sou voorkom. Dan kan die moontlike verskil in kwaliteit tussen plaaslike swartes en dié in buurlandse aan die empatie van blankes toegeskryf word. Maar dan word die voortdurende geweeklaag van plaaslike swartes oor hoe vreeslik sleg hulle tydens kolonialisme en apartheid behandel is, vergesog en eintlik absurd. In werklikheid het hulle dit (veralgemenend) dan (toe en nou) te lekker en maklik gehad; beter as wat hulle prestasiegewys verdien. Dat dit tydens kolonialisme en apartheid nie hel op aarde vir swartes in Suid-Afrika was nie, blyk uit die feit dat swartes reeds eeue lank nie uitwyk nie, maar eerder die land instroom.]

Tydens die Anglo-Boereoorlog het swartes die Britte ondersteun onder die indruk dat hulle daarvoor vergoed sou word. Baie swartes het “geglo dat die oorwinnaars (die Britte) ná die Anglo-Boereoorlog blankes se plase aan hulle sou gee, en hulle het oor die grense gestroom en blanke plase beset … Die Britse militêre owerhede wat tydens die Anglo-Boereoorlog die besetting ooglopend toegelaat het, het die indruk geskep dat hulle die besetting van hierdie plase goedkeur” (p 115).

“Toe van die blanke boere ná die oorlog na hulle plase teruggekeer het, het hulle gevind dat hulle plase deur swart gemeenskappe beset is … die meeste opstalle is afgebrand, hul vee is óf vernietig óf is gesteel” (p 115). Die wittes het met min middele en groot inspanning hulle plase heropgebou. Na verloop van minder as ‘n eeu, dus na die roemlose magsoorgawe van 1990/1994, herhaal die geskiedenis hom: Swartes dreig om sonder vergoeding die plase van blankes oor te neem en swartes uit Afrika stroom oor die landsgrense in groter getalle as ooit tevore. Die ANC-regering openbaar oor die inkommers “‘n baie meer gematigde houding” (p 279) as vorige regerings.

Na sy toespraak op 2 Februarie 1990 het FW de Klerk magsdeling aan die wittes belowe maar hulle is die reg ontsê om die algehele magsoorgawe, waartoe hy ingestem het, te verwerp. Na die bewindsoorname van die ANC in 1994 het FW de Klerk aan die boere belowe: “Julle kaart en transport is veilig” (p 272). In 2007 het die eerste plaasonteiening egter geslaag (p 279). Pleks van die markwaarde of selfs meer as dit (soos hierbo genoem) word boere deur die ANC-regering minder as die markwaarde vir hulle plase aangebied. Daarby word ook gesloer met die uitbetaling van die vergoeding (p 280). Die hele proses word deur korrupsie en onbekwame amptenare beduiwel (p 283).

Die ANC-regering het grondeise toegelaat wat tot 1913 terugdateer. Die sperdatum vir die indiening van die eise was die einde van 1998. Toe is bekend gemaak dat 60 000 eise ontvang is. ‘n Jaar later is hierdie syfer tot 79 000 verhoog (p 278), wat heelwaarskynlik daarop dui dat baie aansoeke wat te laat ontvang is op ‘n onetiese wyse toegelaat is. Druk word uitgeoefen dat verdere eise toegelaat word en die afsnydatum nie 1913 moet wees nie (p 274), maar eerder 1652: “Dit mag dan dalk selfs die stryd om grond tussen die swart gemeenskappe van die verlede betrek” (p 281). Dit wil die ANC vermy, want grondhervorming word ter bevoordeling van die swartes bedryf en is uitsluitlik teen die wittes gemik (p 309).

Die gewillige-koper-verkoper-beginsel kry al hoe meer teenstand (p 280-281, 290). Maatreëls soos grondonteiening, drastiese belasting op grond en die beperking van grondpryse en die hoeveelheid grond wat ‘n wit boer mag besit, geniet al hoe meer steun (p 281, 290, 294-295, 309), veral in ANC-geledere. Die kabinet het reeds in 2008 grondonteiening in beginsel aanvaar (p 285). Sodra ‘n eis teen ‘n plaas ingedien is, mag geen verdere ontwikkeling daar gedoen word sonder ‘n permit van die grondeisekommissaris nie (p 281). Produksie lei daaronder en dit kan jare duur voordat ‘n eis afgehandel is en nog langer voordat die boer vergoeding ontvang (p 307).

“Binne ‘n paar jaar het Suid-Afrika verander van ‘n netto uitvoerder van voedsel na ‘n netto invoerder” (p 282). Dit is waarom ek dink dat daar eerder ‘n graad- as ‘n aardverskil tussen die situasie in die nuwe Suid-Afrika en Zimbabwe is. Die maatreëls wat die ANC-regering beoog, is soortgelyk aan dié wat voedselproduksie in Zimbabwe geruïneer het (p 305). “Die owerhede behoort die kommersiële boere, wat nog 90% van die land se voedsel produseer, te beskerm eerder as om hulle van die plase te verdryf” (p 282).

“Talle swart boere [het] plase gratis gekry” (p 283). “Dit [is] eenvoudig deel van die menslike aard … om nie iets wat verniet gekry is te waardeer nie” (p 284). Die meeste plase wat aan swartes ingevolge grondhervorming toevertrou word, misluk klaaglik of word vir bestaansboerdery gebruik. Die regering het al “erken dat 90% van die grondoordragte wat reeds gedoen is, mislukkings is” (p 291). In die boekjaar 2010/11 is meer as R1 miljard bewillig om mislukte plase weer produktief te maak (p 295). Die ontvangers stel hoofsaaklik in die grond as eiendom belang en nie in boerdery nie (p 284; verwys ook Esterhuyse hierbo).

Selfs al was ‘n grondeis geldig behoort daar vir die bate betaal te word, al is dit oor ‘n lang tydperk (p 284; ook p 307). Die sogenaamde voorheen benadeeldes word bevoordeeldes wat “baie meer kry as wat hulle verloor het” (p 291). [Dieselfde onetiese verskynsel doen hom tans in Distrik Ses voor.] Dit kan ‘n geval wees van ‘n voorouer wat benadeel is en nou word die nageslag vergoed. Maar is die Boere en hulle nageslag in dieselfde orde vergoed vir die onregte (bv konsentrasiekampe) van die Anglo-Boereoorlog?

Tydens die Zuma-bewind het Julius Malema as ‘n propagandis ontpop: Die swartes “hoef nie die grond te koop nie, want die blankes het dit van hulle gesteel. Met ander woorde, die grond moet eenvoudig aan die swartes teruggegee word, ongeag die verbeterings daarop” (p 288). ‘n Wyser benadering sou wees “om eers die reeds beskikbare grond aan voornemende swart boere oor te dra alvorens grond van suksesvolle blanke boere weggeneem word. Dit is tog bekend dat die staat eintlik die grootste enkele grondeienaar is,” maar die regering weet nie “hoeveel grond hy besit nie en ook nie waar sy grond geleë is nie” (p 289).

Een van die moontlikhede wat hom sedert 2008 voortdoen, is die nasionalisering van grond. Die regering oorweeg dit “om alle produktiewe landbougrond tot nasionale bate te verklaar. Indien dit gebeur, sal die huidige eienaars dan op ‘n tydelike of permanente grondslag slegs gebruiksreg van die grond hê” (p 292). Daar is ook al deur die minister van landbou voorgestel dat blanke boere 40% van hulle boerdery (dus nie net grond nie) aan swart boere moet afstaan (p 294). Daar word ook oorweeg om plase aan blanke boere terug te verhuur (p 296).

“Histories was die mense van Afrika nooit bekend vir grootskaalse boerdery nie … Daar is … relatief min suksesvolle indiwiduele kommersiële boere in Afrika as geheel. Dit laat die vraag ontstaan of kommunale boerderymetodes nie maar steeds die beste vir Afrika is nie” (p 308). Van die grootste ironieë is dat algemeen aanvaar word dat hierdie swartes, wat eufemisties “opkomende” of “ontluikende” boere genoem word maar meesal misluk, net sal slaag as wit boere as mentors optree (p 284). “Dit wil … voorkom asof die ou konsep van voogdyskap weer bygesleep sal moet word” (p 307).

March 23, 2014 Deur Leon Lemmer

 

BAV – Selfbeskikking bly relevant

Selfbeskikking vir die Afrikanervolk is nie uniek in internasionale verband nie, gevolglik nie vergesog nie en allermins onredelik.

Die kwessie van selfbeskikking het skielik in die internasionale kollig beland nadat die Switserse bevolking hulle uitgespreek het ten gunste van die gedeeltelike sluiting van hulle grense vir nie-Switsers. Die Switserse Volksparty het dit reggekry om ‘n referendum oor dié onderwerp af te dwing, nadat ook dié land, soos ander Europese lande, te kampe gekry het met toenemende instroming van vreemdelinge vanuit alle wêrelddele. Net meer as die helfte van die Switserse kiesers het saamgestem dat die grense nie so oop kan bly nie, en dat die invloei van vreemdelinge baie meer beperk moet word.

Switserland het gekies vir nasionalisme: behoud van eie kultuur, beskerming van die eie volk en die behoud van hulle eie staat vir dié wat dit opgebou het. Dit is niks anders nie as ‘n stem vir selfbeskikking.

Die EU se dreigement om sy betrekkinge met Switserland in heroënskou te neem, kan homself op risiko plaas. Sou ander Europese volke dieselfde standpunt sou inneem, wat glad nie onmoontlik is nie, gaan dit die bestaansreg van die EU self in ‘n enorme krisis dompel, en sal ‘n terugslag wees vir die gedagte van streekregerings

Waar die “magtige” EU enkele maande gelede onaantasbaar gelyk het, het die klein Switserse staatjie nou ‘n enorme kraak in sy eenheidmondering geslaan.

Die les hieruit is dat in die wêreldpolitiek, niks in klip gekap is nie. Die Romeinse Ryk was dit nie, die Sowjet-Unie was dit nie, die EU gaan dit nie wees nie, en so sal die Suid-Afrikaanse eenheidsbedeling in dieselfde voetspore volg en verbrokkel voor die mag van nasionalisme en die eis vir selfbeskikking.

Die Volksraad is dus meer as ooit van mening dat die Afrikanervolk se aanspraak op selfbeskikking geregverdig is, in die lig van wat internasionaal gebeur. Met die oopstel van die Europese grense, het die voortbestaan van volkere op grond van hulle unieke kulturele en ook godsdienstige identiteit, in gevaar gekom, en ten spyte van wat regerings sê, is die mense op grondvlak dit nie daarmee eens nie.

February 13, 2014  Henk de Graaf, vorige sekretaris van die Volksraad

 

Enjoyed this post? Share it!