Jan van Riebeeck Gelofte 1654 bedank vir ons pragtige Kaap.

Die Geskiedenis van Afrika en die historiese geskiedenis van  Afrika en onse Jan Van Riebeeck

Historiese rekonstruksie: 

Die verskillende middele wat deur historici gebruik word om die veelbewoë geskiedenis van ons vasteland na te speur.

In die grootste deel van Afrika het die mense van lank gelede geen skrif geken nie. Hulle was gevolglik glad nie in staat om die gebeurtenisse op te teken wat in hul tyd plaasgevind het nie.

As geskiedkundiges dus vandag wil weet wat in die verlede in daardie gebiede gebeur het, moet hulle hulle op heeltemal ander dinge as die geskrewe woord verlaat.

Gelukkig is daar verskillende bykomende hulpmiddels vir geleerdes wat die geskiedenis wil naspeur as dit nie in boeke of op perkamentrolle of kliptafels verewig is nie.

Natuurlik is daar tog enkele streke op ons vasteland wat baie lank gelede reeds ’n skriftradisie gehad het. Ons kyk heel eerste na diesulkes.

a) Opgetekende verslae

Een van die vroegste vorms van skrif is rondom 3000 v.C. deur die ou Egiptenare ontwikkel. Dit was die sogenaamde hiërogliewe

Ook die beskawing van die Koesjiete in die Nylvallei—met die stad Meroë as die brandpunt—het minstens vyf eeue voor die geboorte van Christus ’n eie soort skrif gehad.

En in Ethiopië het die taal van die antieke koninkryk Aksoem in die vierde eeu n.C. desgelyks in ’n geskrewe vorm bestaan.

Ander literêre tradisies is van buite af na Afrika gebring—Grieks, Latyn en Arabies na Afrika-lande aan die Middellandse See.

En nadat die Europeërs in die vyftiende eeu in Afrika begin belang stel het, het talle geskrewe verslae oor die vasteland in onder meer Portugees, Nederlands, Engels en Frans die lig gesien.

Trouens, Arabiese en Europese optekeninge het historici in staat gestel om die verlede van sekere dele van Afrika reeds van die agtste eeu af te rekonstrueer.

Maar oor baie dele van Afrika is daar geen enkele jota of tittel geskryf tot met die groot Europese kolonisasie in die negentiende eeu nie. In sulke streke is die gebeure van die verlede slegs mondeling van geslag tot geslag oorgedra…

b) Mondelinge oorlewering

MONDELINGE oorlewering is ongelukkig dikwels nie betroubaar nie.

Een probleem is dat verhale oor historiese gebeurtenisse met die gedurige oorvertellery verwring raak of dat dinge wat oor ’n lang tyd plaasgevind het maklik weergee word asof hulle saam gebeur het.

Mondelinge oorlewering moet dus baiemaal as’t ware gedekodeer en binne die breër kulturele konteks beoordeel word.

Só kan dit wel baie nuttig wees, vanweë die greintjies waarhede wat tog in die wol kan skuil.

Wat kan die geskiedkundige navorser in elk geval verwag om te hoor wanneer hy mense van bepaalde gemeenskappe na dié se verlede en herkoms uitvra?

Daar is baiemaal interessante ooreenkomste in die vertellings van verskillende gemeenskappe, omdat mense dikwels neig om die geskiedenis in die drie tydperke in te deel:

  • Die eerste is die tydperk waarin die wêreld, volgens hulle, geskape is en ’n besondere gemeenskap tot stand gekom het.
  • Hierop volg ’n middelperiode toe die gemeenskap met ander gemeenskappe in aanraking was en moes trek of konflikte of hongersnood die hoof moes bied.
  • Die mees onlangse tydperk strek twee of drie geslagte terug—net voor die tyd van die oudste oorlewende lede van die gemeenskap.

Maar waar mondelinge oorlewing te kort skiet, kan dinge soos opgrawings baie leemtes in historiese rekonstruksie help vul. Hieronder vertel ons hoe dit gedoen word.

c) Argeologie

DIE argeologie het hom ’n waardevolle hulpmiddel bewys om die geskiedenis van Afrika voor 1700 te herskep.

Opgrawings kan geleerdes op wonderlike maniere help om ’n vroeë gemeenskap se ekonomiese, tegnologiese en artistieke ontwikkeling te verstaan.

Met radiokoolstofdatering kan die ouderdom van artefakte van tot 60.000 jaar gelede betreklik noukeurig bepaal word.

Danksy argeologies studies weet ons vandag wanneer bepaalde Afrika-mense op sekere geplekke gewoon het, of hulle yster- of klipgereedskap gebruik het en of hulle geboer of net veldkos versamel en gejag het.

Vanselfsprekend kan alle raaisels egter nie met behulp van opgrawings opgeklaar word nie en is dit ook nie altyd moontlik om skakels tussen vroeëre en latere beskawings daarmee te vind nie. Maar gelukkig het die Afrika-historikus ook nog ander hulpmiddels tot sy beskikking.

d) Ander hulpmiddels

TAALSTUDIES is nog ’n dissipline wat al baie kon help om die verlede van Afrika te ontrafel.

Taalgeleerdes ontleed die woordeskat, grammatikale vorms en klankveranderings van ’n gegewe taal om te verstaan hoe dit ontwikkel het.

Hulle vergelyk ook die taal met die verwante en selfs onverwante tale van die betrokke streek, kyk hoe hulle ooreenkom en verskil en hoe hulle mekaar in die verlede beïnvloed het.

Uit só ‘n studie kan nie net die trekpartrone van volkere aflei word nie, maar ook baie ander dinge. Sekere woorde of uitdrukkings kan byvoorbeeld die oorblysels van lank verlore kulturele gebruike openbaar.

Geskiedkundiges maak voorts van die volkekunde gebruik.

Die volkekunde is uiters nuttig om die waardes, instellings en idees van ’n gemeenskap te begryp en gevolglik om mondelinge oorleweringe te ontleed.

 

Selfs die plantkunde en genetika kan waardevolle gereedskap in historiese rekonstruksie wees.

DUISENDE jare gelede was die Sahara-woestyn ’n gebied van grasvelde en mere. Die mense wat daar gewoon het, het onder meer kameelperde, renosters en seekoeie gejag.

Toe, omstreeks 6000 vC, het die mense van die Sahara diere begin tem en aanhou pleks van hulle te jag.

Teen 4000 vC, weens ’n verandering in die klimaat, het die grasvelde reeds tot ’n woestyn verdor. Die Sahara-woestyn het Afrika in twee verdeel en die lewe noord van die Sahara het baie anders ontwikkel as dié in die suide daarvan.

Maar wat het op die vasteland gebeur lank, lank voordat daardie eindelose dooie duine van die Sahara nog die Afrika-landskap ontsier het? Kom saam op ’n boeiende reis na die tyd toe Afrika sommer nog baie, baie jonger was…

a) Afrika in die Steentyd

VAN al die lande op aarde het Afrika tot dusver nog die oudste argeologiese vondste oor die bestaan van die mens opgelewer.

Gevolglik praat baie geleerdes vandag van Afrika as die “wieg van die mensdom”. Hulle reken die vroegste mense het van hierdie einste vasteland af na die res van die wêreld versprei.

Baie wetenskaplikes dink ook dit hoef nie noodwendig in stryd te wees met wat die Bybel ons oor die skepping leer nie.

Volgens ontleders van oorblyfsels wat by argeologiese opgrawings gevind is, sou verskillende groepe mense op ons kontinent ontwikkel het—elk met hul eie tegnologiese en kulturele eiendomlikhede.

Hierdie argeologiese getuienisse is baie, baie ouer as enigiets wat in skrif of uit mondelinge oorlewering oor die verlede bekend is. Die verskillende gemeenskappe van die gryse verlede sou ook kennelik die etniese identiteite van moderne mensegroepe help vorm het.

Dit was sowat 2,5 miljoen jaar gelede—volgens die wetenskaplikes—dat mense interessante gedagspatrone begin openbaar en klipgereedskap begin maak en gebruik het. Dit was die begin van die sogenaamde Steentyd.

Baie duisende jare lank het die besondere klipgereedskap nie veel verander nie, tot ongeveer 150 000 tot 100 000 jaar gelede, toe allerlei nuwe soorte gereedskap deur die vernuftiges in die gemeenskappe bedink is. Mense het ook dinge anders begin doen as vantevore. Daar was opmerklike kulturele vernuwings.

Die mense van die Steentyd het van dinge soos wilde voëls gelewe wat hulle gejag het. Hulle het ook siel en liggaam aanmekaar gehou deur veldkosse te versamel.

Maar teen die latere Steentyd was daar oral in Afrika groot gemeenskappe wat blykbaar heel “modern” was in terme van ingewikkelde handelinge, vindingrykheid en selfs verfynde gevoelens vir skoonheid en simboliek.

Tussen 20 000 en 10 000 jaar gelede het verskillende latere Steentydse gemeenskappe in Afrika spesifieke plante en diere benut wat in hul onderskeie streke voorgekom het. Net sekere diersoorte is gejag en slegs bepaalde soorte veldkosse is versamel.

Tussen nagenoeg 6000 en 5000 v.C. het van Afrika se bewoners landbouers en veeboere begin word.

Dit het beteken dat die kweek van wilde plante wat vir menslike verbouing geskik was en die aanhou van makgemaakte diere ’n deel van hul lewenswyse geword het.

Party van hierdie plante en diere is uit die Midde-Ooste ingevoer; ander is plaaslik gevind en benut.

Inheemse plante sluit in Afrika-broodwortels, Afrika-rys, boermanna, sorghum en oliepalms.

Koring en gars het uit Wes-Asië gekom. (Eers baie later, in die afgelope aantal eeue, het piesangs en kokosneute vanuit Suid-Asië en mielies uit die Nuwe Wêreld ’n kennelike deel van baie Afrikane se dieet geword.)

Makgemaakte diere wat uit Asië na Afrika gebring is, sluit skape, bokke en beeste in, en natuurlik daardie geroemde “skip van die woestyn”,  Die kameel Die esel is weer in Afrika self, in Egipte, getem en tot onlangs is geglo dat ook die huiskat eerste in Egipte sy rusplek by die mens gevind het. Nuwe navorsing dui egter daarop dat dit ook elders kon gewees het.

b) Die Ystertyd in Afrika

DIE tegniek van ysterbewerking het vermoedelik in die eerste duisend jaar voor die geboorte van Christus sy pad uit die gebied van die Middelandse See suidwaarts in Afrika gevind.

Die mense van Afrika het spoedig hul eie tegnieke ontwikkel. Ystersmeedery het geleidelik vanuit Noord-Afrika tot net suid van die Sahara versprei.

In die eerste eeu na Christus was ysterbewerking al iets algemeens in Wes-Afrika, met ystersmederye in groot georganiseerde hoofmanskappe of koninkryke.

Dit het gepaard gegaan met ingewikkelde arbeidsverdelings, die spesialisasie van ambagte, goed ontwikkelde artistieke tradisies, handel oor ver afstande heen en veroweringstogte.

Ystersmeedery het na Midde- en Suider-Afrika versprei tydens die verhuising van swart volkere wat Bantu tale gepraat het.

Daar word geglo dat die oerwortels van die Bantu-taalgebruikers heel waarskynlik in die Kameroen lê. Van 1000 vC af het hulle in klein boerdery-gemeenskappies oor die grootste deel van Midde-, Oos- en Suidelike Afrika versprei en die suidooskus van Suid-Afrika miskien in die derde of vierde eeu nC of selfs nog vroeër bereik.

Hulle het in aanraking gekom met jagter-versamelaars-gemeenskappe soos die San , wat duisende jare lank die alleenheersers van al die vlaktes, berge en klowe in daardie gebiede was.

In die verlede is hierdie verhuising as die groot Bantu-migrasie bestempel, hoewel antropoloë, argeoloê en historici onlangs die term “migrasie” hier begin bevraagteken het.

Migrasie dui immers op ’n massiewe, voortdurende volksverhuising of “Groot Trek”, terwyl die jongste getuienis toon dat die Bantu-verskuiwing eerder kol-kol en sporadies plaasgevind het.

Klein groepies mense was telkens betrokke—mense wat hul nedersettings verdeel en onderverdeel en na nuwe gebiede versit het waar plaaslike bevolkings van jagter-versamelaars geabsorbeer is.

africa-before-colonisation-e1418768257575

Mettertyd het die jagter-versamelaars wat nie geassimileer is nie se getalle dramaties afgeneem en teen die tyd toe die Europeërs hul opwagting in Afrika gemaak het, was die jagter-versamelaars meestal beperk tot die dorre dele soos die Kalahari.

Intussen het groot en florende swart nedersettings ook vanweê die swart intog ontstaan. Een daarvan was Maqunqubwe in die Limpopo-bekken

En dan was daar natuurlik in Zimbabwe die belangrike handelsentrum wat vandag bekend staan as Groot Zimbabwe

 

Die intog oor die Grense van die huidige RSA deur die swerwende swart stamme het volgens argeologsiese bevindings ongeveer gelyktydig met die aankoms van die Europërs in Afrika geskied

10352774_10152405974658151_7079833735704900932_n

1652: AANKOMS VAN JAN VAN RIEBEECK

 

…EN DIE GELOFTE VAN 1654

Die middag om 14:30 van 5 April 1652 word Tafelbaai gewaar deur die opperstuurman van die Drommedaris, een van die drie skepe waarmee kommandeur Jan van Riebeeck op 6 April 1652 aan Tafelbaai land om ‘n verversingspos vir die VOC te stig.

Die ander twee skepe was die Goede Hoop en die Reijger, wat hulle om vieruur die oggend by die Drommedaris aan die Kaapse kus aangesluit het.

Die skepe het op 6 April naby die kus bly lê terwyl Adam Hulster, die boekhouer, en die onderstuurman, Aernt van Leveren, per sloep vertrek het om Tafelbaai te verken.

Twee uur voor sononder het hulle berig dat daar geen skepe in die baai is nie en kon die Drommedaris en die Goede Hoop die baai binnevaar en by die “versse’-rivier anker gooi.

Twee weke lank sou almal slegs bedags aan land gaan en saans op die skepe slaap. Hoewel Jan van Riebeeck en sy geselskap dus nie finaal op 6 April voet aan wal gesit het nie, het hy self hierdie dag as die verjaardag van die nedersetting beskou.

In 1654 lê hulle ‘n belofte af wat in sy dagboek so opgeteken staan:

“…om desen dagh, den 6en April wesende, tot Godes eer met danckseginghen te vieren ende voor altijt tot een vastblijvende danck ende bededagh in te stellen, ten eijnde daer bij des Heeren weldaeden, aen ons bewesen, bij ons naecomelingen noit vergeten, maer altijt tot Godes eere ter gedachtenisse in memorie gehouden moge worden.”

Hierdie geskrifinhoud word dan ook ‘n gelofte genoem omdat dit as ‘n biddag tot God ingestel is waarvan die erns aan die nageslagte oorgedra moes word om dit so te onderhou.

Daarom behoort dit net soos die geloftes van Bloedrivier en Paardekraal jaarliks deur ons herdenk te word.

 

DIE GELOFTE VAN JAN VAN RIEBEECK

Van Riebeeck moes ‘n verversingspos aan die Kaap vir die skepe van die VOC oprig omdat hulle op hulle lang reis van Europa na die Ooste, in Tafelbaai vars voedsel sou kon inneem.

Die oogmerke van die VOC was bloot prakties en ekonomies van aard, en die gedagte aan ‘n volksplanting word nie by hulle aangetref nie.

Tog sou hierdie daad oorgaan tot die vestiging van ‘n nuwe volk aan die suidpunt van Afrika: ‘n volk met ‘n eie taal, beginsels, lewensbeskouing, filosofie en lewenswyse.

Die immigrante moes hulle aanpas by gans ander omstandighede as waaraan hulle gewoond was

Vanuit ontwikkelde Nederland het hulle gekom na ‘n onontwikkelde, ongetemde land. In hulle stryd teen die elemente sou die bodemgesteldheid beslissend inwerk op die vorming van ‘n groep mense met ‘n eie aard en die geboorte van ‘n nuwe volk onvermydelik maak.

Veral met die instelling van Vryburgers in 1657 is die volksplanting bevestig en het die nuwe volk sy eie tuiste gevind.

Van Riebeeck en sy mense was die draers van sekere beginsels en ‘n eiesoortige kultuur.

Met die latere binnekoms veral van Duitse en Franse immigrante sou die volksaard vervorm word tot wat later die Afrikaner geword het.

Omdat hy die draer van ‘n kultuur was, was Van Riebeeck ook die oorplanter van ‘n kultuur.

Hy was nie net die stigter van ‘n verversingspos of die leier van ‘n groep immigrante nie, maar die vader van ‘n nuwe volk, uniek ter wêreld.

Van Riebeeck se koms sou in die geskiedenis van Afrika ‘n nuwe wending bring.

As draer van die Westerse beskawing, het hy die Protestants-Christelike lewensbeskouing met hom saamgebring.

Sy koms het aan die Christelike kerk ‘n stewige vastrapplek op die vasteland van Afrika gegee.

Uit sy koms het die sending voortgevloei waarby die hele Afrika baat kon vind.

Hy het tegnieke, geloof en lewenswyse van die Westerling na Suid-Afrika gebring.

Kaapstad se aanskyn sou spoedig verander met die oprig van Westerse geboue, bewerking van die aarde wat ‘n meer produktiewe landbou tot gevolg gehad het, en die beëindiging van die absolute isolasie deur die aandoen van skepe by die verversingspos.

Die Kaap het spoedig ontwikkel in ‘n pos onafhanklik van Nederland, en daarmee saam het sy mense onafhanklik van Nederland geraak.

In hulle gesamentlike stryd teen die bodem, barbarisme en later die kompanjie, het die mense van die verversingspos ‘n nouer verbondenheid met mekaar begin ervaar en ‘n nageslag voortgebring wat as nuwe volk onder die naam Afrikaner bekend sou staan en ‘n Westerse staat aan die suidpunt van Afrika sou stig.

Artikels: Mieliestronk en Webmaster

Enjoyed this post? Share it!