Krag krisis met Eskom gedurende die laaste 2 Jaar


Saamgestel uit 4 Artikels oor die gevolge van ‘n algehele val van krag

Eskom het Donderdag beurtkrag afgekondig. Die probleem – soos ons almal weet – is dat daar ‘n permanente tekort van elektrisiteit is.

Eskom het 20 jaar lank ‘vergeet’ om nuwe kragstasies te bou. En nou het die vraag na elektrisiteit so toegeneem, dat Eskom in dele van die land die elektrisiteit moet afskakel.

Weens wanbestuur en kontrakte met groot bedrywe, wat baie meer elektrisiteit gebruik as burgers, het Suid-Afrika ‘n groot elektrisiteittekort.

‘n Bykomende probleem is dat Eskom maar nie daarin slaag om sy produksie so te verhoog dat beurtkrag uitgegooi kan word.nie.

Die oplossing is eintlik baie simpel: liberaliseer die energiemark!

Gooi dit oop vir nuwe verkopers, wat gesamentlik verantwoordelik is vir die produksie van krag in die land.

Omdat daar tans ‘n tekort is, is daar spasie om nuwe kragstasies te bou en dit ekonomies volhoubaar te bestuur.

Laat ook die prysbepaling oor aan die energiemaatskappye, sodat burgers kan kies watter verkoper hulle wil gebruik.

Buitendien kan konkurrensie tussen hierdie aanbieders die prys verlaag.

‘n Voorwaarde vir hierdie stelsel is dat die kraglyne in hande van die staat is.

Energiemaatskappye kan hul krag op die staat se lyne laai en die hoeveelheid krag wat hul op die lyne laai, verkoop aan burgers.

Die groot voordeel is dat alle maatskappye hul krag op dieselfde kraglyne laai.

As een maatskappy bankrot gaan en ‘n kragstasie stil val, is burgers in staat om binne minute by ‘n ander maatskappy in te teken.

Buitendien moet ‘n maatskappy die elektrisiteit wat hy verkoop, op die kraglyne laai.

Die maatskappy sal dus altyd ‘n bietjie meer moet oplaai as hy verkoop, want die verkope kan afhanklik wees van mikro-gebruikers se veranderings.

‘n Wedstryd van Bafana Bafana of die Springbokke kan byvoorbeeld ‘n groot invloed hê op die elektrisiteitsverbruik.

As alle maatskappye dus ‘n bietjie meer krag op die kraglyne laai, sal die stelsel in staat wees om gedragsveranderings te absorbeer.

In Europa het hulle so’n stelsel.

Daar is talle verkopers van elektrisiteit. Van groot multinasionale bedrywe tot klein buurtkorporasies.

Burgers kan kies by welke verkoper hulle die elektrisiteit koop. En ja, alle aanbieders se pryse verskil.

Wil jy groen krag of omstrede – maar goedkoop – krag uit kernenergie of kole hê? Genoeg keuse – en die klant weet wat hy koop.

Elke Desember is daar weer groot verhuisings van mense wat ‘n ander aanbieder kies.

Hierdie verhuising word veroorsaak deur die konkurrensie tussen die verkopers.

Omdat daar ‘n sentrale stelsel is – weet die koper egter nie wat hy gebruik nie.

As hy elektrisiteit ‘koop’, eis hy dat die tipe elektrisiteit op die kraglyne gelaai word.

Elektrisiteit is egter elektrisiteit en daar is geen verskil tussen elektrisiteit van ‘n windmeul of ‘n kernkragsentrale nie. Net die wyse van produksie verskil en ‘n koper koop dus eerder ‘n tipe produksie as ‘n tipe elektrisiteit.

Die konkurrensie – byvoorbeeld in Nederland – is tans so heftig dat verkopers hul eie kragstasies uitgeskakel het en goedkoop elektrisiteit uit Duitsland of Noorweë invoer.

In Europa kompeteer aanbieders van waterkrag, sonkrag, windkrag, gaskrag, kolekrag, kernkrag en vulliskrag met mekaar.

In Nederland is daar byvoorbeeld ‘n aanbieder wat sy windkrag probeer verkoop met die leus: hoe harder die wind, hoe hoër jou korting!

Dus Suid-Afrika, gooi oop jou energiemark!

Deur Opinie platform 7 Maart 2014
Die “Eskom-krisis”

In oud-minister Hendrik Schoeman se formidabele arsenaal van kostelike stories was daar dié een van die boer wat, toe oestyd aanbreek, sy werkers op die plaas nader roep.

“Trek die stroper en die dorsmasjien uit die skuur en sorg dat alles werk. Ghries alles wat  beweeg en maak seker die belts en  die pulleys  is in goeie toestand”, sê die boer.

Toe werkers hom vraend aankyk en niks sê nie, kom daar skielik ‘n groot benoudheid oor hom en hy bulder:

“Mense, moet net nie vir my sê julle het nie geplant vanjaar nie!”

Telkens as ‘n kragkrisis ons tref, dink ek aan dié storie.  Eintlik is kragkrisis die verkeerde woord. Dit moet eerder heet “Eskom-krisis”. Of nog meer akkuraat, die politieke krisis wat die Eskom-krisis veroorsaak het.

Want die elektrisiteitspaniek wat dié week losgebars het nadat Eskom Saterdag onverwags beurtkrag afgekondig het, het nie soos ‘n natuurramp spontaan gebeur nie. Dis veroorsaak deur mense wat hul plig versuim het en/of mense wat die verkeerde goed gedoen het.

Ja, ons weet die krisis is aangebring  deur ‘n steenkoolsilo wat by die Majuba-kragsentrale in Mpumalanga in duie gestort het. Maar dit het nie vanself gebeur nie. Daardie struktuur is is ontwerp om vir dekades te hou mits dit behoorlik in stand gehou is.

Die vakbond Solidariteit het aangevoer werkers/ingenieurs by Majuba het reeds in Januarie verlede jaar strukturele probleme by die betrokke silo onder Eskom se aandag gebring.

Abnormale “vibrasie” en “resonansie” het voorgekom. Die silo het tekens van verswakking getoon, beweer Solidariteit.

Laasjaar  In Junie is die probeem wéér aangemeld, asook drie weke voor daardie naweek se insident. Solidariteit beweer Eskom het nie ag geslaan op enige van die waarskuwings nie.

Die vakbond sê onomwonde Eskom was nalatig.

Eskom sal wel hierop reageer en sy eie weergawe aanvoer. Maar tot tyd en wyl daar ‘n amptelike verduidelking is, wys vingers van beskuldiging na Eskom.

Veral omdat dié staatsbeheerde entiteit ‘n baanrekord het van onverskilligheid met onderhoud. Die groot kragkrisis van 2006 is deels veroorsaak weens gebrekkige onderhoud by die Koeberg-kernkragsentrale in die Wes-Kaap.

Maar op die duur is dit Eskom se eintlike “eienaars”, die politici, wat tot verantwoording geroep moet word.

Eskom is geen genoteerde openbare maatskappy wat deur beleggers en aandeelhouers op sy tone gehou word nie.

Eskom se direksie en bestuurshoofde kry hul instruksies van die regering. Lees: politici. Dis húlle wat moet verduidelik waarom  Eskom nie behoorlik onderhoud doen by sy kragsentrales nie.  – Wat moet praat oor die vernietiging van kundigheid en ervaring by Eskom.

Húlle, en niemand anders nie, moet verduidelik waarom daar hoegenaamd ‘n kragkrisis is. Hulle moet vir die land vertel waarom daar nie vyftien, twintig jaar gelede reeds begin is om nuwe kragsentrales te bou nie.

Verduidelik vir ons moet waarom R60 miljard bestee is aan wapens wat Suid-Afrika nie nodig het nie en wat  nou in hawens lê en roes en in vliegtuigloodse stof vergader.  Terwyl nuwe kragsentrales is wat Suid-Afrika eintlik nodig gehad het.

Die Eskom-krisis sal in alle felheid op die voorblaaie van koerante en via ander nuuskanale uitspeel. Blaam sal rondgeslinger en verantwoordelikheid ontduik word. Kon die politici maar so goed regeer as wat hulle kan duik en koes.

Om Hendrik Schoeman se storie op die Eskom-krisis van toepassing te maak: dis nie die werkers se skuld dat daar nie geplant is nie. Dis die boer wat  sy plig versuim het deur nie sy plaas behoorlik te bestuur nie.

Kyknet dstv  4 Nov 2014

Medupi

Eskom – nasionale krisis

Die DA het die minister van openbare ondernemings, Lynne Brown en Eskom gekritiseer omdat hulle nie meer inligting bekendgemaak het oor die omvang van die probleem by die Majuba-kragstasie nie. ‘n Steenkoolsilo het die naweek by die relatief nuwe kragstasie ineengestort, wat ‘n verlies van bykans een duisend megawatt se elektrisiteit aan Suid-Afrika se netwerk veroorsaak het.

‘n DA woordvoerder, Natasha Michael sê die situasie is ‘n nasionale krisis wat die ekonomie kan laat ontspoor.

Sy sê Suid-Afrikaners weet nie hoe groot die risiko vir verdere kragonderbrekings is nie, en hoe permanent die oplossing vir die probleem is nie.

Michael sê daar word wyd berig dat Eskom nat steenkool gebruik, wat gevolglik ‘n chemiese reaksie veroorsaak wat verdere druk op silo’s plaas.

Deur Die Koerant  26 Junie 2015

 

Geen einde aan energiekrisis in Suid-Afrika

Geskryf deur Die Redaksie

Die koste van die beplande kernkrag-energieprogram kan so groot wees dat dit die tesourie kan knak. Boonop wek dit die indruk dat die regering met ‘n peperduur openbare bestedingsprogram wil begin net om ‘toegang tot staatsfondse te kry’.

 

Adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor energie, het in die begrotingposdebat vir die department van energie gesê die VF Plus het dit verlede jaar reeds benadruk dat ‘n energie-krisis Suid-Afrika in die gesig staar.

 

“Vandag is dit nog steeds die geval met onder meer Eskom wat verbruikers gereeld vra om nie so baie krag te gebruik nie. Dit maak Eskom sekerlik een van die enigste maatskappye in die wêreld wat van hul klante vra om minder van sy produk te gebruik.

 

“Eskom kan met reg aanvoer dat hy nie ‘n gewone kommersiële firma is nie aangesien hy inderdaad ‘n nutsmaatskappy is.

Dit los ons egter met meer vrae as antwoorde aangesien Eskom dit eens is dat hy wins mag maak en soos ‘n gewone maatskappy kan sake doen.

 

“Dit is egter in openbare belang dat die agbare minister (Dipuo) Peters met die minister van openbare ondernemings (Malusi Gigaba) skakel om te verseker dat Eskom nie vir sy eie sak optree nie, maar in openbare belang,” het adv. Alberts gesê.

 

Hy het ook ‘n beroep op min. Peters gedoen om die Geïntegreerde Hulpbronplan (IRP) vir elektrisiteit van 2010 – 2030 te hersien aangesien ‘baie verander het’ sedert die plan se inwerkingstelling.

 

“Die groot kwelpunt van die plan is die voorgestelde kernkrag-program wat nou deur die Nasionale Beplanningskommissie bevraagteken word.  Navorsing van die Universiteit van Kaapstad se energie-navorsingsentrum wys dat ‘n nuwe kernprogram onnodig is vir die volgende vyftien tot twintig jaar.

 

“Die navorsing toon ook aan dat die IRP se projeksie oor die land se kragaanvraag foutief is en dat die koste verbonde aan kernprogram totaal onderbereken is. Oor die koste van die kernprogram het hy gesê kundiges is van mening dit kan so groot wees dat dit die land se tesourie kan knak.

 

Wat die ontginning van aardgas aanbetref, het adv. Alberts gesê dit moet baie omsigtig benader word aangesien ‘n misstap onomkeerbare omgewingskade kan veroorsaak.

Deur  Die Voorblad

 Na alles wat ek reeds genoem  het, die volgende berig in die nuus gister:

 

‘Eskom het tariefverhogings nodig om beurtkrag te voorkom’

Die uitvoerende hoof van Eskom, Brian Molefe

Pretoria – Die uitvoerende hoof van Eskom, Brian Molefe het beklemtoon dat die kragverskaffer drastiese tariefverhogings nodig het om beurtkrag te voorkom.

Hy het tydens openbare verhore van die Nasionale Energiereguleerder in Johannesburg gesê talle kritiseer die bekostigbaarheid van ‘n 25persent tariefverhoging, maar min noem die koste van beurtkrag.

Nersa sê hy sal teen Maandag ‘n besluit neem oor of die tariefverhoging goedgekeur is of nie.

 

Tenslotte ’n humoristiese oplossing vir Eskom se problem uit die pen van deur Zita Goldswain

Helaas het die Engelsman ’n oplossing vir Eskom se probleme gekry. Berig ‘n humoristiese stukkie in

Witbank news 6 February 2015 geskryf deur Zita Goldswain

Na sy eerste whiskeytjie met ‘eish’ is die Engelsman met so ’n spoed uit die wegspringblokke om Eskom te ‘red’ dat hy stokflou was toe hy uiteindelik klaar verduidelik het.

Ons liewe mislikepaliteit skuld Eskom ’n paar miljoen, nee eintlik ’n hele paar miljoen. Eskom mag nie eers naby die ‘switch’ kom om elektrisiteit na Emmawillielênie af te sny nie. Die wet meen dis nie die inwoners nie, maar die mislikepaliteite wat wanbetaal en daarom mag hulle ons elektrisiteit nie afsny om die mislikepalitiet te straf nie.

Dis juis toe dat die Engelsman omtrent woord-diaree kry.
Hy dring daarop aan dat die middelman uitgesny moet word. Sodoende kan ons as verbruikers direk van Eskom af  ons kosbare elektrisiteit kry. Hulle kry ten minste ’n inkomste, want anders as mislikepaliteite, betaal Jan Publiek vir dienste gelewer. Met die inkomste kan nuwe kragstasies gebou word en ‘Eks-dom’ ag ekskuus Eskom hoef nie beurtkrag in te stel nie. Die mislikepaliteite kry goeie oudits, want hulle hoef Eskom nou nie meer miljarde te skuld nie.

Nou is die vraag hoe beland enige entiteit, of dit nou die kragreus of die mislikepaliteit is, in die sombere situasie.
Hier is ’n paar stappe, soos die Engelsman, uiteengesit om te verseker dat entiteite gou hulle agterkante sien.
Stel ’n onbevoegde persoon in ’n sleutelposisie aan. Laat hom tog toe om belangrike besluite te neem al is hy nie kundig genoeg nie. Gee vir hom ’n hengse salaris en nog ’n groter bonus. Nou dink hy net aan sy ‘beautiful’ Mercedes en Nike tekkies, nie dié wat jy op die vlooimark koop nie, daai ‘peperduures’.

Al wat hy nou en dan moet sê is ‘For us this is a challenge. The matter is pending due to further investigation’.
Dank hom af na so ’n jaar of wat, maar moenie vergeet om vir hom die ‘golden handshake’ te gee nie.
Siedaar, jy het ’n ‘crisis in the making’.
Die resep is ‘fool-proof’.

As daar gekyk word na die situasie in Emmawillielênie, sien jy dieselfde patroon dadelik raak.
Skielik, na die ouditeur se negatiewe verslag, het die hoof finansiële offisier sommer op vroeë pensioen gegaan. Daar is ’n slang in die gras.
As die mislikepaliteit antwoord en sê ‘For us this is a challenge. The matter is pending due to further investigation’ vergryp ek myself wraggies aan die Engelsman se whiskey, met of sonder ‘eish’.

Dis net toe dat die Engelsman se selfoon langs hom biep en hy baklei oor die afkortings wat die kuikens gebruik in hul teksboodskappe.
Dis nie ’n slegte idee nie. Wanneer die selfoon se battery die gees gee, en daar is geen elektrisiteit om dit te herlaai nie is dit dalk ’n goeie idee om afkortings in teksboodskappe te gebruik.

Sou julle die volgende ontvang moenie skrik nie, dis nie een of ander hoogsgeheime kode of hiërogliewe nie.
‘KIA’ – krag is af, HJE – het julle ‘eish’ voorraad vir die Engelsman se whiskey (hy ref in die rooi omdat die krag af is), KJKOKS – kook jy kan ons kom saameet en KNSN – kan niks sien (of partykeer hoor) nie.

Volgens die Engelsman werk beurtkrag so: ‘As jy krag het is dit nie jou beurt nie!’

 

Enjoyed this post? Share it!