‘n Geslag met die moed om Suid Afrika af te leer?


Die vraag is of daar ‘n geslag is met die moed om ‘n ideaal aan te gryp wat glo in ‘n eie Afrikaner Republiek.

Artikel 1: Afrikaners sal Suid-Afrika moet afleer soos ons dit aangeleer het

Die Nasionale Party transformeer Afrikaners in Suid-Afrikaners in.

Om Suid-Afrikaners te wees, het nie vir Afrikaners vanself gekom nie. Daar was voor die Tweede Vryheidsoorlog republikeine wat van ‘n republiek van die Kaap tot by die Limpopo, of selfs die Zambesi gedroom het, maar die meeste was in die eerste plek Vrystaters of Transvalers.

Daar was selfs ook Engelse en Engelsgesindes wat van ‘n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag gedroom het, maar vir hulle sou dit eerstens deel van die Ryk wees. Die oorlog het die droom van ‘n verenigde, Britse Suid-Afrika moontlik gemaak, ‘n staat waarin Afrikanerskap vanself in die groter eenheid van die glorieryke Britse ryk sou opgaan. Generaals Botha en Smuts het dit as hoogs voordelig vir Afrikaners aangegryp.

Nasionalistiese Afrikaners het nie ‘n duidelike ideaal voor oë gehad nie. Die rebellie van 1914 het nie op ‘n uitgesproke doel afgestuur nie, terwyl die “Vryheidsdeputasie” nog in 1919 gepoog het om die Boererepublieke te herstel.

Generaal Hertzog het nuwe rigting met sy oproep om “Suid-Afrika Eerste” gegee. Tog het dit nie vanselfsprekend inslag gevind nie, want Suid-Afrika was ‘n nuwe staat wat nog nie in mense se harte gevestig was nie; nasiebou het nog nie plaasgevind nie. Dit het teen die veel aantrekliker oproep om deel van die Britse ryk, die grootste ryk in die wêreldgeskiedenis, te staan gekom. Om Suid-Afrika voor die Ryk te stel het sektaries en kleingeestig voorgekom. Op simboliese vlak was daar geen vlag, volkslied of geskiedenis om die hartsnare te roer nie.

‘n Suid-Afrikaanse gees het stadig opgebou. Historici het die Afrikaner se geskiedenis as die geskiedenis van Suid-Afrika aangebied. Afrikaans is as inheemse taal van Suid-Afrika ook tot amptelike taal verhef. ‘n Nasionale vlag is te midde van groot stryd en onenigheid aanvaar. Die Stem van Suid-Afrika is deur CJ Langenhoven geskryf en ML de Villiers gekomponeer as teenvoeter teen God save the King wat toenemend deur Afrikaners as hulle volkslied aanvaar is. De Villiers het regdeur die land gereis en by skole, debatsverenigings en elke moontlike geleentheid die lied vir mense aangeleer. Dit het stadig inslag gevind en het eers vir baie mense kunsmatig gevoel.

Mettertyd het Afrikaners Suid-Afrika aangeleer. Toe die NP in 1924 aan bewind gekom en Suid-Afrika sistematies op ekonomiese, politieke en simboliese gebied eerste gestel is, het Afrikaners in hulle toewyding aan Suid-Afrika gegroei. ‘n Halfeeu na die staat gevestig is, het dit ‘n onafhanklike republiek geword. Suid-Afrikanerskap het ‘n ruimer sinoniem vir Afrikanerskap geword en Suid-Afrikaners het ‘n toenemend vyandige wêreld eensgesind teengestaan. Dat swart burgers nie deel van die patroon of sentiment was nie, is op twee maniere gerasionaliseer: Deur onsself wys te maak dat “vredeliewende” swartmense blanke regering verkies het, en dat die ander onder kommunistiese invloed was.

Die Suid-Afrikaanse staat waaraan Afrikaners so verknog geraak het, is intussen deur die getalle-oormag van swartmense oorgeneem. Die staat verteenwoordig nou die twee kragte wat voortbestaan van die Afrikaner se identiteit oor die jare bedreig het: Die getalle-oormag van Afrika en die kulturele oormag van die Engelssprekende wêreld. Vir vandag se Afrikaner is Suid-Afrika wat die Britse ryk vir ‘n vorige geslag was. Die verskil is dat verbintenis aan Suid-Afrika veel meer diep gewortel is as wat dit ooit aan Brittanje was.

Die stryd wat eens gevoer is om Suid-Afrika eerste te stel, moet nou gevolg word om die Afrikaner eerste te stel. Ons sal Suid-Afrika moet afleer soos ons dit aangeleer het.

Wynand Boshoff in die  Vry Afrikaner  

 

 

Artikel 2: ‘n Geslag wat die moed het om ‘n ideaal te verwesenlik


de-kuile-geloftefees1

Inleiding

‘n Mens maak maklik die fout om te dink dat jou volk ‘n skeppingsgegewe is soos ‘n berg of ‘n vlakte; iets wat prakties nooit sal verdwyn nie. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Volke ontstaan as omstandighede daarvoor geskik is en verdwyn wanneer hulle die uitdagings waarvoor hulle te staan kom, nie die hoof kan bied nie. Maar ‘n volk neem ‘n geslag of twee om te sterf en daarom is die feit dat dit aan ‘n terminale siekte ly, nie altyd vir indiwiduele lede sigbaar nie. Dit is die agtergrond waarteen ons die Groot Trek binne raamwerk van die breër Afrikanergeskiedenis en Bloedrivier binne raamwerk van die Groot Trek gaan bekyk.

Een denker het Afrikanergeskiedenis opgedeel in die Eerste Afrikaner, wat met die nederlaag van die Boererepublieke in 1902 geëindig het; die Tweede Afrikaner, wat in die Unie van Suid-Afrika homself binne die Britse Ryk moes handhaaf en ‘n hoogtepunt met die republiek van 1961 beleef het, maar ook sy einde in die magsverlies van 1994; en die Derde Afrikaner, wat vandag leef. Daarby voeg ek die proto-Afrikaner. Dit begin met die volksplanting in 1652 en is die groep wat die kenmerke van die latere Afrikanervolk ontwikkel het, maar onbewus van hulleself as aparte etniese groep was. Die vraag wat ons vandag moet vra, is of die Derde Afrikaner lewensvatbaar is. Al die elemente vir ‘n nuwe lewenskrag is daar, maar gaan dit werklikheid word, of is die Afrikaner se rol uitgespeel en moet hy maar net geleidelik van die verhoog verdwyn?

 

Voëlvlug oor die Afrikaner se geskiedenis

Die Afrikaner se volksplanting is eintlik ‘n glips van die Nederlandse koloniale geskiedenis. Nederlandse kolonialisme was ‘n suiwer kommersiële onderneming. Hulle het nie die ideaal gekoester om ‘n loot van hulle eie kultuur in vreemde bodem oor te plant, soos Engeland in dieselfde tyd in Noord-Amerika nie. Die eintlike doel van die Vereenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) was om handel met die Ooste te dryf en soveel moontlik wins te maak. Die tipiese VOC-amptenaar het sy beroepslewe deurgebring waar hy ook al gestuur is, maar sy kinders in Nederland laat opvoed. As hy op aftree-oudersom nog geleef het, het hy in Nederland gaan aftree. Die enigste plek waar Nederlandse belange tot ‘n nuwe etniese groep gelei het, was die Kaap die Goeie Hoop.

Binne Jan van Riebeeck se tienjaar regering, het hy twee deurslaggewende besluite geneem. Sonder dié twee besluite sou die Afrikaner nooit ontstaan het nie, maar dit is dieselfde besluite wat tot die ondergang van 1994 gelei het en die Derde Afrikaner se lewensvatbaarheid bedreig. Dit was die vrystelling van vryburgers en die invoer van slawe. Die VOC het, soos die kommuniste eeue later, agtergekom dat “staatsamptenare” nie so doeltreffend as vrye ondernemers kan boer nie. Hulle het dus van die amptenare vrygestel om self te boer en sou produkte van hulle aankoop. Die tweede was om nie vry arbeiders vanuit Europa in te voer nie, maar slawe uit dele van Afrika en die Ooste. Voeg daarby die VOC-beleid om die enigste wettige koper te wees, maar so min moontlik vir produkte te betaal, dan word dit duidelik dat vryburgers nie ‘n welvarende en kompakte gemeenskap kon vorm nie.

Toe amptenare later hulle wettige vergoeding met deeltydse boerdery aangevul het (en self kon besluit van wie die VOC sou koop) het Vryburgers liewer die binneland ingetrek en self in al hulle basiese behoefte voorsien. Die VOC het halfhartig probeer om beheer uit te oefen, maar doelgerigte regering sou besteding noodsaak, iets wat die VOC so ver moontlik vermy het. ‘n Kultuur van isolasie het ontstaan, waar ‘n mens geweet het jou buurman is te naby as jy sy rook kon sien trek. As vrye burgers met slawe-arbeid, en later dié van onderwerpte Khoisan en swartmense, kon hulle geweldig wyd versprei. In isolasie van bykans twee eeue het hulle ‘n eiesoortige kultuur ontwikkel, al het hulle nie juis daaroor nagedink nie. Hierdie selfgenoegsame lewenswyse het skielik onder druk gekom toe Engeland, weens politieke faktore in Europa, die Kaap oorgeneem het. Om nié te regeer nie, was vir die Engelse vreemd.

Kom ons kyk vir ‘n oomblik na Engelse kolonialisme. Die Engelse het geroem op die vryheid van hulle onderdane. In ‘n Britse kolonie kon jy enige taal praat en enige godsdiens beoefen, maar die openbare lewe was eentalig Engels. Jou privaatlewe was jou saak, maar as jy ‘n openbare rol wou speel, sou dit in Engels wees. So sou eers die elite, maar later die hele samelewing, verengels. Aan die Kaap het predikante, onderwysers en amptenare die nuwe taal ingevoer.

Vir die eerste keer het die Kaapse bevolking, neerhalend die “Cape Dutch” genoem, van hulle eie identiteit bewus geraak. Die land is na ‘n ideaalprentjie geregeer, wat nie hulle s’n was nie. Party het hulle – tot eie voordeel – daarby aangepas, maar ander het al meer vervreemd geraak. In die 1830’s sou dit op die Groot Trek uitloop. Maar kom ons spring eers oor die Trek na 1877, toe Engeland die Transvaal, die ZAR, geannekseer het.

Na die ZAR se vryheid in 1852 deur Engeland erken is, het sake vir die Boere agteruitgegaan. Geen regering kon die bevolking verenig of doeltreffend regeer nie. Swart stamme het die swak regering uitgebuit en toenemend republikeinse gesag uitgedaag. Onveiligheid en onderontwikkeling het tot armoede gelei, met geen sigbare wending op pad nie. Met anneksasie was Engeland oortuig dat dit tot die beswil van die land sou wees en dat die bevolking dit sou steun.

Hoewel min Afrikaners die anneksasie gesteun het, was hulle nie gewoond om georganiseerd op te tree nie. Paul Kruger se diplomatieke vernuf om ontevredenheid in sinvolle protes om te skakel en dit aan Engeland te kommunikeer, was deurslaggewend. In die proses het burgers van die Vrystaatse Republiek en die Kaapkolonie intens van hulle bande met die Transvalers bewus geword. Dat Afrikaners, onder watter bewind ook al, se lot aan mekaar verbind was, meer as aan vreemde magte, het vir hulle duidelik geword. Die oorwinning van Majuba en herstelde onafhanklikheid van die ZAR was nie net ‘n Transvaalse oorwinning nie, dit was die geboorte van die Afrikaner as ‘n selfbewuste volk.

Die geskiedenis van hierdie “Eerste Afrikaners” is nie vandag se onderwerp nie. Genoeg om te sê dat ‘n kombinasie van doelgerigte regering en ontdekking van fabelagtige natuurlike hulpbronne veroorsaak het dat die ZAR spoedig die toonaangewende gebied in Suid-Afrika (toe ‘n suiwer geografiese begrip) geword het, maar ook die gierige aandag van Britse ryksbouers getrek het. Die Tweede Vryheidsoorlog is ‘n roemryke hoofstuk in ons geskiedenis, maar het geëindig in militêre, finansiële en kulturele rampspoed.

Met die stigting van die Unie van Suid-Afrika is die raamwerk geskep waarbinne die Tweede Afrikaner hom moes handhaaf, of in die Britse Ryk opgelos word. Vir individue met die talente van byvoorbeeld Jan Smuts, het dit eindelose moontlikhede gebied; hy het die hoogste moontlike sport bereik toe hy veldmaarskalk geword het. Genoeg talentvolle Afrikaners het die teenoorgestelde keuse gemaak. Dalk het hulle persoonlike voordeel verbeur deur ‘n Afrikaanse ruimte te skep, waar ook dié met minder talente, kon presteer. Uiteindelik is armoede grootliks te bowe gekom en kon die Tweede Afrikaner op alle terreine met die wêreld se toppresteerders saampraat.

Die hoogtepunt van die Tweede Afrikaner was republiekwording in 1961, maar die laagtepunt het omtrent 30 jaar later gevolg, toe onder die bevolkingsdruk van Suid-Afrika se swart bevolking ingegee is. Omdat Afrikaners regoor die land versprei is en oral ‘n minderheid vorm (kyk Van Riebeeck se twee deurslaggewende besluite) was doeltreffende weerstand uitgesluit. Dit is ‘n goeie tyd om oor die Groot Trek te besin.

 

Die Groot Trek

Teen die 1830’s het ‘n noemenswaardige groep Afrikaners, veral aan die Kaapkolonie se oosgrens, gevoel dat hulle idees oor staatsinrigting en regverdigheid te veel van die Engelse idees verskil, om verder daaraan onderwerp te word. Hulle denkwyse is welsprekend deur Piet Retief in die Grahamsown Journaluiteengesit.

In hulle wanhoop dat sake onder Engelse beheer ooit sou verbeter, het hulle iets gedoen waarmee hulle goed bekend was: Hulle het hulle waens gepak en na die horison getrek. Maar anders as vorige kere het hulle nie net beter weivelde en genoeg ruimte gaan soek nie, hulle het ‘n politieke doel voor oë gehad: ‘n Vrye republiek. Hulle wou nie sonder regering wees, ‘n soort Wilde Weste skep nie. By die eerste moontlike geleentheid het hulle ‘n grondwet opgestel en ‘n regering verkies. Daar was verrassende gehoorsaamheid aan die regering. Hendrik Potgieter het Natal nie as die beste bestemming beskou nie. Die binnelandse hoëveld was volgens hom ‘n meer volhoubare opsie en teen 1837 het hy dit reeds vir Trekkervestiging beveilig. Maar toe die volksvergadering besluit om Natal toe te trek, het die Potgieter-geselskap saamgetrek.

Aan die begin van die jaar het 1838 beloof om ‘n jaar van vervulling te wees. Retief se onderhandelinge met Dingaan het voorspoedig geloop en moes net beklink word. Dan kon staatstigting en ekonomiese bedrywighede momentum optel. Party Voortrekkers het, teen waarskuwings in, reeds kamp opgeslaan waar dit vir hulle aantreklik was – vir geïsoleerde plaasbewoners ‘n welkome afwisseling van die “stedelike” lewe in die laer. Retief se onderhandelings het egter ‘n onverwagse wending geneem toe hy met sy hele afvaardiging vermoor is. Zulu-impi’s het dit opgevolg met ‘n aanval op al die Voortrekkers in Natal. Geïsoleerde groepies was die eerste teikens, en gelukkig kon enkelinge wegkom en die hooflaer waarsku. Inderhaas moes hulle vir ‘n aanval gereed maak en kon uitwissing afweer. Swaar reën het later uitgesak en “Veglaer” is in “Modderlaer” omskep – met gepaardgaande ontbering.

Die Voortrekkers het besluit dat Dingaan gestraf moes word. Gerrit Maritz sou in die laer agterbly om daaglikse regering en regspraak te behartig, maar Piet Uys en Potgieter kon nie ooreenkom wie die strafkommando moes lei nie. Uiteindelik het twee kommando’s met twee aanvoerders en twee strategieë gelyk te perd uitgetrek. Potgieter wou alle skermutselings vermy en op die Zuluhoofstad opmars. Uys wou elke geleentheid gebruik om te wys wie is baas. ‘n Geleentheid het hom voorgedoen en Uys wou ‘n klein patrollie in ‘n kloof in agtervolg. Potgieter het dit as onwys beskou en daar uit gebly. Potgieter se vrese is as gegrond bewys toe Zulus die opening na die kloof afgesper en uit alle oorde op Uys en sy manne neergesak het. Slegs met die grootste moeite kon Potgieter ‘n pad oopskiet en kon Uys se manne (met uitsondering van Uys self en sy seun Dirkie) ontvlug. Die verwyte wat Potgieter toegeslinger is, het hom laat oppak en met sy volgelinge Transvaal toe laat trek.

Maritz het die ervaring van suksesvolle en onsuksesvolle veldslae deeglik ontleed en die strategie wat met Bloedrivier suksesvol sou blyk, uitgewerk. Hy het aan siekte gesterf voor dit uitgevoer kon word en daarmee is die Natalse Trek in ‘n bestaanskrisis gedompel. In Andries Pretorius het die Trekkers ‘n bekwame en wyse leier gevind. ‘n “Strafkommando” het in ossewaens die Zulus tegemoet getrek. Dit sou as mobiele fort teen aanstormende impi’s dien. Veghekke is gemaak wat “sagte” plekke in die vesting kon dig maak. Teen hierdie agtergrond het benoude Trekkers ‘n gelofte afgelê; nie ‘n transaksie, asof God met eer, ‘n jaarlikse gedenkdag en ‘n kerkgebou omgekoop kon word nie. Net ‘n smeekgebed, met ‘n belofte van dankbaarheid wat van geslag tot geslag oorgedra sou word.

Toe die Zulu-hoofmag bereik is, het hulle besluit om, anders as in die verlede, nie in die nag aan te val nie. Vir ‘n nagtelike aanval, veral in die vogtige weer, sou die Trekkers nie ‘n antwoord gehad het nie. Die kruit kon maklik weier om af te vuur en in die nag sou Zulus bykans onsigbare teikens wees. Die Zulus het vir dagbreek gewag en toe aangeval. Die geveg was hewig en vlaag op vlaag het aangestorm. Hulle kon egter nie deur die walaer breek en vernietiging met hulle gevaarlike steekassegaaie saai nie. Toe hulle op die beter strategie besluit, om die assegaaie in die laer in te werp, was hulle reeds uitgeput en dit was nie ‘n keerpunt nie.

 

So, wat leer ons?

Na Afrikaners vir ‘n tyd lank half verleë oor die Gelofte gevoel, en feeste verwaarloos het, word dit die laaste jare al meer herdenk. Dit is nie moeilik verklaarbaar nie. Plaasmoorde en ander faktore laat Afrikaners onveilig voel en ‘n mens vereenselwig jou makliker met die Voortrekkers se benoudheid. Dit maak sin om die geskiedenis nie net te onthou nie, maar daaroor na te dink. In die verlede, met die Groot Trek, na die anneksasie van Transvaal en na uniewording, was dit die krag van ‘n ideaal wat Afrikaners uit die dieptes na onverwagse hoogtes gevoer het; die ideaal van ‘n vrye republiek.

Vandag lyk vryheid onbereikbaar en Afrikaners stel meer hoop op byna bo-natuurlike ingrypings. Miskien sal De la Rey die Boere kom lei. Miskien is daar ‘n man met ‘n bruin pak, soos Siener van Rensburg voorspel het. Miskien moet ons net bid, want God kan alles soos met ‘n handomkeer verander.

Die ervaring leer anders. Sonder die ideaal gedrewe Groot Trek is dit onwaarskynlik dat enige van die trekleiers prominente figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis sou word. Die kommando van Uys en Potgieter, ongeag hulle godsdienssin, was swak voorbereid en kon die pyp nie rook nie. Paul Kruger was ‘n prominente Transvaler voor die anneksasie, maar die krag van die republikeinse ideaal het sy statuur tot groter as lewensgroot laat groei. Wanneer ‘n geslag met ‘n ideaal besiel is, vind hulle leierskap in hulle geledere. As hulle werkend bid en biddend werk, bly die seën van die Here ook nie uit nie.

Die vraag is nie of daar êrens ‘n groot leier is nie. Ook nie of God die mag het om in te gryp nie.

Picture1

Die vraag is of daar ‘n geslag is met die moed om ‘n ideaal aan te gryp.

Is ons so ‘n geslag?

Deur Wynand Boshoff

 

 

Enjoyed this post? Share it!