Nuus Brokkies van Belang in “Absurdistan”


Artikel 1: Vrystaatse vrou op plaas aangeval

’n Vrou is op ’n plaas naby Ficksburg in haar huis aangeval.

In nóg ’n plaasaanval in die Vrystaat is die dogter van wyle mnr. Jan van Niekerk van Ficksburg, ’n voormalige lid van Vrystaat Landbou (VL), Woensdagnag op die plaas Mooiplaas aangeval.

Inligting wat aan VL en die VKB Veiligheidslessenaar verskaf is dui daarop dat die verdagtes omstreeks 01:00 in die oggend me. Van Niekerk se huis se deur oopgebreek het, en kontant en wapens van haar geëis het, lui ’n verklaring van VL. Toe geen geld of wapens kon gevind word nie, het die verdagtes die bakkie se sleutel van haar geëis, waarna hulle op die vlug geslaan het.

Die gebied se noodplan is onmiddellik in werking gestel, en ’n groot groep landbouers het na me. Van Niekerk omgesien, paaie begin versper en na verdagtes begin soek. Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se komitee vir wet en orde, sê die organisasie veroordeel die voorval, soos al die voriges, ten sterkste.

“Die belangrikheid van ’n effektiewe noodplan wat deur die gemeenskap tesame met die SAPD ingestel en toegepas word, word weereens in hierdie voorval beklemtoon. Die feit dat sagte teikens geteiken word, sal nie geduld word nie.” Esterhuyse versoek landbouers om deel te wees van noodplanne in hulle gemeenskappe, en om te help om toe te sien dat die planne doeltreffend toegepas word.

SA Landbou 
31 Julie 2015

Artikel 2

Absurd, ongrondwetlik en verregaande.

Dít was die reaksie op die Gautengse departement van onderwys se besluit om ’n wiskundehersieningshandboek vir gr. 6-leerlinge net in Engels beskikbaar te stel.

“Dis absurd en ongrondwetlik. Dis ’n klap in die gesig van Afrikaanssprekendes en dít nadat die minister (Blade Nzimande, hoër onderwys) teen enkeltaligheid en vir die bevordering en ontwikkeling van Afrika-tale predik,” het prof. Wannie Carstens, ondervoorsitter van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat), gesê.

In ’n omsendbrief aan Gautengse skole het die departement skole gevra om die hersieningsboeke vir wiskunde vir gr. 6-leerlinge te kom haal.  – Netwerk 24 31 Julie 2015

Artikel 3

Duisende verlaat Telkom se diens vrywillig

Altesame 2 393 Telkom-werknemers het gekies om vrywillige skeidingspakkette te aanvaar en verlaat reeds vandag die maatskappy se diens.

Volgens Marius Croucamp, hoof van die kommunikasiebedryf vir die vakbond Solidariteit, is dié aantal aansoeke om vrywillige skeidingspakkette nie ’n verrassing nie.

“Gegewe die huidige onstuimige klimaat in Telkom het ons vermoed dat heelwat werknemers sal verkies om die maatskappy te verlaat.

“Ons is nietemin baie bekommerd oor die uitvloei van kundigheid uit die maatskappy en hoe dit Telkom se dienslewering en toekomstige bedrywighede sal raak,” sê Croucamp.

Solidariteit het Telkom se voorgenome afleggings – waardeur tot 7 800 mense die maatskappy se diens sou verlaat – onlangs in die hof gestuit omdat dit teen ’n ooreenkoms oor herstruktureringsprosesse indruis wat hy in 2008 met vakbonde gesluit het.

Niks het egter in Telkom se pad gestaan om vrywillige skeidingspakkette aan te bied nie.

Ná die hofsaak het Sipho Maseko, uitvoerende hoof, gesê: “Ons inkomste-tot-werknemer-kosteverhouding bly aansienlik hoër as die bedryfsnorm. Vergeleke met telekommunikasiemaatskappye van dieselfde grootte het ons tot 30% meer voltydse werknemers as ons eweknieë.”

Deur  Solidariteit Hanlie Stadler Vrydag 31 Julie 2015

 

Artikel 4

Gebrek aan optrede teen aanhitsing en haatspraak teen minderheidsgroepe

Brief aan die Voorsitter
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK)
Adv. Lawrence Mushwana

Geagte Adv. Mushwana,
Ek rig hierdie ope brief aan u in die lig van ʼn baie ontstellende tendens wat
AfriForum min of meer die afgelope jaar waarneem. Dit wil vir ons voorkom of daar
ʼn toenemende vloed van haatspraak en aanhitsing tot moord op sosiale media in
Suid-Afrika verskyn. In ʼn onrusbarende hoeveelheid gevalle is hierdie haatspraak
gerig teen minderheidsgroepe en in die besonder Suid-Afrikaanse boere.

Verskeie onlangse voorbeelde is by hierdie brief aangeheg. In een uiters
kommerwekkende voorbeeld het ʼn personeellid, wat valslik beweer het dat hy by ʼn
toonaangewende private veiligheidsmaatskappy werk, met sy vriende op
Facebook saamgestem dat die tyd aangebreek het om witmense in die algemeen,
maar spesifiek boere, uit te wis.

As ʼn organisasie wat gestig is met die doel om die regte van die
minderheidsgroepe te beskerm, is ons ook bekommerd oor wat vir ons lyk na ʼn
ongebalanseerde benadering deur die SAMRK. Ons het die afgelope paar jaar
verskeie kere gesien hoe die SAMRK ingryp om haatspraak of geweld deur lede
van minderheidsgroepe teen swart Suid-Afrikaners te bekamp. Die SAMRK moet
daarvoor geloof word dat hulle op eie inisiatief optree. Waaroor ons egter
bekommerd is, is dat dit lyk of die SAMRK huiwerig is om op te tree in gevalle van
geweld of haatspraak teen minderheidsgroepe.

Wat my betref, is ek nie bewus van ʼn enkele voorval waar die SAMRK op eie
inisiatief haatspraak teen minderheidsgroepe ondersoek het nie. Ek is ook bewus
van ʼn groot aantal klagtes oor haatspraak en aanhitsing tot moord teenoor
minderhede wat deur AfriForum, ander organisasies en lede van die publiek
ingedien is en wat nog nooit deur die SAMRK hanteer of afgesluit is nie.
Dit is ons waarneming dat minderheidsgroepe vertroue in die SAMRK se
bereidwilligheid en vermoë om sy mandaat vreesloos uit te voer, begin verloor.
Ek vertrou dat u hierdie brief met die nodige erns sal beskou.

Die uwe,
Ernst Roets
Adjunk Uitvoerende Hoof
AfriForum

11036893_462724443887303_5581262921188670453_n

Artikel 5

 Nkandla, Groot Vermorsing van Belastingbetalers se Geld Die DA het Donderdag daarop gesinspeel dat hy die polisieminister Nathi Nhleko se verslag in die hof sal teenstaan nadat die ANC-meerderheid ʼn versoek deur opposisiepartye dat getuies geroep word, van die hand gewys het.

Die ANC-meerderheid in die ad hoc parlementêre komitee wat Nhleko se verslag oorweeg, het maklik die voorstel deur Stege Swart van die ACDP verwerp. Swart het versoek dat Thuli Madonsela, openbare beskermer, geroep word om haar verslag oor Nkandla te kom verduidelik aan die komitee. Swart het aangevoer dat die regerende party die reg het om met Madonsela te verskil maar eers nadat hulle met haar in
gesprek was oor die saak. Doris Dlakude, die ANC se adjunkhoofsweep, het egter nie hiermee saamgestem nie.

Volgens Doris het almal gesien wat aangaan by Nkandla en almal stem saam dat geld gesteel is by Nkandla, daarom is dit nie nodig om getuies te roep nie. Opposisie-LP’s het na ʼn besoek aan Nkandla verlede week toegegee dat ondanks die koste, daar nie die nodige veiligheid is by Nkandla nie. Die opposisie en die ANC het egter soos met die vorige ad hoc komitee oor Nkandla vasgeval oor Madonsela se verslag en die behoefte om meer getuies, selfs pres. Jacob Zuma indien nodig, te roep.

Die ANC het intussen ook besluit dat die komitee sal begin om die finale verslag op te stel vir oorhandiging aan die Nasionale Vergadering. Minister Nhleko het al vroeër bekend gemaak dat hy hoop die verslag die finale deel sal wees van ʼn hoofstuk wat Zuma vir jare geteister het. Mathole Motshekga, ANC-veteraan, het Madonsela daarvan beskuldig dat sy die land mislei het. Volgens Mathole is die verslag van die openbare beskermer glo misleidend en het die land mislei. Dit was volgens sy bewering duidelik. Mathole het beklemtoon dat die projek ʼn groot vermorsing van belastingbetalers se geld was, maar beweer dat die blaam nie voor die president se deur gelê word nie – Eye Witness News

1924912_990931794252190_8199551412472278552_n

Artikel 6

ArcellorMittal gaan voort met afleggingsproses – Solidariteit wil impak op lede beperk 
Die vakbond Solidariteit het vandag gesê dat hy die impak van die afleggings by ArcellorMittal se Vereeniging-walserye op sy lede wil beperk. Dit volg nadat die land se grootste staalprodusent ’n afleggingskennisgewing aan vakbonde gestuur het. Ongeveer 600 poste sal deur die afleggings geraak word.
Volgens Marius Croucamp, hoof van die Metaal- en Ingenieursbedryf by Solidariteit, het Solidariteit reeds voor die amptelike kennisgewing ontvang is aktief aan konsultasiegesprekke met die staalprodusent deelgeneem. “Ons sal alles in ons vermoë doen om die getal lede wat deur hierdie proses geaffekteer word so laag as moontlik te hou,” het Croucamp gesê. Solidariteit het sowat 280 lede wat by die walsery werksaam is.
Die aankondiging volg kort nadat Evraz Highveld Steel ook ’n afleggingsproses van stapel gestuur het en Kumba onlangs die sluiting van sy Thabazimbi-myn aangekondig het. “Die staalbedryf beleef tans ’n baie moeilike tydperk en Solidariteit sal gevolglik alles in sy vermoë doen om lede in die bedryf by te staan,” het Croucamp gesê.
Geen verdere inligting is tans bekend oor wanneer die konsultasiefase van die afleggingsproses ’n aanvang sal neem nie.

Solidariteit 31 Julie 2015

 

Artikel 7

Gemengde reaksie oor gr. 9-skoolsertifikaat waaraan departement al 13 jaar beplan

Dertien jaar nadat die departement van basiese onderwys met groot fanfare ’n algemene onderwys- en opleidingsertifikaat (GET) vir gr. 9-leerlinge aangekondig het, is dit weer op die tafel.
Onderwyskundiges het uiteenlopende sienings oor die jongste plan om vanaf 2017 ’n skoolverlatersertifikaat aan gr. 9’s uit te reik.

Die aanvanklike doel met die GET was om leerlinge wat skool aan die einde van gr. 9 wil verlaat, met ’n sertifikaat toe te rus waarmee hulle kon gaan werk soek of by kolleges vir verdere onderwys en opleiding kon uitkom.
Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het gesê daar is vandag ’n groot aandrang op die instelling van die sertifikaat. “Daar is ’n baie groot behoefte om leerlinge wat nie skool kan voltooi nie, so gou moontlik meer opsies en alternatiewe tot onderwys en opleiding te gee.”
Volgens Klopper is dit veral nodig vir kinders van 19 of 20 jaar wat verby die skoolverlatersouderdom is. Daar is na raming sowat 30 000 sulke leerlinge in die skoolstelstel.

Klopper meen nie dat openbare kolleges vir verdere onderwys en opleiding noodwendig gerat is om ’n heenkome vir gr. 9’s te wees nie. “Die kolleges is midde in herstruktureringsprosesse en die fokus is nie nou noodwendig op gehalte-onderrig nie.”
Klopper is egter optimisties oor al meer geleenthede wat vir leerlinge in die private sektor kan oopgaan met groot werkgewers soos myne en die spoorweë wat na hul eie opleidingskolleges kyk.
Phillip Minnaar, hoof van Sol-Tech, Solidariteit se opleidingskollege, meen dit is nie wenslik om studente op 16 jaar in te neem nie. Voorts bepaal wetgewing dat kinders tot op 15 jaar skoolpligtig is en nie voor dit in diens geneem mag word nie.
“Dit dilemma is dat die kinders na gr. 9 geen onderbou in wiskunde en wetenskap het nie, wat veroorsaak dat hulle sukkel om die mas op te kom in opleiding. Daar is uitsonderings, maar in die algemeen sukkel kandidate wat te jonk is.”

Minnaar is meer positief oor die instelling van die nuwe kurrikulum vir tegniese hoërskole wat na verwagting volgende jaar begin. Die kurrikulum sal ’n groot verbetering wees vir kinders wat nie universiteit toe kan gaan nie en hulle sal vinniger by ’n werkplek kan instap. Tegniese wiskunde en tegniese wetenskappe sal van die vakke wees wat kandidate toelating tot ingenieurstudie en ambagsopleiding sal gee.
Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, het gesê die organisasie is bekommerd dat die gr. 9-sertifikaat glad nie tot gehalte-onderrig sal bydra nie.
“Leerlinge wat skool op 15-jarige ouderdom verlaat, het nie noodwendig geleentheid om by ’n ander instansie te studeer nie en daar is ook ernstige kommer oor die gehalte van VOO-kolleges se onderrig.”

Volgens Bloem is werkloosheid klaar ’n groot probleem in Suid-Afrika. “Baie jongmense met ’n matrieksertifikaat sukkel om werk te kry. Hoeveel meer gaan 15-jariges nie sukkel nie….”
Bloem het ook gesê ’n hoërskoolloopbaan speel ’n belangrike rol in die akademiese en sosiale ontwikkeling van leerlinge. “Op 15 is leerlinge nog nie opgewasse om hulself suksesvol in die samelewing te handhaaf nie.”

Sy het voorts gesê die instelling van so ’n sertifikaat kan die idee by ouers en leerlinge laat posvat dat hulle wel emosioneel volwasse genoeg is en ’n kans op ’n loopbaan het. “Dit mag leerlinge wat dalk skool kon voltooi, aanmoedig om die skoolbanke vroeër te verlaat.”
Bloem het gesê AfriForum sal voortgaan om leerlinge bewus te maak van die waarde om hul skoolloopbane nie voor matriek te beëindig nie.

’n Opvoedkundige sielkundige van Pretoria meen Suid-Afrika is glad nie gereed om jongmense op 15 jaar uit die skoolstelsel te sluit nie. “Die uiteinde gaan duisende jongmense sonder werk of opleidingsgeleenthede wees wat moed en hoop vir die toekoms sal verloor as hulle bloot net deel van die werklose massa word.

“Soveel skoolverlaters is nie eens in matriek emosioneel volwasse genoeg om te besluit wat om met die res van hul lewens te maak nie. Om leerlinge sonder enige beroepsvaardighede na gr. 9 die wêreld in te stuur, is ondenkbaar.”

deur Alet Rademeyer op 14 Julie, 2015

 10013212_10202109916813063_1208941503_n

Artikel 8

SA se uitvoer na Afrika verdubbel

Suid-Afrika se landbou-uitvoere na Afrika-lande het oor vyf jaar verdubbel.

Dié groei was vier keer groter as die groei in uitvoere na Europa, sê mnr. Tinashe Kapuya, hoof van internasionale handel en belegging by die landbousakekamer Agbiz.

“Suid-Afrika se landbou-uitvoere in die geheel het die laaste vyf jaar fenomenaal gegroei, deur in nominale waarde met 118,5% toe te neem.” Groei na Afrika het 36,2% hiertoe bygedra, sê Kapuya in ʼn verslag gegrond op statistiek van die Internasionale Handelsentrum (ITC).

Hiervolgens het Suid-Afrika se landbou-uitvoere na Afrika van R15,4 miljard in 2009 tot R48,5 miljard verlede jaar gegroei. Landbou-uitvoere na Afrika het verlede jaar 54% van die totale uitvoer verteenwoordig, vergeleke met 38% in 2009.
Van 2009 tot 2014 het landbou-uitvoere na ander streke soos Asië, die Amerikas, die Midde-Ooste en Oseanië ook goed gegroei, met 63% tot 106%, maar Kapuya sê dit was van ʼn relatief baie laer grondslag af.

Groente
Kapuya het die ITC-syfers gebruik om die gestandaardiseerde bydraes van kommoditeite tot Suid-Afrika se algehele uitvoergroei per streek te bereken. Hiervolgens word die landbou-uitvoere na Afrika tot groot mate deur die kategorie “groente-plantemateriaal en groenteprodukte” gedryf, wat vir 13,6% van die groei verantwoordelik was.

Ander groot bydraers was “vleis en eetbare vleisafval” (7,7%), “vleis, vis en seekos” (6,9%), en “koffie en tee” (6,6%).

Graan
Die uitvoer van graan na Afrika, in die besonder mielies, het afgeneem, maar uitvoere na ander streke het hiervoor vergoed. So was graanuitvoer verantwoordelik vir 26,5% van die groei in uitvoere na die Europese Unie, waarvan ʼn groot deel mielie-uitvoer na Italië was.

Graanuitvoer was verder verantwoordelik vir 75,7% van landbou-uitvoergroei na die Amerikas, wat hoofsaaklik danksy uitvoer na Mexiko in die 2012/’13-seisoen was. Groei in landbou-uitvoer na dié Brics-land was grootliks danksy groei in die kategorie “suiker en suikergebak-produkte”.

SA LandbouDeur Carien Kruger
30 Julie 2015

 

Enjoyed this post? Share it!