Onlangse Nuus Brokkies van Belang


Transnet teken Chinese kontrak van R30 miljard

Volgens wat Creamer Media in Johannesburg berig, het Transnet pas ‘n leningsooreenkoms van R30 miljard geteken met die China Development Bank (CDB) ten einde 232 diesel en 359 electriese lokomotiewe aan te koop by die China South Rail (CSR) en China North Rail (CNR). Dit vorm deel van die verkrygingsprogram van Transnet van 1 064 lokomotiewe oor die medium- en langtermyn. Die ooreenkoms met die Chinese, met ‘n terugbetalingstermyn van 15 jaar, is gesluit tydens die Wêreld Ekonomiese Forum wat in Kaapstad gehou is en vorm op sy beurt weer deel van die R60 miljard bilaterale ooreenkoms wat pres. Jacob Zuma in Desember 2014 met sy Chinese eweknie Xi Jinping gesluit het. Vir van die res van die lokomotiewe het Transnet ‘n leningsooreenkoms aangegaan met die Export-Import Bank van die VSA en Export Development Canada vir R13 miljard om lokomotiewe vanaf General Electric en Bombardier Transportation aan te koop.

 

SA kuberooreenkoms met China

In ‘n mediaverklaring wys die DA op groot kommer oor die sg. Cyber Security Pact wat Minister van Telekommunikasie en Poswese Siyabonga Cwele verlede week namens die regering met die Chinese Minister van Nywerheid en Inligtingstegnologie Miao Wei onderteken het. Daar word op gewys dat China ‘n reputasie het van onderdrukking van vryheid van spraak in sy eie land, ingryping in sosiale mediawerwe, die oprigting van brandmure (“firewalls”) om toegang tot nuus en inligting te blokkeer en van kuberaanvalle op Westerse maatskappye. China word dus gesien as allesbehalwe die ideale  kubervennoot. Dit word voorts gesien in die lig van die toenemende aanslag van die SA regering op persoonlike regte en vryhede.

Daarby het die SA regering in Maart vanjaar tydens ‘n VN debat oor bevordering van Internet privaatheid aangedui dat dit nie sy weg oopsien om die resolusie te steun nie, ‘n resolusie wat geïnisieer is deur Brasilië en Duitsland.

 

SA belastingbetaler R700 miljoen p.j. vir Afrika Unie

Dit het aan die lig gekom dat die SA regering ‘n bedrag van R700 miljoen per jaar bewillig het as bydraes tot die funksionering van die Afrika Unie (AU). In ‘n mediaverklaring, vra die DA o.m.:

  • Wie presies het hierdie bewilliging goedgekeur?
  • Is dit deur die SA Kabinet hoegenaamd bespreek?
  • Wanneer het die AU sodanige versoek gerig?
  • Waar gaan die geld vir die R700 miljoen per jaar vandaan kom?
  • Waarop gaan die R700 miljoen per jaar gespandeer word?

Al hierdie vrae moet ook gesien word teen die agtergrond van aanduidings dat hierdie geld bestee gaan word vir o.a. vliegkaartjies, hotelverblyf, selfoonkommunikasie, ens.

 

Pogings tot Noordwes-naamsverandering

In reaksie op die formele voorstel van die premier van Noordwes Supra Mahumapelo dat die naam van die provinsie verander word na Moses Kotane, ʼn voormalige sekretaris-generaal van die SA Kommunistiese Party, het AfriForum ‘n veldtog begin onder die opskrif Keer dat Noordwes waai.

Die petisie is by https://www.afriforum.co.za/keer-dat-noord-wes-waai/.

Voordat die veldtog egter behoorlik van die grond af kon kom, het dit aan die lig gekom dat die Noordwes-regering die naam van die provinsie eensydig gaan verander het na Bokone Bophirima, die Tswana-vertaling van Noordwes.

Die naamsverandering, wat blyk uit die amptelike webwerf van die provinsiale regering, kom tot groot skok landswyd. In reaksie hierop sê AfriForum in ‘n mediaverklaring: “Hierdie slinkse verandering is onaanvaarbaar.

Plekname kan nie net oornag verander word soos wat die politieke wind waai nie. Ingevolge watter wetgewing is die naam verander, aangesien die SA geografiese nameraad nie jurisdiksie het oor provinsiale naamsveranderings nie?”

 

Goeie nuus oor inkomste van Gauteng

Te midde van die oorvloed van negatiewe nuus in Suid-Afrika, kom die nuus dat die Gauteng Provinsiale Regering sy geteikende inkomste vir die finansiële jaar 2014/15 oorskry het met R700 miljoen, oftewel 16%, deur insameling van ‘n totale bedrag van R4,96 miljard vir die jaar.

Die grootste bydrae hiertoe was van die Gauteng Tesourie Departement wat R402 miljoen meer as sy geteikende bedrag bygedra het a.g.v. verhoogde rente-inkomste. Ander departemente het ook deur die toepassing van opgegradeerde stelsels meer inkomste ingevorder as wat verwag is, hoewel daar ook departemente was wat onderpresteer het.

Die netto resultaat was egter R700 miljoen positief.

 

Kommentaar oor ekonomiese verval van SA

In ‘n mediaverklaring sê adv. Anton Alberts, VF Plus Parlementêre woordvoerder oor die ekonomie:

“Die tempo van ekonomiese verval in Suid-Afrika is nou sosnel dat ʼn mens byna al terugverlang na die ooreenstemmende tyd verlede jaar, en toe het dit reeds ellendig gegaan. Dit is onmoontlik om die land se ekonomie te laat groei midde in groeiende beleidsonsekerheid, teen-produktiewe ekonomiese groeiplanne en skemas wat neig na ekonomiese selfmoord. Die ANC gee voor dit is ʼn hedendaagse Moses, maar dit het die land al tot op die rand van verskeie afgronde gelei onder die dekmantel van welluidende name soos transformasie. Die Farao van Egipte moes na die Tien Plae bes gee en erken sy beleid werk nie. Die vraag is hoeveel van die selftoegediende plae gaan die ANC nog ignoreer?

Die eerste van hierdie afgronde is die fiskale afgrond – dit is die diepste en kan in 2026 sy tol eis wanneer die regering na raming net genoeg geld gaan hê vir salarisse en welsyn, terwyl Eskom lank voor daardie tyd oor die afgrond gaan stort.

Die ander afgronde is:

  • Die krag-afgrond – ons het dit reeds bereik /
  • Die water-afgrond – ons nader hierdie een vinnig, maak gereed vir beurtwater en die anargie wat dit gaan veroorsaak /
  • Die dienste-afgrond – ons is ook reeds daar en dit raak dieper namate transformasie en kaderontplooiing die stelsel verkanker /
  • Die grond- en voedsel-afgrond – dit is nie meer vergesog om te sê dat wye hongersnood ons voorland is met die ANC wat soos ʼn wafferse Stalin grond opkap, versnipper en als vir homself wil toeeien nie /
  • Die korrupsie-afgrond – die etol-skuld kan jaarliks drie keer afbetaal word
  • indien korrupsie uitgeroei word / Mini-afgronde – daar is vele van hulle wat onderliggend is aan die groteres, soos steenkool waar ons myne nie genoeg steenkool sal kan produseer om Eskom aan die gang te hou nie.”

 

Kommentaar oor Wetsontwerp oor Landbougrond

Oor die nuwe wetsontwerp wat die regering by die Parlement ingedien het oor die benutting en bestuur van landbougriond, sê TLU SA soos volg in ‘n mediaverklaring: “Ons verwerp die konsepbeleid en wetsontwerp in geheel.

Bo en behalwe die feit dat dit ‘n direkte bedreiging vir private eiendomsreg, soos uiteengesit in titelaktes en finansiële verbande, impliseer dit ook ‘n voorskriftelike benadering ten opsigte van die benutting van grond in private besit.

Nie net is dit ‘n onverantwoordelike inmenging in ‘n private sake-onderneming nie, maar sodanige besluite word  normaalweg aan die oordeel van amptenare gelaat wat geen begrip van landbouproduksie het nie, en ook nie van relevante vereistes waarvolgens ‘n onderneming winsgewend kan bly nie.

Die beginsels van private besitreg, ‘n vrye mark en volhoubare voedselproduksie, bly die drie vereistes vir ‘n gesonde ekonomie tot die voordeel van die hele land.”

 

AfriForum tak in Langenhovenpark

AfriForum het ‘n tak in Langenhovenpark, Bloemfontein gestig en dit vervang,met hul samewerking, die Langenhovenpark Inwonersvereniging.

Riaan Niemand is as voorsitter verkies, terwyl Lonika Jansen van Rensburg as ondervoorsitter en Leandré Smit as sekretaresse verkies is, Christel Oldewage as penningmeester en Gert Campher as bykomende lid met portefeulje veiligheid.

As volgende stap word beplan die stigting van ʼn AfriForum-buurtwag.

 

 

SAID-peiling vir Afrikaans

Op die webwerf van die SA Inkomstediens (SAID) word die publiek gevra in watter taal of tale die SAID webwerf beskikbaar moet wees. Derhalwe doen AfriForum ‘n beroep op Afrikaanssprekendes in die publiek om hul stem te laat hoor oor die voorkeurtaal van dienslewering deur SAID. In ‘n mediaverklaring sê AfriForum voorts: “Sover ons weet, is dit die eerste keer wat die SAID op dié wyse vra wat belastingbetalers se taalvoorkeur is.  Ons ontvang deurlopend klagtes van lede oor die SAID se gebrek aan Afrikaanse dienslewering. Die taalbeleid van die SAID wat vroeër vanjaar vir openbare kommentaar gepubliseer is, het ook weinig voorsiening gemaak vir enige tale buiten Engels – ʼn voorstel wat skerp deur AfriForum in ons kommentaar gekritiseer is.” Die peiling verskyn op www.sars.gov.za.

 

Mekka word mekka van weelde

‘n Interessante brokkie nuus saamgestel deur Jaco Nel uit The Guardian, The Independent en Wikipedia en soos gepubliseer op www.netwerk24.com/nuus. Die heilige geboortestad van Mohammed is besig om in ‘n Moslem-Las Vegas te ontaard. Nie net staan die derde hoogste gebou ter wêreld reeds in dié Saoedi-Arabiese pelgrimstad nie, oor twee jaar open die wêreld se grootste hotel daar.

Die beplande Abraj Kudai is ‘n vyfster-“stad” met 45 verdiepings, een van die grootste koepels op aarde, vier

landingsplekke vir helikopters, 10 000 kamers, vyf verdiepings wat slegs vir die Saoedi-Arabiese koninklike familie gereserveer sal word, 70 restaurante, ‘n busstasie, ‘n reusagtige winkelsentrum, ‘n konferensiesentrum en ‘n spoggerige balsaal. Die totale projekkoste beloop meer as R40 miljard. Te Mekka is reeds die Abraj al-Bait Towers (ook bekend as die Koninklike Kloktoringhotel), 601 m hoog en met weelderige hotelkamers wat tot R73 000 per nag kos. Verskeie erfenisgeboue in Mekka is al platgeslaan ten einde dit deur blink winkelsentrums en hotelle te vervang. Mekka het ‘n bevolking van sowat 2 miljoen mense, maar dit verdriedubbel jaarliks tydens die hadj (pelgrimstog).

 

KOMMENTAAR

Storm rondom Omar al-Bashir

Interessant en ook insiggewend is die storm wat losgebars het rondom die Sudanese president Omar al-Bashir en sy besoek aan SA. Vier punte van belang wat dit betref:

Eerstens:

het die Suid-Afrikaanse regering flagrant sy eie Grondwet en regstelsel ondermyn deur nie die hofuitspraak oor die verbod op al-Bashir om die land  te verlaat, te respekteer nie.

Tweedens:

het die regering ook ter wille van selfsugtige eiebelang sy ondertekening  van die Statuut van die Internasionale Geregshof (IG) verbreek en daardeur sy internasionale aansien en geloofwaardigheid erg skade berokken.

Derdens:

interessant en ironies dat die AU voorsitter Robert Mugabe, wat eintlik  self tereg moet staan op aanklag van massamoord en grootskaalse diefstal, asook pres. Jacob Zuma wat na alle waarskynlikheid eerder binne die trunk as buite moet wees, die groen lig gegee het vir die ontsnapping van die man wat aangekla word van misdade teen die mensdom.

Vierdens,

wil ons dit egter duidelik stel dat na ons mening die Internasionale Geregshof nie gesag het bokant soewereine onafhanklike state nie. Hoewel die IG in die lewe geroep is met die doel as ‘n supra nasionale  oorkoepelende gesagsliggaam, strook dit nie met die gevestigde volkeregbeginsel dat daar in die wêreld ‘n menslike geregsinstansie is wat bokant die soewereiniteit van state is nie. Dit is ook hoekom die VSA en      ander groot moondhede nog nie die statuut van die IG onderteken het nie.

Noordwes-naamsverandering

‘n Mens wil siek raak van al die negatiewe nuus wat tans uit Suid-Afrika ontspring, maar as jy met die werklikheid wil tred hou, moet jy van die dinge kennis neem.

Een van dié wat ‘n mens sommer naar maak, is die eensydige “naamsverandering” van Noordwes-provinsie na Bokone Bophirima, die Tswana vertaling vir Noordwes.

Hoewel daar in beginsel miskien nie beswaar kan wees teen so ‘n naamsverandering nie, is die wyse waarop dit geskied, sonder raadpleging van inwoners oor ‘n naam wat al ‘n lang pad kom, totaal onaanvaarbaar. Dit moet ook gesien word teen die agtergrond van die voorafgaande poging om die naam van die provinsie te verander na dié van die eertydse kommunistiese leier Moses Kotane.

Op die keper beskou, is Bokone Bophirima darem beter as Moses Kotane..

Artikels deur Ditsem blits nuus

 

Enjoyed this post? Share it!