Oorsake van Die Groot Trek en die Voortrekker leiers

 

Die grootskaalse landsverhuising tussen die jare 1835 en 1838, hoofsaaklik vanuit die oostelike dele van die Kaapkolonie, was een van die belangrikste gebeurtenisse in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Dit het nie net die verhuising en vestiging van Blankes in dienoorde meegebring nie, maar het ook ‘n groot invloed op die lewens van die Swart stamme in die noorde gehad; hetsy positief of negatief.

Die massabeweging van ongeveer 10,000 siele uit die Kaapkolonie, verskil van die geleidelike uitbreidingsbeweging wat oor jare plaasgevind het.

Die Blanke boere het met verloop van tyd al verder in ‘n noord-oostelike rigting, al langs die kus getrek, op soek na beter weivelde vir hulle vee.

Dié proses is egter gestuit toe hulle omstreeks 1770 die getalryker Xhosas by die Visrivier teëgekom het. Laasgenoemde was ook veeboere met dieselfde behoeftes as die Blankes, naamlik beter weivelde. Die probleem was dat hulle in ‘n suid-westelike rigting getrek het. Botsings tussen die twee groepe was dus onvermydelik. Dit het teen 1834-35 reeds tot ses grensoorloë gelei.

Die Engelse het die Kaapkolonie in 1806 permanent beset. Hoewel van hulle goewerneurs, soos Caledon (1807-1811), Cradock (1811-1814) en Somerset (1814-1826), probeer het om die grens tussen Blank en Swart af te baken (die Visrivier) en te beskerm, was dit nie suksesvol nie. Dit wat bogenoemde goewerneurs probeer doen het deur o.a. forte op die oewer van die Visrivier op te rig en die grens deur soldate te laat patrolleer, is later deur filantropiesgesinde goewerneurs soos Bourke (1826-1828) en Cole (1828-1833), ongedaan gemaak. Weens die gebrek aan effektiewe optrede deur die Engelse owerhede, het die Swartes ‘n al groter wordende gevaar vir die Blanke oosgrensboere geword.

DIE OORSAKE VAN DIE TREK

Daar was hoofsaaklik twee oorsake, naamlik finansieel en filantropies of anders gestel; materieel en ideologies. Die materiële of finansiële oorsake kan onderverdeel word in: 

1, ‘n Tekort aan grond/weiveld   

2, gebrek aan kapitaal   

3, te min arbeiders en   

4 die onveiligheid op die oosgrens.
Die ideologiese en filantropiese oorsake was: 

1, Gelykstelling met die gekleurdes   

2, geen sê in die regering nie en   

3 die hunkering na onafhanklikheid.

Een van die vernaamste oorsake van die Groot Trek, was die verskil tussen die grensboere en die filantropies-georiënteerde Engelse sendelinge en amptenare se siening van die gekleurdes. Die Blankes in die Kaap, veral dié op die oosgrens, se siening van en houding teenoor die Nie-Blankes (Swartes en Khoi-khoi) was op hulle jarelange ervaringe gebaseer. Twee lewensbeskouings het teen mekaar te staan gekom; dié van die Afrikaner en dié van die filantroop. Die Afrikaner was teen rassegelykheid, die filantroop daarenteen, het juis gelykheid tussen mens en mens beklemtoon.

Anders as die Blankes in die Kaapkolonie, is daar in Europa gedurende die 18de eeu met die ‘natuurvolke’ gedweep. Die gedagte van een ‘onverdeelbare mensheid’ waar alle mense ‘broeders’ is, is in dié eeu beklemtoon. Daar is ook met die sogenaamde ‘edele barbaar’, wat deur Jean Jacques Rousseau verkondig is, gedweep. Die Engelse amptenare en die sendelinge soos Philip, Read en Van der Kemp, het te veel vertroue in die onskuld en vreedsaamheid van die ‘edele barbaar’ gehad. As gevolg van hulle gebrekkige agtergrond en ervaringe, het hulle die ondergeskikte posisie van die inheemse volke in die Kaap veroordeel, die Blankes as die aangeklaagdes laat verskyn en die Afrikaner in die swartste kleure geskilder.

Daar kan slegs sydelings na sekere insidente verwys word wat, as gevolg van die sendelinge en filantropiesgesinde goewerneurs se invloed, tot die grensboere se ongelukkigheid gelei het en hulle uiteindelik laat trek het. Voorbeelde hiervan is o.a. die Ordonnansie van 1812, ook die Swarte Ommegang genoem, waar verskeie Blanke grensboere valslik van mishandeling van hulle Khoikhoi werkers beskuldig is. Hoewel al die aangeklaagdes deur ‘n rondgaande hof onskuldig bevind is, het dit tot groot ongelukkigheid gelei. Die Engelse se hantering van die Slagtersnek Opstand in 1815, waarna vyf leiers opgehang is, het die gemoedere verder opgesweep. Daarna het Ordonnansie 50 in 1828 gevolg. Dit het Blank en Nie-Blank op gelyke voet gestel waarteen, soos reeds gesê is, die Blankes sterk gekant was. Karel Trichardt, seun van die Trekkerleier Louis en Anna Steenkamp, ‘n Voortrekker vrou, het gelykstelling as een van die hoofoorsake van die trek genoem. Die Kaapkolonie was hoofsaaklik van slawe en Khoikhoi arbeiders afhanklik. Ordonnansie 50 het nie net die inboekstelsel nie maar ook die passtelsel afgeskaf. Dit het ernstige gevolge vir die verhoudung tussen werkgewer en werknemer gehad. Dit het ook ongekontroleerde rondloperheid en diefstal tot gevolg gehad.

Ander aanleidende oorsake was die verandering van die geldstelsel van riksdaalders na Britse ponde. Toe die Engelse die Kaap in 1806 permanent beset het, was ‘n riksdaalder vier sjielings werd. Teen 1814 het die waarde tot twee sjielings en drie pennies gedaal en in 1825 was een riksdaalder slegs een sjieling en ses pennies werd. As gevolg daarvan is die Blankes wat geld gespaar het, swaar getref en die waarde van hulle plase het ook gedaal.

Nog ‘n rede vir die Trek was die invoering van Engels (1822-1828) as die enigste offisiële taal. Vir meer as 80% van die Blanke bevolking het dit groot ongerief veroorsaak omdat hulle nie Engels magtig was nie.

Die grensboere het boonop geen sȇ in die regering gehad nie. Onder Kroonkoloniebestuur het die Goewerneur al die mag gehad.

Hy en sy amptenary het meestal onverskillig teenoor die grensboere se probleme gestaan en hulle grootliks onbeskermd gelaat.

Dit het die begeerte om die Kolonie te verlaat, al sterker laat word.

Met die vrystelling van die slawe in 1834, was daar 35,745 slawe met ‘n totale waarde van meer as drie miljoen pond.

Die Britse regering was egter net bereid om 1,250,000 pond uit te betaal, wat beteken het dat die slawe-eienaars slegs sowat ‘n derde van hulle slawe se waarde ontvang het.

Die Blankes, wat slawe-eienaars was, het hulle ten gunste van die geleidelike vrystelling verklaar.

Hulle was egter ontevrede oor die snelle wyse waarop dit geskied het en veral oor die onvoldoende vergoeding wat deur die regering aan hulle uitbetaal sou word, wat in elk geval slegs in Brittanje betaalbaar was.

Die Blankes, wat slegs ‘n paar slawe gehad het, kon dit nie bekostig om die geld in Brittanje te gaan haal nie. Die eise is derhalwe aan agente vir ‘n appel en ‘n ei verkoop.

Soos reeds genoem, was materiële faktore van die vernaamste redes vir die Trek. Die Kaapse regering het enige verdere gebiedsuitbreiding verbied omdat dit, volgens hulle, die Swartes van hulle grond sou beroof.

Dit het meegebring dat die groeiende getal grensboere met hulle uitgebreide veetroppe nie méér grond kon bekom nie.

Boonop is die leenpagstelsel na ‘n vrypagstelsel verander. Die oorskakeling het vir die grensboere addisionele uitgawes meegebring. Voortaan moes ‘n plaas op ‘n spesifieke persoon se naam geregistreer word.

Daarvoor was ‘n titelakte nodig, wat geld gekos het. ‘n Landmeter moes ook betaal word om die plase op te meet.

Dit was alles deel van die plan om die grensboere se neigings om al verder ooswaarts te trek, te stuit.

Sarel Celliers en Piet Uys maak albei daarvan melding dat die tekort aan grond en die probleme wat dit meegebring het, een van die hoofoorsake van die Trek was.

Die Oosgrens-oorloë het meegebring dat die grensboere groot verliese gely het as gevolg van die Khoi-khoi en Xhosas se voortdurende aanvalle en plundertogte.

Soos reeds gesê, het die Kaapse owerhede, as gevolg van finansiële en filantropiese redes, weinig gedoen om hulle te beskerm.

Tussen 1812 en 1835 was daar drie oorloë. Die Sesde Grensoorlog was die klimaks.

Terwyl die grensboere die owerheid van waens, trekvee en perde voorsien het, het hulle geen vergoeding daarvoor ontvang nie.

Tydens die oorlog het die boere ongeveer 300,000 pond skade gely maar slegs 15,000 pond vergoeding ontvang.

Boonop is al die blaam vir dié oorlog op die boere geplaas.

Piet Retief se Manifes, wat die hoofoorsake van die Trek saamvat, kan nie hier volledig aangehaal word nie.

Hy het egter o.a. gekla oor die aanhoudende plundering deur die Swartes wat die grensdistrikte verwoes en die meeste Blankes geruīneer het.

Hy skryf ook: ”Ons wanhoop daaraan om die Kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlike gedrag van vaebonde (Swartes), wat toegelaat word om die land in alle dele te verontrus”.

Deur noordwaarts na die ongetemde en onbekende binneland te trek, was gewis nie ‘n maklike besluit nie. Daar wou die Blanke grensboere vir hulle ‘n land vind, waar hulle sake volgens hulle eie siening kon gaan uitwerk, sonder inmenging van die kant van ‘n filantropies georiënteerde Engelse owerheid.

Artikel deur Suidland

 

Ons kyk na die Voortrekker leiers

Louis Tregardt 1783-1838

Louis Tregardt was ‘n kleinkind van Carl Gustav Tregard van Swede, wat omstreeks 1742 in die Kaap aangekom het en in 1744 met Susanna Kuun getroud is.

Louis is op 10.08.1783 in die distrik van Swellendam gebore en tree in 1810 met Martha Elisabeth Susanna Bouwer in die huwelik. Tien kinders is uit die huwelik gebore, waarvan vier volwassenheid bereik het: Carolus Johannes (1811-1901), Petrus Frederik (1819-1860), Louis Gustavus (1827-1891) en Anna Elizabeth (1832-1902).

Louis Tregardt se dagboek getuig van ‘n doelgerigte leier en vredemaker wat nie aarsel om sy medetrekkers te betig wanneer hy dit nodig ag nie. Sy gesonde gedagtes aangaande die uitoefening van sy vaderlike gesag wanneer sy seuns Karel en Pieta onenigheid het, en sy afkeer van dieremishandeling, spreek uit wat hy skryf. Sover bekend is Tregardt die enigste Voortrekkerleier wat ‘n dagboek tydens sy omswerwinge byhou. Sy joernaal is ‘n bron van kennis, sowel taalkundig as kultuurhistories, en wat betref kennis van toenmalige inboorlingstamme in Transvaal, die plante- en dierewereld, die bodemgesteldheid en die klimaatsomstandighed

Pieter Retief 1780-1838

Pieter Retief (gebore te Soetendal, Wamakersvallei (Wellington), 12.11.1780 – oorlede te Dinganestat (Mgungundhlovo), Zoeloeland, 6.2.1838), Voortrekkerleier, handelaar en grensboer, was die tweede seun van Jacobus Retief en sy vrou Debora Joubert. Sy oorgrootvader aan vaderskant, Francois Retief, en sy moeder se oorgrootvader, Pierre Joubert, het albei in 1688 in Suid-Afrika aangekom. Retief is op 14.7.1814 met die weduwee Magdalena Johanna Greyling (gebore De Wet) getroud. Hulle het vier kinders gehad: Debora Jacoba, Jacobus, Margaretha Magdalena en Pieter.

Piet Retief tree op as segsman om die owerhede van die grensboere se probleme te vergewis. Hy het lank gehoop dat ‘n verbetering in die toestande op die grens ‘n uitwaartse beweging onnodig sou maak. Toe die goewerneur, sir Benjamin D’Urban, die situasie vererger, stuur Retief sy Manifes aan die Grahamstown Journal, pak op en trek.

Piet Retief word beskryf as ”n galante heer en ‘n uitmuntende veldkornet’, ‘n stil, sterk mens, ‘n gebore leier en ‘n besadigde persoon met ‘n vasberade en kragdadige persoonlikheid.

Retief is een van die mees tragiese figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Deur sy opvoeding, intelligensie, ondernemingsgees en persoonlikheid is hy toegerus om uit te styg bo die gemiddelde en voorbestem om ‘n leier te word. Hy het dan ook daarin geslaag om die respek en vertroue af te dwing van almal wat hom geken het. Die Britse Setlaars het sy goedhartigheid, belangstelling en hulpvaardigheid geloof en die owerheid het in hom ‘n man met leiers-hoedanighede herken en dienooreenkomstig met hom gehandel.

Vir die boere op die oosgrens en later tydens die Groot Trek was hy die onbetwiste leier. Retief se betekenis in die geskiedenis lê grootliks in wat hy verpersoonlik het vir die vryheidsliewende Afrikaner.

Andries Hendrik Potgieter 1792-1852

Andries Hendrik Potgieter (gebore dist. Graaff-Reinet, 19.12.1792 – oorlede Schoemansdal, Soutpansberg, 16.12.1852), Voortrekkerleier, was die tweede seun van Hermanus Potgieter (1765-1871), ‘n veeboer in die distrik Graaff-Reinet, en sy vrou, Petronella Margaretha Krugel (gedoop 1773-1802).

Potgieter trou in Julie 1812 met ‘n nooi Botha, en teen die volgende jaar is sy vader en hy saam op die plaas Kommandodrif (Commandodrift) aan die Tarkarivier sowat vier-en-twintig myl oos van die huidige dorp Cradock gevestig. Hoewel daar geen portret van P. bestaan nie, moes hy, volgens oorlewering, opvallend van voorkoms gewees het: oor die ses voet lank, fors gebou, gespierd, beweeglik, ‘n onvergelyklike perderuiter en daarby skerpsinnig, rusteloos van aard, vervul met ‘n aggressiewe selfstandigheidsdrang en onafhanklikheidsgees wat aan die egosentriese grens; stug van aard, ‘n man van die daad met min woorde, beslis, en soms hardkoppig in sy optrede.

Potgieter bly ‘n omstrede figuur in die geskiedenis van die Groot Trek, deur vele bewierook en deur ewe veel veroordeel. Die waarheid lê waarskynlik tussen hierdie uiterstes. In afsondering word hy groot, gestaal in liggaam en gees deur ‘n natuur van uiterstes en in die botsing met die Xhosa. Individualis wat hy was, vind hy samewerking met sy gelykes of meerderes moeilik. Bedeeld met ‘n kragtige persoonlikheid en natuurlike leierstalente wat van hom tydens die ontplooiing van die Trek in Transvaal by uitstek die temmer van ‘n woeste land maak, val dit hom moeilik om hom aan andere ondergeskik te stel, en wen hy as ‘n onverskrokke baanbreker deur sy blote daadkrag die trou en die lojaliteit van baie van sy tydgenote.

Gerhardus Marthinus Maritz 1797-1838

Gerhardus Marthinus Maritz (Gert, Gerrit) (gebore dist. Graaff-Reinet, Maart 1797 – oorlede Maritzdam (Sooilaer), Klein-Tugela, Natal 23.9.1838), Voortrekkerleier, was die tweede seun uit ‘n gesin van sewe kinders en is gebore ten weste van die onderloop van die Groot Visrivier, in die Suurveld, destyds die suidoostelike uithoek van die Graaff-Reinetse distrik wat die swaarste moes ly onder die Xhosa-beroeringe. Sy vader was Salomon Maritz (1769? – 7.8.1828), kleinseun van die stamvader van die familie Maritz in Suid-Afrika, Jan Moritz Marits, wat in 1718 uit Barntrup, in die graafskap Lippe, Wes-Duitsland, aan die Kaap in diens van die V.O.C. aankom. Sy moeder was Maria Elisabeth Oosthuijsen (3.8.1777- 17.3.1846), dogter van Gerhardus Oosthuijsen, ‘n boer in die wyk Swartkopsrivier van die distrik Graaff-Reinet.

Ofskoon Maritz se loopbaan toon dat hy belangrike militêre prestasies behaal het, is sy vernaamste betekenis vir die Groot Trek geleë in die werk wat hy in verband met bestuur, administrasie en regspraak doen. Telkens tree hy op wanneer daar nuwe bestuurs-reëlings deur die Voortrekkers getref word; in die loop van die Groot Trek ondersoek hy die geldigheid van voorgenome huwelike, beredder boedels (wat veral na die Groot Moord baie nodig geword het), en oefen die regspraak uit. Hy is ‘n godsdienstige mens, demokraat in murg en been, en bowenal ook man van wet en orde. As besliste demokraat bots hy soms met Potgieter, die onverskrokke baanbreker, wat kind van die veld was en aan die eise van ‘n gevestigde maatskappy minder gewoond was. Dit is ook verstaanbaar dat daar soms wrywing voorkom tusen Maritz en Uys, want ‘n man met die oortuigings van Maritz kry uit die aard van die saak soms meningsverskille met Uys, ‘n dinamiese gees, maar iemand wat van die begin af ‘n eie koers volg.

Gert Maritz was ‘n man met ‘n sterk persoonlikheid, maar, soos met sulke mense dikwels die geval is, minder buigsaam van gees. Hy was ook nie ‘n man van baie geduld nie. As hy herhaaldelik teengestaan is in wat hy as sy goeie reg beskou het, of wat vir hom reg en behoorlik voorgekom het, kon hy opvlieënd word.

In die geskiedenis van die Groot Trek, daardie magtige gebeure van die Suid-Afrikaanse volksverlede, munt Maritz uit as ontwikkelde man van sy tyd, en simbool van wet en orde. Hy het sy dagtaak goed gedoen, al was dit ook dat hy op die oewers van die Klein Tugela hom ten slotte sterwend die versugting laat ontval het: ‘Dit is my gegaan soos Moses, ek het die beloofde land gesien, maar bewoon sal ek dit nie’

Petrus Lafras Uys (Piet) 1797-1838

Petrus Lafras Uys (Piet) (gebore te Potberg, dist. Swellendam (tans dist. Bredasdorp), gedoop 23.10.1797; oorlede te Italeni, Zoeloeland, 11.4.1838), Voortrekkerleier, was die derde en bekendste seun van die vyftien kinders van Jacobus Johannes Uys en sy vrou, Susanna Margaretha Moolman. Uys se vader was ‘n welvarende boer wat aanvanklik in die distrik Swellendam geboer het maar teen 1822 met sy groot gesin en ander familielede na die distrik Uitenhage verhuis het om hulle in die westelike Tsitsikammawyk te vestig.

Uys was ‘n ondernemende, dinamiese jong boer wat steeds nuwe probleme en plekke deurtastend ondersoek het vanaf sy plaas aan die Krommeriviermond waar sy familie by hom gewoon het. Later word hy ook in die oostelike Uitenhaagse wyk, Onder-Boesmansrivier, as beesboer aangetref. Daar verwerf hy ‘n wye vriendekring deurdat hy sowel Grahamstad as die dorp Uitenhage besoek en aan perderesies daar deelneem saam met, onder meer, Britse offisiere. Uys was fisies beweeglik, ‘n bedrewe ruiter en intellektueel wakker. Hy kon maklik met mense uit bale groepe en klasse in die oosgrensdistrikte kommunikeer. Daar het groot selfvertroue van die stewige, blonde jong leier uitgegaan wat hom in die kritieke jare op die vooraand van die Groot Trek van heelwat steun onder die beesboere op die Kaapse suidkus verseker het. Uys het met die probleme van Suider-Afrika geworstel en het ook kennis geneem van die lotgevalle van die viriele jong VSA.

Uys was die enigste vername Voortrekkerleier wat op die slagveld geval het. Sy dood en dié van sy seun, Dirkie, het hulle name in die geskiedskrywing van die Groot Trek verewig. Eers ná die slag by Bloedrivier (16.12.1838) is sy beendere versamel en op die familieplaas Uysdoorns by Pietermaritzburg begrawe. Later is hy op Weltevrede in die distrik Utrecht herbegrawe.

Uys het oor onbetwiste leiershoedanighede beskik en sy innemende persoonlikheid het hom in staat gestel om vir hom baie ondersteuners te wen. Tydens die grensoorloë in die Kaapkolonie en die strafekspedisie teen die Matebele het hy hom as onverskrokke krygsman onderskei en die agting van sy medeburgers verwerf. Sy onafhanklikheidsin wat soms as koppigheid vertolk is, het hom egter van erkende Trekleiers vervreem en daartoe bygedra om onenigheid onder die Trekkers te skep.

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius 1798-1853

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius (gebore te Graaff-Reinet, 27.11.1798 – oorlede te Grootplaats, dist. Pretoria, 23.7.1853), Voortrekkerleier, was die oudste van die vyf kinders van Marthinus Wessel Pretorius (19.10.1746-29.9.1831) en sy vrou Susanna Elizabeth Viljoen (1766-6.5.1844). Afgesien van halfbroers en halfsusters uit sy pa se eerste huwelik, was Andries se broers en suster: Johannes Lodewyk, Hercules, Susanna en Henning Petrus Nicolaas.

Pretorius is een van die grootste figure uit die Suid-Afrikaanse verlede. As Voortrekkerleier toring hy ver bo sy tydgenote uit, en as aanvoerder van die Afrikanerdom se stryd teen Britse imperialisme neem hy onder die negentiende eeuse staatsmanne sy plek naas S. J. P. Kruger in. Hy kom vir die eerste keer in openbare aansien toe hy in daardie donker dae na die dood van Pieter Retief met die leiding van die veldtog teen die Zoeloes belas word. In oomblikke van krisis is hy die persoon na wie die Boere opsien vir leiding, want al kan sy demokratiesgesinde volksgenote sy invloed in tye van rus en vrede bekamp, maak sy sterk persoonlikheid, sy helder denkvermoë, sy buitengewone redenaarstalent, sy besondere organisasievermoë en sy verbasende dryfkrag van hom ‘n natuurlike keuse wanneer die kragtige greep van ‘n sterk leier nodig word.

Met die slag by Bloedrivier verewig hy sy naam as krygsman, en in sy talryke gevegte daarna teen sowel Bantoe as Brit bewys hy nog eens sy krygstalent. Maar Pretorius se aanspraak op ‘n plek in die voorste ry van Suid-Afrika se historiese figure berus ook op sy prestasies as staatsman. In staatsaangeleenthede toon hy ‘n breër visie, ‘n skerper insig en ‘n groter vernuf as enige van sy tydgenote, en waar sy volksgenote se vryheidsin nog nie uitgegroei het tot ‘n ware nasionale bewussyn nie, is by hom reeds die eerste klanke van ‘n suiwer Afrikanernasionalisme hoorbaar. Sy eie staatkundige denkbeelde wentel veral om twee pole: samesmelting van al die Voortrekkers in een staat en algemeen-erkende onafhanklikheid vir daardie staat. Reeds binne twee maande na die verbreking van die Zoeloemag probeer Pretorius om al sy volksgenote wat buite die Kaapkolonie is, tot ‘n eenheid saam te snoer, en in die jare daarna beywer hy hom meer as enigiemand anders vir die staatkundige eenheid van die Voortrekkers.

Hy besef dat die krag wat in eensgesindheid lê, noodsaaklik is vir die afdwinging van die Voortrekkers se onafhanklikheid. Anders as A. H. Potgieter en die Lydenburgers, wat van mening is dat hulle die de facto onafhanklike bestaan wat hulle voer, kan behou deur alle kontak met die Britse owerheid te vermy, of as dit nie help nie verder te trek, besef Pretorius dat hierdie volstruis-politiek geen antwoord bied op die steeds noordwaarts skuiwende Britse gesag nie. Vir hom is dit duidelik dat ‘n dorsland in die weste en tsetsevlieë sowel as koors in die noorde en ooste geen verdere ontvlugting toelaat nie. Daarom is hy bereid om stelling in te neem teen die noordwaartse uitbreiding van Britse gesag en die staatkundige vryheid van sy volk desnoods met geweld af te dwing. Hoewel hy by Boomplaats faal, seëvier sy denkrigting by Sandrivier toe die Britte die onafhanklikheid van die landstreek ten noorde van die Vaalrivier erken. Daarmee span hy die kroon op sy strewe vir die staatkundige vryheid van die Afrikaners buite die Britse kolonies.

Pretorius was ‘n man van indrukwekkende voorkoms: goed bo die gemiddelde lengte, sterk en simmetries gebou.

Die Artikels gebruik in die program is die opinies van die onderskeie skrywers en weerspieël nie noodwendig die standpunt van SAUK NUUS radio nie.

 

So groet ek Corrie S tot Maandag aand die selfde plek dieselfde tyd

 

 

Enjoyed this post? Share it!