SAUK Nuus Brokkies 31 Augustus

Brokkies in die nuus vir die afgelope paar dae. Die Land is aan die brand met stakings en onluste en nog ‘n onderwerp wat beswaard op die gemoedere druk is Grondhervorming en grondeise

Artikel 1

Megaboer se miljardrand-kragsentrale sneuwel oor grondeise

ʼn Miljardrand-kragsentrale wat op mnr. Charl Senekal se plaas gebou sou word, is van die baan oor grondeise, waaroor hy die naweek ingelig is.

Planne om ’n kragsentrale van meer as R1 miljard  op die plaas van Mnr. Charl Senekal in die Mkuze-omgewing te bou, is van die baan nadat grondeise die projek laat sneuwel het.

Die bou van die kragsentrale sou oor sowat ’n week begin het, maar is gekanselleer nadat ’n grondeis op die grond waarop die kragsentrale gebou sou word aanhangig gemaak is.

Mnr. Charl Senekal, bekende suikerrietboer van die omgewing, en een van die vennote in die bou van dié kragsentrale, sê dat ’n amptenaar van die Departement Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling hom Vrydagaand, 20 Augustus per e-pos in kennis gestel het dat die grond waarop die kragsentrale gebou sou word, onder ’n grondeis val.

Die volgende dag en op Maandag 24 Augustus is Senekal Boerdery boonop van nóg grpndeise op sy plase in kennis gestel. Die grondeis raak sowat 3500 ha, wat die grond waarop die voorgenome kragsentrale gebou sou word insluit.

“Ná samesprekings met my familie het ons toe besluit om die kragsentrale-projek te staak. Ek meen dat nie ek of my vennoot ’n R1,1 miljard-kragsentrale kan bou op ’n stuk grond wat aan iemand anders behoort nie. Daar is wel sprake dat ons die grond kan huur, maar die termyn sou nie langer as 10 jaar duur nie. ‘n Kragsentrale is ‘n 80-jaar projek en indien iemand anders die grond sou boer en dit word nie so doeltreffend gedoen nie, sou die kragsentrale in elk geval seergekry het deur te min brandstof,” sê Senekal.

Hy het reeds sowat R30 miljoen aan die projek bestee. “Die beëindiging van die projek is een van die grootste teleurstellings in Senekal Boerdery se bestaan,” sê Senekal.

Die kragsentrale sou jaarliks sowat R10 miljoen aan die Mkuzi-gemeenskap bydra. “Daardie tipe geld kan mens nie uit daardie grond maak nie. Dit sou vir die boere in die omgewing ’n alternatiewe en aanvullende inkomste uit hulle suikerrietbedrywighede beteken het. Boonop was daar alreeds ook ander navrae om soortgelyke projekte in ander suiker-kwekende gebiede te vestig.

“Persoonlik voel ek baie skuldig teenoor die boere van Suid-Afrika dat so ’n mooi projek ten gronde moes gaan. Dit sou geweldig baie vir ons omgewing, ons provinsie en die land beteken het,” sê Senekal.

Die kragsentrale sou tydens die bouwerk sowat 400 nuwe werksgeleenthede in die omgewing skep en tydens sy operasionele leeftyd nóg 400 nuwe werksgeleenthede. Dit sou ’n totaal van 16,5 Megawatt elektrisiteit opwek wat aan die Suid-Afrikaanse kragnetwerk voorsien sou word.

Dit is die tweede keer wat Senekal ’n grondeis op sy grond kry. Tydens die vorige rondte van grondeise het Senekal ’n ondersoek deur professor De Beer en Hartmann laat doen om die grondigheid van die eis te bepaal. Die 800-bladsy verslag deur dié deskundiges het bevind dat die grondeis opportunisties is. “Daarom gaan ons hierdie grondeis verder in die hof beveg. Ons is baie optimisties dat ons die saak sal wen,” sê Senekal.

Bron Landbou

Land grab

Artikel 2

Cronin vra tranegeld met onteiening

Met die onteiening van grond moet tranegeld, of vergoeding vir emosionele verlies, oorweeg word, meen mnr. Jeremy Cronin.

Die moontlikheid dat tranegeld (vergoeding vir emo­sionele verlies) steeds van toepassing sal wees wanneer die gewysigde wetsontwerp op onteiening van krag word, is nie uitgesluit nie.

Mnr. Jeremy Cronin, adjunkminister van openbare werke, het by die besprekings oor die kommentare wat by die openbare verhore oor die wetsontwerp uitgekom het, beklemtoon dat die kwessie oor vergoeding gelaat moet word by billike en regverdige vergoeding soos in die Grondwet vervat.

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) het by die verhore gewaarsku dat indien markwaarde nie by vergoeding geld nie, die reg van die eienaars en verbandhouers ondermyn sal word en belegging ontmoedig sal word. Agri SA staan ook vergoeding volgens markwaarde voor.

Cronin het aan die portefeuljekomitee verduidelik dat die Grondwet se formulering gebruik is vir die klousule oor vergoeding. Hulle het nie meer besonderhede oor hoe die vergoeding bereken moet word, ingesluit nie omdat dit nie gepas sal wees om die howe en die waardeerder-generaal voor te sê oor wat die Grondwet met billike en regverdige vergoeding bedoel nie. Hierdie vertolking moet aan die hof oorgelaat word.

Volgens die wetsontwerp kan ’n eienaar hom na die hof wend as daar nie oor die vergoedingsbedrag ooreengekom kan word nie.

Moontlikheid van tranegeld
In die bestaande Wet op Onteiening (Wet 63 van 1975) is voorsiening vir tranegeld gemaak. Die maksimum plafon hiervoor is op R55 000 gestel.

Cronin het ter voorbeeld gesê dat arm gemeenskappe onteien kan word sodat ’n dam gebou kan word en die markwaarde van die huise waarin hulle bly, gaan nie werklik vergoed vir die verlies wat hulle sal ly nie en daarom sal gekyk moet word om hulle op ’n manier beter te vergoed.

Artikel 25.3 van die Grondwet bepaal dat, in die geval van onteiening, die vergoeding sowel as die tyd en manier van betaling regverdig en billik moet wees én maak ook op ’n manier voorsiening vir tranegeld as daar emosionele ontwrigting was.

Me. Annelize Crosby, regs- en beleidsadviseur van Agri SA, het verduidelik waarom Agri SA wil sien dat daar uitdruklik oor gevolgskade in die wetsontwerp verwys moet word. “Onthou dat die boer nie nét sy grond verloor nie. “Hy verloor sy manier om ’n lewe te maak, sy skakel met die markte en insetverskaffers wat hy oor ’n lang tyd opgebou het en boonop kan daar bykomende koste wees, soos kuddes wat verskuif moet word.”

Bron Landbou

Artikel 3

Hervorming “vorder” in Wes-Kaap

Die Wes-Kaap is aan die voorfront van restitusie en die afhandeling van grondeise, luidens ’n mediaverklaring.

Volgens die Kommissie op Grondrestitusie en –regte (CRLR) se jaarverslag het die Wes-Kaap die meeste grondeise in Suid-Afrika geskik. ’n Totaal van 194 grondeise ter waarde van R1.5 miljard is afgehandel en het meestal betrekking tot stedelike grond.

Hoewel die meeste eise nie in landelike gebiede gemaak is nie, sê die Demokratiese Alliansie (DA) dat hy grondhervorming in die landbousektor ook wil bespoedeig. Die provinsie is vasbeslote om ’n suksessyfer van 70% vir grondeise te bereik oor die volgende vyf jaar en het sy begroting om dié doel te bereik met 44% vergroot.

Die DA meen sy sukses met grondhervorming is in skrille kontras met die nasionale Regering se rekord. Luidens ’n mediaverklaring faal die Regering op dié gebied, met 92% van hervormingsprojekte wat onsuksesvol is.

Bron Landbou

Artikel 4

Regering se agenda vir bemagtiging is nie noodwendig wat plaaswerkers wil hê nie.

Wanneer plaaswerkers om groter werkgeleenthede pleit, kom die Regering met nuwe wetgewing wat dit vir die werkergewer nóg moeiliker maak om sy werksmag te vermeerder, het mnr. Doug Stern, nuwe voorsitter van Agri Oos-Kaap en voorsitter van die organisasie se komitee vir maatskaplike aangeleenthede, op die kongres by Mentorskraal, Jeffreysbaai, gesê.

Stern het gesê hoewel dit belangrik is dat werkers nie uitgebuit word nie, die Regering ’n ander agenda het as dit by hul welstand kom. “Dit is waarom plaaswerkers wat nie lede van vakbonde is nie, nie juis welkom is op vergaderings wat deur die regering gereël word nie.”

Volgens Stern slaag die unies wat by Cosatu geaffilieer is, daarin om op die rug van die bogemiddelde salarisverhogings wat staatsamptenare ontvang, ook vir hul lede goeie verhogings te beding. “Die feit dat 40% van die bevolking egter werkloos is, is ’n aanduiding hoe markkragte negeer word. Stygende loonvlakke met ’n gepaardgaande afname in produktiwiteit, is ’n selfvernietigende kombinasie. In die geval van die landbou het lone sedert 2007 reeds met 60% sonder ’n gepaardgaande toename in produktiwiteit gestyg.”

Met verwysing na ’n verdere verhoging in die minimum lone van plaaswerkers, meen Stern dat ’n volgehou groeikoers van tot 10% nodig sal wees om dit te regverdig.

“As die Regering inderdaad ernstig is oor werkloosheid, sal hy individue toelaat om hul arbeid teen markverwante pryse te verkoop. Logies gesproke behoort die ekonomie te bepaal wanneer hoër lone geregverdig is. Dit sal slegs gebeur wanneer daar ’n skaarste aan werkers is.”

Artikel 5

‘n nog ‘n voorbeeld van die belaglike sirkus wat grondeise in Suid-Afrika afgee, berig “Vryburger” vanoggend oor ‘n probleem wat Arnold Pistorius het om R3 miljoen rand te kry wat aan hom geskuld word. En of dit nie genoeg is dat hulle hom ‘n hoop geld skuld nie, eis hulle nou nog dit wat hy oorhet ook! Arnold moet maar onthou hoe dit werk – wat jy vir die voorheen benadeelde “leen” word mos maar as afgeskryf beskou. Ek wil nog sien of hy sy geld gaan kry:

Geld vir wild en toerusting wat ‘n swart stam aan Oscar Pistorius se oom, Arnold, moes betaal en nie gedoen het nie, het nou ‘n draai in die Bloemfonteinse appélhof gemaak.

Die stam aan wie die grond gegee is, skuld Pistorius en sy twee vennote R3 miljoen vir wild en toerusting op die plase, maar na sewe jaar is daar nog nie ‘n sent terugbetaal nie.

‘n Volbank van die Pretoriase hoog­geregshof het in Maart vanjaar beslis dat die Mashishimane-stam hul skuld aan Pistorius-hulle moet betaal. Die stam maak kapsie en vra nou die appèlhof in Bloemfontein om dié bevel ter syde te stel.

Die Mashishimane-stam van Phalaborwa, het 11 plase ter waarde van R160 miljoen in 2007 van die regering gekry.

Volgens hulle regsverteenwoordiger, Ferdie Hartzenberg is n staatstoelae van R15 miljoen aan die stam uitbetaal, maar dit was uitsluitlik vir die bou van die drie luukse lodges in die Marakapula-reservaat.

Hy reken dat die stam het die potensiaal om Suid-Afrika se eerste suksesvolle grondeisstorie te word aangesien hulle die afgelope jaar n huurkontrak met n Spanjaard gesluit wat beplan om jagtogte vir toeriste reël.
Dié stam het nou boonop n grondeis ingedien op een van die laaste twee plase wat Pisto­rius in die omgewing besit.

Die Vryburger

Artikel 6

Kommersialisering is ’n grondvergryp, sê kenners

Catherine Sasman – Toenemende belang­stelling van plaaslike en buitelandse beleggers om kommersiële projekte in kommunale gebiede te begin, bedreig die bestaansreg van bewoners in hierdie gebiede aangesien hulle grootskaalse grondverliese en ontworteling in die gesig staar.
’n Onlangse publikasie van die Instituut vir Armoede, Grond en Landboustudies (PLAAS) by die Universiteit van Wes-Kaapland in Suid-Afrika, “Grootskaalse grondhandel in Suider-Afrika: Stemme van die Mense”, dui op ’n dramatiese groei in groot grondtransaksies nie net in die streek nie, maar ook wêreldwyd.
Die aanvang van hierdie “globale grondstormloop” soos dit nou bekend staan, het gedurende 2007 en 2008 begin as gevolg van skerp stygings in voedselpryse, die wêreldwye ekonomiese instorting in 2008, die wisselvalligheid van brandstofpryse en die toenemende belangstelling in bio-brandstowwe.
Volgens PLAAS word die gretige verskuiwing van plaaslike en buitelandse beleggers na boerdery en ander ondernemings in kommunale gebiede aan die een kant verwelkom, maar ook gekritiseer as vermomde grondvergrype. Prof. Ruth Hall, verbonde aan PLAAS, sê sulke grondvergrype word weggesteek met politieke terme soos “grootskaalse grondaankope”, “stygende belangstelling in plaasgrond” en “verantwoordelike beleggings in landbou”.
Afrika-lande is veral ontvanklik vir hierdie nuwe vorm van grondvergrype.
Ter illustrasie is die sentrale Guinee savanna-sone as ’n “enorme onderbenutte grondreserwe” in die 2009-verslag van die Wêreldbank beskryf, ondanks die feit dat daar duidelike bewyse is dat hierdie grond besit, gebruik en beset word.
Hall sê dit is omdat gebruiklike grondbesitregte nie deur regerings én beleggers erken word nie. Gebruiksregte word ook nie behoorlik in wette of in die praktyk geken nie.
In 2010 het die Wêreldbank verslag gedoen dat 50% van grootskaalse grond­aankope in Afrika plaasvind met lande op ander vastelande wat hier grond koop vir hul eie behoeftes aan kos, brandstof en geld. Dit is gewoonlik Asiatiese lande (vir kos), die Golfstate (brandstof), sowel as Europese en Noord-Amerikaanse banke, finansiers en soewereine fondse wat reageer op finansiële krisisse by die huis.
Hall sê al hierdie beleggers is in vennootskappe met Afrika-regerings en/of plaaslike vennote.
PLAAS het in 2013 die Regshulpsentrum (LAC) genader om ’n ondersoek oor grootskaalse grondtransaksies en die gevolge hiervan in kommunale gebiede te doen.
Mnr. Theodor Muduva van die LAC sê met die ondersoek het hulle bewus geword van voorstelle van buitelandse landbou-ondernemings wat groot­skaalse besproeiïngsprojekte, veral in die waterryke noordoostelike gebiede in Namibië, wil begin. Die LAC het vier potensiële projekte in Kavango-Oos en Zambezi ondersoek, wat in omvang van net minder as 800 hektaar tot bykans 30 000 hektaar wissel.
Beleggers het aangedui dat hulle kontantgewasse soos mielies, grondbone, koring, groente en lusern wil verbou, en het werkskepping, oordrag van vaardighede, voedselveiligheid en vergoeding aan tradisionele owerhede beloof. Muduva sê egter dat geaffekteerde gemeenskappe gewoonlik in die duister oor vergoeding gehou word en dat hulle nie geraadpleeg word nie. Raadpleging vind op hoër vlakke, met tradisionele leiers en plaaslike politici, plaas.
Tradisionele leiers word nie noodwendig deur hul onderdane verkies nie en plaaslike politici het ingevolge die hervormde wet op kommunale grond geen mandaat oor kommunale grond nie. Om sake te vererger, verstaan gemeen­skappe gewoonlik nie die wette nie.
Muduva sê daar is ook gerugte van omkopery en korrupsie, dat omgewingstudies nie gedoen is nie of vertraag word, en vertragings in die uitvoering van die projekte veroorsaak frustrasie en verwarring.
Omdat die LAC-ondersoek nog nie afgehandel is nie en weens navorsings­etiek wou hy nie die beleggers se name noem nie. Hy het egter dié van die Katonda-projek in Kavango-Oos genoem omdat hierdie projek intussen heeltemal gestaak is.

KATONDA-PROJEK
Demeter International, of Dem-Inter, ’n maatskappy wat in 2004 gevorm is om groot plase namens beleggers in Rusland te bestuur, het na Suider-Afrika uitgebrei.
In Namibië het dit ’n vennootskap met die Labour Investment Holdings (LIH), die besigheidsarm van die Swapo-geaffilieerde Nasionale Unie van Namibiese Werkers (NUNW) aangegaan en die LIH Demeter Agribusiness (LDA) gevorm.
LDA wou ’n landbouprojek in die Bwabwata Nasionale Park in die Mukwe-kiesafdeling in Kavango-Oos op 10 000 hektaar begin. Dit het ’n 25-jaar huurooreenkoms met die Hambukushu tradisionele owerheid beklink. Die tradisionele owerheid het ’n 15% aandeel ter waarde van N$20 miljoen in die onderneming gekry.
Die projek was egter van die begin in omstredenheid gehul aangesien dit sou beteken dat die Khwe San, die meerderheid inwoners in die park, hervestig moes word. Die Hambukushu tradisionele owerheid erken nie die status van die nasionale park nie en nog minder die grondeise van die Khwe San.
Die Khwe San en ander plaaslike en buitelandse drukgroepe het ook kommer oor die beskerming van die natuurlike omgewing aangehaal, sowel as die feit dat die San nie geraadpleeg is nie.

FUMU MBAMBO-­BESPROEIINGSPROJEK
Hierdie projek is deur ’n plaaslike onderwyser en godsdiensleier aan ’n bekende besigheidsman in die Kavango-Oos voorgestel.
Dit is na die leier van die Hambukushu, hoofman Erwin Munika Mbambo, vernoem en is op 891 hektaar naby die Bagani-nedersetting ongeveer 200 kilometer oos van Rundu geleë.
Muduva sê hoewel alle wetlike vereistes vir die verhuring van die grond nagekom is, is die uitvoering van die projek weens kwessies in die omgewingsimpakstudie vertraag.
Die 38 gemeenskapslede wat gedwing was om hul grond op te gee, is nog nie vergoed nie en het nog niks van die beloofde voordele gesien nie.

NDIYONA MILLS­BESPROEIINGSPROJEK
Muduva sê hierdie is die mees omstrede projek wat die plaaslike gemeenskap diep verdeel het.
Diegene wat gekant is teen die projek, die geleerdes in die gemeenskap, sê daar was geen raadpleging nie en hulle is bekommerd oor toekomstige grondregte. Diegene wat die projek ondersteun, die werklose jeug en bejaardes, sê die projek sal broodnodige werk skep.
Daar is gerugte dat die raadslid van die Ndiyona-kiesafdeling, me. Hildegard Mangundi, die voormalige goewerneur van die Kavangostreek, wyle mnr. Marius Nekaro, die hoof van die Gciriku tradisionele owerheid, mnr. Kassium Shiyambi, en ’n plaaslike hoofvrou (headwoman) ’n ooreenkoms met ’n Suid-Afrikaanse maatskappy vir ’n private landbouprojek aangegaan het.
Die Namibiese verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse maatskappy beweer egter dat hy die enigste aansoeker is en ontken enige betrokkenheid van die Suid-Afrikaanse maatskappy.
Aanvanklik is 2 000 hektaar aangebied, maar ná ’n openbare protes wat gelei het tot ’n ondersoek deur die ministerie van grondhervorming en hervestiging in 2013, is die belegger genoodsaak om slegs om 778 hektaar aansoek te doen. Die ministerie se ondersoek het bevind dat wetlike prosedures nie aanvanklik gevolg is nie. Die belegger se aansoek het egter in 2014 aan die wetlike vereistes voldoen.
Die groep wat gekant is teen die projek, baklei steeds om ’n stokkie daarvoor te steek en in die middel van vanjaar was daar nog geen verdere ontwikkelings nie.

NAMIBIA AGRICULTURE RENEWABLES (NAR)
’n Huurkontrak is in 2010 met ’n Namibiese belegger aangegaan vir 29 873 hektaar in die Sibbinda-kiesafdeling in die Zambezistreek vir ’n landbouprojek langs die Zambezirivier met lusern as hoofgewas.
Die huurkontrak het intussen verval, maar Muduva sê die tradisionele owerheid het vir ’n verlenging die kontrak gevra ondanks die feit dat die Namibiese belegger “geheimsinnig verdwyn het”. Muduva sê ook die plaaslike gemeenskap was nie geraadpleeg nie. Gemeen­skappe in Sibbinda, Mazoba, Lusu, Masokotwane, Muketela, Linyati en Chinchimane word geraak.
Die ministerie van grondhervorming het vanjaar gesê dit oorweeg nou die omgewing vir sy program vir infrastruktuurontwikkeling in kommunale gebiede.

Die Republikein

 

 

 

Enjoyed this post? Share it!