SAUK Nuus Brokkies 7 September


Ons kyk vanaand na Brokkies in die nuus

Artikel 1
Thazbazimbi sonder Noodvoertuie

Thabazimbi sit sonder noodvoertuie insluitende ambulanse, munisipale voertuie wat vullis verwyder en water na die area toe aanry,

Die balju van Thabazimbi, mnr. Pieter Rossouw, het Donderdag, 3 September 2015 ‘n lasbrief op die Thabazimbi Munisipaliteit beteken en het op verskeie voertuie beslag gelê terwyl Joe Modiga, vlootbestuurder, toekyk.

Joshua Motsomane, munisipale woordvoerder, het alle navrae na Cornelius Booysen, waarnemende munisipale bestuurder, verwys maar nie hy of Pat Khunou, die finansiële adviseur wat deur die Limpopo regering gestuur is om die munisipaliteit se geldsake reg te ruk, was voor saktyd beskikbaar nie.
Die DA Thabazimbi het Donderdagmiddag die volgende boodskap op sy Facebook-blad geplaas:
“Die laaste voertuie in die besit van die munisipaliteit is vandag deur die balju verwyder, onder andere die watertrok, trekker en vullisverwyderingsvragmotor. Die skuldeiser, Quantibuild, word meer as R3 milj. deur die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit geskuld.” –  Platinim Bushvelder 4 Sept 15

 

Artikel 2

Rolspelers Moet Begin Regmaak vir Werkverliese

 

Loononderhandelinge vir goud- en steenkoolmyne stuur geleidelik op ’n staking af wat tot werkverliese vir etlike duisende mynwerkers in goudmyne gaan lei.

Die mededinging tussen die National Union of Minework­ers (NUM) en die Association of Mineworkers & Construc-t­ion Union (Amcu) het Saterdag weer ’n protesoptog van die NUM se hoofkantoor na die Kamer van Mynwese se hoofkantoor in die Johannesburgse middestad oorheers. Maar een van die land se voorste kenners van die goudmyne, Roger Dixon van SRK Consulting, het die naweek gewaarsku dat rolspelers in goudmyne liewer moet begin voorberei vir “formidabele maatskaplike en omgewings-vraagstukke wat die onafwendbare sluiting van die myne gaan meebring”.

“Goudmyne in Suid-Afrika is in hul skemerjare en dis wensdenkery om te dink dat ’n kitsoplossing soos meganisering dit gaan verander volgens Dixon. Saterdag se protesoptog, waaraan sowat 500 goud- en steenkoolwerkers deelgeneem het, was om die NUM se looneise in die onderhandelinge te ondersteun, maar toesprake by die optog en die vakbond se protesnota het meer gekla oor voorregte wat hy verloor as gevolg van Amcu se groei as oor die lone van sy lede.

Die verlies aan voorregte, soos sekonderingsooreenkomste wat toelaat dat mynwerkers heeltyds in vakbondstrukture ontplooi word, en die “manipulasie” van ledetalle wat die NUM glo benadeel, was die hooftema van ’n toespraak wat Joseph Montisetsi, visepresident van die NUM, van die bak van ’n vragmotor gelewer het voordat hy sy protes­nota aan dr. Elize Stry­dom, hoofonderhandelaar van die Kamer van Mynwese se goudmyne, oorhandig het. Montisetsi het die Kamer beskuldig van “stelselmatige aanvalle” op die NUM en sy lede.

Strydom het die vakbond se memorandum onderteken en die protesterende vakbondlede daarna in ’n kort toespraak meegedeel dat die Kamer van Mynwese die dispuut so gou moontlik wil afhandel. Die NUM, wat 53% van die sowat 100 000 werkers in goudmyne verteenwoordig, eis dat die huidige basiese intreevlak-loon van sowat R5 700 per maand tot R10 500 verhoog word. Amcu, wat 31% van die werkers verteenwoordig, eis dat die basiese loon tot R12 500 verhoog word – die vlak wat stakende platinumwerkers geëis het voordat 37 van hulle op 12 Augustus 2012 by Marikana doodgeskiet is.

Die twee vakbonde probeer mekaar met looneise uitoorlê om lede te werf. Hoewel die NUM nog die meerderheid verteenwoordig, is sy steun geleidelik besig om te taan. Sy koukus was diep verdeeld oor die Kamer se mees onlangse loonaanbod vir verhogings van 18% wat op 13 Augustus verwerp is. ’n Faksie onder leiding van die vakbond se hoofsekretaris, David Siphunzi, wou die aanbod glo aanvaar, maar dit is deur die res van die koukus verwerp.

Siphunzi het geen toespraak gelewer by Saterdag se protesoptog nie, hoewel hy aan die optog deelgeneem het. ’n Bemiddelingsvergadering word op 14 September deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gehou om die dispuut tussen die Kamer en die vakbonde in die mynbedryf te probeer oplos. Dis ’n proses wat gevolg moet word voordat die vakbonde met ’n beskermde staking kan begin – Afrikaanse Nuus September 7, 2015

 

Artikel 3

Blik na buite. Sjina trek wêreldekonomie en Suid-Afrika af.

Ons sien tans ‘n domino-effek wat weereens die nadele van ‘n totaal met mekaar verweefde globale ekonomie wys. Al vir dekades rig omtrent elke land sy ekonomiese strategie op Sjina uit en probeer om by die land se geweldige ekonomiese groei baat te vind deur sy produkte na Sjina uit te voer en goedkoop produkte uit Sjina in te voer. Sjina se ekonomiese model werk tans so: die land produseer feitlik alles, veral swakker gehalte massa-produkte soos huishoudelike goed en klere, maar selfs motors. Daarvoor is rustowwe nodig waarvan Sjina self te min het en Sjina voer ook kos in want die land kan nie self sy groot bevolking wat toenemend verstedelik, voed nie. Daarby het Derdewêreld en hulpbron-gebaseerde ekonomieë gebaat soos Rusland (olie), Suid-Amerika (voedsel, minerale) en Afrika (minerale). In ruil voer Sjina alles uit wat die land produseer en maak die plaaslike nywerhede dood.

Suid-Afrika is ‘n tipiese voorbeeld: steenkool en ystererts en ander minerale word onverwerk na Sjina uitgevoer en verwerkte verbruikersgoedere word ingevoer. Suid-Afrika, eens ‘n nywerheidsland met ‘n breë produksiebasis, het gedaal tot ‘n Derde Wêreld uitvoerder van onverwerkte hulpbronne. Die ironie van die saak is dat Suid-Afrika onder ‘n ANC-regering eintlik in dieselfde koloniale afhanklikheid teenoor Sjina verval soos vroeër teenoor Brittanje en dat dit die “rassistiese” NP was wat Suid-Afrika ekonomies bevry het.

Omdat Sjina vir lank so baie hulpbronne ingevoer het en die Suid-Afrikaanse mynbedryf so goed gevaar het dat die agteruitgang van die vervaardiging daardeur oorskadu is. Nou, waar Sjina se ekonomie stadiger groei en sy aandelemarkte tuimel, word minder hulpbronne ingevoer. Om die ekonomie weer te “kickstart” het Sjina sy geldeenheid Yuan gedevalueer wat beteken dat die land se uitvoerprodukte nog goedkoper raak, maar dat minder betaal word vir invoere. Dit tref Suid-Afrika dubbeld hard. Ook ontwikkelde en opkomende lande wie se ekonomie sterk aan Sjina s ’n gekoppel is, soos Singapoer, Indonesië, Indië, Turkye en Suid-Korea het slae gekry. Al state wat nie so erg geraak word deur ‘n Sjina wat stoom verloor is gevorderde nywerheidslande, wat hoë gehalte produkte produseer waarmee Sjina nie kan meeding nie, soos spesialis tegnologie en gevorderde masjinerie, by name lande soos die VSA, Duitsland en Japan.

Die uitwerking van lae rentekoerse en die aandele-borrel tref die wêreldmarkte ook nou: die wêreldekonomie toon al vir geruime tyd tekens van agteruitgang, maar die politici en internasionale instellings soos die IMF en die Amerikaanse Fed asook die Europese Reserwebank wou die ekonomiese siklus van opgang en val en heropstanding verander in een van permanente groei deur rentekoerse tot feitlik nul te verlaag om investering aan te moedig. Pleks daarvan is te dikwels verbruik aangemoedig (wat ons ook in Suid-Afrika by uitstek in die eerste dekade na 2000 gesien het) en mense ontmoedig om te spaar. Die reserwebanke het geld beskikbaar gestel op skuld en mense het eerder as om hulle geld te bank waar hulle feitlik geen rente verdien nie, aandele gekoop. Die aandelebeurse wêreldwyd het geweldig gegroei, maar nie omdat die maatskappye so goed gedoen het nie, maar omdat te veel geld na die aandelemarkte gevloei het en ‘n kunsmatige groei geskep is sonder die nodige substansie.

Die enigste ligpunt is tans die lae olieprys, wat natuurlik ook deur Sjina se verminderde vraag, asook stabile produksie van die olielande veroorsaak word. Dit baat veral Derdewêreldlande en behoort vervoer, wat alle pryse beïnvloed, goedkoper te maak. In die geval van Suid-Afrika word die effek egter deur die swak Rand grootliks ongedaan gemaak. ‘n Swak Rand was vroeër goed vir uitvoere, maar aangesien Suid-Afrika sy uitvoerbasis so vernou het dat feitlik niks meer uitgevoer word behalwe hulpbronne en alles ingevoer word, is dit slegte nuus en maak invoere net duurder en beteken minder inkomste uit uitvoere. Toerisme kan wel by ‘n lae Rand baat maar selfs toerisme het die laaste tyd agteruitgegaan en die waardeskepping van toerisme is redelik laag en ‘n tipiese kwesbare Derde Wêreld bedryf.

Wat egter ook in gedagte gehou moet word, is dat regstellings in die vryemark normaal is. 2008 het ‘n regstelling plaasgevind weens ‘n borrel in eiendomme in die VSA wat uitgekring het na die wêreldekonomie toe. Enige mens en enige land wat skuld het, is besonder kwesbaar vir hierdie soort skommelinge. Vir Ons in SA moet die les wees om minder afhanklik van invoere te wees en om meer self te produseer, pleks om onverwerkte landbouprodukte uit te voer en verder alles in te voer. Dit was in elk geval onrealisties om te dink dat Sjina drie dekades aanmekaar groei van meer as 8% toon. Sjina begin nou ‘n vlak te bereik waar groei net nog matig is, omdat die meeste mense nou middelklasvlak bereik het en geen opspraakwekkende groei meer kan plaasvind nie. Die “inhaaleffek” wanneer ‘n Derdewêreldland verander in ‘n oorgangsland of selfs Eerstewêreldland, beteken sterk ekonomiese groei, maar as die vlak bereik is, volg gewoonlik stagnasie. Ook Japan het ’n soortgelyke scenario beleef sowat 30 jaar vroeër. Japan in die 1970’s en 1980’s was dit wat Sjina nou is. In die 1990’s was Japan se groei verby omdat die land die vlak van ‘n Eerstewêreldland bereik het. Ook die hoë skuldvlakke het Japan se groei gebriek, soos wat dit Sjina nou briek. Ook lande soos die VSA en Duitsland groei selde meer as 2% per jaar. Dit was ‘n fout om jou ekonomie ‘n satelliet van slegs een land te maak. In tye van die ekonomiese agteruitgang van moondhede soos die VSA, Rusland en die EU was Sjina die lig wat die motte aangetrek het. As Sjina nou sukkel, bly geen toevlug meer oor nie. Lande moet dalk weer besin oor hulle eie sterkpunte en minder afhanklik van uitvoer wees.

Orania Nuus

 

Artikel 4
Kongresmosies van AfriForum

Op die algemene nasionale kongres van AfriForum op 28-29 Augustus 2015 by Klein-Kariba, is o.m. die volgende mosies deur meer as 400 lede verteenwoordigend van 150 plaaslike strukture van regoor SA aanvaar: Waar en wanneer radikale groepe soos die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) poog om grond te gryp, sal AfriForum gemeenskappe mobiliseer én verseker dat grondeienaars se regte deur regsaksies beskerm word. Buurtwagte sal ook gebruik word om AfriForum-lede se veiligheid te verseker / Staatsafhanklikheid moet deur gemeenskapselfstandigheid vervang word / AfriForum sal hom nie deur politieke korrektheid laat voorskryf nie, maar sal sorg dat sy optrede altyd moreel regverdigbaar is / Hoewel AfriForum ’n bepaalde fokus op Afrikaners as minderheidsgroep het, impliseer dit nie dat AfriForum in vyandskap met enige ander gemeenskap funksioneer nie. Inteendeel, AfriForum se nasionale en plaaslike strukture sal daarna streef om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder.

Artikel 5
Totale aanslag teen Afrikaans op tersiêre kampusse

Daar woed tans duidelik ‘n totale aanslag teen Afrikaans as onderrigtaal op tersiêre kampusse in die land. Te Potchefstroom probeer oorhoofse NWU rektor Dan Kgwadi, gerugsteun deur Minister van Hoër Onderwys Blade Nzimande, sy bes om alle spore van Afrikaanse kultuur en Afrikaans as onderrigtaal weg te “transformeer”. Hierin word hy teengestaan deur die rektor van die Potch kampus, prof. Herman van Schalkwyk, bygestaan deur proff. Fika van Rensburg en Rantoa Letsosa, wat ‘n brief aan Kgwadi gestuur het en vir hom gesê het dat sy voorgestelde model tot mislukking gedoem is. Intussen het opponerende studentegroepe op die Potch kampus gewelddadig slaags geraak en moes die Polisie tussenbeide tree – die eerste keer in die geskiedenis dat dit gebeur het. Te Stellenbosch het ‘n groepie georkestreerde anti-Afrikaanse studente ‘n rassistiese video getiteld “Luister” die lig laat sien en wat tot soveel stofopskop gelei het dat die US-bestuur nou gedaag is om hul sg. transformasiestrategie direk aan die Parlement te gaan verduidelik. Te Bloemfontein het rektor Jonathan Jansen ‘n kwalik-bedekte ondersoek gelas na Afrikaans as onderrigmedium by die Universiteit van die Vrystaat en vir hierdie doel ‘n sg. Taalraad aangestel, die name waarvan die UV weier om bekend te maak. By Elsenburg Landboukollege is klasse tyelik gestaak nadat opponerende studentegroepe ook gewelddadig gebots het oor Afrikaans as onderrigtaal by die kollege.
Artikel 6

230 miljoen kubieke meter water vermors

Vrystaat Landbou (VL) wys in ‘n mediaverklaring daarop dat volgens ’n verslag van die Departement van Waterwese getiteld Orange River System: Annual Operation Analysis 2015 – 2016 – July 2015 Monthly Monitoring Report is 230 miljoen kubieke meter water gedurende Mei 2015 in die Oranjerivierstelsel vermors toe dit vir 10 dae lank gestort uit die Vanderkloofdam nadat vroeër te veel water uit die Gariepdam vrygelaat is. Blykbaar was een van die redes vir die groter hoeveelhede water wat vrygestel is, om hidrokragopwekking te bevorder weens die nasionale kragkrisis. VL wys egter daarop dat voedselproduksie in die land ernstig bedreig kan word deur ‘n tekort aan water en kon met hierdie vermorste hoeveelheid water sowat 23 000 ha besproei word, wat meer as 322 000 ton mielies sou kon lewer, teen ‘n waarde van
R966 miljoen. Vir meer besonderhede, kontak dr. Jack Armour by 051 4444 609 of Roelf Jacobs by 083 704 0740.

Artikel 7
EFF-grondbesetting gestuit

ʼn Hofbevel teen die onwettige besetting van grond deur EFF- en AMCU-ondersteuners op die  Rooikoppies-plotte by Buffelspoort in Noordwes is in die Mafikeng-hooggeregshof deur AfriForum  bekom. Dit volg nadat die eienaar, Johan van de Merwe nie ʼn klag van betreding kon open by die plaaslike polisiestasie in Marikana nie en sonder beskerming gelaat is. Van der Merwe het geruime tyd gesukkel om die Polisie se hulp te kry om tussen 70 en 100 onwettige grondbesetters en sowat 20 plakkershutte te verwyder. Marcus Pawson van AfriForum sê: “Grondeienaars moet hulle gereedmaak om die EFF en partye wat grondregte wil vertrap, ingevolge wetgewing teen te staan. Grondeienaars kan AfriForum nader vir advies.” Vir meer besonderhede, kontak Pawson by 076 747 9763 of marcus@afriforum.co.za.

Artikel 8
TLU SA jaarkongres 2015

Die tema van die TLU SA nasionale algemene jaarkongres wat op 1 September 2015 by die WNNR se Internasionale Konferensiesentrum in Pretoria plaasvind, is Eiendomsreg onder die Soeklig. Die hoofspreker by die kongres is prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die Potch kampus van NWU oor “Die impak van beleid in die breë landbou-omgewing op ‘n volhoubare landbou-ekonomie”. “Die beginsel van privaat besitreg as basis vir ekonomiese groei” word hanteer deur dr Anthea Jeffery van die SA Instituut vir Rasse-aangeleenthede, terwyl dr. Jackie Grobler, senior lektor, Dept. Historiese en Erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria, die kollig laat val op “Die geskiedenis van grondbesit in SA.” Vir meer besonderhede, skakel Henk van de Graaf by 076 563 3800.

nonniedelareyImage1
Artikel 9

Boere moet kinders opvoed oor optrede tydens plaasaanvalle

 

ʼn Kind is vanoggend tydens ʼn plaasaanval in George’s Valley, Limpopo deur die aanvallers gebruik om hulle deur die huis te begelei, terwyl sy ouers aangehou is. Hierdie was die derde plaasaanval in 48 uur.

Die verdagtes het met die slagoffers se voertuig gevlug en is deur boere tot in Polokwane gejaag waar die SAPD op die verdagtes losgebrand het. Die verdagtes het nietemin steeds te voet gevlug.

“Ons doen ʼn beroep op almal in landelike gebiede om met hulle kinders te gesels oor plaasaanvalle. Ons wil nie hê kinders moet bang gepraat word nie, maar hulle moet weet hoe hulle tydens ʼn aanval moet optree,” het Ian Cameron, die hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, gesê.

Volgens Cameron voel plaasaanvallers niks vir slagoffers nie, dus moet kinders presies weet wat om te doen om hulself én hulle gesinslede te beskerm, omdat hulle dikwels vir onderhandeling deur die aanvallers gebruik word óf om aanvallers – soos in dié geval – te begelei.

AfriForum verneem van drie plaasaanvalle in die land oor die afgelope 48uur. Dié van die gesin van George’s Valley, en die volgende twee:

  • Mally Thomson is vanoggend deur drie verdagtes met ʼn panga aangeval. Hy het ’n verdagte doodgeskiet. Die ander twee het gevlug. Richmond, KwaZulu-Natal.
  • Jacobus Kemp het Sondag met ’n haelgeweer op sy aanvallers losgebrand en een doodgeskiet. Letsetele, Limpopo.

Afriforum

 

Artikel 10

Moorddadige aanslag duur voort

Die wrede en sinlose moorddadige aanvalle op blankes, hoofsaaklik bejaardes, duur onverpoosd voort. Verlede Donderdag is Ria Kirsten (65) van Bothaville helder oordag ingewag toe sy teruggekom het van die winkel en herhaaldelik vermoedelik met ‘n tuinvurk oor die kop geslaan, sodat sy skedelbreuk en bloeding op die brein opgedoen het, asook haar kakebeen, oogbank en ribbes gebreek is.  Die volgende dag is Johan Vos (73) van Riebeeckstad dood in sy motorhuis aangetref met sy hande en voete vasgebind, iets om sy nek gebind en met beserings aan sy kop en gesig. Dieselfde dag is ‘n swart plaasbestuurder Robert Rhadebe (67) en sy vrou Martha (ook in die 60’s) op ‘n plaas in die Harrismith-distrik met lappe vasgebind en met messe gesteek. Robert, wat 43 jaar plaasbestuurder vir Danie Badenhorst was, het nie die aanval oorleef nie. ‘n Week vroeër is Ruben Gouws (65) en sy ma Hermien (88) naby Ida in die Oos-Kaap op hul plaas wreed vermoor. Laasgenoemde is blykbaar met haar serp verwurg, terwyl Ruben met telefoondrade vasgebind en met meswonde gevind is.

 

Artikel 11

Sinoville Aanval, Kelner Moor Eksbaas se Ma

Die polisie is op soek na ’n 34-jarige man ná die moord op ’n vrou van diep in die sestig in haar huis in Sinoville, Pretoria van Sentraal-Transvaal.

Die vrou, slegs bekend as “Ouma” Cassell, is Maandag in die vroeë oggendure glo deur een van haar seun se voormalige werknemers met ’n mes gesteek. Volgens Mirna von Benecke, polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 05:30 plaasgevind. Danie Cassell, haar seun, is een van die bestuurders van die Panarotti’s-restaurant in die Kolonnade-winkelsentrum. Die verdagte was ’n kelner daar, maar is sowat ’n maand gelede afgedank.

Vermoedelik wou die verdagte die sleutels van die restaurant en die kluis by Cassell se huis, wat naby die winkelsentrum is, kry. Cassell het die huis met sy ma en sy laerskoolseun, asook met ’n mede-bestuurder van die restaurant, Kyle Mason, gedeel.

Volgens Mason was die verdagte ’n dwelmslaaf en het hulle hom as ’n kelner aangestel om hom ’n kans te gee om te rehabiliteer. Die verdagte het glo geweet hoe om by die huis in te kom en waar die restaurant se sleutels gehou word omdat hulle hom in ’n stadium blyplek daar gegee het. Ouma het glo op hom afgekom toe geluide in die huis haar wakker gemaak het. Sy is aangeval.  Cassell, wat op die struweling afgekom het, is lig in die arm gewond.

Daarna het die man Cassell se selfoon gevat en hom uit die voete gemaak.  Hy het toe glo by Panarotti’s ingebreek en ’n onbekende bedrag geld uit die kluis gesteel. Die polisie is op soek na die verdagte en die presiese omstandighede van die voorval word ondersoek – Netwerk 24

 

Artikel 12

Standerton Plaasaanval, Vier Gewapende Mans Word Gesoek

‘n Plaasaanval, laatmiddag op 3 September in Standerton, Oos-Transvaal omgewing het die Boere, sekuriteitsmaatskappye en polisie laat opruk.

Beverley Archer (70) is by haar plaashek ingewag, waar vier onbekende mans voorgegee het hulle het voertuig probleme, hulle het haar oorval en na die huis geneem en vasgebind. Sy is die huis binne gedwing waar die gewapende mans vuurwapens en geld geëis het. Sy het aan hulle blykbaar gesê dat daar nie is waarna hulle soek nie. Hulle het haar aangerand en toe vasgebind in die studeerkamer.

Die aanvallers is fort met ‘n 2004 Ford Ranger, enkelkajuit, registrasienommer DDL 574 MP asook huisware en haar selfoon. Archer het haarself los gewikkel en dadelik na haar skoondogter, Anne-Marie Archer, se huis op dieselfde werf gehaas nadat sy die paniekknoppie gedruk het.

Volgens Anne-Marie Archer (39) was sy onrustig en het die heletyd by die venster uitgeloer omdat dit nie gebruiklik is dat haar skoonma so lank wegbly as sy die huiswerkers gaan aflaai nie. Die aanvallers moes vermoedelik met die bakkie weggekom het sy vir ‘n rukkie besig was met iets en nie deur die venter gekyk het nie.

Volgens haar het haar skoonma aangehardloop gekom, sy was vol bloed, die kinders in die huis het ook die paniekknoppie gedruk. Hulp was baie gou daar, Boere, Kasselman Veiligheidsdienste, Polisie, RAM Dienste en AfriForum Buurtwag. Die beskrywing van die voertuig wat betrokke was in die aanval is dadelik van Archer verkry en die manne het aan die werk gespring.

Die swart Golf met getinte vensters, registrasie nommer WYL 057 GP wat vervals is, is op die Secundapad opgemerk en van die manne het ‘n veilige afstand gehandhaaf omdat hierdie boewe gewapen is. Intussen het die Polisie en sekuriteits beamptes die voertuig gejaag maar die soektog is later in Sakhile afgelas na die skurke weggekom het. Die betrokke voertuig is vroeër dieselfe dag op verskeie plaas paaie opgemerk.

Volgens een van die boere wat betrokke was met die soektog maan hy plaasmense om die paniekknoppies altyd naby te hou. Clive Archer was ten tye van die aanval op Secunda met aflewerings. Inligting oor die aanval kan by Kasselman Veilgheidsdienste by 017 712 1354 gerapporteer word – AT Inkmedia

 

sapsstatsn

Artikel 13

AfriForum gemeenskapsoplossing teen misdaad 

In ‘n mediaverklaring haal AfriForum die volgende misdaadsyfers in Suid-Afrika aan:

395 000 moorde sedert 1994

730 070 seksuele misdrywe sedert 2004

2 331 897 gevalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer sedert 2004

1 286 882 gevalle van roof met verswarende omstandighede sedert 2004

136 953 voertuigkapings sedert 2004.

Teen hierdie agtergrond lui die mediaverklaring dan verder soos volg: “Misdaad is ʼn epidemie wat in ons land posgevat het omdat die regering sy plig versuim om wet en orde te handhaaf. SA het ʼn mensgemaakte rampgebied geword, waar misdadigers vry rondbeweeg en waar ons gyselaars in ons eie huise is.

Dr. Frans Cronjé van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge sê met verwysing na die misdaadsyfers van die afgelope 20 jaar, dat Suid-Afrika in ʼn lae-intensiteit-burgeroorlog gewikkel is. Met 1 uit elke 100 polisiebeamptes in Suid-Afrika wat ʼn kriminele rekord het, bestaan daar min rede om vertroue in die SAPD te hê.

Sowat 700 huisbrake word elke dag aangemeld en sowat 100 gevalle van trio-misdade, wat ernstige en geweldsmisdade is.” In die lig daarvan het AfriForum tydens hul nasionale kongres op 28-29 Augustus 2015 by Klein-Kariba in Limpopo hul Nasionale Veiligheidsplan bekendgestel, met die volgende fokuspunte:

Infrastruktuur (Patrollies

Reaksie

Insidentbeheer

Radionetwerke / Beheerkamers

Opleiding (Basiese patrollieopleiding / Wetlike aspekte / Toneelhantering / Gespesialiseerde opleiding vir reaksiespanne / Noodhulp / Radiokommunikasieopleiding).

Vir meer besonderhede oor die veiligheidsplan, kontak Afriforum


 

precious1

Enjoyed this post? Share it!