SAUK Nuus Brokkies vir 1 September


Nuus Brokkies vir 1 September 2015: Berigte in die Nuus oor die afgelope paar dae

Benewens Die Land wat steeds aan die brand is met stakings en onluste het ek ‘n paar artikels in die nuus geneem

Artikel 1

Vrystaat Faal Honderde Klinieke in Streek

 

Sowat 200 Vrystaatse klinieke benodig dringend aandag, 45 klinieke moet vervang word, 20 klinieke moet herstel word, 85 moet opgeknap word en 41 het dringend instandhoudingswerk nodig.

 

Volgens Mariette Pittaway, DA-lid in die Vrystaatse wetgewer en DA-woordvoerder oor gesondheid in die provinsie is die wetgewer in November verlede jaar al ingelig dat die Vrystaatse regering sy mense in die steek laat deurdat basiese gesondheidsdienste nie gelewer word nie.

Dit het onder die DA se aandag gekom die bouwerk aan vyf moderne klinieke in die Vrystaat ver agter is. Die klinieke moes reeds in 2012 aan die Vrystaatse departement van gesondheid oorhandig gewees het.

Nou in 2015 en die klinieke kan byna aan die departement oorhandig word terwyl betaling aan gekontrakteerde maatskappye reeds gedoen is.

  • Die Parys-kliniek is 95% voltooi en R816 500 is tot nou aan die kontrakteur betaal.
  • Die Viljoenskroon-kliniek is 80% voltooi en R1,8 miljoen is tot nou aan die kontrakteur betaal.
  • Die Senekal-kliniek is 69% voltooi en R1,8 miljoen is aan die kontrakteur betaal.
  • Die Memel-kliniek is net 67% voltooi en aan die kontrakteur is R1,9 miljoen betaal.
  • Die oprigting van die Makhaleneng-kliniek in Qwaqwa het nog nie begin nie, maar die kontrakteur is reeds R3 miljoen betaal.

Pittaway is egter onseker oor hoe om die boodskap aan dr. Benny Malakoane, LUR vir gesondheid, oor te dra dat die Vrystaatse gesondheidsorg steeds in ’n krisis is nie.

Volgens haar het die openbare dienstekommissie bevind dat die openbare gesondheid onder die DA-geleide regering in die Wes-Kaap se deeglike inspeksie van distrikhospitale en klinieke oor spesifiek die aanhou van medisyne en die beskikbaarheid van toerusting en algemene toestande, baie beter as die openbare gesondheidstelsels onder die ANC-geleide regerings van die Vrystaat, Wes-Transvaal en Noord-Transvaal gevaar.

Volgens haar lewer hospitale en klinieke in die Wes-Kaap private sorg van hoë gehalte soos gesondheidsdienste aan diegene wat dit benodig.

Die DA glo gehalte-gesondheidsorg is belangrik vir die welstand en menswaardigheid van Suid-Afrikaners en waar die DA regeer, word dit nagestreef – Netwerk 24

Artikel 2

Gesondheidsentrums, Uitvoer van Kraamprosedures Ontbreek

Lewensreddende dienste wanneer vroue ’n noodkraamprosedure moet ondergaan óf ’n miskraam het, is nie op standaard by 12 van die land se 52 gesondheidsdistrikte nie.

Dít blyk uit ’n navorsingstudie wat in die South African Medical Journal gepubliseer is.

 

Volgens die navorsing kan “sterftes vinnig daal indien daar toegesien word dat al die lewensreddende dienste beskikbaar is vir die gemeenskap . Soveel as 9 000 sterftes van moeders, pasgebore babas of babas wat doodgebore word in Suid-Afrika kan voorkom word as die omvattende noodverloskundige en neonatalediens ten volle geïmplementeer was.

Dié 12 distrikte is spesifiek gekies omdat hulle die hoogste geboorte-sterftesyfer het. Dié distrikte is in al die provinsies, buiten die Wes-Kaap.

Dit sluit 53 gemeenskapsgesondheidsentrums, 63 distrikshospitale, 13 streekhospitale en vier tersiêre hospitale in.

Die meerderheid van vroue (60%) kraam in gemeenskapsgesondheidsentrums (GGS) of distrikshospitale.

Dié studie is tussen Julie 2012 en Oktober 2012 by die fasiliteite gedoen en die standaardlys van noodverloskundige sorg soos voorgeskryf deur die Wêreldgesondheidsorganisasie is nagegaan.

Daar is sewe basiese verloskundige en neonatale noodsorgfunksies, en nege omvattende funksies. In dié studie is daar gekyk of die fasiliteite dié sewe of nege funksies kan uitvoer.

Dit is:

  • Die gee van antibiotika;
  • die gee van middels soos magnesiumsulfaat voor en tydens kraamstuipe;
  • gee van oksitosien om bloeding te voorkom vir alle vroue;
  • verwydering van ’n plasenta wat agtergebly het;
  • hulp met kraam soos ’n vakuumbystand;
  • vakuumaspirasie;
  • basiese neonatale resussitasie;
  • keisersnee en ’n bloedoortapping (laaste twee is net beskikbaar by hospitale).

Nie een van die GGS’e kon al sewe funksies uitvoer nie, en net 30 (47,6%) van die distrikshospitale kon al nege doen.

Uit die 17 streeks- en tersiêre hospitale kon 15 al nege funksies voltooi.

Daar was nege hospitale wat nie ’n patella-hamer gehad het om die ma se neurologiese reflekse te toets nie.

Net ses van die GGS’e het elmboog-lange handskoene gehad om ’n plasenta wat agtergebly het, te verwyder.

Maar al het hulle dit gehad, het net so dit dalk nie veel gehelp het nie, met in net ’n derde van die GGS’e was daar iemand wat geweet het om ’n plasenta te verwyder.

En 98% van die GGS’e kon nie ’n geassisteerde kraam uitvoer nie en 96% kon nie, indien daar ’n onvoltooide miskraam was, ’n vakuumaspirasie doen nie.

Soveel as 17% van dié fasiliteite kan nie ’n basiese resussitasie (sakkie-en-masker-metode) doen nie.

Minder as die helfte kon hul pasiënte met komplikasies binne ’n uur by die regte hospitaal kry vir ’n keisersnee.

Die navorsing het beslis dat die vermoë van primêre gesondheidsorg om die lewensreddende dienste in verloskundige noodgevalle te gee is “swak in baie distrikte.

Dit beteken dat veilige kraamdienste nie deurlopend beskikbaar is by baie fasiliteite waar geboorte gegee word nie.

Die 12 distrikte word nie in die artikel genoem nie, en die hoofnavorser, prof. Robert Pattison, direkteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se Eenheid vir Ma- en Babagesondheidsorg, het gesê hy kan dit nie bekend maak sonder die toestemming van die nasionale department van gesondheid nie – Netwerk 24

 

Artikel 3

Sukses by Medupi Gee Eskom Vertroue

August 31, 2015

Die nuwe eenheid van Medupi wat Sondag amptelik in gebruik geneem is, kan beurtkrag die res van die jaar uitskakel.

 

Die eenheid “is uitsonderlik stabiel en betroubaar”, volgens  Matshela Koko, Eskom se uitvoerende hoof van tegnologie.

’n Feestelike atmosfeer het Sondag op die bouterrein van die Medupi-kragstasie in Ellisras, Noord-Transvaal geheers waar eenheid 6 amptelik in gebruik geneem is, weliswaar vyf jaar laat.

Die projekspan reken boonop dit is moontlik om die volgende Medupi-eenheid vroeër as die verwagte eerste helfte van 2017 in bedryf te bring.

Eskom is Sondag verwittig dat die hidrotoetse op eenheid 5 afgehandel is en geslaag het. “Die meganiese werk aan eenheid 5 is dus nou voltooi,” het Koko gesê.

Eenheid 6 sal voortaan ononderbroke 795 megawatt (MW) aan die netwerk lewer en 0,35% tot die land se groeikoers bydra.

Eenheid 6 sou laat in 2010 reeds in bedryf gestel word en is dus byna vyf jaar laat.

As die bouwerk volgens plan verloop het, sou vier van Medupi se ses eenhede nou reeds in bedryf gewees het en sou die land ’n bykomende 3 100 MW opwekkingsvermoë gehad het. Op die steenkoolstapelwerf lê 4 miljoen ton steenkool wat al sedert 2010 verbrand moes gewees het – Netwerk 24

Artikel 4

Voedselinflasie Gaan Beslis Styg Weens Droogte

 

SAKE – Verbruikers kan hul gereed maak vir hoër inflasie op kos en klere in die komende maande, waarsku twee groot genoteerde winkelgroepe.

 

Ekonome waarsku al lank hoër kospryse is op pad weens duurder mielies ná die droogte in groot dele van die land die afgelope somer, en mielies wat nou ingevoer moet word.

Guy Hayward, hoof van Massmart, wat Game en Makro besit meen dat die voedselinflasie beslis gaan styg weens die droogte wat suiker- en mieliepryse tref.

Dié twee grondstowwe het ’n ernstige uitkringeffek, want suiker kom in baie drankies en mielies word vir hoender- en veevoer gebruik.

Volgens Hayward was voedselinflasie gemiddeld 3,3% in hul winkels, “maar ongelukkig sal dit verhoog tot sowat 5% of 6%”. Die inflasie in Woolworths se koswinkels was 7,7% in die boekjaar tot einde Junie. Dit is hoër as die gemiddelde inflasie vir voedsel en nie-alkoholiese drank vir die tydperk van 6,8% wat deur Statistieke Suid-Afrika gemeet word.

Moir het aangevoer dat Woolworths se ryk kliënte nog bestand is teen die swak ekonomiese toestande.

Volgens hom is rentekoersverhogings meer belangrik vir dié kliënte as enigiets anders.

Die Reserwebank het onlangs rentekoerse met 25 basispunte verhoog. Moir meen rentekoerse sal ’n paar keer moet styg om kliënte se inkopiegedrag te verander.

Hayward meen egter dat die werklike verswakking in die rand ’n maand gelede begin het.

Volgens hom koop hulle sowat ses maande vooruit. Die voorraad is reeds bestel en die pryse is vas.

Die impak van die swakker rand sal dalk eers later op pryse gesien word – Netwerk 24

 

Artikel 5

BRIEWE: SA Waarskynlik nou in Resessie

BRIEWE – Groot probleme bestaan in die Suid-Afrikaanse ekonomie en die kanse dat Suid-Afrika nou in ’n resessie is, is baie goed. Die skuld vir die “ekonomiese gemors waarin die land hom bevind, moet regstreeks op die swak politieke leierskap geplaas word”.

 

Só het Dawie Roodt, nasionale ambassadeur van Kindersorg en hoofekonoom van die Efficient-groep, Dinsdagaand op die jaarvergadering van Kindersorg Bloemfontein/Childline Free State in Bloemfontein gesê.

Hy het gesê die ANC en sy alliansievennote, Cosatu en die SAKP, “het nie die insig en vermoë om te verstaan wat nou gedoen moet word om Suid-Afrika uit sy ekonomiese verknorsing te red nie. Dit gaan jare duur om die ekonomie wat hulle verbrou het te herstel.”

Hy meen dit is veral Eskom wat die grootste bydraende faktor is tot die moontlike resessie in Suid-Afrika en dit is veral weens politieke inmengery.

Roodt meen ’n wêreldwye resessie, of selfs nog iets ergers, is ’n moontlikheid. “Mense kan hul werk verloor en armoede kan toeneem.”

Hy sê ’n bydraende faktor vir die swak Suid-Afrikaanse ekonomie en swak rand het te doen met internasionale faktore soos die wêreldekonomie wat omvergegooi is deur China wat nou sy geldeenheid gedevalueer het. “Maar die gesondheid van die plaaslike ekonomie vererger die impak op ons ekonomiese prestasie.”

Roodt het gesê nog ’n probleem is dat die politieke leierskap instansies soos die gesag van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Eskom, Petro SA, binnelandse sake en die openbare beskermer ondermyn.

Wie gaan belê in ’n land waarin politici instansies ondermyn? “Die verlies in die ekonomie weens verlore produksie weens Eskom is jaarliks meer as R300 miljard.”

Roodt het gesê “indien die regte dinge van nou af gedoen word om die Suid-Afrikaanse ekonomie reg te ruk sal dit jare verg om die skade te herstel”.

Hy wil weet waarom soveel beperkings op buitelanders geplaas word wat geld in Suid-Afrika wil belê, terwyl die land ’n kapitaalskaars land is.

Roodt het na die hoogs besoldigde staatsamptenare gekap wat te veel geld verdien, “Kentucky” eet en in BMW’s rondry. “In baie gevalle ondermyn hulle die ekonomie.

Benewens dat hulle baie geld kos, is hulle ’n versperring in die pad van die ekonomie.”

’n Voorbeeld is die onderwys wat die swakste in die wêreld is, maar wat die meeste kos.

Nog ’n voorbeeld is Eskom met sy peperduur werknemers terwyl daar nie elektrisiteit is nie.

Roodt sê egter: “Nie alles is negatief nie.

  • Suid-Afrika is goed geposisioneer om ekonomies baie beter te presteer.
  • Ons het ’n moderne ekonomie met moderne infrastruktuur en moderne finan­siële markte.
  • Ons het ook baie besonderse menslike kapitaal. Al wat ons nodig het, is ’n moderne en doeltreffende regering,” het Roodt gesê.

Dawie Roodt – Netwerk 24

 

Artikel 6

Zimbabwe Vrees Krag Katastrofe

 

Die sakesektor in Zimbabwe is bekommerd oor ’n dreigende kragkrisis indien die land se kragverskaffer, die Zimbabwean Power Company (ZPC), voortgaan met sy planne om die Kariba hidro-elektriese-aanleg af te skakel.

Die ZPC het gewaarsku die lae watervlak in die Karibadam kan die kragverskaffing met bykans 50 persent verminder.

Die kragsituasie in Zimbabwe sal eers in 2018 verbeter wanneer ’n nuwe kragstasie wat naby Binga gebou word, in bedryf gestel sal word.

Volgens ’n Ekonoom, John Roberston, is die sakesektor reeds deur ander gebeure geknou en “dié sal beslis nie lei tot enige nuwe beleggings nie.

Robertson voorspel nóg droogtes in die komende paar jaar, wat sal beteken dat die dam se watervlak weer sal daal.

Die hoof van die Confederation of Zimbabwe Industries, Busisa Moyo het Vrydag aan African News Agency bekend gemaak dat sakeondernemings sal groot skade ly – Netwerk 24

Artikel 7

Syfers oor Kaapstad-stadion skok
Meer as ʼn miljard rand. Dit is volgens die VF Plus se berekeninge wat Kaapstad-stadion dié stad se belastingbetalers die afgelope vyf jaar gekos het terwyl die verantwoordelike politieke leiers eenvoudig die feite negeer het, sê mnr. André Fourie, VF Plus-raadslid vir die Stad Kaapstad.

Mnr. Fourie sê komende van ʼn party wat daarop aandring dat president Jacob Zuma verantwoording moet doen oor Nkandla se sowat R250 miljoen, moet hierdie politieke ampsdraers se koppe ook rol soos dié van die verantwoordelike uitvoerende direkteur wat reeds self bedank het.

Direkte geskrewe vrae van mnr. Fourie is dié week nie volledig beantwoord nie, en waar die VF Plus byvoorbeeld syfers vir die laaste vyf jaar gevra het, is net een jaar se syfers gegee. Die onderneming is gegee dat die ander jare se statistiek ook gegee sal word.

Die VF Plus het intussen die eenvoudige berekening gedoen deur die een jaar (2014/2015) se statistiek met vyf te vermenigvuldig, en het by die benaderde skokkende bedrag van byna R1,073 miljard vermorste geld uitgekom.

Die verlies moet gedra moet word deur Kaapstad se belastingbetalers.

Wat verder skok, is die feit dat die stadion se ‘konsultante’-rekening vir die enkele boekjaar byna R9 miljoen beloop. Of dan moontlik R45 miljoen sedert 2010. Mnr. Fourie sê die VF Plus sal graag wil verneem presies waarvoor die konsultante aangewend is.

“Hierdie verregaande konsultantefooi is onaanvaarbaar en verdag. Kaapstad se amptenare – net soos alle munisipale amptenare, is verreweg die hoogs betaalde in Suid-Afrika en verdien 30% tot 40% meer as hul eweknieë in die private sektor. Waarom word hul kundigheid nie gebruik nie?,” vra mnr. Fourie.

Hier volg ʼn kort uiteensetting van die antwoorde wat die VF Plus op mnr. Fourie se vrae ontvang het:

  • Die totale kapitaalkoste van die stadion het R4 289 miljard beloop waarvan die stad R960 463 miljoen bygedra het.
  • Die bedryf- en instandhoudingskoste vir die 2014/2015-boekjaar beloop R203 179 190.
  • Koste vir konsultante in die jaar: R8 852 260.
  • Twee toernooie is aangebied in 2014/15.

(a) Bafana vs Nigerië – Verlies R348 062.

(b) Bafana vs Angola – Verlies R 2 262 025.

  • ʼn Reis deur raadslid Grant Pacoe, burgemeesterskomiteelid: Toerisme, geleenthede en bemarking, na Engelse sokkerklubs: R120 519. Hy het intussen uit die DA bedank.

Mnr. Fourie sê die betrokke politieke ampsdraers sal verantwoording moet doen. “Die stadion is ʼn bodemlose put wat moontlik jare nog die belastingbetalers se geld sal insuig indien daar nie nou aan die VF Plus, wat sedert 2008 reeds sy stem hieroor dik maak, gehoor gegee word nie.

“Waarom is daar bloot voortgegaan met dié vermorsing? Onlangs nog was daar weer die Cape Town Cup-sokkerdebakel waar selfs ʼn nuwe laagtepunt bereik is met die vermorsing van ‘n verdere beraamde R28 tot R34 miljoen.

“Ook hier het dit aan die lig gekom dat die burgemeester en betrokke burgemeesterskomiteelid bloot aangeneem het die stadion gaan met elke wedstryd volgepak wees met 50 000 mense. Toe daag by die eerste wedstryd skaars ʼn duisend op.

By die tweede wedstryd het 16 000 mense opgedaag en niemand wil sê hoeveel hiervan is met busse aangery om vermoedelik gratis na die wedstryd te kyk net om getalle op te jaag nie.

Is dit die goeie werk van die R9 miljoen-konsultante?

“Die tyd het aangebreek dat die politieke leiers in die Wes-Kaap – die premier Helen Zille, burgemeester De Lille, die burgemeesterskomiteelid Garreth Bloor en die hele burgemeesterskomitee verantwoording doen, en nie soos president Zuma agter amptenare probeer skuil nie.

Hulle weet nog al die tyd van die vermorsing,” sê mnr. Fourie.

http://vfplus.org.za/media…/syfers-oor-kaapstad-stadion-skok

 

Artikel 8

Wêreld moet kennis neem van die politieke inmenging in Suid-Afrikaanse sport

Kan Suid-Afrika se Springbok-rugbyspan werklik op gelyke voet gaan meeding om die verowering van die William Webb Ellis-trofee nadat die ANC-regering se rasse-kwota aan die span opgedwing is?

Die antwoord is ʼn onomwonde nee, en die VF Plus het besluit dat die wêreld nou hard en duidelik die boodskap moet kry dat dié vorm van rassistiese inmenging onaanvaarbaar is, en dat hulle daaroor standpunt moet inneem.

In die vorige bedeling het rassisme gelei tot ʼn algemene internasionale sportboikot teen Suid-Afrika. Nou word daar bloot anderpad gekyk.

Die VF Plus besef daar het die week onverkwiklike tonele agter die skerms afgespeel toe spelers, wat weet hulle verdien ʼn plek in die toergroep, moes hoor hulle kan nie gekies word nie net omdat hulle wit is.

Die VF Plus se siening is nog altyd dat meriete alleen die maatstaf moet wees, en dat die beste spelers gekies moet word, ongeag hul velkleur.

Daarom gaan die VF Plus Maandagoggend ʼn versoekskrif aan die Britse ambassadeur oorhandig waarin gevra word dat die Britse regering kennis neem van politieke inmenging in sport in Suid-Afrika. Die toernooi vind vanjaar in Engeland plaas.

VF

Artikel 9

Ses Duur Lokomotiewe Kapoet Weens Spaanse Taal

 

Prasa sou sy peperduur Afro 4000-lokomotiewe teen einde Augustus in gebruik neem.

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) gaan Spaanse kundiges hierheen laat kom om sy omstrede Afro 4000-diesellokomotiewe te versien.

 

Prasa wou dié peperduur lokomotiewe, wat vir R600 miljoen uit Spanje aangekoop is, ten volle teen einde Augustus in gebruik neem, maar minstens ses is tans buite werking.

Nóg ’n lokomotief het in die Kimberley-werf ontspoor kort nadat ’n passasierstrein wat deur een van dié lokomotiewe getrek is, verlede maand in die Noord-Kaap ontspoor het terwyl dit passasierswaens gesleep het.

Prasa het nie die spoorwegowerheid se toestemming om passasiers wat vir hul ritte betaal met die Afro 4000 te sleep nie, maar dit word skynbaar reeds gereeld op stampvol betaalde ritte ingespan.

Voorts is twee van die lokomotiewe buite werking weens meganiese probleme en nóg twee kort dringend standaard-instandhoudingswerk omdat hulle 12 000 km elk op die klok het. Die eersgenoemde twee het glo lekplekke in hul kompressorseëls.

By navraag oor wat dit sal kos om Spanjaarde na Suid-Afrika te vlieg om die lokomotiewe te versien, het Sithole beweer dat dié koste glo deel is van die kontrakpakket waarop ooreengekom is voordat die projek van stapel gestuur is.

Slegs Spaanse tegnici sal die lokomotiewe kan versien omdat die data op die lokomotiewe se aanboordrekenaars in Spaans is. Dié rekenaars word ook in standaard-instandhoudingswerk ingespan om meganiese probleme uit te wys.

Dít het egter eers aan die lig gekom nadat ’n Afro 4000-lokomotief verlede maand naby Modderrivier in die Noord-Kaap ontspoor het. Rapport het berig die Spoorwegveiligheidsreguleerder (RSR) sukkel om dié voorval te ondersoek omdat hy weens die kommunikasieprobleem nog nie die data van die lokomotief se data-opnemer kon ontleed nie. Die RSR was skynbaar ook in die duister oor die “taalprobleem”.

Sithole het bevestig ’n ander lokomotief het kort ná die Modderrivier-voorval in die Kimberley-werf, Noord-Kaap ontspoor, ook te wyte aan die toestand van die spoor – Netwerk 24

 

Aanvalle op sagte teikens en boere die afgelope ruk soos berig in die nuus

Artikel 10

Kinders Beleef Trauma na Vrystaat Aanvalle op Bejaardes

September 1, 2015 –

BOTHAVILLE – Ria Kirsten sterk in die hospitaal aan nadat sy aangerand is. Sy het skedelbreuk, bloeding op die brein, ’n gebreekte kakebeen en ribbes, asook ’n gekraakte oogbank.

 

Ria Kirsten (65) van Bothaville in die Vrystaat se buurvrou het haar Donderdag in ’n plas bloed voor haar agterdeur gekry.

’n Aanvaller het Kirsten helder oordag ingewag totdat sy teruggekom het van die winkel en haar toe herhaaldelik oor die kop geslaan, vermoedelik met ’n tuinvurk.

Sy het skedelbreuk, bloeding op die brein en haar kakebeen, oogbank en ribbes is gebreek.

Sy het haar bewussyn verloor, later bygekom en toe haar buurvrou, Hannalie van Straten, op haar selfoon ontbied. Kirsten het aanvanklik gedink sy het geval voordat sy onthou het sy is aangeval.

Sy word in ’n hospitaal in Klerksdorp behandel en onthou nie veel nie. Haar handsak is gesteel, met R120 in haar beursie.

’n Inwoner van Kgotsong het Kirsten se bankkaarte, siekefondskaart en identiteitsdokument intussen buite die township opgetel.

WELKOM – Intussen soek die polisie in Welkom, Vrystaat na die moordenaars van Johan Vos (73) van Riebeeckstad nadat sy seun, Pierre, Vrydag op sy lyk afgekom het.

Sy pa se hande en voete was vasgebind en daar was iets om sy nek gebind. Hy het beserings aan sy kop en gesig gehad.

Volgens Pierre blyk dit asof sy pa in die motorhuis oorval is. Hy beskryf sy pa as “pynlik netjies en baie handig” en “iemand wat lief was daarvoor om goed reg te maak”. Hy laat drie seuns, nege kleinkinders en ’n agterkleinkind agter.

SAMESTELLING

Sedert die begin van die jaar het Volksblad oor 14 aanvalle berig waarin 19 bejaardes vermoor of erg beseer is.

Die brose slagoffers kon in die meeste gevalle geen weerstand bied nie.

Talle is erg vermink en diegene wat wel die aanvalle oorleef het, se lewe is onherroeplik verander.

Bejaardes is “gesogte teikens”, omdat hulle hulself nie kan verdedig nie.

Hulle is soms minder paraat as jonger mense en by misdadigers is daar boonop ’n opvatting dat hulle groot bedrae geld en waardevolle artikels soos juweliersware aanhou.

Die meerderheid van die Vrytsaatse aanvalle op bejaardes, veral op plase, gebeur wanneer daar niemand is om hulle by te staan nie.

’n Soortgelyke gevolgtrekking kan gemaak word met bejaardes in dorpe of stedelike gebiede wat bedags alleen by die huis is.

Dit is nie net die primêre slagoffers wat deur die aanvalle geraak word nie, maar ook hulle familie.

Kinders wie se ouers as sagte teikens gesien word en aangeval word voel magteloos, omdat die bejaardes soms te hardkoppig is om te besef hulle kan nie alleen bly nie.

In daardie geval meen die kinders kan hulle niks doen om te help of hul ouers te beskerm nie.

  • Gert (74) en Sonya (73) van Rooyen en hul dogter Mientjie (42) is op hul plaas buite Marquard aangeval.
  • Johannes (70) en Rita (68) Kritzinger van Vrede is op hul plaas aangeval.
  • Nidia Albertse (70) van Bloemfontein is in haar slaap aangeval.
  • Thelma Crous (80) van Universitas, Bloemfontein, is in haar huis oorval.
  •  Dries Stemmet (69) van Senekal en sy vrou, Fransie (70), is op hul plaas aangeval.
  • Marie de la Rosa (73) en Rina Pretorius (86) is in Reddersburg beroof.
  • Toon (72) en Rienie Swanepoel (70) van Bainsvlei, buite Bloemfontein, is ná kerk ingewag, gemartel en doodgeskiet.
  • Martie Bester (68) van Theunissen is vermoor voordat haar plaashuis aan die brand gesteek is.
  • Hein Smith (77) van Lindley is vasgemaak en aangerand. Sy lyk is eers ’n dag later buite sy plaashuis gekry.
  • Nidia Albertse (70) van Dan Pienaar in Bloemfontein, Vrystaat het breinskade nadat sy vroeër vanjaar met ’n hamer aangeval is. Sy gaan waarskynlik die res van haar lewe versorg moet word.

Volgens Willie, Nidia se seun ontvang sy nog rehabilitasie en kan nie die aanval onthou nie.

Nidia onthou nie dat haar man en Willie se broer en suster dood is nie. Die een dag praat sy, maar die ander dag is sy deurmekaar.

Sy ma het geen weerstand of gevaar vir die aanvaller ingehou nie. Sy sal nooit weer kan bestuur of alleen inkopies kan doen nie. Willie het skok en woede ná die aanval op sy ma beleef.

Artikel 11

Gepoogde Plaasaanval !!!! Tienermeisie Durf “Plaasaanvallers’ Met Haelgeweer Aan – Tzaneen [Video]

Beeldmateriaal van veiligheidskameras wys hoe ‘n gesin van Limpopo Sondagaand amper die slagoffers van ‘n plaasaanval was.

Op die beeldmateriaal kan gesien word hoe die 16-jarige Sumari Lombard enkele meter van die gewapende mans verbystap sonder dat sy dit weet. Oomblikke later is een van die vermeende aanvallers met ‘n vuurwapen in sy hand agter haar aan,.

Desiree Lombard het bevestig dat sy en haar gesin op ‘n plaas 10 km buite Tzaneen woon. Sy het Sondagaand omstreeks 19.50 in die bed geklim. Haar man was uit om te gaan jag op die plaas. “Sumari het die hond buite hoor blaf en het die haelgeweer saamgeneem om ondersoek in te stel”, het sy gese. “Ons albei weet ons mag glad nie uit die huis uitgaan as my man nie daar is nie, maar ek het nie geweet sy gaan uit nie”.

Op die video kan gesien word hoe die vermeende aanvallers by die stoep-area van die huis insluip en in die waskamer skuil. Die gesin se hond, ‘n sewe-maande oue Amerikaanse veghond, kom later in en gewaar die mans in die waskamer. Hy staan ‘n ruk lank voor die deur en blaf, oenskynlik te bang om hulle te storm.

Minute later kom Sumari om die hoek gestap met ‘n haelgeweer in haar hande. Sy loer versigtig in die toegeboude stoep rond, maar kan nie die mans sien wat agter die waskamer se deur skuil nie. Sy stap weer saam met die hond uit terug na die huis voordat een van die vermeende rowers agter haar aangehardloop kom.

“Sumari het in die huis ingehardloop en die veiligheidsgek gesluit”, het Desiree gese. “Sy het my kom wakkermaak en ek het die haelgeweer gegryp”. Desiree het waarskuwingskote by die veiligheidshek uitgevuur terwyl Sumari haar pa gebel het om terug te kom huis toe. Een van die vermeende aanvallers het na die veiligheidshek gehardloop en dit probeer oopruk , voordat hy op die vlug geslaan het.

“Ek weet nie of hy gehoor het hoe my man aangery kom of wat nie, maar hulle het almal net skielik weggehardloop. Ons het ‘n saak van poging tot huisroof by die Polisie aanhangig gemaak, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

 

Enjoyed this post? Share it!