Was Paul Kruger die Grootste Boere Afrikaner? – 4 Menings

 

Dit is vandag nie vir die ANC regering polities korrek om oor enige Afrikaner te praat nie, wat staan nog die grootste Afrikaner. Maar dis vir enige gemeenskap nodig om sy helde te vereer, omdat hulle die draers van die beproefde en tydlose waardes van daardie gemeenskap is. Waardes wat daardie gemeenskap gewoonlik aan die volgende geslag wil oordra, om as riglyne vir hulle te dien soos die sterre vir die seemanne van ouds. Waardes soos omgee vir jou medemens, soos aanhou en volhou selfs in die donkerste tye, soos moed en dapperheid, soos om aan ‘n ideaal groter as jyself en jou geldelike belange vas te hou. In ‘n tyd waarin ons geskiedenis meermale kriminaliseer word, en waar ons leiers ter wille van bedenklike nasiebou pogings deur ANC –leiers in die skole se geskiedenis vervang word, is dit vir my nog meer nodig dat ons die Afrikaner se historiese helde weer ontdek. Nie omdat hulle volmaakte supermense was nie, maar juis omdat hulle gewone mense was, maar wat in ongewone tye soms buitengewone dinge gedoen en bereik het, wat die latere geslagte dan geskiedenis genoem het.

Wat maak van iemand ’n “groot” Afrikaner? Vir my is dit sy impak op die lewens van mense wat dekades na sy leeftyd steeds gevoel kan word. As jong man was Paul Kruger deel van die Groot Trek en het hy eerstehands die avontuur en hartseer van die Voortrekker-era ervaar. As seun en jong man het hy ʼn reputasie vir sy waaghalsigheid en vindingrykheid verwerf, het hy ʼn gewaardeerde humorsin gehad en het hy van vroeg af erns gemaak met die lotgevalle van wit en swart mense.

Paul Kruger was reeds in sy middel-twintigs aktief in die Transvaalse politiek en het sy politieke tande geslyp in die harwar van die broedertwis in die 1850’s. Paul Kruger se toetrede tot die openbare lewe was nie uit ambisie of eiewaan nie, maar hy het hom telkens beroep op die vestiging van wet en orde onder die veglustige burgers in die Republiek.

Kruger se vroegte bydrae lê egter in sy militêre rol. Die onstabiliteit in die ZAR het ʼn lewensgevaar vir die Boere ingehou, aangesien swart stamme onder leiding van onder andere, Makapan, Sekoekoeni, Mpande en andere telkens die harwar in die ontstaanjare van die ZAR uitgebuit het. Die plunder- en moordtogte het aan die jong luitenant en latere kommandant van Rustenburg die geleentheid gegee om deur sy dade naam te maak onder vriend en vyand.

Kruger se betrokkenheid by die regering was van so ʼn aard dat hy oor ʼn tydperk van twintig jaar hom telkens van die een grensgebied na die ander van beide die ou Transvaal en Vrystaat moes haas om vrede te gaan herstel. In sy bekende ekspedisie (in 1858) teen die Basotho-rowerbendes, het hy die leidende rol gespeel om Mosjesj by die vredestafel te kry. Uiteindelik was dit hierdie diens wat daartoe gelei het dat hy in 1864 as Kommandant-Generaal lid van die Uitvoerende Raad van die ZAR aangewys is.Al was daar gereeld botsings met die stamhoofde, het hulle agting en respek vir Kruger gehad. Mamelodi (die fluitende man), was sy noemnaam onder swart mense en die verwysing deur sommige swart mense na hom as hul “pa” is bevestiging van Paul Kruger se houding dat hy ‘n verantwoordelikheid teenoor alle Suid-Afrikaners gehad en aanvaar het.

Kommandant-Generaal
As Kommandant-Generaal het Kruger se pligte baie van hom geverg, en is dit daarom nie verbasend dat hy op ʼn persoonlike vlak ook opofferings moes maak wat betref sy finansiële posisie en familieverhoudinge nie. Kruger kon nooit ʼn suksesvolle landbouer wees nie, want hy het meer op die grense en gevegsfronte geboer as op sy plaas. Vir sy onbaatsugtigheid en weens gebrekkige belastinginkomste is hy deur die ZAR-regering beloon met stukke grond, wat hy in latere jare sou verkoop om so ʼn taamlike gemaklike finansiële posisie te kon verseker.

Na die onsuksesvolle presidentskap van MW Pretorius (1860’s) was Kruger nie as presidentsmateriaal geag nie en het die Transvaalse burgers hulle gewend tot die verligte “gentleman” TF Burgers. Burger se presidentskap sou uiteindelik uitloop op die anneksasie van die ZAR. Ironies was dit die anneksasie van die Transvaal deur Shepstone op 12 April 1877, wat Paul Kruger as onbetwiste leier onder die Boere gelaat het.

Kruger het nie weggedeins van die moedelose situasie nie en het in die daaropvolgende vier jaar met groot moeite en leierskap die Transvaalse Afrikaners georganiseer en feitelike beheer oor die ZAR geneem. Die gebeure na Paardekraal is ʼn duidelike voorbeeld hiervan. Dat die Eerste Vryheidsoorlog die Republiek herstel het is ʼn feit, maar dit was Pres. Kruger se voortreflike politieke vernuf teenoor die lakeie van die Empire wat dit oor die volgende 18 jaar in stand gehou het.

Rolmodel

As Christen was Kruger ook ʼn rolmodel. Dalk was sy medewerking in die stigting van die Gereformeerde Kerk aanvanklik ʼn verdelende faktor. Kruger het egter deur sy lewenswyse sy Christelike lewensbeskouing gestand gedoen, en dit sou bydra tot sy verenigende rol as leier van die Transvalers. Pres. Kruger het nooit geskroom om die Woord te verkondig nie, of dit nou aan Mosjesj of Rhodes, of sy eie burgers was. Inteendeel, sy toesprake was so deurtrek met Skrifgedeeltes, dat dit waarskynlik bygedra het tot die latere kritiek teen hom dat hy fundamentalisties was.

Dit is nie net sy onbaatsugtige diens teenoor die Transvaalse Republiek wat hom laat uitstaan nie, maar ook die Christelike waardegedrewe wyse waarop hy die ZAR se onafhanklikheid verkry en verdedig het. Die wyse waarop Kruger vriend en vyand hanteer het, getuig hiervan. Sy versoenende reaksie teenoor die lede van die Jameson-inval, deur hulle nie ter dood te veroordeel nie, maar te begenadig, is ’n duidelike voorbeeld.

Kritiek dat Pres. Kruger soos vandag se heersers onbeskaamd in die regbank ingemeng het, is oordadig. Wat onthou moet word, is dat regter Kotze (wat in ʼn vorige presidentsverkiesing teen Kruger gestaan het) ʼn uitspraak gelewer het wat die 1881-grondwet nietig verklaar het. Kruger was gedwing om nie teen die regbank of regters op te tree nie, maar om die Transvaalse grondwet teen Kotze se Doms-uitspraak te beskerm. Eers maande later en na onsuksesvolle “mooipraat” is Kotze ontslaan. Nogtans was dit te laat, aangesien Kotze se uitspraak stukrag aan Brittanje se aanspraak op stemreg vir uitlanders gegee het.

Botsing met Brittanje

Argumente dat Pres. Kruger ʼn botsing met Brittanje kon vermy, is ongegrond. Maande voor die uitbreek van die oorlog het Presidente Kruger en Steyn desperate pogings aangewend om verhoudinge met Brittanje te herstel, maar dit was onmoontlik om die vrede met Milner en Chamberlain te bewaar.

Verskeie menings oor Paul Kruger se rol as president word gehuldig, maar dit is baie duidelik dat hy ‘n enorme bydrae gelewer het tot die latere ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika. Hiervan is die bosboubedryf in Mpumalanga, die Nasionale Park wat vandag sy naam dra, die Delagoabaai-spoorlyn, asook die vindingryke wyse waarop hy industrialiste na die ZAR gelok het sprekende voorbeelde. (Korttermyn monopolieë is toegestaan om industrialisasie aan te moedig, want daar was nie industrialiste wat in die ZAR wou belê nie) Gaan loop op Kerkplein, en daar sal jy die Republiek van Paul Kruger sien.

Kruger was bekend vir sy welwillendheid teenoor ander gemeenskappe, soos wat ook blyk uit die feit dat hy in baie gevalle grond aan swart gemeenskappe gegee het. Hierdie grondoordragte is na die oorlog deur die Engelse bewindhebbers gekanselleer. Hy het die grondwet van die ZAR gewysig om dit ook moontlik te maak vir Jode om in die volksraad te kon dien, en dit in ʼn tyd toe anti-Semitisme nog in Europa gedy het. Kruger was nie teen die Uitlanders gekant nie, maar moes weens praktiese politieke redes hul burgerskap van die ZAR infaseer.

Vandag word Nelson Mandela as ‘n groot rolmodel geag, maar dit was Oom Paul wat werklik die eerste staatsman van Suid-Afrika was. Vir 50 jaar lank het Pres. Kruger sy mense ononderbroke gedien, sy land gebou en die fondasie gelê van wat later die Republiek van Suid-Afrika sou word.

Internasionaal

As staatsman het hy die Boere-saak op die internasionale verhoog geplaas en deur sy politieke vernuf het hy menigmaal spanning tussen die Republieke en die Empire ontlont, tot so ’n mate dat hy meer as een keer die wêreld aan sy voete gehad het. Niks getuig meer hiervan as die triomfantlike verwelkoming wat hom in Europa te beurt geval het toe hy uit Afrika moes vlug nie.

Daar was ‘n tyd voor die oorlog dat Paul Kruger van Kaapland tot by die Soutpansberge as die onbesproke vader van die Afrikanervolk geag was. As ‘n mens sy lewe beoordeel en sy opleiding en die konteks waarin hy geleef het in ag neem, swel jou bors van trots. Vir Kruger was die Bybel ʼn lewenshandleiding; die wil van die volk sy meester; wet en orde ononderhandelbaar en onafhanklikheid sy doelwit.

Maar is Paul Kruger net ‘n historiese figuur, of werklik die Grootse Afrikaner? Daar is drie redes hoekom ek hom sien as die Grootse Afrikaner, en nie net as ‘n belangrike historiese figuur uit die verlede nie.

  • Kruger is die simbool van die Afrikaner se historiese (vryheid) strewe, verbintenis aan Afrika, Westerse herkoms, Christelike grondslag. As simbool is Kruger groter as die historiese Kruger self.
  • Sy laaste woorde het die formule vir die Afrikaner se suksesvolle opstaan en modernisering na die Oorlog geword. Neem die beste uit die verlede, en bou die toekoms daarmee. Skeppende vernuwing gegrond op beproefde waardes.
  • Kruger was die simbool en verteenwoordigend van die “Eerste Afrikaner”. Vir my as “Derde Afrikaner” is die herinnering aan President Kruger iets om op terug te val in hierdie moeilike tye. Hy is die simboliese draer van die Afrikaner se historiese ideale, van die oorkoming van onoorkombare struikelblokke, van volharding, van vashou aan ‘n mens se Geloofswaarhede, van goeie rasseverhoudinge. Sy lewensgeskiedenis is steeds vir ons ‘n handleiding vir vandag.

Karl von Clausewitz

Meer as 100 jaar later is Kruger steeds so relevant soos in 1880. Studente dra sy gesig op T-hemde, hy ontlok steeds debat, en hy is ʼn rolmodel in ons huidige omstandighede.

Nog nooit, nie voor hom of na hom nie, was daar nog so ‘n Afrikaner soos Paul Kruger nie. Die groot impak wat hy op ons lewens gehad het, is vandag nog te siene. Hierdie impak is eintlik maar net die lang skaduwee van die lewe van ʼn baie groter Afrikaner.

Die grootste ooit!

Maar die groot Pruisiese militêre leier, generaal Karl von Clausewitz, se raad vir die sinvolle omgang met die verlede is toepaslik vir vandag: “Elke era het sy eie werklikhede, sy eie beperkinge en sy eie voorveronderstellings. Daarom moet die gebeure van elke tydperk beoordeel word in die lig van sy eie besondere tyd en omstandighede. Om hierdie rede kan ʼn mens nie jare later wat gebeur het begryp en waardeer voordat jy nie jouself in die omstandighede van daardie tyd geplaas het nie”

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging 8 Oktober 2012

Paul Kruger as grootste Afrikaner

 

 

PAUL KRUGER en sy Gezina vestig hulle op die plaas Waterkloof, naby Rustenburg in Transvaal. Die dapper, byna vreeslose, maar ook ver­standige jong man wek vroeg reeds die openbare belangstelling—“ ‘n Boer sonder grootdoenery, genaakbaar vir die armste en eenvoudigste, maar met ’n kragtige lewensbeskouing en ’n onwrikbare geloof in God,” soos iemand hom beskryf het.

 

Elf jaar ná sy verkiesing tot assistent-veldkornet word hy volle veldkornet, ’n belangrike amptenaar wat in sy wyk die landdros moet verteenwoordig. Hy het byvoorbeeld militêre, administratiewe en regterlike pligte—kortom, hy moet die orde in sy wyk handhaaf.

 

Maar Kruger is eintlik vir veel groter dinge bestem. ’n Rukkie later word hy volksraadslid en kommandant, wat hom in gevegte met naburige inheemse groepe onderskei. Hy verwerf algemene bekendheid nadat hy in groot lewensgevaar die lyk onder koeëls gaan weghaal het van kmdt.-genl. Piet Potgieter, wat deur onderdane van Makapaan in ’n geveg gedood was.

 

Makapaan was hoof van een van die vele stamme van die Amandebéle en was met sy mense in ’n grot vasgekeer toe Piet Potgieter tydens die beleg doodgeskiet is. Paul Kruger het doodsveragtend die Boere-aanvoeder se liggaam voor die grot gaan wegraap om te keer dat dit in die vyand se hande beland.

 

Dit is egter nie net op die slagveld dat Kruger hom onderskei nie. Die beginjare van die Boere-republieke van Transvaal en die Oranje-Vrijstaat is ’n tyd van verwarring en broedertwis, maar Kruger se takt en verhewe erns voorkom in 1857 ’n gewapende botsing tussen die Vrystaters en Transvalers aan die Renosterrivier.

 

Sy aansien en statuur styg in só ’n mate dat hy, toe hy skaars 35 jaar oud is, gekies word tot kommandant-generaal, dit wil sê die opperbevelhebber van die weermag van die Z.A.R.—die tweede burger in die land naas die president.

 

Reeds in 1872 word hy gevra om hom as president verkiesbaar te stel, maar hy wys die versoek van die hand. Ds. Thomas François Burgers word toe tot die tweede president van die Z.A.R. verkies, in opvolging van pres. Marthinus Wessel Pretorius.

 

Tydens die bewind van pres. Burgers annekseer Brittanje Transvaal vir die eerste keer en hierna speel Kruger ’n leidende rol om sy land se onafhanklikheid te herwin. Hy gaan twee keer as leier van afvaardigings na Engeland om vir vryheid te onderhandel. Toe Brittanje nie wil kopgee nie, word hy saam met M.W. Pretorius en Piet Joubert in die hoedanigheid van vise-president in die sogenaamde Driemanskap aangestel om vir die onafhanklikheid van Transvaal te veg.

 

Die sogenaamde Eerste Vryheidsoorlog breek aan die einde van 1880 uit toe die Transvalers daadwerklik optree om hul vryheid met wapengeweld terug te vat. Die Britse ingryping om die rebellie te stuit, word met soveel verset begroet dat vrede op 21 Maart 1881 gesluit word. Daarna word die Pretoria-konvensie aangegaan, wat later deur die Londense Konvensie geamendeer word.

 

 

Kruger word naamlik in 1883 tot president van die Zuid-Afrikaansche Republiek verkies en hy vertrek na Londen, waar hy deur die sluiting van die Londense Konvensie die Britse soewereiniteit oor Transvaal opgehef kry.

 

Tog is dit lank nie die einde van die Britse betrokkenheid by die Boere nie. Die Britse regering, wat die magtige Britse Ryk van destyds beheers, wil graag ook die ganse Suidelike Afrika onder sy beheer kry, maar die twee Boere-republieke staan in sy pad.

 

Die imperialiste van die groot wêreldmoondheid word finaal oortuig dat Brittanje die hele gebied móét besit toe die rykste goudneerslae op aarde aan die Rand ontdek word. Kruger-hulle besef hier kom groot moeilikheid. Soos ’n ou Transvaler vroeg-vroeg al weeklaag: “Die ontdekking van die Witwatersrandse goudvelde is die eerste bylslag aan die wortel van ons onafhanklikheid.”

 

Die begin van die goudmynbedryf in 1886 en die stigting ’n jaar daarna van Johannesburg (wat die middelpunt van die bedryf  sal word) laat ’n magtige stroom immigrante, meestal Britte, op Transvaal toesak. Spoedig is hulle selfs meer as die Boere.

 

Om die beheer te behou weier Kruger en sy Boere dat die sogenaamde “Uitlanders” seggenskap in die Transvaalse regering kry. Dit is water op die meul van die Britse ekspansioniste (diegene wat die Britse ryk wil uitbrei).

 

Wat die ekspansioniste die “onvermydelike” oorlog met die Boere noem— en wat as die Anglo-Boereoorlog of Tweede Vryheidsoorlog bekend sal staan—breek in 1899 uit.

 

 

OOM PAUL ken die mag van Brittanje en probeer eers alles binne sy vermoë om die oorlog te keer, dog tevergeefs. Maar toe die Boere noodgedwonge die wapens moet opneem, is hy onversetlik. Kom wat wil, sy volk sal tot die bitter einde vir hul vryheid veg.

 

Al is hy nou reeds ’n bejaarde man van 74, laat hy sy invloed wyd en syd in die oorlog geld. Aan die front bedien hy die bevelvoerders met raad en spoor hy die burgers aan op alles in die stryd te werp. In Pretoria is Oom Paul dag en nag op kantoor.

Mieliestronk,

 

Teen 1877 was die ZAR nog glad nie ’n sterk of stabiele republiek nie. Enkele maande voor die Britse anneksasie van Transvaal skryf die staatsprokureur Jorissen dat daar nie iets soos ’n “heg-aaneengesmede volk” bestaan nie. Daar was geen koerant wat die regering gesteun het nie. Die inwoners het ver uitmekaar gebly met die uitsondering van ’n paar dorpe. Die oordrewe individualisme het tot gevolg gehad dat elke burger in sy eie oë die staat was. Die ZAR se eerste paar dekades is gekenmerk deur weifelende leierskap, klein oorloggies, klein politiek, interne rusies en twiste. Tog beskryf DW Kruger die tydperk tussen 1877 en 1881 as ’n keerpunt in die geskiedenis van Suid-Afrika. Hoekom? Omdat daar met die anneksasie van Transvaal op 12 April 1877 deur sir Shepstone ’n burgerlike protesbeweging ontstaan het wat Suid-Afrika onherroeplik verander het.

FAK

 

President Paul Kruger

Die vader van die burgerlike protesbeweging was sonder twyfel die 52-jarige Paul Kruger. Kruger se taak was uiters moeilik:

  •  Aanvanklik het dit voorgekom asof die Britse anneksasie met gelatenheid deur die Transvaalse burgers aanvaar is en asof die vestiging van Britse gesag oor die hele Suid-Afrika ’n voldonge feit was.
    •    Die verswakte president Burgers het kort na die Britse anneksasie die land verlaat.
    •    Een van sy kinders was baie ernstig siek en sy vrou ongesteld.
    •    Sy invloed was beperk tot Transvaal en met die uitsondering van die Vrystaatse presidente, het hy nog nooit ander staatsmanne van formaat ontmoet nie.
    •    Hy het nog nooit die see gesien nie en Kaapstad nog nooit besoek nie.
    •    Hy kon nie Engels praat nie en was nog nooit vantevore in die buiteland nie.
    •    Kruger het nie geleentheid gehad om die Transvaalse Afrikaners oor ’n protesbeweging te raadpleeg nie. Hy het ook geen sekerheid gehad of sy protes teen die anneksasie enige openbare steun geniet nie.

Kruger was oortuig dat die Britse anneksasie nie net gelate aanvaar kon word nie. Sy strategie het op die aanname berus dat die burgers bokant hul interne verskille moet uitstyg deur hande te vat en saam teen Brittanje op te staan. Om die doel te bereik, het Kruger ’n binnelandse en buitelandse strategie ontwikkel.

  1.  Kruger se buitelandse strategie

Sigbare verset

Na anneksasie het lord Shepstone Londen laat weet dat die protes blote formaliteit was en dat die Transvalers met die toestand tevrede was. Hierdie valse beeld van gewillige Transvaalse onderdane was die oorsaak dat die Britse owerheid simpatiek was teenoor Kruger se aandrang op die behoud van die Hollandse taal en die Afrikaners se tradisies en lewensgewoontes. Hulle was egter onverbiddelik oor die finaliteit van die anneksasie. Kruger het moeite gedoen om die binnelandse verset teen anneksasie so sigbaar te maak dat selfs die optimiste in Brittanje dit nie meer kon ignoreer nie. Kruger het ook lord Shepstone se swak landsadministrasie en sy swak verhoudinge met die inheemse bevolking ontmasker.

Demokratiese benadering

Kruger se konsekwente standpunt was dat slegs ’n amptelike demokratiese volkstemming legitimiteit aan die Britse bewind kon gee. Brittanje het deurgaans geweier om dit toe te staan en daardeur ’n basiese demokratiese reg opgeoffer vir hul imperialistiese strewes.

Kontak met die Britse opposisie

Kruger het na die liberale opposisieparty in Brittanje uitgereik. Vreemd genoeg het die liberale opposisie baie meer begrip getoon vir die morele hoë gronde van die Transvaalse burgers. Kruger se Engelse vriende in die opposisie het selfs ’n goue ring vir hom geskenk waarop die getal stemme teen anneksasie gegraveer was, asook die woorde: Hou moed, u saak is regverdig en moet seëvier.

In 1880 is die Britse premier, Disraeli, se Tory-regering deur Gladstone se liberale party tot ’n val gebring. Kruger is hierdeur bemoedig, veral omdat Gladstone in die aanloop tot die verkiesing beloof het dat hy reg aan die Transvalers sou laat geskied. Vir Kruger was dit ’n ontsaglike teleurstelling toe Gladstone sy beloftes verbreek het. Hy het selfs kort voor die Eerste Vryheidsoorlog ’n laaste persoonlike beroep op Gladstone gedoen. Sy ontnugtering in Gladstone se leë beloftes en koue skouer was een van die oorsake wat hom uiteindelik as laaste opsie die wapen teen Brittanje laat opneem het.

Kontak met stamlande

Kruger het Transvaal as onervare politikus verlaat en in Europa vir die eerste kennis gemaak met die wee van internasionale diplomasie. Die buitelandse besoeke het hom bekend gemaak en op die voorgrond gestel. Kruger het sy buitelandse besoeke gebruik om veral met Duitsland en Nederland kontak te maak. In Nederland het hy onder andere kennis gemaak met die Gereformeerde Kerklike kringe en noue bande gesmee met Abraham Kuyper wat later Eerste Minister van Nederland sou word.

  1.  Kruger se binnelandse strategie

Die mobilisering van Transvalers

Na die aanvanklike gelatenheid het daar baie spoedig ’n gesindheidsverandering onder die Transvaalse burgers plaasgevind. Op ’n volkskongres te Doornfontein is 6591 stemme teen anneksasie uitgebring teenoor die 597 ten gunste daarvan. Die verlies aan vryheid het iets teweeg gebring wat onafhanklikheid nie kon doen nie, naamlik om die Transvaalse Afrikaners as volk saam te snoer.

Van simpatie na vennootskappe onder Afrikaners

  •  Waar Kruger in Transvaal geen steun van die Transvaalse pers gehad het nie, het hy nie geaarsel om simpatieke media in ander provinsies te gebruik om sy saak te bevorder nie. Dit was uiters geslaagd. Kruger het veral moeite gedoen om met die Kaapse Afrikaners kontak te maak. Jan Hofmeyr, SJ du Toit en ander het ’n pro-Transvaalse versoekskrif aan die Kaapse goewerneur gestuur vir voorlegging aan koningin Victoria.
    •    Ook in die Vrystaat is Kruger hartlik ontvang. Alhoewel Brand huiwerig was om betrokke te raak, het die Vrystaatse Volksraad met ’n groot meerderheid ten gunste van die herstel van Transvaalse onafhanklikheid besluit.
    •    Uit simpatie vir die Transvalers, het die Natalse Afrikaners geweier om by die Anglo-Zoeloe-oorlog betrokke te raak. Hulle het Kruger se standpunt gesteun dat hulle die Britse leër slegs sou ondersteun indien Brittanje onafhanklikheid sou verseker. Dit is geen verrassing dat Brittanje geweier het nie. Tydens die vernietigende slag van Isandlwana het die Zulu’s die Britse leër verslaan. Koningin Victoria se kleinseun is tydens die slag dood.

Die anti-anneksasie-beweging het ’n breë Suid-Afrikaanse vraagstuk geword met morele steun van baie Engelssprekendes.

Belasting

Die oorskatting van die Britse militêre vermoëns in Suid-Afrika, die onderskatting van die omvang van die verset teen anneksasie, tesame met swak landsadministrasie, was van die grootste foute wat Shepstone en sy latere opvolgers gemaak het om steun onder die plaaslike bevolking te wen. Kruger het in die laaste helfte van 1880 al meer begin voel dat lydelike verset nie meer baat nie. Vanuit sy Christelike oortuiging het hy homself as ’n man van vrede beskou. As realis was hy baie bewus van die mag van Brittanje. Sake het spoedig op ’n punt afgestuur waar Kruger nie meer die burgers langer in toom kon hou nie. Die vonk by die kruitvat was toe Piet Bezuidenhout van Potchefstroom saam met ’n aantal Lydenburg-burgers geweier het om verder belasting te betaal aan ’n administrasie wat hulle nie as wettig erken nie. Kruger het hom na die toneel gehaas, maar agtergekom die gemoedere loop oor. Binne ’n paar dae het 8000 tot 10 000 mense by Paardekraal saamgekom. Oorlog teen Brittanje kon nie meer gekeer word nie.

Op 16 Desember is ’n Boerepatrollie op die kerkplein van Potchefstroom met Engelse geweervuur begroet. Die Eerste Vryheidsoorlog het begin. Die oorlog was egter van korte duur vanweë die Transvalers se klinkende oorwinnings by Laingsnek, Schuinshoogte en Majuba. Die klinkklare oorwinning by Majuba het die Britse Ryk tot in sy fondamente geskud. Naas Bloedrivier was dié slag een van die belangrikste veldslae vir die Afrikaner. Aan die Britse kant het 92 soldate gesneuwel, 135 is gewond en 53 is gevange geneem, terwyl slegs een burger gesneuwel het en vyf gewond was. Brittanje was genoodsaak om vredesonderhandelinge aan te knoop wat aan die ZAR selfbestuur sou gee.

 

Gevolge van die Eerste Vryheidsoorlog

Beperkte onafhanklikheid

Die Pretoria Konvensie van 1881 het nie volle onafhanklikheid vir Transvaal gegee soos hulle voor 1877 gehad het nie. Kruger het egter geredeneer ’n halwe eier is beter as ’n leë dop. Om dié rede het Kruger geskik vir volkome selfregering wat binnelandse sake betref, maar Britse oppergesag wat buitelandse beleid betref. Kruger het al die Transvalers agter hom verenig, die simpatie van die Europese gemeenskap bekom, en die aktiewe steun van Afrikaners regoor Suid-Afrika gemobiliseer.

Vryheid is voorlopig herwin, maar Kruger sou voortaan die vryheid met alle mag en krag verdedig. Die Pretoria Konvensie het, soos die latere Verdrag van Versailles na die Eerste Wêreldoorlog, die kiem van die toekomstige oorlog vervat. Vir die Britse Ryk het Majuba die simbool van vernedering geword. Hulle sou nie rus voordat Transvaal vernietig was nie.

Na drie jaar van protes het Kruger na vore getree as simbool van Afrikaners se vryheidstrewe, diplomaat, Afrikaanse kampioen en staatsman wat ver buite die grense van sy eie land gehuldig is. Die volharding, toewyding en integriteit waarmee hy as Calvinis geprotesteer het, het aan hom groot geloofwaardigheid gegee. Ook in Brittanje is Kruger erken as die amptelike leier van die Transvalers, terwyl Afrikaners regdeur die land hom as kampvegter vir hul nasionale ideale beskou het.

Afrikaanse Taalbeweging

Die Paarlse Afrikaanse taalaktivis en medestigter van die Genootskap van Regte Afrikaners, SJ du Toit, het Kruger se Kaapse bondgenoot geword. Die Eerste Taalbeweging was uitgesproke ondersteuners van die Transvaalse onafhanklikheidstrewe. Die vriendskap tussen Du Toit en Kruger was die grondslag van ’n Afrikaanse nasionale beweging wat gestalte gekry het toe Du Toit die hoof van onderwys in Transvaal geword het. So het die Afrikaanse taalbeweging wat in die Kaap begin het, neerslag gevind in die noorde van Suid-Afrika. Afrikaans sou mettertyd vir Afrikaners die simbool en draer word van kulturele identiteit en protes teen Britse oorheersing en verengelsing.

Kulturele vryheid

Die beperkte onafhanklikheid het ’n staatkundige ruimte vir kulturele vryheid geskep. Die twee dekades was lank genoeg was om Afrikaners in staat te stel om ’n eie identiteit en tradisie te ontwikkel. Die Anglo-Boereoorlog kon die identiteit nie uitwis nie, maar het dit versterk.

Nuwe oorlogswolke

Britse imperialiste soos die Kaapse premier, Cecil John Rhodes, en Alfred Milner was meedoënloos in hul strewe om beheer te kry oor die Transvaalse en Vrystaatse goudvelde. Brittanje het die uitlandervraagstuk en stemregkwessie as verskoning gebruik om volgehoue druk op die Transvaalse regering te plaas. In 1895 het die skatryk Rhodes selfs gepoog om met behulp van sy vertroueling, Leander Jameson, en met goedkeuring van die Britse minister van kolonies, lord Chamberlain, deur middel van ’n staatsgreep, Kruger se regering omver te werp. Die Jameson-inval het klaaglik misluk en Rhodes moes as eerste minister bedank. Brittanje was weereens verneder.

In dieselfde jaar as die Jameson-inval is die Bloukrans-monument ter herdenking van die 1838-moorde tydens die Groot Trek opgerig. Die Transvaalse kommandant-generaal Piet Joubert het persoonlik fondse vir die monument ingesamel en ook die onthulling van die hoeksteen waargeneem. Aan die een kant van die monument staan die woorde: “Zij kochten ons land met hun bloed.” Binne die konteks van 1895, toe die oorlogswolke digter oor die twee republieke saampak, bevestig die woorde Afrikaners se verbondenheid aan die land en die duur prys wat hulle vir vryheid betaal het.

Afrikaners het deeglik besef wat Rhodes en Milner se doelwit was. Tydens een van die vele samesprekings met Britse verteenwoordigers, het Kruger teenoor Milner uitgeroep: “Dit is nie stemreg wat julle wil hê nie, maar my land!” Die Vrystaatse republiek kon nie op die kantlyn staan in geval oorlog sou uitbreek nie. Na die Britse anneksasie van die diamantvelde en die Eerste Vryheidsoorlog, het ’n hegte verhouding tussen die republieke ontwikkel. Om dié rede het Steyn in September 1899 aan die Vrystaatse Volksraad gevra: “Kan de eene Afrikaner neutraal blijven wanneer de andere voor Afrika sterft?”

Tussen vuur en bloed

Op 11 Oktober 1899 word oorlog verklaar tussen die twee Boererepublieke en Brittanje. Na die val van Bloemfontein en Pretoria, in minder as ’n jaar nadat oorlog verklaar is, het Brittanje gemeen die oorlog is verby.

Die Boeregeneraals het nie moed opgegee nie, maar onder leiding van Christiaan de Wet  ’n nuwe krygstaktiek ontwikkel wat later bekend sou word as guerrilla-oorlog. Beweeglikheid is as suksesvolle wapen gebruik. Klein groepies krygers het die Britse soldate aangeval, van voorrade beroof en spoorlyne en brûe opgeblaas. Die guerrilla-oorlog was effektief, maar het nie sonder groot persoonlike ontbering gepaard gegaan nie. DJ Opperman vra in Die Joernaal van Jorik (1949):

Hóé kon die rykes van ’n ryk ooit weet
dat ons sou veg vir ruimtes van ons land
Al moes ons in die veld rysmiere eet?

Om die Boerekommando’s te ontmoedig, het die Britte ’n verskroeideaarde-beleid gevolg, waarvolgens die Boere se huise, plase, lande en vee vernietig is. Milner het sy verskroeideaarde-beleid as verskoning gebruik om die duisende vroue en kinders wat daardeur dakloos gelaat is, in konsentrasiekampe te plaas. In hierdie helkampe was vroue en kinders blootgestel aan die ergste vorme van lyding en ontbering.

Teen 1902 het die Boeregeneraals besef die suksesse van die guerrilla-oorlog kan nie opweeg teen die lyding van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe nie. Op 31 Mei 1902 word die bittereinde-vrede in Vereeniging gesluit. De la Rey verwoord iets van die gemoedstemming tydens die vredesamesprekinge by Vereeniging: “U spreek van geloof – wat is geloof? Here, laat U wil, nie my wil, geskied! Ek vernietig my onder Gods wil!”

 

Die oorlog wat sowat twee en ’n halwe jaar geduur het, het Brittanje nagenoeg 200 miljoen pond en sowat 20 000 Britse lewens gekos. Milner se verskroeideaarde-beleid het die twee voormalige Boererepublieke ekonomies vernietig. Bothaville, Bultfontein, Heilbron en Fouriesburg is in geheel verwoes. In Bethulie het daar slegs een bewoonbare huis oorgebly. In Frankfort het daar net agt huise bly staan. Dit was die geval in die meeste dorpe. Daar is bereken dat 30 000 plase tydens die oorlog afgebrand is. Voor die oorlog het Transvaal konserwatief bereken 1000 000 beeste, 200 000 perde en 1 500 000 skape gehad. Na die oorlog was die getalle onderskeidelik 200 000 beeste, 50 000 perde en 400 000 skape. Die koste van die oorlog het vir die Republieke tussen £70 en 80 miljoen beloop. Die lewensverlies aan Boerekant word konserwatief op 35 000 bereken. Uiteindelik is 31 000 boere as krygsgevangenes na bannelingkampe soos Bermuda, Ceylon, Dalmanuta en St, Helena gestuur. Selfs Milner moes erken: “This place is a total wreck.”

Ramsay MacDonald, latere Eerste Minister van Brittanje, skryf in sy boek What I saw in South Africa dat na sý waarneming minstens twee uit elke drie Afrikaners deur die oorlog geruïneer is. In die hoofartikel in De Vereeniging van 23 September 1903 word vermeld dat daar na die oorlog 20 000 weeskinders in die twee gewese republieke was. Steyn, wat gedurende die oorlog deurentyd saam met die manskappe in die veld was, se gesondheid is in so mate verswak dat hy nooit weer ten volle herstel het nie.

 

Paul Kruger vertrek in November 1900 soos ’n banneling na die vreemde. Hy reis met die skip die Gelderland, wat deur Koningin Wilhelmina van Nederland tot sy beskikking gestel is.

 

In Brittanje is die Boere dikwels as ’n ongesofistikeerde en ruwe spul agtervelders beskou  (hoewel die Britse eggo’s nogal seergemaak is omdat die einste “agtervelders” die magtige Brittanje so lank in ’n oorlog kon besig hou).?

 

Uiteindelik kan die Boere-republieke egter nie staande bly teen die Britse oormag wat soos ’n onstuitbare golf oor die land spoel nie. Die skrif is aan die muur. Kruger is verplig om afskeid te neem van Pretoria, en ook sy siek vrou agter te laat, en na Oos-Transvaal uit te wyk.

 

Die gevaar raak nietemin al hoe groter dat hy as krysgevangene in die Britse hande kan beland. Om te keer dat dit gebeur, maar ook sodat hy by die groot Europese moondhede kan gaan pleit om die Boere te help, besluit die Republikeinse regering in September 1900 om hom na Europa af te vaardig.

 Die Transvaalse protesbeweging

Maar hoewel Kruger oral in Europa geesdriftig ontvang word, raak dit duidelik dat die Boere geen hulp vir hul groot verknorsing vanuit hul Europese stamlande kan verwag nie. Hy besluit om as banneling in Europa te bly en vestig hom uiteindelik in Clarens, Switserland. Hier moet hy vrede maak met die dood van sy geliefde vrou van soveel jare, Tant Gezina, en met die nuus van die Britse oorwinning oor die Boere in 1902.

 

 

Oom Paul bly in eensaamheid woon in Clarens, in die geselskap van slegs ’n klein familiegroep, totdat hy op 14 Julie 1904 daar in die vreemde sterf. Sy stoflike oorskot word met die Batavier VI na Suid-Afrika gebring en op 16 Desember 1904 by dié van sy vrou in Pretoria se ou kerkhof begrawe.

 

Minder as twee weke voordat hy siek word, stuur die ou president sy laaste boodskap aan sy verslane volk, soveel duisende kilometer ver van hom aan die ander kant van ewenaar. Die boodskap, in Nederlands,  bevat Oom Paul se bekende woorde, wat in Afrikaans vertaal word:

 

“Soek in die verlede alles wat goed en mooi is, wat daarin te ontdek is, vorm u ideaal daarna en probeer om daardie ideaal in die toekoms te verwesenlik.”

 

Wyse woorde van ’n legendariese persoonlikheid… een van die heel grootstes in ons geskiedenis.

 

1900: PAUL KRUGER VERLAAT PRETORIA AS BANNELING

 

 

KULTUURDAGBOEK 30 MEI 2015

 

 

Toe president Kruger die aand van 29 Mei in Pretoria van sy vrou Gezina, ander familielede en amptenare afskeid neem, was hy nie ‘n vlugteling of was dit nie selfopgelegde martelaarskap nie. Dit was ‘n selfgekose vertrek in oorleg met en byna in opdrag van die wettige Boereregering van die land asook ná onderhandelings met Boere-voormanne soos pres MT Steyn en andere van die Vrystaat. Hy moes eenvoudig nie in die hande van die aanrukkende Britse vyand val nie omdat dit ‘n sielkundige neerlaag vir hom en ‘n terugslag vir die volksgevoel sou beteken.

 

Verder moes hy in die buiteland gaan hulp soek: geld en begrip, goedere en steun aan die Boeresaak teenoor Brittanje deur die Europese regerings en nie langer net deur die Europese publiek nie.

 

Voorts moes Kruger dringend mediese aandag aan sy pynlike, chroniese ontsteekte oë gee en dit kon hy alleenlik in Nederland laat doen.

 

Uit vrees dat die Britse gepeupel ‘n oproer op die stasie sou versoorsaak wanneer Kruger vertrek, het hy per vier-perdewa na ‘n eerste halte op die spoorroete na Machadodorp gereis – saam met dr Heymans, Frikkie Eloff (jnr) en Manie Bredell.

 

Op 30 Mei het hulle Machadodorp bereik maar Kruger het feitlike dadelik vanweë die koue op die warme Waterval-Onder gaan woon en dáár met sy amptenare onderhandel. In die paar weke dat hy hier vertoef het was Kruger nog steeds uiters pessimisties, somber en swartgallig. Hy het gevrees dat die burgers net nie langer wou veg nie en het daarom self aanbeveel dat die oorlog gestaak moes word hoewel daar nie om vrede gevra moes word nie.

 

Dat hy tant Gezina nooit weer sou sien nie het hy genadiglik nie in hierdie dae reeds besef nie.

 

Danksy MT Steyn en CR de Wet se bemoedigende houding en hulle weiering om op enige wyse met lord Roberts te onderhandel, het ook Louis Botha en Kruger moed geskep.

 

Van Waterval-Onder af het Kruger op 28 Augustus 1900 na Nelspruit verhuis – hy het in sy spoorwegrytuig bly woon en dit was ook die hoofsetel van die regering.

 

Maar op 11 September is Kruger by Komatipoort oor die grens na Portugese gebied. Op Hectorspruit het hy en Steyn nog eers beraadslaag en afskeid geneem. Kruger het met trane in die oë gewag dat die trein moes vertrek. Op vaderlandsbodem sou hy nooit weer sy voete sit nie

 

Gelofteland

Saamgestel uit  4 Artikels deur:,  Solidariteit, Mieliestronk, FAK en Gelofteland

 

Enjoyed this post? Share it!