Polisie in Kaapse Vlakte lê beslag op arsenaal wapens

Die polisie in Kaapstad het in ’n spesiale optrede beslag gelê op ’n arsenaal ammunisie en vuurwapens asook plastiese plofstof – glo genoeg om ’n “klein eenmanoorlog” mee te kan voer.

’n Man (30) is in verband met dié vonds in hegtenis geneem en sal Maandag in die landdroshof in Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte verskyn.

Lt.kol. André Traut, polisiewoordvoerder, sê die polisie het toegeslaan op die verdagte se huis nadat inligting opgevolg is. Van die wapentuig waarop beslag gelê is, is twee pistole (9 mm-kaliber en ’n 7,65 mm-kaliber); 600 gram plastiese plofstof (PE4-plofstof); 6 plofstofontstekers; ’n verskeidenheid van ammunisie vir verskillende kaliber vuurwapens; ’n koeëlvaste baadjie asook toerusting vir die diens van vuurwapens.

Traut sê die wapens en ammunisie kan met die bendegeweld op die Kaapse Vlakte verband hou.

Bishop Lavis is een van die woonbuurte wat daagliks onder bendegeweld en verwante geweldsmisdade deurloop.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!