Polisie Minister woedend oor vermiste polisiewapens in die Wes-Kaap

Fikile Mbalula, minister van polisie, sê die verdwyning van 33 vuurwapens uit twee polisiekantore in die Wes-Kaap is onaanvaarbaar en uiters kommerwekkend.

Die vermiste vuurwapens is uit polisiekantore in Bellville-Suid en Mitchells Plain gesteel en die saak is intussen aan die Valke oorhandig.

Vuyo Mhaga, woordvoerder van die minister van polisie, sê dit het einde Augustus onder hul aandag gekom dat die Bellville-Suid-polisiekantoor nie verantwoording kan doen van 18 vuurwapens wat as bewysstukke ingedien is nie.

“Die polisie het tydens die oudit besef daar word ook 15 vuurwapens wat deur die staat uitgereik is by die Mitchells Plain-polisiekantoor vermis,” sê Mhaga.

“Die Valke het onmiddellik met ’n ondersoek begin en die situasie is vir ons ’n absolute prioriteit, want ons wil nie hê die vuurwapens moet in die verkeerde hande beland nie.”

Mbalula sê hy vrees die vermiste wapens kan uiteindelik opeindig in die hande van bendelede wat die Wes-Kaap terroriseer en die lewens van jeugdiges vernietig.

Mbalula het Maandag ’n beroep op die Valke gedoen om hul ondersoek spoedig af te handel sodat diegene wat vir die verdwyning van die vuurwapens verantwoordelik is aan die pen kan ry.

“Polisiekantore is veronderstel om veilige hawens vir almal te wees en wanneer vuurwapens in polisiebewaring vermis raak, moet daar ernstige gevolge wees,” sê Mbalula.

Hy het bygevoeg Suid-Afrikaners, en veral inwoners van Kaapstad, gaan gebuk onder bendegeweld en ander ernstige misdade wat dikwels die lewe van onskuldige omstanders en kinders eis.

“Dit is ontoelaatbaar dat sulke geweld vanuit polisiegeledere aangevuur word,” sê Mbalula.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!