Polisiebeampte aangekeer na hy staatsmotor aan bendelede leen

’n Polisiebeampte is glo by ’n vleisbraaiery in die geselskap van berugte bendelede aangekeer nadat hy na bewering sy staatsmotor aan vier vermeende bendelede geleen het.

Die voorval het Vrydagaand in Port Elizabeth gebeur toe ’n vrou deur die insittendes van ’n Kabegapark-polisiemotor beroof is.

’n Wit Ford Figo-motor het glo langs haar in die straat stilgehou, waarna drie mans uitgeklim, haar handsak gegryp en wegjaag het.

Die slagoffer het die Figo se registrasienommer by die polisie aangemeld, waarna vasgestel is dat dit dié van ’n ongemerkte polisiemotor van die speurders is.

In ’n soektog na die Figo het die polisie dit omstreeks 21:45 by ’n vulstasie oorkant die KwaDwesi-polisiekantoor opgemerk. Die insittendes, vier mans en drie vroue, is op die toneel in hegtenis geneem.

Die vier mans, almal vermeende bendelede, het glo beweer dat ’n polisiebeampte hulle toestemming gegee het om die Figo te gebruik.

Die betrokke polisiebeampte, wat die Figo laaste by Kabegapark-polisiekantoor uitgeteken het, is daarna by ’n huis in Bethelsdorp opgespoor.

Hy was na bewering onder die invloed van drank in die geselskap van bendelede aangetref.

Kapt. André Beetge, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisiebeampte in hegtenis geneem is.
Hy sê die hy sal Maandag op ’n aanklag van motordiefstal in die landdroshof verskyn. Verdere departementele klagte sal moontlik later volg.

Beetge sê ’n interne ondersoek word gehou om vas te stel of hy tydens die voorval aan diens was.
Die vier vermeende bendelede sal ook Maandag in die hof verskyn in verband met die roof wat na bewering met die polisiemotor uitgevoer is.

Beetge sê die vier kan moontlik met verskeie ander misdrywe in die stad verbind word.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!