Polisielid wat motor se band omruil, doodgeskiet

Die polisie het ’n enorme soektog van stapel gestuur na vier verdagtes wat ’n polisielid in Diepsloot noord van Johannesburg doodgeskiet het.

Die polisielid en sy kollega is Dinsdagaand net ná 20:00 aangeval nadat hulle langs die pad gestop het om ’n pap motorband om te ruil.

Kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die vier mans het skote op die polisielede afgevuur terwyl hulle besig was om die band om te ruil.

 “Een polisielid is in die bolyf geskiet en hy het op pad na die hospitaal gesterf.”

Die ander polisielid is nie beseer nie.

Dlamini sê die verdagtes het te voet met die polisielede se vuurwapens vanaf die toneel gevlug.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die polisie het ’n beroep op die publiek gedoen om hulle te help met inligting.

Enige inligting wat tot die suksesvolle inhegtenisneming en vervolging van die verdagtes lei, sal moontlik beloon word.

Dlamini het gesê die rooftog hou nie verband met die onlus wat ook Dinsdagaand in Diepsloot uitgebreek het nie.

Betogers het winkels geplunder en voertuie met klippe bestook. Dit is nog nie duidelik waaroor die mense betoog het nie, maar die polisie is besig met ’n ondersoek.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!