Polisieminister Fikile Mbalula maak glo planne om plaasmoorde te bekamp

“Elke Suid-Afrikaner is vir die minister belangrik en plaasmoorde ís vir ons ’n prioriteit,” sê Vuyo Mhaga, Mbalula se woordvoerder.

Mhaga het Donderdag gesê die plan is om oor die volgende paar weke met gemeenskappe en plaaslike veiligheidsdienste saam te werk.

“Dit is nie net ’n saak vir die polisie nie, maar vir die gemeenskap. Ons wil die gemeenskap, boere én plaaswerkers betrek om te kyk of ons nie plaasaanvallers in die bek kan ruk nie,” sê Mhaga.

ELKE SUID-AFRIKANER IS VIR DIE MINISTER BELANGRIK EN PLAASMOORDE ÍS VIR ONS ’N PRIORITEIT.

Vuyo Mhaga
Maar plaasmoorde was nog glad nie ’n gesprekspunt in onlangse toesprake of selfs op Mbalula se baie aktiewe Twitter-rekening in Julie of Augustus nie.

In dié twee maande het die media oor ’n vlaag plaasaanvalle en -moorde berig.

Mhaga kon op navraag nie verklarings of geleenthede uitlig waar die minister hom teen plaasmoorde uitgespreek het nie.

Mbalula het hom wel verskeie kere teen onder meer geslagsgeweld, seksmisdade en gesinsgeweld op Twitter uitgespreek.

Annette Steyn, DA-LP, het Maandag in ’n verklaring gesê Mbalula moet dringend die “volgehoue versuim” om plaasgemeenskappe te beskerm aan LP’s verduidelik.

Polisieminister Fikile Mbalula maak glo planne om plaasmoorde te bekamp.

Polisieminister Fikile Mbalula maak glo planne om plaasmoorde te bekamp.

Die DA het intussen die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie gevra dat ’n gesamentlike komiteevergadering oor landelike veiligheidskwessies gehou word.

“Ek het met groot kommer kennis geneem van onlangse mediaberigte oor ’n vlaag gewelddadige aanvalle wat die lewe van boere oor Suid-Afrika heen geëis het,” skryf Zakhele Mbhele, DA-LP en woordvoerder oor polisie, in ’n brief aan Francois Beukman, komiteevoorsitter.

“Plaaswerkers en hul gesinne word ook blootgestel aan onbeteuelde misdaad,” aldus Mbhele.

Mbhele vra in die brief dat die parlementêre komitees vir polisie, landbou en landelike ontwikkeling betrek word om ’n veiligheidstrategie vir landelike gemeenskappe te ontwikkel.

Mbalula moet volgens Mbhele ook die vergadering bywoon vir terugvoering oor die vordering met die landelike veiligheidsberaad wat deur lt. genl. Khomotso Phahlane, voormalige waarnemende polisiekommissaris, voorgestel is.

Sedert Januarie is 56 mense in 282 plaasaanvalle vermoor, volgens statistieke wat deur TLU SA bygehou word.

In die eerste agt maande van 2016 is 49 mense in 244 aanvalle vermoor.

TLU SA het op drie verskillende geleenthede in 2016 en 2017 briewe aan Phahlane en sy opvolger, lt. genl. Lesetja Mothiba, asook Mbalula se voorganger, Nathi Nhleko, gerig waarin hulle genooi is om oplossings vir die toename in plaasmoorde te vind.

Volgens Henry Geldenhuys, TLU se adjunkpresident, het die organisasie geen terugvoering op hierdie uitnodigings ontvang nie.


Enjoyed this post? Share it!